DIE WET
 
 
1.1 Inleiding. 3
1.2 Waarom het die Here die Wet gegee?. 3
1.3 Wat is die bedoeling van die Wet?. 4
1.4 Sondag 34: 5
1.4.1 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here?. 5
1.4.2 Vraag 93: Hoe word hierdie gebooie ingedeel?. 5
1.4.3 Die inhoud van die Tien Gebooie: 5
1.4.4 Die eerste gebod. 6
1.4.5 Vraag 94: Wat gebied God in die eerste gebod?. 6
1.4.6 Vraag 95: Wat is afgodery?. 6
1.5 Sondag 35: 7
1.5.1 Die tweede gebod: 7
1.5.2 Hierdie gebod bevat n belofte aan die wat gewillig is om hom te aanbid soos Hy beveel. 7
1.5.3 Vraag 96: Wat eis God in die tweede gebod?. 7
1.5.4 Vraag 97: Mag ons dan glad nie beelde maak nie?. 10
1.5.5 Vraag 98: Mag ons beelde as “boeke van die leke” in die kerkgebou toelaat?. 11
1.6 Sondag 36 en 37: 11
1.6.1 Die derde gebod: 11
1.6.2 Vraag 99: Wat eis die derde gebod?. 11
1.6.3 Vraag 100: Is dit dan so ‘n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan en verbied nie?  13
1.6.4 Vraag 101: Mag ‘n mens ook godvresend by die Naam van God ‘n eed sweer?. 14
1.6.5 Vraag 102: Mag ‘n mens ook by die heiliges of by ander skepsels sweer?. 14
1.7 Sondag 38: 15
1.7.1 Die vierde gebod. 15
1.7.2 Vraag 103: Wat gebied God in die vierde gebod?. 16
1.7.3 Die kerk begrawe homself in sy sondes. 16
1.7.4 Die Here is nie ‘n God van haat en van wraak nie. Hy is ‘n God van liefde. 17
1.7.5 Die Here bly ‘n God wat ruimte het in sy genade. 17
1.8 Sondag 39: 20
1.8.1 Die vyfde gebod. 20
1.8.2 Vraag 104: Wat eis God in die vyfde gebod?. 20
1.9 Sondag 40: 21
1.9.1 Die sesde gebod. 21
1.9.2 Vraag 105: Wat eis God in die sesde gebod?. 21
1.9.3 Vraag 106: Praat hierdie gebod net van doodmaak?. 25
1.9.4 Vraag 107: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?. 25
1.10 Sondag 41: 26
1.10.1 Die sewende gebod. 26
1.10.2 Vraag 108: Wat leer die sewende gebod ons?. 26
1.10.3 Vraag 109: Verbied God in hierdie gebod niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie?  26
1.11 Sondag 42: 27
1.11.1 Die agste gebod. 27
1.11.2 Vraag 110: Wat verbied God in die agste gebod?. 28
1.11.3 Wat beteken dit om te besit?. 28
1.11.4 Hoe verkry ek my besittings?. 30
1.11.5 Hoe moet ons al ons besittings gebruik?. 31
1.11.6 Vraag 111: Maar wat gebied God jou in hierdie gebod?. 31
1.12 Sondag 43: 32
1.12.1 Die negende gebod. 32
1.12.2 Vraag 112: Wat eis die negende gebod?. 32
1.12.3 Die negende gebod wil ons bewaar teen die kwaad. 33
1.12.4 Die negende gebod maan ons tot versigtigheid. 34
1.12.5 Die negende gebod spoor ons aan tot dienende liefde. 35
1.13 Sondag 44: 36
1.13.1 Die tiende gebod. 36
1.13.2 Vraag 113: Wat eis die tiende gebod van ons?. 36
1.13.3 Vraag 114: Maar kan die wat tot God bekeer is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam?  43
1.13.4 Vraag 115: Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie?. 43
1.14 Wat is nou ons verantwoordelikheid?. 43

 
Inleiding
 
En daarna het al die kinders van Israel nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die HERE met hom gespreek het op die berg Sinai. (Eksodus 34:32 AFR1953)
 
’n Mens kan nie sommer self gaan besluit hoe hy die Here wil dien nie.
As jy iets doen waarvan die Here nie hou nie, of jy doen dit anders as wat Hy dit gedoen wil hê, het jy moeilikheid.
In jou omgang met die Here moet jy doodeenvoudig jou knieë buig voor elke ding wat Hy sê, anders doen jy sonde.
 
Ons lees in die Romeine brief die volgende:
Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here. (Romeine 6:23 AFR1953)
Dus: die betaling vir die sonde is die dood.
Iemand wat onbekeerlik volhard in die sonde, gaan dus nie die binnekant van die hemel sien nie.
 
Hoe weet ons dat ons nie met ons manier van aanbid sonde doen nie en dat ons ons Skepper met die manier waarop ons aanbid behaag? Ons wil tog nie deur die sonde totaal doodgemaak word nie?
Ons moet die wet van die Here saam met hierdie uitspraak in die Bybel sien.
Soos wat die wet op Sinai gegee is, beteken dit twee dinge:
Eerstens beloof dit loon aan die mense wat die wet onderhou.
Tweedens beloof dit straf aan die mense wat die wet nie onderhou nie – vir hulle is die wet ’n dreigement.
 
Waarom het die Here die Wet gegee?
Israel het pas uit Egipte gekom.
Egipte was ’n land wat besaai was met afgode.
Dit was ook ’n land waar die mense wat afgodspriesters en waarsêers en die heidense towenaars die belangrikste mense was.
 
Daarby moet u onthou dat Egipte land destyds handel gedryf het met feitlik alle bestaande volke van die wêreld.
Al die handelspaaie het na Egipte geloop.
Dit het die mense van Egipte met letterlik alle afgodedienste van daardie tyd in aanraking gebring.
 
Die Israeliete het so lank onder die Egiptenaars gebly dat daar sommiges van hulle was wat toe later self allerhande afgode aanbid, of ten minste gedeeltelik aanbid het.
Hiervan is die goue kalf ’n baie duidelike voorbeeld.
Dit was dinge wat hulle in Egipte geleer het; hulle het dit nie vir die eerste keer in die woestyn uitgedink nie.
 
 
 
Wat is die bedoeling van die Wet?
In die hemel sal ons eendag die volle openbaring van die heerlikheid van die Here hê, want die Here sal self oor ons en by ons wees, en ons sal altyd by Hom wees.
Maar hier op die aarde waar ons nou nog is, is dit anders.
Hier kan ons die Here net ken uit dit wat Hy aan ons openbaar.
 
Die Here openbaar baie dinge aan ons:
Hy openbaar sy heerlikheid; sy sterkte en sy almag;
Hy openbaar aan ons sy wil, met ander woorde wat Hy wil hê wat moet gebeur. Dit sluit die manier waarop ons die Here moet aanbid in.
 
Hoe openbaar die Here Hom sodat ons Hom kan ken en sy wil verstaan?
Een van die maniere waarop die Here Hom aan ons openbaar, is deur die Tien Gebooie – dit het ons gelees.
Die Here het daar by die berg Horeb geopenbaar wat die mense moet doen om Hom te aanbid.
Die Here het toe hierdie wette vir Moses gegee.
Moses moes die opdrag aan die volk gaan gee om die wette almal te gehoorsaam, anders gaan hulle gestraf word.
 
Die punt waaroor dit gaan, is dat ons baie goed moet onderskei tussen ons wette en die Here se wette, want ons sal altyd met al ons beplanning en wette voor die wet van God moet buig.
 
Ons het geen keuse anders as om te gehoorsaam nie, want die wet van die Here is enig in sy soort:
Die wet van die Here staan bo alle menslike wette.
Dit is ook onmisbaar vir alle mense.
 
Natuurlik is dit baie belangrik dat ons ook moet verstaan dat ons in ’n ander verhouding tot die Tien Gebooie staan as wat die klomp Israeliete daar in die woestyn teenoor die wet gestaan het.
In hulle tyd was hulle nog onder die werkersbond.
Baie grof gestel beteken dit dat wetsonderhouding ’n verpligting was vir toelating om in die hemel te kom.
 
Ons is nie meer daar nie:
Ons is versoende en verloste kinders van God deur die Here Jesus Christus.
Sit ons dit langs die wet neer, dan beteken dit dat ons vrygemaak is van die dwang van die wet.
Ons is vry daarvan dat as ons die wet nie ten volle kan onderhou nie, dat ons die hel en die ewige dood as straf gaan kry. Die Here Jesus het gesterf sodat daar vir ons versoening is as ons berou het wanneer ons die wet oortree en uit ons sondes opstaan.
 
Die kruisdood van die Here Jesus was tot ons versoening omdat ons totaal in onvermoë is om die wet behoorlik te kan onderhou. Toe volbring Hy dit vir ons.
Ons is verlostes in die Here Jesus Christus.
In Hom ontvang ons die liefde en vergifnis van God die Vader.
 
 
Sondag 34: 
 
Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here?
Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut. 5:6-21): Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het.
 
Here jou God = Skepper van hemel en aarde
Egipteland, slawehuis = slawerny van sonde
 
En daarna het al die kinders van Israel nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die HERE met hom gespreek het op die berg Sinai.(Eksodus 34:32 AFR1953)
 
Want dit is die liefde tot God dat ons Sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie. (1 Joh 5:3)
 
Soos wat die wet op Sinai gegee is, beteken dit twee dinge:
Eerstens beloof dit loon aan die mense wat die wet onderhou.
Tweedens beloof dit straf aan die mense wat die wet nie onderhou nie – vir hulle is die wet ’n dreigement
 
Vraag 93: Hoe word hierdie gebooie ingedeel?
Antwoord: In twee tafels (a), waarvan die eerste in vier gebooie ons leer hoe ons ons teenoor God moet gedra, die tweede in ses gebooie, wat ons aan ons naaste verskuldig is (b).
(a)Deut. 4:13; Eks 34:28; Deut. 10:3, 4. (b) Matt 22:37, 40.
 
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.  Dit is die eerste en groot gebod.  En die tweede wat hiermee gelykstaan:  Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete. Matt 22:37-40
 
Die inhoud van die Tien Gebooie:
Die eerste vier gebooie leer die volk wat hulle verhouding met en hulle verpligting teenoor die Here is.
Kyk na die inhoud van die wet:
Die eerste gebod handel oor die liefde tot God – erediens.
Die tweede een oor diens aan God – die feit dat beeldediens nie beoefen mag word nie.
Die derde gebod handel oor die Naam van God.
Die vierde gebod gee ons opdrag oor hoe die dag van die Here gevier moet word.
 
Dit was die eerste tafel wat Moses onder sy een arm gedra het.
 
Die tweede tafel het ’n hele stel nuwe gebooie bevat. In hierdie tweede stel gebooie gaan dit oor die verhouding van een mens tot ander mense.
Die vyfde gebod leer ons van die gesag van ons meerderes.
Die sesde gebod beskerm die lewe van die mens.
Die sewende bewaar die reinheid van die huwelik.
Die agste handel oor die eiendom van die mens.
Die negende beskerm die eer van elke mens wanneer die Here die mens verbied om sy naaste te loop en beswadder.
Die tiende gebod verbied die mens om allerhande slegte en verkeerde begeertes te hê.
 
U sien dadelik dat die Tien Gebooie so geskryf is dat dit alle terreine van die lewe dek.
Die Here openbaar daarmee aan ons dat daar werklik niks op die aarde is wat nie onder die heerskappy van God is nie.
Die doel van hierdie tien gebooie is dat ons God as die enigste God moet ken, en weet dat Hy alleen God is oor al wat leef.
 
Die eerste gebod
Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.
 
Vraag 94: Wat gebied God in die eerste gebod?
Antwoord: Ek moet ter wille van my siele heil en saligheid
– alle afgodery (a),
– towery, waarsêery, bygeloof (b),
– aanroeping van heiliges of ander skepsels (c)
– vermy en daarvan wegvlug.
– Ek moet die enige ware God reg leer ken (d),
– Hom alleen vertrou (e),
– my slegs aan Hom met alle nederigheid (f)
– en geduld onderwerp (g)
– en van Hom alleen alle goeie dinge (h) verwag.
– Ek moet Hom met my hele hart liefhê (i),
– vrees (j)
– en eer (k).
Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel (1).
(a)1 Joh 5:21; 1 Kor 6:10; 10:7, 14. (b) Lev 19:31 Deut 18:9, 10, (c) Matt 4:10; Op 19:10; 22:8, 9. (d) Joh 17:3. (e) Jer 17:5, 7. (f) 1 Pet 5:5. (g) Heb 10:36; Kol l:11; Rom 5:3, 4; I Kor 10:10; Fil 2:14. (h) Ps 104:27; Jes 45:7; Jak 1:17. (i) Deut 6:5; Matt 22:37. (j) Deut 6:2; Ps 111:10; Spr 1:7; 9:10; Matt 10:28. (k) Matt 4:10; Deut 10:20. (1) Matt 5:29; 10:37; Hand 5:29.
 
Met hierdie gebod verbied God aanbidding van afgode.
 
Vraag 95: Wat is afgodery?
Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel (a).
(a)Ef 5:5; 1 Kron 16:26; Fil 3:19; Gal 4:8; Ef 2:12; 1 Joh 2:23; 2 Joh 9; Joh 5:23. 
 
Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skadu van omkering is nie.(Jak 1:17 AFR1953)
 
Die Here is my rots; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.(Psalm 18:3 AFR1953)
 
Sondag 35:
 
Die tweede gebod:
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder die aarde is of van wat in die water onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en nie dien nie, want Ek, die Here jou God, is ‘n jaloerse God, wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en die vierde geslag van die wat My haat. En Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en My gebooie onderhou.
 
