Glo, Hoop en Vertrou –
dit sal weer beter gaan!
Uit die boek JOB

(Sonsopkoms oor Sonstraal dam, Durbanville, Kaapstad – Foto deur Jakes Joubert)
Geskryf deur Dr Jakes
Jan 2016
VOORWOORD
Ons vra almal “hoekom?” as ons swaar kry en beproef word. Ons leef dan goed, hoekom loop dinge dan verkeerd? Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense? Mag ons vir God vra waarom? Die antwoord is ja, ons mag, maar as ons doen moet ons op kyk met hoop en vertroue, God sal aan jou genade bewys. Job het ook gevra “waarom?”. Hy het ook geworstel. Die Here het hom ook beproef. Maar God is genadig, hy gee tog krag deur sy Heilige Gees. Ons moet net bid vir geduld, krag en leiding.
God is groot, verhewe en almagtig. Hy is egter nie so verhewe dat hy ons nie sien nie. Hy sien ons, hy weet van ons swaarkry en leiding. Hy bestem dit self en het ‘ʼn doel” daarmee, al verstaan ons dit nie. Hy sal miskien nie jou vrae beantwoord nie, maar hy sal aan jou uitkoms gee, moontlik tot jou beswil. Want God is lief vir jou, en hy sorg vir jou, tot jou beswil. Steun op God dan sal jy nie val nie. Ons kán en sál leef, al het ons nie al die antwoorde op ons lewensvrae nie.
Glo, hoop en vertrou – dit sal weer beter gaan!
Kom kyk saam met my na Job se storie en sien wat God ons daardeur wil leer. Moontlik kry jy so jou antwoorde op jou lewensvrae.
Lekker lees!
Jakes Joubert
Januarie 2016
Inhoud
Job se gesprek – hy vervloek sy geboortedag. 8
Die Here – finale uitspraak. 15
Agtergrond
Job is deel van die Wysheid geskrifte, saam met Spreuke en Prediker.
Job is een van die oudste boeke wat ons het, maar is moeilik om presies te dateer. Ons weet dit kom uit die era van die aartsvaders, maar ons weet nie wie dit geskryf het nie. Die onderwerp is oud soos die skepping, tog hedendaags soos kanker en oorlog. As God regverdig en goed is, hoekom laat hy onskuldige mense ly? Hoekom gebeur slegte dinge met goeie mense?
Volgens die konvensionele teologie van die tyd, is die vergeldingsleer, die standpunt wat Job se vriende verdedig. Dit is dat voorspoed God se beloning vir ‘ʼn goeie lewe en teenspoed God se oordeel en straf op die sonde. Al klink dit heel geldig betuig Job met oorgawe sy onskuld maar sy vriende is standvastig en onbuigbaar: As Job ly, móét hy gesondig het. Job weet dit is onwaar. Die vergeldingsleer se teorie pas dus nie so goed in sy situasie nie. Nou hoe nou?
Volgens die spreekwoord “Job se geduld” is dit iemand wat sielskrag, moed en sterkte toon in die gesig van erge leiding en swaarkry. Ons almal het al die spreekwoord gehoor – maar ken ons regtig die verhaal van Job en kan ons dit in konteks sien? Was Job regtig só geduldig?
Job is nie fiksie nie. Hy is ʼn regte persoon en die storie vertel van ʼn regte persoon se tragedie, ervaring en persoonlike gevoelens. Al sy omstandighede, besittings, gesinslewe en interaksie met sy vriende ondersteun die geloofwaardigheid van ʼn regte persoon.
Vergeldingsleer
Ons glo graag dat dit noodwendig goed gaan met kinders van die Here. Die diens aan die Here waarborg geluk en sukses. Die anderkant bestaan egter ook: Ongeluk, swaarkry, siekte en selfs dood tref ons ook.
Hoekom gebeur dit dan met goeie mense? Is daar dan sondes waarvan net God weet waarvoor hy hulle straf? Of stuur die Here teenspoed oor ons pad om ons iets te leer: Geduld, geloof of volharding. Die boek Job kyk na al hierdie vrae maar gaan nog verder.
Hierdie tema speel ʼn groot rol in Job. Dit kom reeds uit Spreuke uit en fokus op oorsaak en gevolg. Dit sê basies dat as jy swaar kry of teenspoed ervaar is dit noodwendig straf op sonde wat jy begaan het. Teenspoed tref nie onskuldige mense nie.
Job se drie vriende glo vas in die vergeldingsleer. In plaas van troos probeer hulle heeltyd vir Job oortuig dat hy moes gesondig het om hierdie teenspoed te ervaar. Hulle is onbuigbaar in hulle standpunt maar die boek Job maak dit baie duidelik dat die vergeldingsleer bepaalde gebreke het en nie die enigste manier is waarop die komplekse aard van die lewe verklaar kan word nie. Job is onskuldig.
Hooftrekke
- Job is ʼn vroom man wat die Here dien en weg bly van die kwaad. Hy is ryk en voorspoedig. Hy word deur die Satan aangekla dat hy God dien net omdat dit vir hom voordeel inhou. Die Here gee toestemming dat Job getoets mag word of hy werklik glo in God.
- In een dag verloor Job alles. Al sy besittings en al sy kinders. Hy word ook baie siek en ʼn uitgeworpene. Hy is in sak en as, maar hy glo nog.
- Drie vriende daag by Job op om hom te troos, maar die gesprekke lei tot redenasies oor skuld en onskuld.
- Job dring aan by die Here om hom te wys wat hy verkeerd gedoen het en waarom hy so moet lei.
- Eliha ʼn vierde vriend, verduidelik dat God te groot is om uitgedaag te word.
- Die Here antwoord vir Job maar wys vir hom hoe klein en swak hy is en dat hy afhanklik is van God. God sal sorg!
