Waarom die brief
Die mense van Kolosse het gedink dat Jesus maar net een van baie maniere was om by God uit te kom, Paulus help hulle in hierdie brief reg. Jesus is die beeld van God: Slegs in en deur Hom leer ons God regtig ken. Dit blyk ook dat dwaalleraars die gemeente verwar. Volgens hulle dwaalleer word daar ‘n belangrike funksie toegeken aan geestelike magte en hulle moet oorwin word deur wettiese godsdienstige reëls na te kom.
1:1-2 Groete
Die Apostel Paulus en sy mede werker Timoteus skryf aan die Kolossense “die heiliges en getroues” volgers van Christus. Op ‘n subtiele wyse begin Paulus om die Kolossense te leer om te wees wie hulle is. Hy groet hulle met genade en vrede van God ons Vader.
1:3-8 Ons dank God vir julle
Paulus weet alles is nie reg in die kerk van Kolosse nie, maar hy val nie met die deur in met al die gebreuke nie, maar met al die “sterk punte”. Hy dank God daarvoor dat hulle nie net die evangelie gehoor het nie, maar dit ook aanvaar het en uitleef en verder versprei. Die gelowiges in Kolosse het liefde, geloof en hoop, daarom weet hulle God se beloftes sal vervul word.
1:9-14 Ons bid vir julle
Paulus noem nou spesifiek dat “ons dit van julle gehoor het”. Hy bid tot God dat Hy hulle kennis sal gee om hulle lewenstyl so in te rig dat hulle hulle verhouding met Hom, met mekaar en met ander menses al inrig soos God wil. Hierdie kennis kry mens net deur die wysheid en insig van die Gees. As jy dit doen sal jy God leer ken en Hy sal jou help om in alle omstandighede te volhard. Dan pas dit dat jy vir Goed dankie sê want: “Deur die Seun, het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes”.
1:15-26 Die voorrang van die Seun
Die groot probleem by die Kolossense was dat hulle geestelike magte in die skepping vereer het asof hulle Gode was. Hulle het gedink dat hulle so en op allerhande manierd by God sou kon uitkom. Hulle het dus skepsels op goddelike terrein begin plaas en sodoende die skepping soos dit bedoel is om te wees, deurmekaar gekrap. Hulle het die grootheid, heerlikheid, alleen krag en verlossings vermoeë van Jesus verontagsaam en die goeie houding tussen God en sy skepping versteur. Jesus moet en het dit kom regstel. Daarom voeg Paulus ‘n gedig ‘n lied oor Jesus hier in.
Die tema is:
- Jesus as Skepper
- Jesus ons Verlosser
Die Kolossense glo in Gode wat hulle kan sien. God kon nie gesien word nie. Daarom sê Paulus: die Seun is die sigbare uitbeelding van die onsigbard God. Jesus is Eerste. God het alles deur hom geskep, die hele heelal. En na sy opstanding het Hy die eerste posisie in die hemel gekry en regeer steeds oor die hele skepping. Die kerk bestaan uit mense wat die dood oorwin het deur Jesus, en verseker is van die ewige lewe. Jesus het uit die dood opgestaan. As ons leier het Hy vir ons die pad na die nuwe lewe oopgebreek. Ook daarin was Hy eerste. Jesus en God is Een. Jesus beskik oor alles wat nodig is om as God in hierdie wêreld op te tree. Hy was mens, maar ook volle God.
Deur Jesus het God sy goeie verhouding met alles in die hemel en op aarde herstel. Jesus het alles en almal met God versoen. Daar moet immers vrede in die hemel en op aarde gemaak word. Jesus het dit gedoen, maar daar was ‘n prys. Jesus het dit bewerk met sy bloed wat aan die kruis gevloei het.
- Prys die Here in dankbaarheid –
1:21-23 God het ook julle met Homself versoen
Die Kolossense is ook deur God met Hom versoen. Jesus het die goeie verhouding tussen die sondige mens en God herstel deur self liggaamlik aan die kruis te sterf. Paulus herinner eers die Kolossense aan wie hulle eers was voor hulle God leer ken het. Hulle was vreemd vir God en ver van Hom af. Hulle het hulle nie aan Hom gesteur nie en was vyandiggesind. Dit het geblyk uit hulle afvallige lewensstyl. Maar nou deur die versoening is die gelowiges naby aan Hom en Hy aanvaar hulle. Daar is geen vyandskap.
Nou rus daar ‘n verantwoordelikheid op die gelowiges in Kolosse:
- Hulle moet aanhou glo,
- Hulle moet onwrikbaar vas bly staan,
- Hulle moet hulle nie laat losruk van die hoop, die sekere verwagting wat hulle in die evangelie gehoor het, dat God sy beloftes sal laat waar word nie.