Hierdie gebod bevat ʼn belofte aan die wat gewillig is om hom te aanbid soos Hy beveel.
En hulle het hul Heerlikheid verruil vir die afbeelding van ’n bees wat gras eet. (Psalm 106:20 AFR1953)
 
Ons mag nie beelde maak nie. Iewers, hoe snaaks dit ook al mag klink, begin mense in ons ontwikkelde tye weer sulke dinge doen.
Mens kan dalk dink dat ons mos nie meer afgodeaanbidders is wat aan beesbeelde en heilige boomstamme en sulke beelde eer gee deur voor hulle op ons knieë te gaan staan en dit aanbid nie.
Maar die teenoorgestelde begin deurskemer.
As mens die uiterste vorme bekyk, is dit duidelik dat die sataniste byvoorbeeld allerhande beelde en tekens het.
Ons dink ook aan sektes en valse kerke wat dinge soos stukke van die kruishoute en goue plate waarop die oorspronklike Tien Gebooie geskryf sou staan in hulle besit het.
Hierdie dinge is vir hulle van goddelike waarde. Dis beeldediens.
In die Christelike kerke is daar die beweging om weer afbeeldinge van die Here Jesus te wil maak wat dan kwansuis die aanbidding moet versterk.
 
Het dit nie dalk juis in ons sogenaamde moderne tyd meer as ooit nodig geword om aandag te gee aan hierdie beelde verering nie?
Ons is miskien ver ontwikkel in ons wetenskap, maar in ons godsdiens was sekeres van ons se ontwikkeling so swak dat ons weer aan hierdie gebod moet aandag gee.
Die eise van die Here het nog al die tyd onveranderd vir ons bly geld.
Ons moet vandag nog net so beslis soos Israel aanpassings maak om die wet van die Here suiwer na te kom.
 
In die Tien Gebooie eis die eerste gebod dat God as die enigste God gedien en vereer moet word. Dan volg hierdie tweede gebod om te sien hoe die Here as die enigste God gedien wil word.
 
Vraag 96: Wat eis God in die tweede gebod?
Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie (a) en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie (b).
(a)Jes 40:18, 19, 25; Deut 4:15, 16; Rom 1:23; Hand 17:29. (b) 1 Sam 15:23; Deut 12:30; Matt 15:9.
 
Die gebod bepaal eerste die manier:
Nie deur beelde nie.
Die gebod gee ook die rede waarom nie – ’n beeld verkondig ’n valse God.
Die gebod leer ons dus dat God nie in ’n beeld vereer wil word nie.
 
Daar staan geskrywe:
Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. (Deuteronomium 5:8 AFR1953)
Dis in die enkelvoud, want hierdie beeld het betrekking op God.
Verder word daar dan vertel dat geen geskape ding afgebeeld mag word met die doel om dit te aanbid nie.
Natuurlik omdat die eer en die aanbidding aan God toekom.
 
Die Here het hierdie gebod ook gemaak omdat Hy ons ken, en weet dat as ons toegelaat sou word om Hom deur ’n beeld te vereer, die klem na die beeld toe sou verskuif.
Die beeld sou later die aanbidding ontvang, en nie God nie.
Die Here wil juis hê dat ons Homself en persoonlik moet aanbid. Direk.
 
Verder is hierdie poging om God af te beeld ’n geweldige aanranding en skending van sy wese.
Die Here is Gees.
Hy is magtig en verhewe bo enige mens of skepsel.
 
As ons nou ’n afbeelding van God sou maak deur ’n beeld of ’n skets, dan wis ons die grens tussen God en ’n skepsel uit.
Dan is die nabootsing van die beeld van die Here bloot ’n menslike skepsel of skepping.
Dit doen geweldige afbreuk en skade aan die heiligheid van die Here.
Dan word jou godsdiens ’n karikatuur.
 
Daar is nog steeds mense wat – nadat hulle al hierdie dinge weet – vra waarom ons nie van God ’n beeld mag maak nie.
Die antwoord hiervoor is mos voor die hand liggend.
Enige vorm van afbeelding van die Here is ’n leuen.
Geen afbeelding kan eers iets van die Here weergee wat waar is nie.
Ons sal dan heeltemal ’n onware voorstelling moet maak – ’n voorstelling wat suiwer moet berus in die krag van ons eie verbeelding!
 
Die motief van die Here agter hierdie besluit is om te verhoed dat ons die Here in ons godsdiens vermenslik.
Met beeldediens sal ons ons uitgee vir die grootste vorm van skending wat die heiligheid van God nog ondergaan het.
Die Here kan nie so gedien word nie!
 
Daar is wel ’n beeld van God in die skepping – maar dis nie ’n fisiese beeld nie.
Dit is die mens wat na die beeld van God geskape is.
Omdat God Gees is, is die beeldskap van God in ons ook geestelik van aard.
Die beeld bestaan in kennis, geregtigheid en heiligheid.
Die vermoë dus om God sonder ’n sigbare beeld te kan aanbid!
 
Maar ons het hierdie beeldskap in ’n sekere sin verloor.
Eintlik het dit net geskend en verwronge geraak deur die sondeval, en die feit dat ons daardeur van die Here vervreem geraak het.
Nou ondervind die mens ’n heimwee en ’n soeke na hierdie beeld van die Here wat hy verloor het, en dit kom nou tot uiting in hierdie beeldediens.
Ons beskou onsself as hoog ontwikkeld, en wetenskaplik ver gevorderd, maar nou wil sommiges weer ons kinders met prentjies leer om God te dien. Dit kan mos nie.
 
Die Here leer in die Bybel dat Hy gedien wil word deur lewendige aanbidding en Woordverkondiging. Romeine 10:14:
Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? (Romeine 10:14 AFR1953)
Ons kan die Here net in die geloof aanroep.
Ons kan Hom net ken deur van Hom te hoor!
Daar kan net gehoor word as daar een is wat preek.
 
Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. (Romeine 10:17 AFR1953)
 
2 Petrus 1:19 stel dit in moeiliker taal, maar tog baie mooier:
En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; (2 Petrus 1:19 AFR1953)
 
’n Dooie beeld kan hierdie lewendige werking van die Gees van God tog nie vervang nie. Dit kan ook nie diepte in jou hart bewerk nie.
 
Ons sien in hierdie gebod die Here Jesus na sy opstanding as Hy aan die elf dissipels verskyn en hulle verwyt dat hulle nie die wou glo wat verkondig het dat Hy opgestaan het nie, dat hulle eers glo noudat hulle Hom self gesien het!
Later het Hy aan die elf self verskyn toe hulle aan tafel was, en Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. (Markus 16:14 AFR1953)
Dis waarom die kategismus sê dat ons nou nie wyser moet wees as God nie.
Die wysheid van God het juis bepaal dat ons deur die prediking van die Evangelie en nie deur beelde of prente nie, aan Hom moet eer bewys.
 
Ons moet ook die doel onthou waarom hierdie gebod ons verbied om afbeeldinge van God te maak.
Die antwoord is weer net so kort en logies: dis sodat ons die werklike Godsopenbaring kan sien en van God kan ontvang.
Dis om die Here werklik te kan ken deur die werk van sy Heilige Gees, en van sy Woord.
Anders sal ons eerbetoon aan die Here heeltemal tevergeefs wees.
 
Laat ons dan geestelik lewe, en nie van ons God aards dink nie, en so gemeenskap met Hom beoefen. Laat ons sy grootheid en sy majesteit in sy onsienbaarheid vereer. En laat ons vertrou op sy onsienlik nabyheid en genade.
 
Vraag 97: Mag ons dan glad nie beelde maak nie?
Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie (a). Die skepsels mag wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons van hulle afbeeldings maak en besit om dit te vereer en Hom daardeur te dien (b).
(a)Jes 40:25. (b) Eks 34:17; 23:24; 34:13; Num 33:52.
 
Hierdie tweede gebod het nou die eerste Christene in ’n groot spanning laat beland.
Want hulle het aanvanklik van die standpunt uitgegaan dat mens selfs nie eers ’n skildery of ’n kunsbeeld vir versiering in jou huis mag hê nie.
Later het die standpunt so verander dat mens tekeninge en skilderye mag maak, maar jou net nie in aanbidding daarvoor mag neerbuig nie.
 
Die fout in die benadering van die eerste Christene het daarvandaan gekom dat hulle onder die heidene geleef het wat afbeeldinge van visse en voëls gemaak het en dié kultus-voorwerpe aanbid het.
 
. . . en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. (Romeine 1:23 AFR1953)
 
Deur hierdie afgodsbeelde diens is die mense se verstand dan verduister.
 
Verder is dit ook belangrik omdat die saak in die enkelvoud gestel word.
Die beeld of gelykenis is van God. Daar mag geen afbeelding van watter aard ook al van God gemaak word nie.
Mense en diere mag afgebeeld word. Deuteronomium 4:16 stel dit baie duidelik.
Hulle mag nie afgodsbeelde maak van ’n man of ’n vrou of enige dier nie.
Afgodsbeelde bring dan aanbidding aan iets in die plek van God.
 
Dit is waaroor dit gaan in die tweede gebod.
 
Die gebod van God is eintlik logies.
As geen mens God gesien het nie, hoe kan daar dan van God ’n afgodsbeeld gemaak word?
Daar is nie die vaagste aanduiding vir enigeen wat die Here wil afbeeld hoe hy dit moet doen nie.
 
Na die sondeval het hierdie sonde natuurlik sterk op die voorgrond begin tree.
In toenemende mate lees ons in die Ou Testament van die behoeftes wat daar by die mense gegroei het om ’n afbeelding te maak van die God wat hulle aanbid het.
So erg was dit dat die profete by herhaling moet waarsku dat God nie in klip of droë hout is nie!
 
Vraag 98: Mag ons beelde as “boeke van die leke” in die kerkgebou toelaat?
Antwoord: Nee, want ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde nie (a), maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig (b).
(a)Jer 10:8; Heb 2:18. (b) Rom 10:14, 15, 17; 2 Pet 1:19; 2 Tim 3:16, 17. 
 
Hierdie gebod verbied die gebruik van enige hulpmiddels in aanbidding tot die onsigbare God.
 
Maar daar kom ʼn uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader soek ook mense wat Hom so aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Jes 66:23,24
 
Net soos ’n slaaf nie aan sy baas kan voorskryf nie, so kan ons ook nie die gebooie ten opsigte van Godsverering aan die Here voorskryf nie.
Ons moet bloot sy eise gehoorsaam.
Daarom gaan ons aan sy eise skade doen as ons deur ’n ander vorm of voorwerp eer aan die Here wil gee.
Verder is dit ook om ons ’n geestelike Godsverering te leer – dis juis sodat ons ons geestelik kan skool. ’n Beeld kan jou niks leer van verlossing nie. ’n Prent van Christus kan jou nie leer van bekering en van wedergeboorte nie. Die teendeel is eintlik waar: dit kan jou gees afstomp, omdat jy van die sigbare dinge afhanklik word. En die Bybel leer dat ons in gees en in waarheid moet wandel.
 
 
Sondag 36 en 37:
 
Die derde gebod:
Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
 
Vraag 99: Wat eis die derde gebod?
Antwoord: Ons mag die Naam van God nie
– laster of misbruik deur te vloek (a),
– deur ‘n valse eed (b)
– of deur onnodig te sweer nie (c).
– Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat – ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie – (d). Kortom, ons mag die heilige Naam van God nie – anders as met vrees en eerbied gebruik nie (e),
– sodat Hy deur ons reg bely (f),
– aangeroep (g)
– en in al ons woorde en werke geprys word (h).
(a)Lev 24:15, 16. (b) Lev 19:12. (c) Matt 5:37; Jak 5:12. (d) Lev 5:1; Spr 29:24. (e) Jer 4:2; Jes 45:23. (f) Matt 10:32; Rom 10:9, 10. (g) Ps 50:15; 1 Tim 2:8. (h) Kol 3:17; Rom 2:24;1 Tim 6:1.
 
God se naam onthul die soort God wat ons aanbid.  Sy mag, Sy ewige bestaan, Sy genade, Sy getrouheid, Sy Wysheid en Sy liefde is karaktertrekke wat in sy naam in verband gebring word.
 
Gee aan die HERE die eer van sy Naam, bring offers en kom in sy voorhowe. (Ps 96:8 AFR1953)
 
Dawid sien in die hemel en op die aarde die heerlikheid van God. Hy sien dat al die volke voor die Here staan. Hulle moet almal aan die Here die eer en die sterkte gee (v.7). In vers 8 skryf hy: Gee aan die Here die eer van sy Naam!
 
Al is dit Dawid se pen wat hierdie woorde neergeskryf het, is die bevelgewer die Here self. Hy gee die bevel aan mense sodat hulle kan weet hoe hulle teenoor Hom moet optree: Hulle moet sy Naam heilig maak.
 
Onwillekeurig roep dit die gebod in ons gedagtes op:
Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie. (Eks 20:7 AFR1953)
 
Prakties werk dit so dat die gelowige die Here se Naam gebruik wanneer hy die Here in sy gebede aanspreek. Of wanneer hy die Here aanbid
Elke keer wanneer ons die Naam van die Here noem, bely ons sy heilige alomteenwoordigheid.
Dink nou wat gebeur wanneer iemand wat vloek die Naam van die Here gebruik. Bid hy?
Dink hier aan die ongewensde omstandighede waaronder mense dikwels is wanneer hulle die Here se Naam as vloekwoord gebruik. 
As iemand sou beweer dat hy bid wanneer hy vloek, wat bid hy? Byna nog belangriker: wat bely hy voor die Here met sy gevloekery?
 
Weet u hoe ernstig is dit wanneer ons die Here se Naam noem?
Wanneer die ware bidder die Here se Naam noem, gaan hy in die Naam van die Drie‑Enige God na sy heiligdom toe.
Wanneer iemand die Naam van God gebruik om mee te vloek, beteken dit dat hy vir homself alle toegang tot die genadetroon van die Here afsny.
Hy laai die toorn van die Here op hom wanneer hy die Naam van die Here misbruik.
 
Wanneer iemand vloek met die Naam van die Here, bewys hy hom daarmee as die vyand van God.
Dit bewys ongeloof, of ten minste geen vordering in die geloofslewe van die vloeker nie.
Dit bewys ook ‘n gebrek aan respek vir die Here.
Ons kan ook sê dat daar ‘n gebrek aan heiligwording en bekering is by iemand wat die Naam van die Here laster of misbruik.
 