- Die Here seën vir Job, herstel sy omstandighede ten volle en maak hom weer voorspoedig.
Inleiding
Job is ʼn goeie mens, ʼn dienaar van God en word bekend gestel as die hoofkarakter. Hy word beskryf as ʼn vroom en opregte man wat God gedien het en die kwaad vermy het. Hy het God se guns geniet en was voorspoedig, ry aan besittings en het sewe seuns en drie dogters gehad. Hy was ʼn wyse man met aansien onder sy geledere.
Op ʼn dag het God en die hemelwesens in die troonkamer van die hemel vergader. Die Satan, die mens se “aanklaer” was ook teenwoordig. God het met lof gepraat van Sy dienaar Job wat Hom opreg dien en waarvan jy nie sy gelyke op aarde kry nie.
“Want daar is niemand op aarde soos hy nie: ʼn man vroom en opreg, Godvresend en wat afwyk van die kwaad!” (Job 1:8 AFR53).
Satan het egter vir Job daarvan beskuldig dat hy net God dien oor al die voorspoed wat hy as loon daaruit geniet. Hy het gesê dat Job God sou vervloek indien hy sy besittings en voorspoed sou verloor.
God het aan Satan toestemming gegee om vir Job te toets deur sy besittings weg te neem. Net aan Job self mag hy nie raak nie. Job het toe in die loop van een dag alles verloor – al sy besittings, sy dienaars en al sy kinders. Job se geloof en vertroue in God het egter vas bly staan.
“Sonder iets het ek in die gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys Naam van die Here” (Job 1:21).
Job het nie met een woord gesondig nie. Die Satan het die eerste rondte verloor!
“Die Here het gegee en die Here het geneem” – alles wat ons het, het die Here vir ons gegee, hoe kan ons Hom kwalik neem as Hy weer neem?
Net soos Job kom ons ook naak in hierdie wêreld, maar nie heeltemal “naak” nie – ons is oortrek met sonde. Hierdie sonde word deur Christus skoongewas. Daarom verlaat ons ook nie hierdie wêreld heeltemal naak nie – ons is beklee met die geregtigheid van Christus.
Deur al die beproewings heen, het Job die Here geprys en Hom aanbid. Beproewing met ons nie van ons diens aan die Here af verwyder nie, maar eerder nader bring aan Hom en ons aanspoor om Hom te aanbid.
God het Satan daarop gewys dat Job vroom gebly het al is hy sonder rede geruïneer. Satan het egter beweer dat al het Job alles verloor, hy net getrou bly omdat hy oor sy eie welstand regtig besorg is. Raak nou aan sy liggaam dan sal hy vervloek. God het toe weer vir Job in Satan se mag gegee, net sy lewe mag hy nie neem nie.
Die Satan tref toe vir Job met pynlike swere oor sy hele liggaam, van kop tot tone. Job het op ʼn ashoop gaan sit en sy swere met potskerwe gekrap. Job, die vername man, word ʼn uitgeworpene. Selfs sy vrou spoor hom aan om op te gee en God te vervloek. Job se antwoord:
“As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?: (Job 2:106).
Deur alles heen het Job geen woord gesondig nie, steeds hou hy aan God vas.
Drie van Job se vriende het verneem van al die rampe wat hom getref het. Hulle het afgespreek om hom te troos en by te staan. Toe hulle hom sien, het hulle hom eers nie erken nie. Daarna het hulle hardop begin huil, hulle klere geskeur en stof op hulle koppe gegooi. Alhoewel hulle wyse manne was, was hulle stom geslaan deur Job se toestand en ervaring. Sewe dae en sewe nagte het hulle by hom op die grond gesit sonder om ʼn woord te sê.
Nou begin daar drie gesprek siklusse tussen Job en sy vriende. In plaas van troos en bemoedig probeer die vriende vanuit hulle tradisionele teologiese raamwerk ʼn verklaring gee vir die gebeure in Job se lewe.
Die gesprek eindig eerder in ʼn gestry met Job en in sy geval maak hierdie tradisionele teologiese antwoorde vir Job al hoe minder sin.
Job se gesprek – hy vervloek sy geboortedag
Die sewe dae lange stilte word verbreek deur Job se kreet van protes teen sy ellende. Hy wens hy was nooit gebore nie en smag daarna om vrede en verlossing in die dood te vind. Hy vra: “Waarom?” “Waarom?” Dan wens hy dat hy dood gebore was, ʼn miskraam. Hy vra: “Waarom het hy bly lewe? Waarom lewe hy nou nog?”.
Die gedagte van selfmoord, ʼn daad waarna daar net op enkele plekke van in die Ou Testament na verwys word (Saul, 1 Sam 31:4; Agitofel, 2 Sam 17:23; Simri, 1 Kon 16:18), kom nie in Job na vore nie. Die intense begeerte om eerder nie meer te lewe nie, word wel in sterk emosionele en beeldryke taal beskryf (Job 3:21-22).
Die drie vriende
Nou kom die drie vriende van Job een vir een om die beurt aan die woord.
Alhoewel hulle van die staanspoor ooreengekom het om hom te troos en by te staan, is hulle al drie vasgevang in die tradisionele teologiese oortuiging van die “vergeldingsleer”. Dit getuig dat voorspoed en geluk God se vergoeding is vir ʼn vroom, regverdige lewe en dat swaarkry en ellende God se straf is op sonde.
Hulle is dus oortuig en probeer Job oorreed dat hy moes gesondig het om hierdie ellende te ontvang. God straf nie onskuldige mense nie. Al wat Job dus te doen staan is om sy sonde te bely, Sy teregwysing te aanvaar en geduldig te wag om weer God se guns te geniet.