1:24-29 Paulus se diens in belang van die kerk
Paulus het van die Here die opdrag ontvang om sy woord ten volle aan die Kolossense te verkondig en bekend te maak. Hierdie besondere evangelie woord se verspreiding was eeue en geslagte lank ‘n geheimenis. God het die evangelie nou op Sy tyd geopenbaar aan diegene wat aan Hom behoort. Jode en nie-Jode almal wat die gawe van Christus met ‘n gelowige hart aanneem. Die inhoud van hierdie geheimenis is:
- Christus is in julle, Hy is een met julle,
- Die waarborg dat “julle in die hemelse heerlikheid sal deel” dui daarop dat Christus hulle hoop op die heerlikheid is. Christus gee Homself, in die gelowiges.
HOOFSTUK 2
2:1-5 Waarskuwing teen misleiding
Paulus begin om te beklemtoon hoe sterk hy hom beywer vir die Kolossense, al sien hulle hom nie. Daar is gevaar van dwaalleraars en Paulus wil vir hulle voorberei en sterk om hierdie dwaalleer te weerstaan. Sy laaste woorde aan hulle is: “ek is bly om te sien dat julle die goeie dade handhaaf en dat julle geloof in Christus stewig staan” (2-5). Paulus wil nie hê dat die geloof wankel nie. “Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind” (2:3). Paulus wil hê hulle moet heeltemal verstaan wat die geheimenis van God is. Hierdie geheim is Christus.
Hulle moet al hulle wysheid en kennis in Christus vind, en as daar vrae is, bv. hoe om by God uit te kom, wat van jou verwag word, is daar net een plek om die antwoorde te vind by Christus. Paulus waarsku daar is mense wat met mooi praatjies gaan kom en allerhande reëls, en sê dat God gevind word deur die navolging van die reëls. Paulus sê dit is net aardse reëls en het niks te doen met God nie, daar is net Een en dit is Christus, en hulle moet by Hom krag kry om op die regte pad te bly. Konsentreer op die posetiewe boodskap van die evangelie. Daar is net een weg na God, en dit is Christus.
2:6-15 Lewe in verbondenheid met Christus Jesus
Die tema van die brief word in 2:6-7 gestel. As ons Christus Jesus die Here aanneem, moet ons een word met Hom bly in die geloof en vervul met dankbaarheid. Maar ons het ook ‘n deel, ons moet nog die leefstyl van ‘n Christen volg. Paulus waarsku teen die miskendende teorie en argumente van die filosofie. Hulle het voorskrifte met streng wettiese vereistes om God te ken. Dit is sommer menslike bog. “Die volheid van God is mos liggaamlik in Christus teenwoordig” (1:19). Gelowiges is een met Christus so ons is een met God. Christus het vir ons die weg gebaan na God. Paulus sê die menlike besnydenis is nou vervang met die doop. Net soos Jesus begrawe is en deur die krag van God opgewek is gebeur dieselfde op ‘n Geestelike gebied met ons. Die ou mens in ons sterf en die nuwe mens sal opstaan. Jesus het aan die kruis die rekening betaal vir ons skuld. Die dood wat die gelowige moes sterf, het Jesus gesterf. God het ons weer lewend gemaak. Hy het al ons sondes vergewe en die nuwe skoon mens met Hom versoen.
2:16-19 Moenie dat iemand julle mislei nie
Paulus waarsku teen mense wat gaan probeer om hulle te laat wegbreek van die evangelie. Wegbreek van Christus. Hierdie mense kom met allerhande wette bv wat jy mag eet en nie, en oor jaarlikse feeste wat gevier moet word. Hulle aanbid engele en sien visioene. Hulle gee voor dat dit die manier is om nader aan God te kom, maar dit is pure misleiding. Hulle ontken Christus, hulle ontken Christus as die Hoof, die Hoof van die kerk. Hulle val dus die kerk aan, die liggaam van Christus. Moenie na hierdie mense luister nie, moenie dat hulle eers klaar praat nie, bly by die evangelie, bly by Christus, en groei in God.
2:20-23 Julle het saam met Christus gesterwe
In aansluiting by voorafgaande sê Paulus julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettige godsdienstige reël van hierdie wêreld. Hier verwys hy na die reëls wat deur die dwaallaars verkondig word. Hierdie leerstelling het geen waarde vir die beteuling van die sondige drifte nie. Net geloof in Christus, ons het saam met Hom gesterwe so ons het saam met Hom opgestaan ‘n skoon nuwe mens wat Hom kan dien soos dit moet en ons sondige drifte is dood.