Daar is natuurlik verskillende plekke waar die gelowige die Naam van die Here moet gebruik.
Die een is vanselfsprekend wanneer ons bid.
Maar u moet nie onder die indruk wees dat die gebruik van die Naam van die Here net die gebed en ons verkeer met die Here in die algemeen raak nie.
Dit raak ook die eed wat ons sweer om die waarheid mee te bevestig.
 
Die eed is daar om die ware gelowige in staat te stel om die Ewige God as Getuie aan te roep vir dit wat hy getuig.
Dit beteken ook dat ons God as die hoogste Regter inroep vir die saak wat ons stel.
Daarom is dit sonde as jy ‘n eed sweer, maar nie die volle waarheid vertel nie  –  as jy lieg, laai jy daarmee die toorn van die Here op jou.
 
Vraag 100: Is dit dan so ‘n groot sonde om die Naam van God te laster deur te sweer en te vloek dat God Hom ook oor elkeen vertoorn wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan en verbied nie?
Antwoord: Ja, seker (a), want geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie. Daarom het Hy ook beveel om dit met die dood te straf (b).
(a)Spr 29:24; Lev 5:1. (b) Lev 24:16.
 
Daarom moet ons diep bekommerd wees oor mense wat vloek in ons teenwoordigheid, anders het ons ‘n reuse aandeel in sy sonde!
Ons mag nie onverskillig staan en toeluister waar iemand die Here laster nie.
Ons moet bekommerd wees oor God se eer en oor ander mense se saligheid, en daarom moet ons so ‘n persoon vermaan.
Ons moet in liefde na die persoon toe gaan en met hom gaan praat, sodat hy tot bekering kan kom.
 
Ons moet teenoor die vloeker se gebruik van die Naam van die Here, die Naam van die Here in eer teenoor hom gaan gebruik. Ons moet hom bearbei dat hy sy sonde kan bely en met berou hom tot die Here bekeer.
 
Prakties staan die saak so:
As ons die naam van ‘n mede landsburger laster, kan ons gedagvaar word, en deur die wet gestraf word.
 As ons so streng is oor die eer van mense, moet ons nog soveel meer nie die Naam van die Here laster, en Hom sodoende verag nie.
 
Die Here ons God het die straf van die ewige verdelging in sy hand:
Dit is ‘n baie erg straf, want dit beteken die ewige hel na hierdie lewe.
Die Here is die Enigste Regter wat daaroor beslis.
Ons moet dit besef wanneer ons sy Naam gebruik, en hierdie Regter vrees.
 
Daarom moet ons baie versigtig wees en sulke astrantheid wat in ons opkom, vervang met gelowige eerbied vir die Almagtige.
 
Besef ons altyd dat geestelike blindheid die bron is waaruit die misbruik van die Here se Naam voortkom?
Dit getuig daarvan dat die een wat die Here se Naam laster, die heerlikheid van God nie kan sien nie.
Dit getuig dat daardie persoon so doof is dat hy ook nie die stem van die Heilige Gees kan hoor nie.
 
Dit laat die vraag by die ware gelowige ontstaan of iemand wat die Here se Naam laster, ooit die binnekant van die koninkryk van God sal sien.
Die Bybel leer tog uitdruklik dat die wedergeborene die vrugte van die wedergeboorte dra.
Iemand wat vloek, getuig nie met so ‘n daad dat hy vrugte van die wedergeboorte dra nie.
 
Kom ons kyk weer na onsself.
Wat is die verhouding tussen ons en een wat in ons geselskap die Naam van die Here misbruik?
Ons verhouding behoort so te wees dat almal in die geselskap kan sien dat ons die Naam van die Here net met groot respek en met groot huiwering gebruik.
En dat ons elke keer wanneer ons die Naam van die Here noem, dit doen om aan Hom eer te betoon.
 
Vraag 101: Mag ‘n mens ook godvresend by die Naam van God ‘n eed sweer?
Antwoord: Ja, as die owerheid dit van sy onderdane eis of as die nood dit vereis om daardeur trou en waarheid te bevestig. Dit moet dan tot eer van God en tot heil van ons naaste gedoen word. Sodanige eedswering is op die Woord van God gegrond (a), en die gelowiges in die Ou en Nuwe Verbond het dit reg gebruik (b).
(a)Deut 6:13; 10:20; Jes 48:1; Heb 6:16. (b) Gen 21:24; 31:53; Jos 9:15; 1 Sam 24:23; 2 Sam 3:35; 1 Kon 1:29; Rom 1:9; 9:1; 2 Kor 1:23.
 
Dit is waarom die Here die owerheid die reg gee om onder bepaalde omstandighede van ons te kan vra dat ons die waarheid met ‘n eed bevestig. Dit is byvoorbeeld wanneer ons in die hof staan en voor die Here sweer dat dit wat ons getuig die volle waarheid voor die Here is.
 
Om te sweer is ‘n geweldige ernstige saak.
Paulus sweer byvoorbeeld in Romeine 1 dat God sy Getuie is dat hy altyd aan die gelowiges in Rome dink.
Dit is omdat hy met hierdie eed die gemeenskap van die heiliges en hulle eenheid in Christus beklemtoon.
Die ware eed bevestig dus ook die heiligheid van God en ook sy teenwoordigheid by die een wat die eed neem. Daarom is die valse eed ‘n saak wat die Here erg vertoorn.
 
Vraag 102: Mag ‘n mens ook by die heiliges of by ander skepsels sweer?
Antwoord: Nee, want om ‘n regte eed te sweer, beteken dat ek God aanroep as die enigste kenner van die hart om vir die waarheid getuienis te gee en my te straf as ek vals sweer (a). Hierdie eer kom geen skepsel toe nie (b).
(a)2 Kor l:23; Rom 9:1. (b) Matt 5:34-36; Jak 5:12.
 
Dit lei ons vanself daarnatoe dat ons mense kry wat dikwels onnodig sweer. Daar is nogal mense wat baie keer in hulle geselskap en ook sommer vir enige iets sê: Ek sweer.
 
Ten slotte moet ons onthou dat die Here ons dreig as ons sy Naam ydellik gebruik:
… want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
 
Dit is waarom ons belydenis ook leer dat daar geen sonde is wat die Here meer vertoorn as om sy Naam te laster nie.
Die saak is vir die Here so ernstig dat hy die doodstraf ingestel het op hierdie oortreding:
En wie die Naam van die HERE laster, moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom sekerlik stenig. Die vreemdeling net soos die kind van die land as hy die NAAM laster, moet hy gedood word. (Lev 24:16 AFR1953)
 
As die Here Jesus Christus ons tydens Nagmaal aan sy tafel verseker het dat Hy al ons sondes volkome met God versoen het, en ons verag Hom deur sy Naam te vloek, deel ons dan in daardie verlossing?
Is die teendeel nie waar nie, naamlik dat sulke mense hel toe gaan nie, want Christus het ook gesterf vir die verdelging van diegene wat sy Naam laster en daarmee volhard.
 
Kom ons wees liewer wat God ons in die Here Jesus Christus gemaak het: lewende getuies van sy Woord en van sy Naam.
Kom ons lewe as uitverkorenes, en herskeptes wat God bely.
Ons waak teen die misbruik van sy Naam omdat ons in Jesus Christus se verlossing die krag ontvang het om God te kan sien in sy grootheid en heerlikheid.
Laat ons onthou dat ons deur sy Gees bekwaam gemaak is om God deur die gebruik van sy Naam te eer en nie te laster nie.
 
Sondag 38:
 
 Die vierde gebod
Gedenk die Sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here, dan mag jy geen werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het Hy die Sabbatdag geseën en dit geheilig.
 
Jesaja 54:2
Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in. (Jes 54:2 AFR1953)
 
Selfs wanneer die kerk in die noute is oor sy sondes, gee die Here nog genade.
 
In ons tyd loop die kerke leeg en mense gaan al minder kerk toe.
Die rede wat oor die algemeen gehoor word is:
Die kerk is te droog, en die kerk bly nie by met die tyd nie.
Die kerk is nie lewendig genoeg vir die jongmense nie, en daarom gaan soek hulle iets wat meer opwindend is.
 
Dit was destyds presies net so.
Die volk het allerhande nuwe dinge in die afgodedienste gesien en dit begin doen, want daar was vir hulle meer opwinding in as om net tempel toe te gaan en te gaan bid en luister hoe daar vir jou lang stukke uit die Bybel voorgelees word.
Die mense het toe ook maar soos nou gedink dat die kerk droog en dood is en dat die kerk te eng is.
Toe het hulle ook hulle bevrediging in ander dinge gaan soek. Die kerk het leeg geloop.
 
Vraag 103: Wat gebied God in die vierde gebod?
Antwoord: God wil Ten eerste dat die:
– Woordbediening en die godsdiensonderrig in stand gehou word (a).
– Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van God saamkom (b)
– om die Woord van God te hoor (c),
– die sakramente te gebruik (d),
– die Here openlik aan te roep (e)
– en die Christelike liefdegawes te gee (f).
Ten tweede moet ek elke dag van my lewe van my bose werke rus, en die Here deur sy Gees in my laat werk. So begin ek die ewige Sabbat reeds in hierdie lewe (g).
(a)Tit 1:5; 2 Tim 3:14; 1 Kor 9:13, 14; 2 Tim 2:2; 3:15. (b) Ps 40:10, 11; 68:27; Hand 2:42. (c) 1 Tim 4:13;1 Kor 14:29. (d) 1 Kor 11:33. (e) 1 Tim 2:1; 1 Kor:l4:l6. (f) 1 Kor 16:2. (g) Jes 66:23. 
 
En Hy se vir hulle:  Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie. Mark 2:27-28
 
God het die 7de dag geseën en dit geheilig (afgesonder).  ʼn Eer wat nie die ander ses dae te beurt geval het nie.  Sabbat is dus uitgesonder vir heilige gebruik en doel.  Die Sabbat is dus heilige tyd vir die mens gemaak, om Hom te vereer, te aanbid, te studeer en te mediteer.
 
…soos Hy gewoond was … op die Sabbatdag in die sinagoge … (gaan) staan (het) om te lees. Lukas 4:16
 
 Die kerk begrawe homself in sy sondes.
Die Here het hierdie profesie vir ons laat opteken net voor Juda in Ballingskap gegaan het. Hulle was die kerk van daardie tyd.
Hulle was mense net soos ons, wat presies al die foute gemaak het wat ons maak.
Natuurlik verdra die Here nie allerhande sondes in sy kerk nie, en daarom het Hy hulle gestraf.
Die Here het aan die profeet Jesaja opdrag gegee om sy (die Here se) optrede en beloftes neer te skryf, sodat ons daaruit kan leer  –  omdat die Here die volk van die Ballingskap se saak net so hanteer soos wat Hy die mensdom aan die einde van die tyd gaan hanteer.
 
Kyk na die treffende beeld waarmee die Here hier met ons praat.
Hy is besig om met ‘n vrou te praat wat nie kinders het nie.
Die Bybel noem haar ‘n onvrugbare en ‘n eensame.
 
Hierdie vrou bly in ‘n tent.
Die Here gee vir haar die opdrag dat sy haar tent moet groter maak.
Sy moet die toue van hierdie groter tent baie sterk en styf maak, want daar kom baie kinders wat in hierdie tent moet kom bly:
Maak groter die plek vir jou tent, maak breër jou tentdoeke, moenie suinig daarmee werk nie. Maak langer die tentlyne en slaan die tentpenne dieper in (AFR 1983)
 
Wie is die vrou en waar staan haar tent?
Hierdie vrou is die kerk van die Here, en haar tent is haar tydelike verblyf hier op die aarde  –  die Here praat met ons!
Ons is die kerk wat deur hierdie tydelike lewe moet gaan totdat die Here ons tentwoning afbreek en vervang met ‘n ewige vaderhuis waar daar baie blyplek is vir al sy baie kinders.
 
In ons tyd beleef die kerk ‘n krisis.
Daar is ‘n siftingsproses aan die gang tussen ware en valse gelowiges wie se name almal op die kerk se lidmaatregister staan, maar wat nie met die Here saamlewe nie – presies soos wat dit met Juda was.
Dit is wat die Here bedoel met die jong vrou wat onvrugbaar is en daarom nie kinders gehad het nie.
Sy kerk het geestelik onvrugbaar geraak, want die mense se aanbidding het verskuif in dinge en plekke in waar die Here nie baie daarmee tevrede was nie.
Die kerk het kinderloos geraak.
 
Hoe reageer die Here daarop? Hy laat Jesaja vir die volk vertel hoe hulle toekoms lyk.
In die vergesig laat die Here hulle sien hoe Jerusalem eers in die oorlog vernietig gaan word omdat hulle godsdiens so agteruitgegaan het.
Geen mens kan die Here vergeet of sy verantwoordelikheid teenoor die Here afskaal en dink hy gaan daarmee wegkom nie  –  die Here se straf haal so ‘n mens in.
 
Die Here is nie ‘n God van haat en van wraak nie. Hy is ‘n God van liefde.
Daarom openbaar die Here dat Hy die geskiedenis van die gelowiges weer gaan verander.
Hy gaan weer vir hulle genade gee en Hy gaan hulle weer seën.
Uiteindelik gaan die Here hulle lot verander ten goede.
 
Die Here bly ‘n God wat ruimte het in sy genade.
Daar is dinge in hierdie hoofstuk geskryf wat ontsettend belangrik is vir ons om te onthou. Dit is dat die Here ons nie vergeet nie.
Hy sal ons wel straf as ons iets doen wat ongesond is, maar Hy sal ons nie verlaat nie.
Hy is ons koning. In hierdie hoofstuk stel die Here die saak baie sterk: Jou Maker is jou man! (v. 5).
 
Hierdie verstote kinderlose vrou het ‘n man!
Hy bring haar in sy genade bymekaar (v. 7) en
Hy ontferm Hom met ewige goedertierenheid oor hierdie vrou (v. 8).
Toegepas beteken dit dat die Here Homself verantwoordelik stel vir ons verlossing  – Hy hou Homself vir ons aanspreeklik.
 