Hulle raad help Job niks nie en maak dinge net erger aangesien Job, en ons, weet dat hy onskuldig is. Hy bly sy onskuld getuig maar sy vriende is onbuigbaar en kan dit nie eers oorweeg om te dink dat Job dalk werklik onskuldig is nie. Alles is vir hulle swart of wit en hulle raak later vies vir Job en maak geen toegewings vir die stres waaronder Job verkeer nie. Hulle hou hardnekkig vol om hulle standpunt te verdedig en probeer Job te intimideer om bes te gee en sy skuld te erken.
Hulle probeer selfs sondes uitdink waaraan Job skuldig kan wees en hoor Job glad nie as hy dit ontken nie, want sy saak pas nie in by hulle algemene reël nie. Volgens hulle is Job verkeerd, hy probeer selfs sy sondes vir God wegsteek. Hy moet net met God vrede maak en sy sondes laat staan, dan sal alles regkom.
Elifas
Elifas is eerste aan die woord, sy siening is:
- God vernietig die skuldiges, nie die onskuldiges nie.
- Niemand is sonder skuld voor Hom nie.
- Gaan na God toe, aanvaar Sy teregwysing en wag om weer Sy guns te geniet – wees geduldig.
- Alles wat Job se – sy roekelose beskuldigings teen God, sy pogings om homself te verdedig – slaag bloot daarin om sy skuld te bewys.
- Baseer sy sienings op die ortodokse dogma van die vergeldingsleer, op die geskiedenis self en op wysheid in ouderdom. In kort, Job moes gesondig het, anders sal hy nie gestraf word nie.
- Swaarkry is God se manier om van Job ʼn beter persoon te maak.
- Job hou aan vra hoekom God hom nie antwoord nie. Elifas sê God is te groot om te let op Job se swaarkry, hy moenie enige aandag van God verwag nie. God is te hoog verhewe om gepla te wees met ʼn enkele individu se lewe.
Elifas se spreekbeurt 1 –
Elifas wys Job daarop dat hy in die verlede ander in soortgelyke omstandighede gehelp het deur hulle moed in te praat. Elifas wil poog om dieselfde te doen vir Job. Hy sê God sal sorg – Job moet net vashou. Hy impliseer egter onwetend dat Job se kinders, wat voor hulle tyd gesterf het, nie regverdig was nie.
Elifas is heeltemal verbind aan die vergeldingsleer. Hy se vir Job dat selfs regverdige mense soos hy tog enkele gebreke het daarom kom die lyding as gevolg daarvan oor hulle lewens. Mense is self verantwoordelik vir wat in hulle lewens gebeur.
Selfs ʼn hemelwese kan nou nie help nie. Hy stel voor dat Job sy saak aan God stel. Nou maak hy die stelling dat Job se situasie moontlik is dat God besig is met opvoedingswerk. Lyding kan dus ook positief gesien word as deel van God se onderwysing.
Elifas gee dus twee gebruiklike verklarings vir mense se ellende: dit is deel van God se straf op menslike gebreke; of God onderrig mense daardeur.
Elifas se spreekbeurt 2 –
Job het gepraat en God beskuldig. Elifas meen Job se woorde maak hom net meer skuldig. Volgens hom is selfs hemelwesens heeltemal suiwer voor God nie, hoeveel te meer mense.
Elifas se spreekbeurt 3 –
Elifas is nou minder simpatiek en beskuldig Job prontuit dat hy deel is van die goddelose mense. Job moet hom aan God onderwerp en Sy wil doen sodat hy van sy smart verlos kan word. God trek geen voordeel uit mense se optrede nie, Job kan net gestraf word omdat hy sonde gedoen het. Vanuit dié denkraamwerk van die vergeldingsleer wat Elifas getrou navolg is die enigste moontlike rede vir Job se situasie sy boosheid. Gemeet aan die erns van sy situasie, is sy sonde baie groot. Hy is ook besig om sy sonde vir God weg te steek.
Hy raai Job aan om na God te draai en aan te gaan met sy lewe. Ten spyte daarvan dat Job volhard dat hy onskuldig is, is Elifas vanweë sy vaste vertroue in die vergeldingsleer heeltemal blind daarvoor.
Bildad
Bildad se siening is:
- God is regverdig, Hy beloon die goeies en straf die goddeloses.
- Die Here sal nie so iets met Job laat gebeur as daar nie ʼn rede voor is nie. Job moet erken dat hy verkeerd gedoen het en dan sal God dit weer met hom laat goed gaan.
- Dit is onmoontlik dat ʼn mens regverdig kan wees voor God.
- Bildad se naam beteken eintlike “God se geliefde”, maar sy woorde pas nie by sy naam nie. Hy is die teoloog tussen die drie en is vol clichés en formules maar het tog min geduld en passie met Job.
- Hy vertel vir Job dat hy sy kinders verloor het omdat hulle sondaar was wat se straf verdien het. Hy staan vas by die vergeldingsleer. As jy sondig, ly jy – so Job is ʼn sondaar.
- Hy sê Job se woorde is wind. Het Job vergeet dat God almagtig is. Ons kan nie met Hom redeneer of stry nie, so aanvaar maar net jou lot.
Bildad se spreekbeurt 1 –
Ook Bildad hou die vergeldingsleer voor as die verklaring vir wat gebeur het. Dit is vir hom totaal onaanvaarbaar dat Job God aankla dat Hy onbillik teenoor hom optree. Die Almagtige sal nooit die reg verdraai nie.
Bildad som die vergeldingsleer dan kortliks op: As ʼn mens sondig, soos Job se kinders klaarblyklik gedoen het, word jy gestraf, terwyl as jy aan God getrou is, kom jy voorspoed te wagte wees.
Ons weet dat dit nie die geval is met Job nie!