HOOFSTUK 3
3:1-4 Julle is saam met Christus uit die dood opgewek
Paulus begin nou om te verduidelik wat dit is om in verbondenheid met Christus Jesus te lewe. Jy moet jou oë en jou hart stewig gevestig hou by die “dinge” daar bo. Daar waar Christus is, waar hy aan die regterhand van God sit. Dit bring mee dat jou lewenswyse dit ondersteun. Die wat die evangelie verdraai het, het voorgeskryf dat allerhande wêreldse reëls en regulasies nagekom moes word om naby God te leef. As Paulus nou sê dat die gelowige se oë daarbo gerig moet wees, waar Christus is beteken dit dat jy jou nie steur aan al hierdie reëls nie, maar bloot moet vra wat Christus wil hê. Dan lewe jy mos naby aan God! Dan sal jy as Christus weer kom saam met hom in sy heerlikheid verskyn aan God, en die ewige lewe ontvang.
3:5-17 Die ou en die nuwe mens
Ons het in Christus gesterwe en opgestaan. Die ou sondige mens is dood. Daarom begin Paulus nou baie prakties om gewoontes dade en gedagtes wat pas by die ou mens te laat afsterf – vir ewig. Let op, hy begin altyd met onsedelikheid. Dit is ‘n sonde wat baie erg in God se oë en ‘n probleem is van toe af tot nou. Let ook op dit is nie net dade nie, maar selfs net gedagtes. Ons lewe nou in Christus, so ons moet focus op hemelse realitiete. Goeie dade en gedagtes. Paulus gaan weer voort en gee ‘n lys: meelewend, goedgesin, nederig, geduld, sagmoedigheid, verdraagsaamheid en vergewendgesind. En hy noem spesiaal “wees altyd dankbaar” (3:15). Ons moet God uit ons harte loof en prys, in liefde en alles in die lewe, woorde, dade en gedagtes moet gedoen word tot eer van God.
3:18-4:1 Wedersydse verhoudings
Vrouens: Onderdanig kan maklik verwar word met slaaf. Dit is nie wat Paulus bedoel nie. Die man was die hoof van die huisgesin soos Christus die “Hoof” van die kerk is. Die man was die een wat gesag in die huishouding gehou het en hy moes die huishouding handhaaf, beskerm en versorg. Wat Paulus hier bedoel is dat die Christenvrou se rol was om die man te respekteer en hom sy “werk” laat doen. Sy moet nie in sy pad staan nie en doen wat sy kon om hom te ondersteun. Laat hom “man” wees.
Mans: Wees lief vir julle vrouens! Dit beteken: aanvaar die vrou, wees lojaal, aanvaar jou verantwoordelikhede en verpligtinge teenoor die vrou en wees so lief vir haar dat jy nou lewe vir haar sal gee. Maak die lewe vir haar aangenaam.
Kinders: Soos ons as kinders van God aan Hom gehoorsaam is, so moet kinders aan hulle ouers gehoorsaam wees. As daar ‘n noue liefdesband is en die ouers behandel hulle met respek en liefde, kom dit amper van self.
Vaders: Wees lief vir julle kinders, respekteer hulle behoeftes sorg vir hulle en beskerm hulle, nie net fisies nie, maar teen alle aanslae van hierdie sondige wêreld. Luister na hulle, verstaan wat hulle benodig en help hulle.
Slawe: Wees in alls gehoorsaam aan julle eienaars. Die ware “eienaar” wat julle die is Christus, nie julle eienaars nie. Doen alles vir Hom, dan sal daar lus wees in julle werk. Doen dit tot eer van Christus en nie om deur julle eienaars gesien te word nie. Onthou: Christus is ook “eienaar” oor julle dienaars en Hy sien as julle mishandle word, reg sal geskied.
Eienaars: Die eienaars moet hulle slawe reg en billik en met respek hanteer. Hulle moet onthou hulle het ook ‘n Eienaar in die Hemel. Hy kyk hoe hulle optree. Die eienaar se optrede moet wys hoe hy sy Eienaar se heerskappy aanvaar.
HOOFSTUK 4
4:2-6 Bid en tree met wysheid op
Paulus vra die Kolossense om te volhard in gebed, sowel vir eie behoeftes as vir Paulus en sy metgeselle.
Tot nou toe het Paulus met die gelowiges gepraat oor hulle optrede teenoor mekaar. Nou sê hy dat hulle ook met wysheid moet praat met die mense buite die gemeente en elke oomblik te benut om die evangelie en God se wysheid aan hulle oor te dra.
4:7-18 Groete
Paulus skyf groete van verskeie mense en medewerkers af en aan verskeie mense. Hulle bid dat hulle staande sal bly, geestelik volwasse sal word en in alles volkome gehoorsaam aan die wil van God sal wees.
Hy bid hulle God se genade toe.