Daarom gebruik die Here hierdie intieme beeld:
Al is jy ‘n kinderlose vrou as gevolg van jou eie onvrugbaarheid, die Here is jou Maker en jou Man!
Die Heilige van Israel is jou Verlosser.
Die Here bewerk self weer vrugbaarheid in ‘n kerk wat sy vrugbaarheid afgesterf het in die stompheid van sy geloof.
Hy gaan dit doen met ‘n liefde wat nooit vergaan nie  –  die toorn van die Here is kort en sy liefhê is lank.
 
Die Here gaan ons ook verander wanneer Hy ons weer herbou.
Hy gaan volgende keer sierklei gebruik om die stene mee aan mekaar te messel.
Ons daaglikse gewoonheid gaan met die varsheid en sprankel van saffiere en robyne  en karbonkels en allerhande soorte edelgesteentes vervang word.
 
Die Here gaan sy kerk nie net mooi maak nie, Hy neem ook die verdediging van die stad op Homself.
Die Here openbaar in vers 15 -17 dat Hy die aanvalle en menslike wapens wat teen sy kerk gerig word, onskadelik gaan maak.
 
Wat beteken dit?
Dit beteken dat God self die waarborg is vir die uitvoering van sy eie beloftes.
Gelukkig is daar nie ‘n skepsel se hand wat hierdie sake moet bepaal nie, want al die skepsele wat tot sover self dinge wou doen, het daarvan ‘n gemors gemaak.
 
Daarom het God self begin om die klein tentjie van die onvrugbare vrou groter op te slaan.
Hy het aan die kruis gesterf om die onvrugbares se sondes tot niet te maak.
Hy het die straf daarvoor gedra  –  wat beteken dat Hy hulle weer vrugbaar gemaak het.
Hy het God die Heilige Gees teruggestuur om die gelowiges so te leer en te lei dat hulle hulle onvrugbaarheid kan raaksien.
 
Hulle moet onder die leiding van God die Heilige Gees kom tot sondebesef en tot die begrip van hoe hulle teen die Here verkeerd optree.
Dan moet hulle tot bekering kom.
Hulle moet afstand doen van hulle onvrugbaarheid en weer lewe in hulle ware diens aan die Here.
 
Hy het God die Heilige Gees teruggestuur om die gelowiges so te leer en te lei dat hulle hulle tente nuut opslaan.
Ware gelowiges moet doodeenvoudig op die punt kom waar hulle die wêreld en hulle verwaandheid kan eenkant toe skuif, en weer kinders van God word.
 
Daar is nogal ‘n groot verskil tussen ‘n kind en ‘n slaaf:
‘n Slaaf is iemand wat aan sy opdragte verkneg is.
Hy kan nie doen wat hy wil nie, omdat daar ‘n gesag is wat hom so vasbind dat hy gestraf word as hy nie gehoorsaam is nie.
Hy erf ook niks en besit ook uiteindelik niks van sy heer se eiendom nie. 
 
Daarteenoor is ‘n kind iemand wat vrymoedigheid het teenoor sy ouers en wat uiteindelik eienaar word van die ouers se besittings.
Ons is kinders van God.
Kinders vir wie daar ruimte gemaak word: die tent word wyer gespan en die lyne oorgespan, sodat daar vir ons blyplek is.
 
Dit bring ons by die toepassing van hierdie gedeelte op onsself: Waar pas ons in die kerk van die Here in?
Kom ons vra die vraag anders: Wat verwag jy van jou kerk? Wil jy in die kerk dien, of moet die kerk jou dien?
 
Dit is nie vrae wat in domheid gevra word nie, want dit is hoe die mense vandag praat.
Die lidmate sê dat hulle ‘n kerk soek waar hulle iets vir hulleself kan kry wat hulle bevredig.
Daar is mense wat in hulle kerk vertoon soek. Hulle noem dit vernuwing, maar hulle bedoel daarmee dinge wat hulle persoonlike smaak tevrede stel.
 
Die Kerk bestaan uit ‘n baie besondere groep mense: Mense wat die liggaam van die Here Jesus uitmaak.
Die Bybel leer ons dat die kerk die liggaam en Jesus die Hoof is.
Is dit dan nog reg dat mense kan verwag dat die kerk hulle moet bedien, want die Here is nie daar ter wille van hulle nie, hulle is daar ter wille van die Here.
 
Dit is so dat daar in die kerk ‘n diens gelewer word, maar weereens is dit ‘n baie besondere diens:
Die liefde van die Here Jesus word daar bedien.
Die kerk is dus nie daar ter wille van vermaaklikheid nie, en dit is ook nie ‘n middel vir ons saligheid nie.
 
Die kerk is die groep mense vir wie die Here Jesus lief is, en hulle kom saam om die Here – die Drie-Enige God  –  te dien en te aanbid.
Ons kom dus nie kerk toe (en behoort aan ‘n kerk!) om gedien te word nie, maar om te dien en om met die Here om te gaan.
In die kerk dien ons mekaar ook met ons liefde en opoffering.
 
Die kerk moet nou al in beginsel wees wat dit in die hiernamaals gaan wees, naamlik mense wat God met volle oorgawe dien.
Dink net aan die woorde van Openbaring 7:15
Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan. (Ope 7:15 AFR1953)
 
Die kerk bied ons die geleentheid om die Here te aanbid en te vereer.
Die kerk bied dus aan ons die vrede om te weet ons is verlos van die straf van die Here en dat ons versoen is met Hom.
Dit is juis hoe ons kerk geword het:  die Here het ons sy kinders gemaak met die bloed van die Here Jesus Christus.
Deur die opstanding van die Here Jesus Christus het die Here ook aan ons die ewige lewe toegesê.
 
Kom ons dink weer oor die kerk – spesifiek oor ons gemeente: Is ons kerk dood of is ons lewend?
As die kerk dood is, is dit omdat ons nie die liefde en die vrede van die Here ken nie.
Dit sal nie help om na ‘n ander kerk toe te gaan nie, want ons sal daardie kerk ook doodmaak – as ons nie die versoenende liefde van die Here ken nie.
 
‘n Kerk word nie deur ‘n dominee of deur ouderlinge of diakens aan die gang gehou nie.
‘n Kerk word aan die gang gehou deur die amp van die gelowige.
 Anders gesê: ‘n Kerk lewe waar God die Heilige Gees in die kerkvolk werk;
’n Kerk is mense wat deur die bloed van die Here Jesus Christus God se eiendom geword het;
’n Kerk is mense wat nou eiendom van die Here wil wees, en wat in hierdie eiendomskap lewe.
 
As dit nie so is nie, dan lê die probleem by ons en nie by die Here nie.
Dit was waar die probleem met Jerusalem was.
Hulle het ook hulle behoeftes op ‘n manier gaan bevredig wat die Here se behoefte aan ons verering en aanbidding leeg gelaat het.
Daarom is Jerusalem eers vernietig en toe weer herbou met die wat in die geloof volhard het.
 
Ons gemeente moet hierdie dinge raaksien en ons verwagting van onsself af wegtrek en stel op God alleen. Ons moet voor ons geestesoog sien hoe ons aardse tentwoning deur die Here verander word in die ewige woonplek:
Aanskou Sion, die stad van ons feestelike samekoms! Jou oë sal Jerusalem sien as veilige woonplek, as tent wat nie wegtrek nie, waarvan die penne nooit meer uitgeruk word nie en geeneen van sy toue ooit losgeskeur word nie. (Jes 33:20 AFR1953)
 
Die apostel Paulus het ook die ewige handewerk van God beskryf in ons hiernamaals toekoms:
Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word, (2Kor 5:1-2 AFR1953)

Dit hef egter nie ons opdrag vir hierdie lewe op nie.
Hier moet ons die tent groter maak en die toue styfspan.
Die hoofstuk is baie duidelik dat die onvrugbare vrou dit moes doen.
Daarmee sê die Here dat ‘n kerk net lewe waar sy lidmate lewe en waar hulle betrokke is by die kerk se aanbidding van die Here.
 
Sondag 39:
 
Die vyfde gebod
Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.
 
Vraag 104: Wat eis God in die vyfde gebod?
Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys.
Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp (a).
Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c).
(a)Ef 6:1, 2, 5; Kol 3:18, 20, 22; Ef 5:22; Spr 1:8; 4:1; 15:20; 20:20; Eks 21:17; Rom 13:1. (b) Spr 23:22; Gen 9:24;1 Pet 2:18. (c) Ef 6:4, 9; Kol 3:20; Rom 13:2, 3; Matt 22:21.
 
Die 5de gebod is die 1ste onder die wat ons menslike verhoudings bepaal.  Dit tree op as ʼn soort “brug” tussen die afdelings van God se Wet. Ware gehoorsaamheid aan die 5de Gebod is noodwendig verbind aan gehoorsaamheid en eer teenoor God Self.  Ons Skepper het dit geweet toe Hy dit geïnspireer het as die “1ste gebod met ʼn belofte (Efesiërs 6:1-2).
 
In die Ou Testament se bedeling, was die straf vir hierdie Wet die doodstraf: 
En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word … En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word. Eksodus 21:15,17.
 
Sondag 40:
 
Die sesde gebod
Jy mag nie doodslaan nie.
 
Vraag 105: Wat eis God in die sesde gebod?
Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).
(a)Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.
 
Genesis 4:23 & 24:
En Lameg het aan sy vroue gesê: Ada en Silla, hoor na my stem! Vroue van Lameg, luister na my woord! Voorwaar, ek slaan ‘n man dood wat my wond en ‘n seun wat my kwes. Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewe en sewentig maal. (Gen 4:23-24 AFR1953)
 
Kaïn slaan sy broer Abel dood in die eerste jare van die wêreldgeskiedenis. 
Die eerste moord op die aarde is gepleeg. 
Dink aan die geweldige skok wat dit vir die eerste mense moes wees toe hulle die eerste dooie mens gesien het!
 
Oor hierdie afskuwelike daad van Kaïn het hy nooit berou gehad nie. 
Omdat God sondes straf tot in die derde en die vierde geslag, het hierdie daad ook bly voortlewe in die nageslagte van Kaïn. 
Ons het gelees dat ons dit by sy kleinseun ook aangetref het.
 
Van daardie dag af na vandag toe het die daad en die sonde daaraan verbonde, gegroei. 
 
Die Here het self onderneem om Kaïn te beskerm. 
Dit het daarin bestaan dat die Here enigeen wat hom doodmaak, sewevoudig sou wreek. 
In die geslagte wat die Here verwerp het, het die ding so gegroei dat Lameg sê sy dood moet sewe-en-sewentig maal gewreek word. 
Die Here hoef nie hierdie wraak uit te oefen nie – hy wat Lameg is, sal dit self doen. 
 
Dit is dus baie duidelik uit hierdie gedeeltes in die Bybel dat ‘n moordenaar homself as God beskou, omdat hyself al sy wraak voltrek  –  omdat hy sy eie grootheid wil handhaaf deur doodslag.
 
Dit was die begin van moord. 
Dit het ontstaan in ‘n geslag van mense wat God en sy gebooie verwerp het. 
Dit het ontstaan by mense wat self hulle lewensloop wou bepaal.
 
Dit is dus een van die heel logiese dinge dat daar op die een of ander stadium ‘n gebod soos die sesde gebod moes kom, naamlik dat jy nie mag doodslaan nie. 
Iemand wat moord pleeg, skaar hom baie duidelik teen die Here en sy gebooie  –  met ander woorde, by die geslag van Kaïn en Lameg. 
‘n Verdere rede vir die sesde gebod is naamlik dat God se kinders Hom moet ken. 
 
Een van die maniere waarop die Here geken word, is om te weet wat Hy van sy skepsele verlang.
Diens aan die Here is onder andere onderhouding van sy wil  –  dus die gebooie. 
In hierdie geval die verbod op doodslag.
 
‘n Verdere rede vir die verbod op doodslag is dat die Here alleen lewe kan gee. 
Lewe kom met die skepping uit God se hand, want Hy skape die plante, diere en mense met lewe in hulle. 
Hy is ook die enigste een wat lewe kan onderhou. 
Nie ‘n mens of ‘n engel kan besluit wanneer iemand lank genoeg gelewe het op die aarde nie. 
 
Die Here alleen kan by al die dinge ook nog beskik dat so ‘n persoon se siel versorg word nadat sy aardse lewe beëindig is. 
Dit kan alleen deur die Here gedoen word. 
Daarom neem die Here dit op Homself om die lewe te bewaar. 
Hy doen dit op so ‘n manier deurdat Hy sy wet aan ons gee, waarin Hy ons lewe rig en lei. 
Hy rig ons op só ‘n wyse dat ons verstaan dat ons nie mag het oor die lewe nie:  jy mag nie doodslaan nie. 
 
Hy gee positiewe leiding deurdat Hy aan ons leer dat net bloot “nie doodslaan nie”, nie genoeg is nie.  Ons moet positief ons naaste se eiendom en sy lewe beskerm en hom help om sy lewe te ontwikkel en ontplooi.
 
Waarom verbied God moord? 
Wanneer ons iemand vermoor, gryp ons in die werk van God. 
Ons is nie daarmee tevrede dat die Here my lewe beplan en dat sekere konflikte met mense daarin mag voorkom nie. 
Ons wil oorneem  –  met ander woorde:  Met moord probeer ons om God se handewerk uit die pad te kry!
 
Dis presies wat Kaïn gedoen het. 
Hy was nie tevrede dat God sy broer se offer aansien, en syne nie aansien nie! 
Met sy broer uit die pad, sou net hy oorbly om te offer. 
 
Hierdie daad kan tog nie ongestraf bly nie!  Daarom die sesde gebod:  jy mag nie doodslaan nie. 
Dis nie jou werk om dood te slaan nie, want die Here het ander opdragte aan jou gegee. 
Jy moet met jou hele lewe die Here vereer  –  al die dinge wat die lewe self aangaan, is die Here se werk. 
Dit is nie deel van ons opdrag dat ons oor mekaar aangestel is om lewe en dood uit te deel nie  –  daaroor beskik God en Hy alleen.
 
Die sonde van moord het altyd ‘n ontwikkeling en ‘n agtergrond  –  soos by Kaïn. 
Meestal is ons kwaad vir iemand. 
Dan kom die beplanning tot moord. 
Eintlik is dit dan ‘n dubbele sonde, want die Here sê dat die wraak aan Hom alleen toekom.
 