Bildad se spreekbeurt 2 –
Dit is nie God wat Job enige skade berokken soos hy beweer nie, maar Job wat weens sy sonde self vir sy toestand verantwoordelik is. So eenvoudig werk die vergeldingsleer – net sondaars en kwaaddoeners ervaar teëspoed.
Bildad se spreekbeurt 3 –
God is groot en almagtig, dit is onmoontlik vir ʼn mens soos Job om aanspraak te maak daarop dat hy ʼn regverdige is.
Sofar
Sofar se siening is:
- Sofar se woorde is die hardste. Hy het geen geduld met Job se oneerbiedige gepraat nie.
- Dink Job hy is onskuldig? God laat Job lig daarvan afkom. Job moet sy sonde laat staan, dan sal God hom herstel skenk.
- Job moet sondig, al is dit nie bewustelik nie, is dit dalk onbewustelik. God is almagtig – Hy sien die onbewuste sondes raak.
Sofar se spreekbeurt –
Hy begin deur die wysheid van God te besing en daarna maak hy ʼn oproep tot Job om sy sonde te bly en te erken dat hy verkeer is.
Sofar voel hom verplig om self God se saak te verdedig. Job se pleit om onskuld kan volgens Sofar uit God se perspektief nie stand hou nie en Job beleef reeds iets van God se genade waarvolgens Hy hom minder straf as wat hy werklik verdien.
Sofar se oplossing vir Job: Wys jou hart aan God, lig jou hande in gebed en raak ontslae van jou sondes. As Job dit nie doen nie, verdwyn alle hoop.
Elihu die vierde vriend
Ons word hier bekend gestel aan ʼn vierde vriend wat nog nie vroeër genoem is nie. Hy is jonger as die ander en het tot dusver in eerbied geswyg om die ouer, wyser manne ʼn kans te gee om Job raad te gee.
Uit die staanspoor word ons egter meegedeel dat hy baie kwaad is: Hy is kwaad vir Job wat nie sy sonde wil bely nie en nie die nodige eerbied en ontsag vir God toon nie. Hy is kwaad vir die anders drie vriende wat nie vir Job reg help nie.
Job het gesê dat hy ʼn onskuldige slagoffer van God is en dat God hom nie wil antwoord en ʼn rede gee vir Sy optrede nie. Elihu sê God praat met ons op baie maniere, ons moet net oop en ontvanklik bly. God praat met ons deur drome en Job wat so kla oor drome en nagmerries moet net weet dat dit dalk God se manier is om met hom te praat en hom te waarsku.
Elihu se ook dat God ons nie noodwendig deur swaarkry straf nie, maar dat Hy dit kan gebruik om ons te waarsku en ons op die regte pad te hou – om ons red. Hy dring sterk daarop aan dat Job se houding, woorde en opstand teen God, net by al sy ander sondes bygevoeg word en sake erger maak.
God is groot verhewe en almagtig, as Job nie regkom en die nodige ontsag vir God kry nie, sal God hom nie aan ʼn goddelose soos Job steur nie.
Elihu praat nie verder nie.
Job
Job praat tien keer in antwoord op sy vriende:
1ste gesprek –
Volgens Hom is God verantwoordelik vir sy swaarkry. Hy kon nie verstaan waarom hy so gestraf word nie want hy is nie bewus van enige sonde in sy lewe nie. Hy lewe reg in God se oë.
Hy is oor die algemeen baie teleurgesteld en selfs ontsteld oor sy vriende se bydrae en voel hulle betoon geen simpatie noudat hy dit die nodigste het nie. Hy kry geen hulp van sy vriende nie. Ons kan ʼn progressiewe ontwikkeling waarneem in Job se houding. Hy raak al hoe meer onbeskaamd in sy houding teenoor sy vriende en in wat hy se vir God.
Sy gemoed wissel tussen hopeloos en hoopvol. Hy vra ook eers vir God om hom uit te los en dan vra hy God weer om hom te antwoord. Hy daag God selfs om in ʼn regsgeding met hom betrokke te raak en hy is oortuig hy sal wen
.
Job rig hom tot God en stort sy hart voor hom uit – sy vrees en sy verlange na die dood. Hy wil weet hoekom God hom nie wil uitlos nie? Sonde is nie die probleem nie, maar as dit is, hoekom vergewe God hom nie? Job glo tog dat God regverdig is, maar nie in sy geval nie. God het ʼn onskuldige man veroordeel.
Hy lys dan al die goeie dade wat hy op ʼn daaglikse basis verrig het tot eer van God en tot hulp en ondersteuning van sy naaste – veral die wat minder bevoorreg is. Hy se dat as hy in enige van hierdie dade gefaal het, dan sal sy straf regverdig wees. Volgens hom het hy nie oortree nie. Hy is onskuldig en daar is dus geen rede vir sy swaarkry nie.
Wat help dit dan om goed te wees? Goeie en slegte rampe tref almal. Hoekom? Job voel hy sal sy saak direk aan die Here stel en die Here sal hom dan vryspreek. Maar wat is die klag teen hom? Hy roep tot God om hom in die land van die dooies te versteek tot God se woede oorgewaai het, en hom dan herstel te skenk.
Die vriende hou aan met praat maar hulle bied geen troos nie. Job voel dit is maklik vir hulle om te praat, maar hulle verstaan nie, en dit is hy wat die pyn ly. Selfs nou kan Job nie glo God is so onregverdig nie. Hy voel daar moet iemand wees wat in die hemel vir hom kan pleit en sy saak kan stel voor hy sterf – anders is daar vir hom geen hoop nie.