Al hierdie sake wat baie swaar weeg by die Here, word baie maklik deur ons vergeet. 
Let u op dat ons hierdie gebod op baie verskillende maniere oortree. 
Dit is nie net moord wanneer jy iemand byloop en doodmaak nie. 
 
Die Kategismus gee ‘n hele reeks metodes van moord aan:
Die eerste een is gedagte moord
‘n Mooi voorbeeld uit die Bybel is Herodias wat listige planne maak om Johannes die Doper doodgemaak te kry. 
In hierdie opsig is die mens erger as ‘n dier! 
Hoeveel dinge loop ons nie soms alles en dink en beplan om ons op iemand anders te wreek nie! 
Partykeer omdat ons te na gekom is, en ander kere net omdat ons nie met iemand oor die weg kan kom nie. 
Sommiges van ons het die geaardheid om vir lang rukke met wraakgedagtes rond te loop, omdat dit vir ons ‘n manier is om af te koel, en ons woede te laat sak.
 
Die tweede moordmetode is volgens die Kategismus ‘n woordmoord.  Ons ken almal hierdie metode. 
Wie van ons ken nie die venyn waarmee iemand se hele lewe afgebreek kan word met ‘n skinderstorie nie. 
Of nog erger:  erger as skinder, is om iemand te vervloek.  Dis ‘n vloek oor iemand om te wens dat hy iets moet oorkom, of doodgaan, omdat ek ongemaklik is met hom.
Nog ‘n manier van vermoor met die woord is die tergery wat ons soms so ewe onskuldig doen.  Maar ons doen dit so skerp spottend dat die persoon wat gespot word, inmekaarkrimp soos hy seergemaak word.
 
As ons dit nie eers met die woord mag doen nie, sê die Kategismus, dan mag ons dit soveel minder met die daad doen. 
Dit is nie so dat dit ‘n kleiner sonde is om iemand te beskinder as om hom met jou eie hande te vermoor nie. 
Altwee is sonde, of jy dit nou met jou hand of met jou hart doen  –  of met die mond. 
Die bewys hiervoor is dit:  Die Here Jesus Christus sê dat ‘n man voor God al klaar egbreuk gepleeg het as hy net na ‘n vrou gekyk het om haar te begeer.  Dieselfde geld van moord.  Moord is by die Here moord, of dit die beplanning is, of die daad self.
 
Die toepassing van hierdie gebod het natuurlik konsekwensies wat verder strek as net ons self. 
As ons nie self iemand mag vermoor nie, mag ons ook nie iemand anders gebruik wat die werk vir ons sal doen nie. 
Die manier van moord pleeg deur ‘n tussenganger was al in die Bybeltyd goed bekend en veroordeel. 
Dawid pleeg owerspel met Batseba.  Wanneer hy agterkom dat sy verwag, onderhandel hy met Joab, sy leërowerste om Uria, Batseba se man, uit die weg uit te ruim.  Om twee redes moes Uria vermoor word:  Dawid wou Uria se vrou hê en hy moes dood sodat daar nie ‘n openbare skandaal sou volg waarin die koning betrek is nie.
‘n Ander voorbeeld is Isebel wat met die hulp van valse getuies sorg dat Nabot om die lewe gebring word, sodat haar man Nabot se wingerd in die hande kan kry.
 
Die saak van doodslag is so ernstig dat al die aspekte daarvan deeglik onderstreep moet word. 
Ek moet besef dat die saak so ernstig is, dat ek dit nie eers in my gedagtes mag kry om iemand te wond of te onteer nie. 
Die Here verbied ook nie net doodslag teenoor ‘n party buite jouself nie. 
Die Here beskerm ons ook teen onsself.  Jy mag jouself ook nie doodmaak nie. 
Weer het hierdie gebod ‘n wyer betekenis as net die letterlike doodmaak. 
Jy mag nie moedswillig wees en jouself onnodig aan gevaar blootstel nie. 
Jy mag ook nie onnodige gevaarlike dinge doen nie.
Dan is jy ‘n potensiële selfmoordenaar. 
Terselfdertyd versoek jy God deurdat jy kyk hoe ver jy kan gaan en die Here jou steeds beskerm. 
Die beginsel wat hier ter sprake is, is dieselfde een wat gegeld het toe die satan Christus versoek het om van die dak van die tempel af te spring omdat daar geskrywe staan: 
As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie. Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie. (Mat 4:6-7 AFR1953)
 
Niemand van ons het nie hierdie gebod nodig nie.  Almal van ons oortree hierdie gebod op die een of ander manier.
 
Hoe moet ons nou hierdie wet van die Here benader? 
Die wet is in die eerste plek geestelik. 
Met ander woorde, dit is in die eerste plek op my hart gerig. 
Die wet is gerig op die plek wat die lewensbeplanning behartig. 
Die Here is ons Skepper en Hy weet dat Hy ons so geskape het dat al ons beplanning in ons hart gebore word. 
Die wet probeer dus om die wortel van die sonde af te kap, deur die diepste sondes aan ons bloot te lê.
 
Dit is die rede waarom die Kategismus ‘n hele reeks geestelike hartsiektes opnoem:  nyd, toorn, haat en gierigheid. 
Almal bekende sondes in die geskiedenis van die mens en in elke mens se lewe. 
Dink hier aan Josef se broers wat hom uit haat en nagaandigheid verkoop het. 
Of wraak:  Ons het mos gelees van Lameg uit die geslag van Kaïn.
 
Alles dinge wat in ons harte omgaan, want die Bybel sê mos:  uit die hart is die uitgange van die lewe. 
Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak. Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. (Mat 15:18-19 AFR1953)
 
Tog verdra die Here ons.  Ondanks al die gebooie wat ons oortree, is daar vir ons die hoop om die ewige lewe in te gaan – as ons ons bekeer.
 
Ons bid dan in die “Onse Vader” dat die Vader ons ons sondes moet vergewe, soos wat ons ons skuldenaars hulle oortredinge teen ons vergewe. 
Dit beteken dat die Here ten volle bereid is om ons ons sondes te vergewe.  Ook die sonde van doodslag.
 
Hoe? Hierdie gebod wys ons na Jesus Christus toe. 
Ons moet ons naaste liefhê soos onsself  –  soos wat Christus ons liefgehad het. 
Ons moet met ons naaste presies net soveel geduld en vrede hê soos wat ons verwag dat hy met ons moet hê.
 
Ons kan hierdie gebod net gehoorsaam in die krag van die Here Jesus Christus. 
Die gebod het vir ons Christene ‘n groter betekenis as vir die ongelowiges, want ons verwerf juis die ewige lewe deur die Here Jesus Christus. 
Daarom handhaaf Hy ook die sesde gebod oor ons.  Hy bewaar ons in hierdie lewe en in die toekomstige lewe.
 
Hy bewaar ons nie net so dat ons elke dag ongeskonde ons hoofde vir ons nagrus kan neerlê nie. 
Hy bewaar ons in lewe, sodat ons ook in die hemel kan lewe.
“Jy mag nie doodslaan nie” beteken dan ook vir ons dat ons in die Here Jesus Christus moet glo, en Hom moet soek, sodat ons die ewige lewe kan hê  –  want sonder die ewige lewe, is ons in die ewige dood. 
Dit is doodslag teenoor onsself as ons hierdie gedeelte van hierdie gebod verwaarloos in ons lewens.
 
Vraag 106: Praat hierdie gebod net van doodmaak?
Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku.. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d).
(a)Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.
 
Vraag 107: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?
Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).
(a)Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20. 
 
 
Sondag 41: 
 
Die sewende gebod
Jy mag nie egbreek nie.
 
Vraag 108: Wat leer die sewende gebod ons?
Antwoord: Alle onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom moet ons dit hartgrondig haat (b). Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (c) sowel binne as buite die huwelik (d).
(a)Lev 18:28. (b) Jud 1:23. (c) 1 Tess 4:3-5. (d) Heb 13:4; 1 Kor 7:7.
 
Vraag 109: Verbied God in hierdie gebod niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie?
Antwoord: Omdat beide, ons liggaam en siel, ‘n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied hy alle onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en alles wat ‘n mens daartoe kan verlei (c).
(a)Ef 5:3, 4; 1 Kor 6:18, 19. (b) Matt 5:27, 28. (c) Ef 5:18; 1 Kor 15:33.
 
2 Kronieke 20:1-23:  Die kern van hierdie geskiedenis is dat enige verbintenis  –  veral ook ons huwelike  –  letterlik enige teenstand sal kan oorkom as ons ’n lewende band met die Here het.
 
In hierdie stuk geskiedenis werk ons met meer as geskiedenis. 
Ons moet onthou dat die volk wat hier optree, die Here se kerkvolk is. 
Hulle is die verteenwoordigers van die kerk in daardie tydvak. 
Die Here noem die kerk sy bruid en sy liggaam! 
 
Hier lê dus die openbaring in van hoe die Here die wat aan Hom behoort, beskerm op maniere wat hulle eie vermoëns ver te buite gaan.
 
Kom ons kyk saam na Josafat en sy volk se nood en oorwinning.
 
Die Bybel vertel  –  byna ongemerk  –  iets ontsettend belangriks:
…het Jósafat bevrees geword en sy aangesig daarop gerig om die HERE te soek, en hy het oor die hele Juda ‘n vasdag uitgeroep. En Juda het byeengekom om van die HERE hulp te soek; selfs uit al die stede van Juda het hulle gekom om die HERE te soek. Toe gaan Jósafat in die vergadering van Juda en Jerusalem staan, in die huis van die HERE, voor die nuwe voorhof; en hy sê: HERE, God van ons vaders, is U nie God in die hemel nie, en is U nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie. (2Kro 20:3-6 AFR1953)
 
’n Vasdag word uitgeroep. Die rede? Twee redes:
Die eerste is dat die volk hulle voor God kan verootmoedig!
Die tweede is dat hulle by die HERE hulp in hulle nood kan afsmeek.
 
Ons vertrou nie op die Here nie, want vergewing van sondes en bekering beteken dikwels vir ons dat ons ons houvas op die situasie en op die ander party gaan verloor!
 
Hier is die pad:
Gaan altwee saam en gaan vra God se hulp.
Beroep julle op die Here se genadeverbond wat Hy met julle altwee gesluit het. 
Pleit by Hom op genade. 
Dan herstel die Here dit wat stukkend is. 
 
Die belangrike beginsel is duidelik: 
Gaan verootmoedig jou by die Here  –  soos Josafat en die volk! 
Los die geveg  en die oorwinning vir die Here. 
Hy het vir Josafat laat weet dat al daardie dinge sy afdeling is.
 
Wanneer Hy ons help en van binne af heelmaak, is ons soos Josafat wat drie dae lank kan loop en geskenke bymekaarmaak sonder dat ons daarvoor geveg het.
 
 
Sondag 42: 
 
Die agste gebod
Jy mag nie steel nie.
 
Handelinge 20: 32-34
En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade, wat magtig is om julle op te bou en julle ‘n erfdeel te gee onder al die geheiligdes. Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie; maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. (Han 20:3234 AFR1953)
 
Die lewe het vandag al ontwikkel in ‘n fyn tegniek. 
Daarmee saam het ons die sonde ook ontwikkel. 
Ons oortree nie meer die gebooie van God so blatant soos wat dit in die ou tyd was nie, maar ons oortree nogtans, al het ons metode van oortreding meer gesofistikeerd geword.
 
Die sesde gebod het die lewe van die mens beskerm. 
Die sewende het sy huwelik beskerm. 
Nou beskerm die agste gebod sy besittings:  jy mag nie steel nie.
 
Die dag toe Samuel sy diens neergelê het, het hy die hele volk bymekaar geroep. 
Hulle moes kom getuig dat hy homself nooit ten koste van enigeen van hulle verryk het nie. 
Hulle moes dus eintlik maar kom getuig dat hy nooit een van hulle besteel het nie. 
Dit is ook nie vreemd dat hy dit doen nie, want die geskiedenis van Eli se seuns was nog vars in die geheue van die volk. 
Almal het seker nog onthou wat alles gebeur het as hulle kom offer het en met die offervleis en offerdiere gewerk het.
Eli se seuns het offervleis kom vat het wat hulle nie toegekom het nie.
Hulle het dit ook ontydig gevat  –  hulle het nie hulle vleis kom haal op die tyd wat die Here dit voorgeskryf het nie.
 
In die voorgeleesde gedeelte doen Paulus in sy hartroerende afskeidsgroet aan die ouderlinge van Efese presies dieselfde as wat Samuel destyds met die volk gedoen het. 
Dit het hom toegekom dat hy van hulle lewensonderhoud moes ontvang het, maar hy het niks ontvang nie. 
Hy met sy eie hande gewerk en daarmee genoeg verdien dat hy homself en sy hele geselskap onderhou het.
Daarby het hy  ook nog vir die kerk gegee.
 
Hy het nooit enige geldelike eise aan die gemeente gestel of hulle daarmee beroof nie. 
Hy het homself versorg sodat hy aan hulle ‘n voorbeeld kon stel hoe hulle die swakkes onder hulle moet help. 
Dan is dit vir niemand nodig om te steel nie.
 
Die arbeider is sy loon waardig, leer hy hulle. 
Dit was die gemeente se plig dat hulle hom moes vergoed vir wat hy doen. 
Maar hy wou hulle nie beswaar nie. 
Dis saliger om te gee as om te ontvang.
 
Wanneer mens die erns sien waarmee die Bybel werk met die besit van die mens, moet ons sekerlik besin oor wat besittings is. 
Besittings is ongetwyfeld alles wat ons van die Here ontvang. 
Ons kan dit verdeel in
materiële besittings en
in geestelike besittings, soos gawes en talente, en selfs die besit van geloof en verlossing. 
Die slegte ding is dat dit moontlik is om te steel op al hierdie verskillende gebiede.
 
Vraag 110: Wat verbied God in die agste gebod?
Antwoord: God verbied nie slegs die diefstal (a) en roof (b) wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry (c). Dit kan gebeur met geweld of ‘n skyn van reg, soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, (d), geld, deur woeker (e) of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid (f) en alle misbruik en verkwisting van sy gawes (g).
(a)1 Kor 6:10. (b) 1 Kor 5:10; Jes 33:1. (c) Luk 3:14; 1 Tess 4:6. (d) Spr 11:1; 16:11; Eseg 45:9, 10; Deut 25:13. (e) Ps 15:5; Luk 6:35. (f) 1 Kor 6:10. (g) Spr 23:20, 21; 21:20.
 
Wat beteken dit om te besit?
Dit is merkwaardig dat daar in die Ou Testament meer wette is om die mens se eiendom te beskerm, as wat daar is om sy lewe te beskerm! 
Ook nie sonder rede nie!  Dit is juis omdat ons besittings ‘n gawe is wat ons van die Here ontvang, en dit daarom geregtig is op beskerming. 
Net soos wat ons ons lewe van die Here ontvang, net so ontvang ons ons besittings ook van Hom  –  daarom val altwee onder die beskermingsreg van die Here.
 
Die Here Jesus Christus vertel ‘n gelykenis van ‘n man van hoë geboorte wat aan tien diensknegte elkeen een pond gegee het met die opdrag om daarmee te gaan woeker totdat hy kom (Mattheus 25:14 en Lukas 19:11). 
By sy terugkeer laat hy die tien slawe kom en eis van elkeen verslag. 
Die eerste een het met een pond tien ander wins gemaak. 
‘n Ander een het sy pond vervyfvoudig. 
Elkeen is beloon volgens die mate wat hy die talente ontwikkel het wat hy ontvang het.
 
Dit is met ons presies dieselfde. 
Al ons gawes en besittings is as’t ware iets wat ons van die Here ontvang om mee te woeker  –  met ander woorde om dit in sy diens te gebruik. 
Alle besittings wat ons het,  is besittings van die Here wat aan ons toevertrou word.
Dink aan die volgende uitsprake:
Want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan. (1Kor 10:26 AFR1953)
 
Maar as iemand aan julle sê: Dit is afgodsoffer  –  moet dit dan nie eet nie, ter wille van hom wat dit te kenne gegee het, en ter wille van die gewete  –  want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan (1Kor 10:28 AFR1953)
 
’n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; (Psa 24:1 AFR1953)
 
Dit verklaar ook waarom ons eiendom vir die Here byna net so heilig is soos ons lewe. 
Omdat albei aan Hom behoort. 
Daarom word ons eiendom saam met ons lewe deur die reg van die Here beskerm.
 
Daar is ‘n baie eienaardige verhouding tussen God en ons ten opsigte van eiendom. 
God gee en ons ontvang. 
En wanneer dit God behaag, kan Hy alles weer terugneem, sonder dat ons iets daaroor te sê het.
 
Waarom gee die Here aan ons besittings middele?  Tot sy eer. 
Die Here se eerste motief is nie om ons gelukkig en ryk te maak nie. 
Sy eerste motief is dat ons sy goddelike majesteit daarin moet sien dat Hy ons versorg en van besittings voorsien. 
Dit is tot sy verheerliking dat Hy op hierdie wyse sy goedheid aan ons toon.
 
Die Ou Testament lê swaar klem daarop dat ons ons besittings tot eer van God en tot heil van ons naaste moet aanwend. 
Dit is dus ‘n oortreding van hierdie gebod as ons ons besittings vir ‘n ander doel aanwend as waarvoor die Here dit bestem. 
Dis diefstal. 
 
Die Here versorg ons op baie maniere. 
Een daarvan is om aan ons die middele te gee om van te lewe  –  dis onder andere  ons besittings. 
Daarom moet dit ook beskerm word – ter wille van ons. 
Daarom het ons ‘n verantwoordelikheid teenoor ons besittings  –  soveel dat die Here my verkwalik as my naaste skade ly, terwyl ek dit kon voorkom. 
 
Hoe verkry ek my besittings?
Die gebod stel die saak van die begin af in een opsig duidelik:  jy ontvang of verwerf besittings nie deur te steel nie!
 
As jy steel, wis jy die grense uit wat God daar gestel het. 
Dan breek ons die orde af wat God voorskryf. 
Ons kom in opstand teen God se gesag.
 
Onregmatige neem van besittings is ‘n vergryp aan God se wet. 
Dan eien jy vir jouself besittings toe wat God nie vir jou bestem het nie. 
Met so ‘n daad betoon jy minagting vir God se raad, want jy is ontevrede met die Here se beskikking oor jou. 
Jy wil ‘n ander se deel in besit neem.
 
Verder word diefstal verbied omdat dit gewoonlik ‘n produk is van geweld  –  en van lis. 
Die verbod stel dit dus ook duidelik dat ek nie besittings bekom deur ander te na te kom nie, en ook nie deur geweld op ander toe te pas nie. 
Want in daardie gevalle oortree jy meer as net een gebod met die diefstal wat jy pleeg. 
Dink maar daaraan hoeveel keer diefstal gepaard gaan met moord. 
 
Maar diefstal het ook ontwikkel. 
In ons tyd is daar al baie maniere van steel, waarmee ons onsself regverdig. 
Ons het die sonde al so ontwikkel dat daar vorme van diefstal is waarmee ons by die owerheid verbykom  –  maar die oortreding sal by die Here bly.
 
Die Kategismus sny al dié dinge aan. 
Enige vorm van oneerlike handel dryf is diefstal  –  ons maak dit soms maklik af deur te sê dat besigheid besigheid is. 
So ’n uitspraak regverdig nog nie jou ongeregtigheid nie.
 
Die Kategismus noem ook nog valse munt of gewig. Dís ook maar weer ’n vorm van oneerlikheid. 
Dit is dinge soos byvoorbeeld om ‘n voorwerp te verkoop teen ‘n valse gewig, of dit van die hand te sit vir ‘n prys wat dit nie werd is nie.  Dis oneerlik.  Dis diefstal. 
Dit is ‘n kwaal wat nie tot jou reinheid bydra nie, want daar staan in Miga 6:11 geskryf:
Sal Ek rein kan wees by ‘n valse weegskaal en by ‘n sak vol bedrieglike gewigte?(Mig 6:11 AFR1953)
 
Al sou die owerheid my dalk nie straf as ek bedrog pleeg met geld en gewig nie, God sal jou straf.
 
Wat van geestelike diefstal?
Ons het ook geestelike besittings van God ontvang. 
Dit is diefstal as jy hierdie gawes nie ontplooi nie.  Dit is presies soos die gelykenis van die talente.  Daar is van elke slaaf rekenskap gevra.
 
God het aan Salomo gevra wat Hy aan hom moet gee:  wysheid of rykdom. 
Salomo het gekies vir wysheid. 
Dit net om te bewys dat selfs verstand tog ‘n besitting is, wat dieselfde behandeling verdien as jou materiële belange.
 
Hoe moet ons al ons besittings gebruik?
Soos wat God wil hê ons moet.  Alles wat ons het, moet tot die grootste nut vir God en sy koninkryk aangewend word. 
Die leuse van die Nuwe Testamentiese gemeentes was altyd:  ons besittings behoort aan die Here. 
Volgens hierdie leuse gun ons ons naaste wat hy moet hê. 
Die Here het hom as bestuurder daarvan aangestel, soos wat ek met volle verantwoordelikheid die deel van God se besit moet bestuur waaroor ek aangestel is.
 
Die krag van die Here Jesus Christus se kruisverdienste is juis dat ek die volle verantwoordelikheid van hierdie verbod kan nakom. 
Enersyds sterf Hy sodat ek soveel seën van die Vader kry dat ek nie hoef te steel nie, want deel van hierdie seën is ook materiële seëninge. 
Andersyds dat ek as besit die gawe kry om God en my naaste se eiendom respekteer en beskerm. 
Sodoende is my besittings en my verantwoordelikheid die simbool van die ewige besit wat ons het in God se koninkryk.  Die ewige lewe. 
Dit kan deur niks of niemand van ons af weggeroof word nie.
 
Vraag 111: Maar wat gebied God jou in hierdie gebod?
Antwoord: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel (a). Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help (b).
(a)Matt 7:12. (b) Ef 4:28.
 
Dit word my as diefstal gereken as ek nie my naaste se besit met dieselfde verantwoordelikheid beskerm as waarmee ek my eie besittings beskerm nie.
 
Maar my verantwoordelikheid strek selfs verder as net dit. 
Ek behoort selfs te sorg dat my naaste se besittings groei en ontwikkel. 
Ek moet voortdurend poog om my naaste se belange ook ten opsigte van sy welsyn en welvaart te bevorder. 
Dit geld uiteraard aardse besittings, sowel as geestelike besittings.  Met ander woorde, ons mag in geen opsig onverskillig staan teenoor die eiendom van my naaste nie.
 
God handhaaf die eiendomsreg. 
Daarom verbied Hy my om my naaste se goed te steel. 
En gebied Hy my met dieselfde gebod om my naaste se besittings te respekteer en te eerbiedig.
 
Diefstal is ook as ons mense in diens het, maar hulle nie na reg vergoed vir die arbeid wat hulle lewer nie. 
Ons besteel sulke mense, want die Here skryf in die Bybel dat ‘n arbeider sy loon waardig is. 
Wanneer jy enige skepsel van God dit ontneem, oortree jy die agste gebod.
 
As ons dan nie op een van hierdie maniere ons besittings mag verkry nie, hoe bekom ons dit dan? 
Deur te werk.  Dit is die weg wat God daar stel. 
Vir Adam word gesê dat hy in die sweet van sy aangesig sy brood sal eet. 
As ons werk, soos God beveel, dan beloon Hy ons arbeid deur ons onder andere met besittings te versorg.
 
Maar daar is ook diefstal in ons daaglikse werk moontlik. 
Ons kan steel deur lyf weg te steek  –  deur nie die volle dienste te lewer wat van ons verwag word nie. 
Maar ons ontvang ‘n volle vergoeding.
 
 
Sondag 43: 
 
Die negende gebod
Jy mag geen vals getuienis teen jou naaste spreek nie.
 
Vraag 112: Wat eis die negende gebod?
Antwoord:      Ek mag teen niemand valse getuienis aflê (a),
niemand se woorde verdraai (b), nie ‘n kwaadsteker of lasteraar wees nie (c),
niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie (d).
Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel (e)
se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring (f) nie.
In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely (g).
My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder (h).
(a)Spr 19:5, 9; 21:28. (b) Ps 15:3; 50:19, 20. (c) Rom 1:30. (d) Matt 7:1; Luk 6:37. (e) Joh 8:44. (f) Spr 12:22; 13:5. (g) 1 Kor 13:6; Ef 4:25. (h) 1 Pet 4:8. 
 
Mattheus 10:16;
Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe. (Mat 10:16 AFR1953)
 
Wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.
 
Daar is die belofte dat elke gelowige wat hom op die Here Jesus Christus verlaat, heeltemal veilig sal wees.  
Die eis daarvoor bly net geloof en gehoorsaamheid. 
Wees versigtig en wees opreg.
 
Die gelowige moet so versigtig wees soos die slange wat weet dat die mense hom haat, en hulle vermy so goed soos hy kan. 
Maar hy moet ook opreg wees soos die duiwe.
Opreg kan ook hier beteken om alle veglustigheid en rusie-soekerigheid te vermy.
 
Hierdie opdrag van die Here Jesus sluit dus baie goed aan by die negende gebod wat ons verbied om valse getuienis te lewer. 
Die Here Jesus sê dat dit vir die Kerk nog moeiliker is as wanneer daar ‘n wolf onder die skape is. 
Hy stuur elke Christen, as ‘n skaap tussen ‘n klomp wolwe in.  Jy moet in ‘n kwaai en aggressiewe wêreld jou beginsels gaan uitlewe, sonder om aan die eer van God enige skade te doen.
Skinder en kwaadsteek is baie gevaarlik: dit is soos wanneer daar ‘n wolf onder ‘n trop skape inkom, want hy kan almal doodbyt. 
 
Daar is baie mense wat kwaadpraat en skinder uitbuit om die eer van die kerk (die gelowiges) daarmee deur die modder te sleep.  
Die vyande van die gelowiges is mense van naby en van vêr – hulle is orals. 
In die geleesde gedeelte bedoel die Here Jesus in vers 17 dat die wolwe Jode is en in vers 18 dat dit heidene is.
 
Kom ons kyk uit hierdie hoek na die negende gebod.
 
1.   Die negende gebod wil ons bewaar teen die kwaad
2.   Die negende gebod maan ons tot versigtigheid
Die negende gebod spoor ons aan tot dienende liefde
 
Die negende gebod wil ons bewaar teen die kwaad
Na aanleiding van Johannes 8: 44 waar die Here Jesus Christus ‘n uitspraak maak teen die mense wat so kan loop en onwaarhede verkondig, noem ons die oortreding van die negende gebod die eie werke van die duiwel.
 
Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. (Joh 8:44 AFR1953)
 
Die Bybel waarsku ons om nie soos die Satan te wees nie, want die Satan is die vader van die leuen. 
As jy dus met leuens lewens lewe en bedrog pleeg, lewe jy die styl van die duiwel. 
Jy mag nie waarhede verdraai of uit verband uit ruk nie, want dis presies hoe die duiwel sy ding doen. 
As jou lewe daarmee ooreenstem, dan beteken dit dat jy die duiwel navolg.
 
Dit is inderdaad so, want die Satan is ‘n leuenaar van die eerste woord af wat ons van hom hoor. 
Al die ellendes wat ons vandag in die wêreld ken, is die gevolg van die leuens van die Satan. 
Die Satan is in sy element as ons met leuens omgaan, en deur hierdie leuens in die moeilikheid raak.
 
Die waarskuwing is baie duidelik:
Moet nie kinders van die Satan word deur julle werke nie.
Woorde is ook werke. 
Slegte werke versterk die mag van die Satan.
 
Die probleem is dat daar soveel mense is wat voorgee dat hulle Christene is, maar wat met die oneerlikheid in hulle lewens die eer van God skend. 
Die waarskuwing is nie ontydig nie, want mense het maar altyd die geneigdheid om ander mense te beskinder.
Of om dinge uit te saai wat onwaar is. 
Om moontlik met allerhande stories haat en onmin, of selfs skeuring te saai. 
Daarmee word die koningsbeeld van God in jou geskend.
 