Job is nou heeltemal wanhopig. Hy is verwerp en word verag deur almal wat hy liefhet. Selfs jammerte word hom nie gegun nie. Tog in sy donkerste oomblikke vlam geloof en hoop steeds in hom op. Hy is seker dat die vryspraak sal kom. Eendag sal die Here self sy saak opneem en hom regverdig verklaar – dan sal hy weer in ere herstel word en die wat hom beswadder het sal self aan God verantwoording moet doen.
2de gesprek –
Job spreek vir die eerste keer direk tot God. Hy roep na God:
“Nee, ek kan nie stilbly nie, in my beproewing wil ek praat, in my bitter lyding wil ek kla.” (Job 7:11)
Eers kla hy dan oor God se betrokkenheid by sy ellende, en dan vra hy na die rede waarom God hom dan so straf. Die dood lyk vir hom beter as ʼn lewe waarin God jou so teister. Hy begeer die dood. Job sluit af: Weeg dit wat ek verkeerd gedoen het werklik op teen die ellende wat ek ervaar?
Job erken glad nie dat hy oortree het nie, hy vra maar net: Veronderstel vir die oomblik dat ek wel oortree het, wat sal dit van God wegneem om my daardie veronderstelde oortreding te vergewe? My einde is naby – waarom aanhou om my so te straf?
3de gesprek –
Job betreur sy eie onmag voor God se almag en herhaal nou wat hy vroeër teenoor sy vriende opgemerk het, nou ook teenoor God – dit is onmoontlik om God te antwoord; die omvang van God se almag en God se klaarblyklike onregverdigheid. Hy voel dat alhoewel hy dit verdien, God hom nie onskuldig gaan verklaar nie.
Job vervolg met ʼn lofprysing. Hy beskryf die skeppingsmag van God. Hy voel, hy as mens, het geen kans om sy saak by God uit te bring nie. In enige moontlike regsaak sal God hom heeltemal ignoreer. Job kan net nie sy onskuld bewys nie.
Job rig hom weer direk tot God bepleit sy saak – hy wil sy saak stel. Dit maak nie saak wat die gevolge sal wees nie. Hy wil weet hoekom God hom as ʼn skuldige hanteer.
“Maak aan my bekend waarom voer U hierdie stryd teen my.” (Job10:21)
God, behoort volgens Job te weet dat hy onskuldig is, maar tog hou Hy aan om hom te straf.
“U weet dat ek nie skuldig is nie.” Job 10:7).
Job sien geen uitkoms – hy bevraagteken die rede vir sy bestaan. God het hom met liefdes hande gevorm en hom met onfeilbare liefde en sorg onderhou en bewaar sy hele lewe. Dit is nou dieselfde Goddelike hande wat hom vernietig.
4de gesprek –
Job kry nog geen troos, net beskuldigings van sy vriende. Hy gee verdere voorbeelde waarom die vergeldingsleer wat hulle so aanhang, nie houbaar is nie, maar sy vriende is geyk in hulle idees en dit veroorsaak net meer seer en opstand. Job se geval toon duidelik aan hoe tradisionele denke nie altyd in staat is om probleme op te los nie.
Job wil weer vir God direk aanspreek. Hy beskuldig sy vriende dat hulle partydig is vir God en Hom verdedig deur leuens kwyt te raak. Hy waarsku sy vriende oor hulle optrede. Hulle moet versigtig wees dat hulle leerstellings oor God nie belangriker word as God self nie. Dan sal hulle by God in die moeilikheid wees en nie hy nie.
Bogenoemde is ʼn vooruitskouing van wat later werklik in die boek gaan gebeur. God se grootheid bly altyd ver verhewe bo mense se teologiese konstruksies daarvan.
Dan rig Job hom weer tot God met twee versoeke:
- God moet hom nie nog meer pynig nie.
- God moet hom nie intimideer deur Sy almag nie.
5de gesprek –
Steeds vind Job geen rus vir sy siel nie. Hy kry geen simpatie of jammerte nie. Sy vriende skep net meer en meer probleme. Job draai nou weereens na God maar nie om simpatie te soek nie.
Hy gee aan God ʼn uiteensetting van die wyses waarop God hom skade aangedoen het. Hy sien God as ʼn regter wat hom aanval. Hy lys ʼn hele reeks beelde om die ‘aanvalle’ van God mee te illustreer. Die uiteinde van hierdie aanvalle is ʼn fisiese en psigiese gebroke persoon – ʼn patetiese hopie mens.
6de gesprek –
Job het 2 belangrike wense:
- Hy wens dat sy betoog van onskuld op een of ander wyse in ʼn meer permanente vorm bewaar moet word sodat daar selfs na sy dood, wat vir hom naby voel, nog geregtigheid kan geskied.
- Tweedens wens hy dat daar ʼn verlosser leef – naamlik God – wat hom kan red. Job spreek met hierdie woorde meer as ooit tevore die sekerheid uit dat hy onskuldig is en dat hierdie onskuld aan die lig sal kom.
7de gespek –
Job het nou genoeg gehad van sy vriende se onsin. In hierdie gesprek bepaal Job feitlik sy hele argument om wat sy vriende tydens hulle spreekbeurte kwyt geraak het, in twyfel te trek.
Job lê hulle tradisionele denke aan bande deur te wys dat goddelose ook voorspoed ervaar en onskuldiges ook gestraf word. Job wil nie hê hulle moet antwoord nie. Hy vra dat hulle na hom sal kyk in sy patetiese toestand van lyding terwyl hy wegkwyn en dat dit alles hom sonder enige toedoen van sy kant af getref het.
Die vergeldingsleer is volgens Job nie in staat om die lotgevalle van mense waaroor God uiteindelik beskik te verklaar nie. God is verhewe bo enige menslike teologie wat Hom bepaalde optrede probeer voorskryf. In sulke gevalle raak die dogma belangriker as God – iets waarteen hy hulle al vroeër gewaarsku het.