Onthou dat die Satan magtig is.  Hy het genoeg krag om die mens te laat struikel as hy net kan.
 
Die negende gebod maan ons tot versigtigheid
God hoor alles,  en oordeel oor alles. 
Hy hoor ook ons leuens en laster teen ons naaste.
Dit beteken dat ons moet besef dat God Persoonlik getuie is van alles wat ons sê. 
 
Ons het dus nie verweer, as ons voor God moet verskyn oor hierdie sonde nie. 
 
Die eerste vermaning tot versigtigheid maan ons dat ons moet weet dat die Vader, Seun en Heilige Gees in sy optrede en beloftes altyd absoluut eerlik is. 
By God is niks anders as die waarheid nie. 
As jy as beelddraer van God nie hierdie selfde kenmerk vertoon nie, kan jy verwag dat die Here jou daaroor gaan straf.
 
Dit bring ons by die tweede rede tot versigtigheid, naamlik die oordeel van God. 
Die oordeel van God is nie iets waarmee mens kan speel nie. 
Die leuen gaan lynreg teen die heiligheid van God in. 
God belowe self dat Hy alle sondes tydelik en ewiglik gaan straf.  Dit beteken doodgewoon dat as jy nie lief is vir die waarheid nie, en jy kom nie tot bekering nie, dat jy met die hel gestraf gaan word.
 
Die beste voorbeeld van die saak is die Satan self. 
Hy het met leuens in die hemel in opstand gekom, en is as gevolg daarvan uit die hemel uitgeban.
Hy het daarna die mens tot ‘n val gebring, en God self noem hom ‘n mensemoordenaar. 
Vir hierdie onheilige optrede van hom teen sowel God as die mens, word die Satan vir ewig geoordeel.  Hy gaan hel toe.
 
U moet tog asseblief nie dink dat die verskrikking van die hel nie so verskriklik is nie.
Dis nie iets wat enige mens op die aarde in staat is om te kan verduur nie. 
Die angs van die hel gaan gepaard met die donkerste dieptes van Godsverlatenheid en pyn – selfs meer as waaraan ons nou kan dink.
 
Die eienaardige is dat geen mens bekend wil staan as ‘n hoer of ‘n moordenaar nie, maar oor die algemeen gee mense nie om, om te skinder nie. 
Ons gee soms ook nie om om mense te veroordeel nie – terwyl die oordeel God alleen toekom. 
Dit terwyl alle sondes ewe swaar deur God veroordeel word.
 
Dink net vir een oomblik watter soort sondes almal onder die negende gebod val:
valse getuienis
woorde verdraai
kwaadspreek
laster
ligvaardig oordeel of help veroordeel
lieg en bedrieg.
 
U sien, as ons versigtig werk met die negende gebod, dien ons die eer van God en van ons naaste.  Daarby dien diegene wat hierdie soort van optrede vermy ook sy eie eer, want ons het tog nie werklik respek vir mense met los tonge nie.
 
Die negende gebod spoor ons aan tot dienende liefde
Die gebod skep iets van ‘n probleem, want mens kan tog ook nie gesels sonder om ooit iets van ander mense te sê nie. 
‘n Mens moet tog van ander mense praat.
Die vraag is:   Wanneer mag ek iets van iemand anders sê?  En wat mag ek sê?
 
Die antwoord lê daarin dat ons die waarheid en vrede moet liefhê:  Versigtig soos ‘n slang en opreg soos ‘n duif. 
As mens dit net altyd kan onthou, sal ons ook onthou dat mense wat in ‘n gesprek bespreek word aan die Here behoort. 
Dan sal ons vanself ons aandeel inklee tot eer van die Here. 
Dan sal ons ons naaste dien met jou woorde, omdat ons dinge vertel wat tot sy eer en sy voordeel strek.
 
Net soos wat leuens altyd skeiding veroorsaak, bewerk liefde weer eenheid. 
Die gevolge van onderlinge liefde en verdraagsaamheid is dat jy jou naaste se eer sal beskerm, en hom ook verdedig waar iemand anders sy eer bedreig. 
Jy sal dus met so ‘n lewensstyl die middelaarsbeeld van die Here Jesus Christus uitleef.
 
Kyk wat het die Here Jesus gedoen. 
Hy het sy lewe deur die goeie in die mens gesien. 
Toe hulle die owerspelige vrou op heterdaad betrap en haar na die Here toe bring, het Hy gesê dat die een wat geen sonde het nie, die eerste klip moet gooi. 
Dit help nie om so hard oor ‘n ander se sondes te skreeu dat jy jou eie daarmee toesmeer nie. 
Daarom het die Here die vrou laat gaan met die opdrag dat sy nie weer moet sondig nie.
 
Kyk ook na die liefdesgenade wat Hy openbaar aan die kruis:
Aan die kruis bid Jesus dat die Here die wat Hom kruisig moet vergewe, omdat hulle nie weet wat hulle doen nie.
Die een moordenaar aan die kruis het sy skuld bely. 
Die Here Jesus het hom nie verwyt watter soort sondes hy in die verlede al gepleeg het nie. 
Hy het net gesê:  Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.
 
Die Here Jesus kon almal van ons tot in die hel toe veroordeel het, oor ons sondes. 
Hy kan in die oordeel baie openbaar oor die donker kolle van sondes wat ons lewens deurspek. 
Maar Hy doen presies die teenoorgestelde.  Hy het vir ons gaan sterf.
 
Aan die kruis het Hy sy lewe afgelê sodat ons saak voor God verander kan word.
 
Hy het ons van sondebesmettes verander na volmaak gereinigdes toe. 
In die proses het Hy sy Gees oor ons uitgestort – en die Heilige Gees is die wag oor ons gedagtes en voor ons mond. 
Hy rig die gang van ons gedagtes dat dit langs die leuen verbygaan.
 
Laat ons voortstry tot die Here kom, want die Here sê in Psalm  25:10:
Al die paaie van die HERE is goedertierenheid en trou vir die wat sy verbond en sy getuienisse bewaar. (Psa 25:10 AFR1953)
 
Die Here Jesus Christus het gely vir die waarheid. 
Hy is gelaster, maar het nie teruggelaster nie.
Daarom moet ons onder die leiding van sy Gees presies hierdie pad loop.
 
 
Sondag 44: 
 
Die tiende gebod
Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg, of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.
 
Vraag 113: Wat eis die tiende gebod van ons?
Antwoord: Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê (a).
(a)Rom 7:7.
 
Romeine 7:7; 1 Konings 3:10-11
Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie. (Romeine 7:7 AFR1953)
En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het. En God het vir hom gesê: Omdat jy hierdie versoek gedoen het en nie vir jou ’n lang lewe begeer het en nie vir jou rykdom begeer het en nie die lewe van jou vyande begeer het nie, maar vir jou verstand begeer het om regsake te verhoor, (1 Konings 3:10-11 AFR53)
 
Begeertes! Wie van ons ken werklik ons eie hart?! As ons ons eie begeertes nie eers altyd verstaan en kan beheer nie, hoe sal ons nog die begeertes van iemand anders kan verstaan?
 
Met die verbod om te begeer, het ons te doen met die wortel van alle sondes – die plek waar enige sonde begin, is die begeerte om dit te doen!
 
In die Romeinebrief is ’n man aan die woord wat ’n wetsgeleerde is – Paulus. Hy het sy kennis van die Tien Gebooie by Gamaliël geleer.
Tog het hy so min van die wet verstaan dat hy in vers 7 sê dat hy sonder die wet was!
Dis nou iets om bely te word deur iemand wat dan juis van beter moes geweet het!
 
Wat soek die Here in my as Hy in my hart inkyk?
Hy soek waarheid en reinheid.
Wat kry Hy? Sonde!
 
Daarom eindig die Here sy gebooie met hierdie laaste gebod:
En jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie; en jy mag nie na jou naaste se huis hunker nie – na sy landerye of sy dienskneg of sy diensmaagd, sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie. (Deuteronomium 5:21 AFR1953)
 
Ons mag nie begeer nie!
 
Ons menslike denke en waardes is baie keer baie vlak.
Ons besef nie dat al die gebooie by die Here ewe veel waarde het en dat die Here oor almal van hulle ewe ernstig is nie.
Ons dink byvoorbeeld dat iemand wat nie ’n moord gepleeg het nie en iemand wat nie bakleierig is nie of wat nie loop en vloek en skel nie, ’n goeie mens is!
 
Maar die sondes wat op ’n meer geestelike vlak lê, oordeel ons dikwels nie met dieselfde felheid nie.
Daar is dinge wat in ons denkpatroon verkeerd is.
Sekere dinge gaan net by ons verby, maar die Here kyk anders na dinge as ons!
 
Iemand wat nie liefhet nie (of nie die vermoë het om liefde te ontvang of te gee nie) en iemand wat dinge begeer wat nie syne is nie, of wat hy nie mag doen nie, is by die Here net so skuldig as iemand wat gemoor het.
 
Paulus het ook aan die begin nie die dinge verstaan nie. Totdat daar iets dramaties met hom gebeur het! Die Here het hom tot bekering gebring. God die Heilige Gees het in sy hart en in sy verstand ’n verandering bewerk:
Hy het hom laat verstaan dat daar groot fout is as mens dinge begeer en doen wat jy nie moet nie!
Begeerte is ’n baie vleeslike ding wat nie deel is van die geestelike beeld van die Here wat ons dra nie!
 
Daarom skryf hy dit neer:
Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. (Romeine 7:14 AFR1953)
 
Dis nogal ’n skrikwekkende ding as ons agterkom dat ons begeertes en allerhande luste wat ons het na verbode dinge, in die oë van die Here sonde is.
 
Begeerte is natuurlik ’n ding wat altyd teen iets anders afgeweeg word. Meestal is dit iets wat jy wil hê wat die Here nie vir jou gegee het nie.
 
Voorbeelde uit die Bybel:
Absalom begeer sy pa se troon.
Dawid wat reeds ses vrouens het, maar hy begeer ook Uria se vrou.
Agab begeer Nabot se wingerd.
Net so het Simon die towenaar na sy bekering op ’n verkeerde manier die kragte van die Heilige Gees begeer:
En toe Simon sien dat deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word, het hy hulle geld aangebied en gesê: Gee aan my ook hierdie mag, sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.(Handelinge 8:18-19 AFR1953)
 
Begeertes is natuurlik ook goed en reg as ons ons begeertes op die Here rig!
Ons moet begeer om met die Heilige Gees vervul te wees.
Ons moet begeer dat die Here ons in alle opsigte beskerm.
 
Maar dis nie daardie soort van begeertes wat die Here in die tiende gebod in gedagte het nie.
Die soort van begeer wat Hy verbied, is daardie begeertes wat teen die Here se eer en teen sy wil vasskop.
Dis ’n lus om dinge te wil hê wat die Here nie vir jou beskik het nie.
 
Hierdie gebod eis dus van ons ’n bepaalde heroriëntering van ons sondige manier van dink en doen.
Die hele wet – maar dan in die besonder hierdie gebod – vereis ’n lewe van bekering.
As ’n mens nie aan hierdie gebod ernstige aandag gee nie, draai jy in sondes vas.
 
Daar is nie iets soos ’n heilige en verloste mens wat nie sonde doen nie. Kyk maar na al die heiliges soos wat die Bybel van hulle aan ons openbaar:
Jesaja noem homself ’n onreine.
Noag gaan drink homself dronk.
Dawid loop met ’n boetekleed rond.
Lot pleeg bloedskande.
Jakob raak moedeloos en gryp vooruit in die seën van die Here.
Moses het driftig geword toe hy sagmoedig moes bly.
Petrus verloën die Here Jesus.
 
So sou ons die lysie al hoe langer kon maak.
 
Die punt is net dat ons almal sondaars bly tot aan die einde van ons lewe. Ons moet maar almal met skaamte bely dat ons tot op ons laaste dag onvolmaak is.
 
As die Here nie aan ons sou aandag gee nie, sou ons dus net al hoe verder ingly in die verkeerde dinge wat ons begeer.
Die wet van die Here is dus sy volmaakte eis – al is ons nakoming daarvan altyd onvolmaak.
Daarom gebruik die Here sy wet as ’n spieël waarin ons onsself kan sien soos ons is.
 
Waarom moet ek myself sien in my sondes?
Omdat daardie beeld my bring tot op ’n punt waar ek voor die Here my skuld bely.
Die wet leer my ook wat ek graag wil wees – hoe ek dus wil lyk as ek ’n bekeerde mens is wat die Here in gehoorsaamheid dien.
Hierdie gebreekte beeld wat ek van myself sien, bring my sover dat ek gaan bid en by die Here verlossing gaan soek.
 
’n Mens wat daardie punt bereik het, ontdek in homself ’n dors na verlossing.
Daar kom ’n begeerte in my tot stand wat maak dat ek die volmaakte wil probeer nastreef.
Vanself dryf dit my na die Here Jesus toe
Deur sy verdienste werk sy Heilige Gees die verstaan en die wil in my om goeie dinge te doen.
Sy Gees werk die begeerte om die Here te dien soos wat Hy dit wil hê.
Sy Gees troos my wanneer ek deur my verkeerde begeertes weggelei word van die Here af –
enersyds met bekering en terugkeer na die goeie toe,
maar ook met die diep besef van die Here Jesus se genade dat Hy my my sondes vergewe.
.  
Psalm 139: 23, 24.
Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! (Psalms 139:23-24 AFR1953)
 
Die digter van Psalm 139 het ontdek hoe almagtig en alomteenwoordig God die Here is. 
Daar is geen plek waar hy kan heengaan nie, of die Here is daar. 
In die hemel    ‑  en die Here is daar. 
In die doderyk  ‑  en die Here is daar. 
Elke dag wat hy op die aarde lewe is die Here ook daar!
 
En dan die ontstellende: Die Here deurgrond hom! 
Elke sonde wat selfs net in sy gedagtes mag ontstaan, daarvan weet die Here! 
Selfs as hy net wil gaan sit of opstaan, dan het die Here al voor die tyd daarvan geweet.
 