Die finale deel van sy rede begin Job met verwysing na wat die vriende probeer doen. Hulle wil sy situasie in verband bring met die vergeldingsleer deur hom so ver te kry om een of ander vorm van sonde in sy lewe te erken – dit is die plan wat hulle heimlik bedink. Job het vir sy vriende aangedui waarom hy nie troos put uit hulle redenasies nie. Hulle is oortuig dat Job se toestand op een of ander wyse verband hou met sonde.
Hulle teologiese tradisie duld geen ander beskouing nie. Tog kan hulle nie aantoon wat Job verkeerd gedoen het nie – sodanige negatiewe bewyse vir hulle standpunt ontbreek. Daarteenoor het Job ook sopas aangetoon dat daar ook nie positiewe bewyse bestaan vir die vergeldingsleer nie.
Die enigste werkbare gevolgtrekking: “Ek is onskuldig – al julle redenasies is vals!”.
8ste gesprek –
Job voel dat as hy tog maar net op ʼn manier by God kon uitkom – wat hom tot dusver net met stilte beantwoord het. Dan sou hy sy saak in besonderhede voor Hom kan uitlê en met begrip kon luister na God se verduideliking van al die onlangse gebeure.
Hy het ʼn punt bereik waar hy sonder vrees vir intimidasie sy saak voor God kan stel en verder geregtigheid sal smaak. Job is daarvan oortuig dat hy, indien hy by God as sy Regter kon uitkom, hy volle vryspraak sal kry. Die grootste struikelblok in die pad van hierdie oplossing is egter die harde realiteit: hy het in elke denkbare rigting probeer om vir God te vind, maar niks nie. Hy meen God wil Hom nie laat vind nie!
9de gesprek –
Job beskryf God se grootheid en almag met ʼn baie omvangryke en volledige prentjie van die skeppingsverhaal. God is die implisiete onderwerp van al die skeppingsdade. Hy sê God is veels te groot en almagtig om ingeperk te word deur mense se sienings aangaande hoe Hy die wêreld bestuur, byvoorbeeld deur die vergeldingsleer. Sy vriende verstaan dus nie Sy werking volledig nie. Hy hou vol dat hulle nie reg het nie en dat hy onskuldig is:
“… tot my dood toe sal ek volhou dat ek onskuldig is.” (Job 27:5)
Job raak nou radikaal. Hy sweer selfs ʼn eed by God dat hy die waarheid oor hierdie saak praat. Dit is ironies dat hy juis ʼn eed sweer by die Een wat hy meen verantwoordelik is vir sy situasie. Hy kan nie anders as om vol te hou dat hy onskuldig is nie. In sy geval bied die tradisionele vergeldingsleer, wat hy self goed ken, nie ʼn antwoord nie.
10de gesprek –
Job vind kalmte in die nostalgiese en intense verlange na dinge soos dit was: dit was net as gevolg van God se sorg. Hy lys hoe goed dit met hom gegaan het, hoe voorspoedig hy was, hy lys die goeie dade wat hy gedoen het en die sondes wat hy vermy het.
Dan: “Maar nou …” terug by die intense bitter hede.
Job stel sy saak – sy laaste woorde:
Job begin met ʼn terugblik na die goeie verlede toe God nog by hom was – “dit was die beste jare van my lewe”.
Toe het hy ʼn goeie gesinslewe gehad – sy kinders rondom hom. Hy het oor al voorspoed geniet. Hy het sake sukses gehad in die stadspoort, die respek van almal om hom. Hy vertel hartroerend van al die goeie dade wat hy verrig het en die hulp en beskerming wat hy gebied het aan almal rondom hom, veral die armes, onderdruktes, uitgeworpenes en behoeftiges. Hy was sterk en lewenslustig.
“Maar nou …” hy keer terug na die bitter hede waar hy deur almal belag en gespot word. Geen eerbied en geen liefde.
Sy gemoed is gebreek, die pyn knaag aan sy liggaam. Daar is geen meer hoop vir hom nie, hy staar sy ondergang in die gesig. Hy roep na God om hulp maar Hy antwoord hom nie. God het sy rug op hom gedraai, en val hom aan met geweld!
Job beroep hom nou op al die kwaad wat hy in sy lewe vermy het en nie oorgegee het nie, selfs nie in sy gedagtes nie. Dan lys hy ʼn aantal sondes en vra vir God of hy skuldig is aan enige van hulle. Hy is nie, as hy was, sou hy die straf verduur het maar hy is selfs bereid om voor God te getuig dat dit die waarheid is.
Dit is die einde van Job se woorde!
God antwoord Job
Dit is waarvoor Job , en ons, in knaende afwagting gewag het. Die Here antwoord vir Job uit ʼn stormwind. Die Here antwoord nie dadelik op Job se vrae nie. Hy daag vir Job uit:
“Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy my”.
Waar was Job toe God die aarde geskep het? Dan gaan die Here voort en beskryf in beeldryke taal hoe Hy die Heelal, die hemelliggame, sterre en son, dagbreek, see, water, wolke, lig en duisternis, weerlig en donderweer, wind en reën, alles gemaak het, aan hulle ʼn plek gegee het en steeds beheer en beveel. Kan Job enige van dit beheer of beveel met sy stem?
Dan praat God oor die diere in die veld wat Hy gemaak het en steeds voed. Hy sorg ook vir hulle kleintjies dat hulle genoeg het om te eet. Kan Job vir hulle kos gee?
Kyk net na twee van my skepsels sê God, die seekoei en die krokodil. Aanskou hulle krag, hulle ontembaarheid, hulle vul mense met vrees. Net hulle maker kan hulle beheer. Kan Job hulle tem?
God sê Hy is groot, verhewe en almagtig. Hy regeer oor alles en sorg vir alles, ook vir ons. Hy voldoen aan al ons behoeftes. Ons moet glo, hoop en vertrou. Hy wil dié gedagte tuisbring by Job. Job se vrae bly eintlik onbeantwoord maar hy is tog tevrede. Al verstaan hy nie heeltemal nie, kan hy nou vertrou en aanvaar wat oor sy pad gekom het. Hy kyk nou na God met nuwe oë en begin sy swaarkry in perspektief sien: Hy het hoop.
Job antwoord kortliks
Job besef sy gedagtebeeld van God was heeltemal te beperk. Hy sê hy het tot nou toe net gehoor wat mense van God sê, nou het hy God self gesien. Hy weet dat God tot alles in staat is en dat Hy uitvoer net wat hy besluit. Job het nie verstaan nie. Hy het oor dinge gepraat wat hy nie begryp het nie. Nou sal hy stilbly. Hy lê sy hand op sy mond. Hy is vol berou, in sak en as.
Die Here – finale uitspraak
Die Here sê:
“Job, my dienaar, het die waarheid oor my gepraat.”
Hy is egter kwaad vir die drie vriende en sê vir hulle:
Julle het nie die waarheid oor my gepraat soos my dienaar Job nie. Julle moet ʼn offer na Job toe vat en dit offer en Job sal vir julle bid. Dan sal Ek Job se gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Job het die waarheid oor my gepraat.”
Die Here seën Job
Die Here het die omstandighede van Job verander en hom in ere herstel. Hy het vir Job twee keer soveel gegee as wat hy gehad het. L sy familie en vriende het terug gekom na hom, hom getroos en saam met hom geëet.
Hy het weer ʼn gesin gekry: sewe seuns en drie dogters. Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste. Hy het ʼn lang lewe gehad; hy het nog 140 jaar gelewe en sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. Job het ʼn vol lewe gehad. Die Here het hom geseën.
Hoe om Job te verstaan
Job verteenwoordig die lydende mensdom wat sukkel om te verstaan waarom ellende en wanhoop hulle tref. Hulle kan nie help om te voel hulle verdien dit dan nie. Net soos Job wil ons protesteer.
Die verhaal van Job vertel van ʼn vroom man wat God en sy naaste getrou gedien het. Hy was ʼn goeie mens en het nie verdien om al sy eiendom, sy kinders en sy gesondheid te verloor nie. Hoekom? Net ons weet van die hemelse vergadering waar die besluit geneem is en waar God self sê Job is sonder rede geruïneer.
Sy vriende kom na hom om hom te troos maar beskuldig hom dat hy moes gesondig het om hierdie straf van God te verdien. Job hou vol dat hy onskuldig is, maar sy vriende wil nie luister nie. Job draai egter nie weg van God af nie, hy bly glo, maar worstel om te verstaan waarom God hom laat swaarkry.
Ons as mense wil God se wil verstaan. Veral as slegte dinge met ons of ander gelowiges gebeur. Hoekom gebeur daar slegte dinge met goeie mense?
Niks gebeur toevallig nie, God regeer oor alles en in alles.
“Die verborge dinge is vir die Here onse God – Hy hoef dit nie aan ons bekend te maak nie.” Deut. 29:29a
Moenie dink omdat jy swaarkry dat God jou vergeet het nie. Job het gedink dat God hom verlaat en vergeet het. Dit kan nooit! Terwyl jy swaarkry werk God persoonlik met jou om die swaarkry te hanteer en te verwerk. God het nooit vir Job gelos of vergeet nie. Hy gee hom steeds krag, deur die Heili Gees, al voel dit nie vir hom so nie.
Ons moet leer om op te hou vra “waarom?” en eerder te vra “vir watter doel?”. God het ʼn doel met alles en die doel sal sigbaar word in God se openbaring in die toekoms.
Moeilike vrae:
- Waarom dien ons God? Job het bewys dat hy nie net vir God dien omdat hy allerlei voordele daaruit trek nie. Kan ons dieselfde sê?
- Hoe moet ons lyding verstaan en hoe beïnvloed dit ons verhouding tot God? Dit is ongelukkig waar dat daar sekere dimensies van ʼn mens se selfbegrip en verhouding tot God slegs na vore kom wanneer jy in ʼn situasie van angs en lyding is. Lyding moet ons nie weg stoot van God nie, dit moet ons juis nader trek.
Job is ʼn gefolterde, verwonde man. Hy smag na die dood as ontvlugting van God se toorn. Maar hy besef hy moet eers sy saak teen God voer en sy onskuld bewys voordat hy in die dood verlore gaan. Dan gaan niemand na hom luister nie.
Dan volg die hoogtepunt van die verhaal. God antwoord vir Job:
Dit is egter nie die reaksie wat Job verwag nie. God antwoord nie sy vrae nie en gee hom nie ʼn rede vir sy lyding nie.
God beskryf bloot Sy grootheid en almag en wonders ten opsigte van die skepping. Hoe Hy alles gemaak het en steeds onderhou. Maar dit is nie net ʼn skepping les nie, ons is deel van hierdie skepping. Hy het ons ook gemaak en onderhou ons nou nog van dag tot dag.
Net so min as Job al hierdie wonders verstaan, verstaan hy ook nie vir God nie. God is ʼn veel hoër vlak as ons en Job is te klein en onverstandig.
Job kan nie vir God uitdaag nie. God se regverdigheid kan nie teorieë vasgevang word nie. Soms gebeur onbegryplike dinge skynbaar sonder rede. Dit moet Job aanvaar, en hy doen dit op sy knieë terwyl hy bely dat hy gepraat het oor dinge wat hy nie ten volle verstaan nie.