Nou nooi hy as’t ware die Here uit om sy gedagtes te kom deursoek. Hy staan bewend voor die Here, maar hy stel homself graag aan die Here bloot.  Hy het ‘n begeerte om deur God getoets en gesuiwer te word, en om dan by die Here vergewing van sy sondes te ontvang:
   … en kyk of daar by my ‘n weg van smart is
       en lei my op die ewige weg.
 
Die ware gelowige kan so-iets doen, want hy weet dat die Here hom in sy sondige begeertes gaan ontdek  –  maar dis juis waarvan hy wil ontslae raak!
(38:10) Here, voor U is al my begeertes, en my gesug is vir U nie verborge nie. (Psalms 38:9 AFR1953)
 
Normaalweg is ’n mens se begeertes nie juis aanprysenswaardig voor die Here nie. Dink maar aan die uitspraak van Psalm 140:8:
 
(140:9) HERE, gee tog nie die begeertes van die goddelose nie; laat sy listige plan nie geluk, sodat hulle hul verhef nie. Sela. (Psalms 140:8 AFR1953)
 
Die Heilige Gees waarsku ons inderdaad dat ons begeertes in die geselskap lê van totaal onverkwiklike dinge.  Luister na Kolossense 3:5:
 
Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, (Kolossense 3:5 AFR1953)
 
Die Here wys ons daarop dat ons as uitverkorenes ons fisies en geestelik moet afskei van verkeerde dinge  –  onder andere moet ons wegbreek van begeertes;
 
Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel; (1 Petrus 2:11 AFR1953)
 
In Ou Testamentiese taal is hierdie digter besig om berou te toon oor sy sondes, en om sy oortredings voor die Here te bely. 
Hy besef dat ons net rein kan word as ons kennis dra van ons oortredings. 
Ons sondes sal ons net ken as ons as ons dit toets aan die gedagtes van die Here  ‑  sy wet. 
Hy besef dat as ‘n mens sy sondes ken en bely, die Here ons deur sy Gees help in ons stryd om rein te word.
 
Dis presies ook wat elkeen van ons moet besef voordat ons in ons geloof vorentoe kan gaan. 
Ons kan eers salig word as ons ons sondes besef. 
Eers wanneer ons besef hoe grof ons teen die gebooie van God oortree, sal daar by ons die begeerte ontstaan om nie meer teen die Here sonde te doen nie. 
Ons moet ‘n punt bereik waar ons werklike vyande word van alles wat verkeerd is, en aanhangers word van elke vorm van geregtigheid.
 
Dit gebeur natuurlik nie so maklik nie, want ons ken ons sondes en ons ellendes mos uit God se wet, en as ons met die wet werk, sit ons met groot moeilikhede.  Dink maar net aan wat die apostel Paulus daarvan skryf in Romeine 7: 7:    
Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie. Want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.
 
Al die sondes begin dus wesenlik by die tiende gebod, want jy kan letterlik geen sonde doen voordat jy nie die begeerte daarvoor het nie. Dit onderstreep ook weer die swaar van die Wet. 
In jou lewe mag dit nooit jou eie lus wees wat tel nie, maar die wil van God.
Ons staan dus teenoor die groot gebooie van die Here, terwyl ons ‘n uiters beperkte vermoë het om die gebooie van God uit te voer ‑  ook die gebod wat ons verbied om verkeerde dinge te begeer of te wil hê.
Ons weet dat ons in Jesus Christus moet glo tot saligheid, want Hy het die wet  vir ons volbring en daarmee saam die straf gedra vir ons onvermoë om die wet te kan onderhou. 
Ons glo dus dat ons eendag voor die regterstoel van God volkome vryspraak vir al ons sondes sal ontvang op grond van hierdie verdienste van Jesus Christus.
 
Nou glo ons verder  ‑  soos die Bybel ons leer  ‑  dat ons nie die wet sommer net opsy kan skuif of verwerp nie:
Ons moet dit uit dankbaarheid onderhou, omdat Jesus dit vir ons volbring het. 
Die Bybel leer ook dat ons al in hierdie lewe die uitverkorenes sal kan uitken, omdat hulle in hulle lewens die vrugte van die wedergeboorte sal voortbring. 
Die Heilige Gees maak hulle bekwaam om as gelowiges hierdie vrugte voort te bring.
 
Dan is die saak meteens nie meer so eenvoudig nie, want kyk hoe lyk ons lewens! 
Dit lyk nie altyd soos die lewens van mense wat deur die Heilige Gees bekwaam gemaak is nie. 
Dis duidelik dat ons hele lewens nie altyd in diens van die Here is nie.
Ons bekommernis vergroot wanneer ons eerlik ons eie harte deursoek. Ons kry lelike dinge daar  ‑  en dit word ‘n verskrikking as mens besef dat God in sy alwetendheid ook al hierdie dinge weet!
 
Die feit is dat daar by ons begeertes is om byna elke gebod te oortree.  En dit bly nie net by begeertes nie ‑ ons voer baie keer ons begeertes uit.  Dit raak al die gebooie van die Here.
Die eerste vier gebooie handel oor ons verhouding met God. Kyk net wat maak ons daarmee. 
Ons begeer  nie altyd om die Here nie te dien nie, want ons optredes bewys dit!
Luister hoe baie van ons ontken die almag van God wanneer ons praat van toeval en toevallig!
 
Ons kry skaam as ons eerlik is, want dis nie so dat ons geen lus het om teen die Here te sondig nie. 
Daar is ook nie die sterk geloofskrag wat ons al teen hierdie tyd moes gehad het nie.
Dis nogal skokkend, veral omdat die Bybel ons ook leer dat jou geloof soos fiksheid is  ‑  jy moet dit oefen. 
Ons lyk maar dikwels baie geloofsonfiks, want beproewinge mors met ons, terwyl ons dit in die Naam van die Here en met sy majesteit moet hanteer.
 
Ons stryd teen die sonde self vertoon ook nie baie lewenskragtig nie, want ons sukkel nog maar op presies dieselfde vlak as waar Israel in die woestyn was. 
In baie opsigte lyk dit eerder asof ons agteruitgegaan het as ons gemeet word aan die standaard wat die gelowiges in die Bybeltyd gehad het. 
Dis nie so dat ons werklik vyande van die sonde is nie.  As die sonde en ons smaak saamval, dan bedryf ons die sondes wat teen die heerlikheid van God is.  Dit hoort nie so nie.  Ons hele hart is nie altyd in ons godsdiens nie.
 
Die feit is net dat ons baie keer skuldig staan voor die Here omdat ons die Here se gebooie oortree. 
Daar is te veel kere by ons die lus om sonde te doen, en te min kere die lus om teen die sonde weerstand te bied om die heerlikheid en die eer van die Here te handhaaf.
 
Dink nou daaraan dat al die engele wat die Here in die hemel teëgestaan het, uitgewerp is.  Waar gaan ons heen?  Besef ons wat ons doen as ons verkeerde dinge doen?
 
Kom ons pas die hele saak op onsself toe.  Ons besef ons eie onbekwaamheid as ons eerlik na onsself kyk.  Maar die Here is nie sonder genade nie.  By die Here is die genade meer as oorvloedig, want dis die inhoud van die Christusevangelie.
 
1 Johannes 1:8  leer ons die volgende:
As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself, en die waarheid is nie in ons nie.  As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
 
Wanneer ons die sonde besef, en ons luister na die leiding van die Heilige Gees, dan groei daar nuwe begeertes by ons. 
Ons wil dan nie meer die gebooie van God oortree nie, maar ons wil hulle juis onderhou.
Ons het ‘n klein beginsel van heiligheid  ‑  dis om die sonde te ken as ons dit sien. 
Ons het verder die Heilige Gees wat uitgestort is in die kerk, en wat ons ook lei. 
 
Moet nou nie in hierdie saak in ongeloof verval nie.
Dit kom by lidmate voor dat hulle vra waarom die Here hulle so min krag gegee het dat hulle nie goed genoeg uit die hande van die sonde kan bly nie.
U moet weet dat ons genoeg krag het om te gehoorsaam  ‑  as ons net wil.  Ons moet net aandag gee aan die leiding en vertroosting van die Heilige Gees.
 
Die Heilige Gees verseker ons dat God meer as genoeg genade vir ons het. 
Hy verseker ons dat, ondanks al die onheilighede wat aan ons kleef, ons nogtans deur die Here verkies is, en dat hierdie verkiesing in die dood van die Here Jesus vasstaan. 
Niks kan jou van jou verlossing beroof nie.
 
Dit bring ons by nog ‘n probleem: as die genade van die Here dan vir ons genoeg is, waarom moet ons dan nog die wet preek en onderhou ? 
Die antwoord is dat selfs die allerheiligstes onder ons maar net ‘n klein beginsel van gehoorsaamheid het solank as wat hulle in hierdie lewe is. 
Maar hulle het ‘n ernstige voorneme om volgens al die gebooie van God te lewe.
 
Dis waarom die wet gepreek moet word. 
Ons sal die eise van God nie verstaan as ons die wet nie hoor nie. 
En ons sal ook die genade van God nie verstaan as ons die wet nie hoor nie, omdat ons nie sal besef waarvan  Hy ons verlos het as ons die wet nie ken nie.
 
Die wet leer ons wat alles in Christus te kry is. 
Dit leer ons bid vir genade, en om te dank vir al die seën wat ons reeds ontvang het. 
Die wet vervang ons onkunde met insig, en saam met insig kom die begeerte tot geloofsvernuwing.
 
Dan kom ons uit die aard van die saak in ‘n situasie waar ons:
weer gemeenskap met God beoefen. 
In ‘n omstandigheid waarin ons weer ons geloof geniet, en werklik ‘n plesier vind in ‘n streng en Christelike lewe. 
Dan sal ons ook ervaar hoeveel krag die Here werklik aan ons gee.
 
Kom ons strek ons dan uit na dinge wat ons wel mag begeer  ‑  die heiligheid en aanbidding van God.  Laat ons ons beywer om goed en reg te lewe totdat ons hierdie aardse bestaan verwissel met die ewige en sondelose bestaan by God.
 
Vraag 114: Maar kan die wat tot God bekeer is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam?
Antwoord: Nee, want selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar ‘n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid (a), maar tog so dat hulle met ‘n ernstige voorneme begin om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie van God te lewe (b).
(a)1 Joh 1:8; Rom 7:14, 15; Pred 7:20; 1 Kor 13:9. (b) Rom 7:22; Ps 1:2.
 
Vraag 115: Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie?
Antwoord: Ten eerste sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken (a), en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek (b). Ten tweede moet ons ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik (c).
(a)Rom 3:20; 1 Joh 1:9; Ps 32:5. (b) Matt 5:6; Rom 7:24, 25. (c) 1 Kor 9:24; Fil 3:12-14.
 
Wat is nou ons verantwoordelikheid?
 
Dit feit dat die Here Jesus ons vrygemaak het van die wet, beteken nie dat ons nou sonder verantwoordelikheid gelaat is nie.
U moet onthou dat die Here Jesus ons status verander het van verlorenes na kinders toe.
Kindskap bring nuwe verantwoordelikheid.
 
Kindskap vereis juis gehoorsaamheid, want ’n kind kan nie doen wat hy wil nie.
Hy moet doen wat die reëls van die huis van hom vra.
Daarom gee die vrymaking van die wet nie toestemming dat ons losbandig kan lewe nie.
 
Ons bly dus gebonde aan die wet.
 
Ons verbintenis met die wet is net heeltemal op ’n ander vlak as wat dit in die Ou Testament die geval was.
Toe moes hulle die wet onderhou om straf vry te spring.
Ons gehoorsaam nie die wet om straf vry te spring nie, want ons straf is reeds gedra deur die Here Jesus Christus.
 
Ons onderhou die wet uit gehoorsaamheid en uit dankbaarheid aan die Here Jesus Christus wat vir ons die wet onderhou het, sodat die wet ons nie voor God kan beskuldig nie.
 
Die wet leer ons dus dat ons nie kan lewe sonder godsdiens nie.
Godsdiens is alles wat jou lewe omsluit.
Godsdiens is nie net die erediens, en wat jou kerk alles doen nie.
Godsdiens is alles wat jy elke oomblik doen, en hoe jy jou daaroor voor die Here verantwoord, want God heers oor alles.
 
In kort saamgevat leer die wet ons om God lief te hê, te eer en te vrees.
 
En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom. (Kolossense 3:17 AFR1953)
 
Doen alles en dank God. Dit veronderstel dus dat ons die wet nakom uit dankbaarheid.
 
Dit is so om twee redes:
Die eerste is omdat die wet ons die kennis gee om te onderskei tussen goed en kwaad.
Ons word deur die Here gelei om die vermoë te hê om te weet wat reg en wat verkeerd is.
Dit maak dit vir ons moontlik om die Here op die regte manier te kan dien.
Maar dit is ook so dat ons dit nog nie kan doen nie, want ons is te sondig van geaardheid.
Dit bring ons by die tweede rede waarom die wet ’n reël van dankbaarheid is.
Die Here Jesus het hierdie wet, wat ’n verskrikking is omdat ons dit nie kan onderhou nie, vir elkeen van ons onderhou.
Nadat Hy die straf vir ons wetsoortreding gedra het, het Hy die Heilige Gees na ons toe teruggestuur om ons kragtens die verdienste van Jesus Christus te leer onderskei tussen wat God van ons verwag en wat Hy ons verbied.
 
Daar is natuurlik baie dinge wat ons van die Here Jesus moet glo, maar ten opsigte van die wet is daar veral hierdie een saak wat sterk na vore tree.
Dit is dat God Hom in die Wet aan ons openbaar.
Maar ons kon die Here nie ten volle daardeur dien nie.
Daarom kom die Here Jesus en onderhou die wet vir ons, sodat ons steeds in die genade van God kan staan.
 
So verdwyn die verskrikking van die wet in die Here Jesus. Dit word ’n reël van dankbaarheid, omdat dit ’n weergawe word van die werk wat die Here Jesus gedoen het, sodat ons onverdiend in die hemel kan ingaan.
 
(Saamgestel uit: Vrae en antwoorde uit Heidelbergse Kategismus en kategismus preke van dr Thinus du Plessis –  deur Jakes Joubert 2009)