God praat weer:
Hy is kwaad vir Job se drie vriende – hulle het nie die waarheid oor Hom gepraat nie. Hulle het ook nie verstaan nie. Hulle was vasgevang in die antieke teologiese leerstellings en onbuigbaar om die werklikheid te herken. Hulle het aangehou en aangehou dat Job moes gesondig het, anders sou hy nie so gely het nie. Die werklike lewe is nie so eenvoudig nie, dit is vol onsekerheid, skynbare sinlose lyding, raaisels en teenstrydighede.
Om in God te glo is moeilik, maar dit is juis wat dit vra – geloof.
Job word geseën en totale herstel geskenk. Job se swaarkry was nie nutteloos nie. Die uiteinde: nou ken hy die Here beter. Hy het nou vir God gesien. Sy vertroue in die Here is versterk en sy geloof is nou op ʼn totale hoër vlak as voorheen. Nou het hy rus en vrede!
Wat sê Job:
Die spreekwoord lui: “Job se geduld”, maar Job was nie eintlik baie geduldig nie. Hy het nie sy lyding gedweë verduur nie. Hy het geprotesteer, geargumenteer en gedebatteer en bevraagteken. Hy het 36 keer gevra dat God hom moet antwoord en verduidelik wat sy sonde is, á daar iets is, en waarom hy so moet swaarkry.
Is ons nie maar ook so in tye van lyding nie. “Hoekom?”, “Hoekom?”. Dit voel God het sy rug op ons gedraai. Hy het vergeet van ons en sien nie ons swaarkry raak nie. Maar dit is baie van die waarheid.
God is verhewe, maar nie so verhewe dat Hy ons nie raaksien nie. Hy sien elkeen van ons asof ons sy enigste kind is. Hy is bewus van jou lyding en beheer dit selfs. Ons is in God se hande en Hy sorg vir ons – op sy manier. Hy is Almagtig en Alwetend, Hy weet wat Hy beplan met swaarkry.
Ons is maar net te klein en onkundig om dit ooit te verstaan. Ons moet ook nie al ons kragte inspan om te probeer verstaan en antwoorde te soek op al ons lewensvrae nie. God sal wel perspektief aan ons openbaar – in Sy eie tyd. Ons moet net aanhou bid en vra vir geduld, krag en leiding.
Sowat moet ons doen in hierdie swaar tye? Ons moet glo, hoop en vertrou. Dit sal weer beter gaan. God sál uitkoms gee. Ons moet een belangrike ding onthou: God is onveranderlik. Hy was eenmaal lief vir ons, Hy is nog steeds lief vir ons en sal altyd wees. Hy dra ons geluk en welsyn op Sy hart.
Maar hoekom dan die swaarkry? Ons moet onthou : God het ʼn doel met alles. Hy gebruik die swaarkry soms in ʼn positiewe doel om ons tot introspeksie te forseer en daaglikse bekering. Hy gebruik dalk die lyding om jou lewens rigting te verander na die pad van die lig. Al hierdie dinge sal duidelik word soos die swaarkry verbygaan. God beskerm ons en sorg vir ons. Dag tot dag!
Dit is moeilik om al hierdie positiewe dinge in gedagte te hou gedurende die swaarkry, ons raak net negatief. Forseer jouself om positief te dink en selfs dankbaar te wees. Steun op God, dan sal jy nie val nie. God is met jou.
Glo, hoop en vertrou. Dit sal weer beter gaan!
ʼn Persoonlike nota
Ek kan my vereenselwig met Job. Soortgelyke dinge het met my gebeur. Maar ek was nie so sterk soos Job nie. Ek het baie geleer uit die boek van Job en daarom het ek hierdie boek geskrywe. Hoop dit help jou ook.
Na ʼn traumatiese insident was ek vir sewe jaar baie siek. Ek het byna by die dood omgedraai, verskeie kere. Ek het geen lewe gehad nie, net swaarkry.
Ek het ook vir God gevra hoekom en hoekom Hy my nie eerder geneem het nie en my nie die gespaar het nie. Ek het die sin van die lewe verloor en gesmag na die dood. Ek was vasgevang in angs en elke dag heeldag het ek gebid tot die Here vir verlossing en hulp.
Dinge het net erger geraak. Geen dokter kon my help nie, hulle het net in moedeloosheid en verbasing gesê hulle kan niks vir my meer doen nie. Later het ek selfs my rug op die Here gedraai en opgehou bid want dit het nie gehelp nie. Ek het nie geglo nie, ek het nie gehoop nie en ek het nie meer vertrou nie. Ek was dood!
Toe na sewe jaar het die Here my gered! Hy het my letterlik oornag beter gemaak. Feitlik heeltemal gesond. Hy het my lewe vir my teruggegee.
Ek het weer gelewe, gesond, gelukkig. Ek was weer saam met my familie en vriende. Ek kan doen wat ek wou. Ek het weer geglo, gehoop en vertrou! Ek weet nou selfs “hoekom”.
Die Here het my swaarkry gebruik om my van ʼn oppervlakkige onstabiele Christelike lewe te lei na ʼn volkome toegewyde geloof en standvastige bediening. Al my vriende en familie wat vir my gebid en gesorg het is nou nader aan die Here getrek.
Ek het nou my hele lewe aan die Here toevertrou. Ek het my hele lewe aan die voete van die Here gelê en gesê: “Here doen met my wat u wil en stuur my waar u my wil hê”.
Nou studeer ek die Woord van God en skryf boeke oor my studies. Ek was eers ʼn mediese dokter en het elke dag gebruik om lewens te red. Nou gaan ek die res van my lewe toewy om kennis van die Woord van God te verkry wat hopelik eendag sal bydra om ander mense se siele te red. Die Here is met my!
En die donker verlede? Nou bykans vergete, asof dit nooit gebeur het nie!