VERSTAAN DIE
DORTSE LEERREËLS
Verwerk deur Jakes Die Bron is Ds Coen Vrey van GK Bellville2019 met behulp van jou Preekbundels
Inhoud
DIE DOOD VAN CHRISTUS EN DIE VERLOSSING VAN DIE MENS DEUR DIE DOOD. 39
DIE VERDORWENHEID VAN DIE ENS, SY BEKERING TOT GOED. 51
EN WYSE WAAROP DIT PLAASVIND. 51
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 1. 51
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 2. 54
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 3. 56
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 4. 58
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 5. 60
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 6. 61
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 7. 63
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 8. 65
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 9. 67
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 10. 69
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 11. 71
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 12. 72
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 13. 74
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 14. 76
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 15. 78
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 16. 80
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 17. 82
DIE VOLHARDING VAN DIE HEILIGES. 84
GOD SE VOORBESKIKKING
Hoofstuk 1 Artikel 1
1.1 Alle mense het in Adam gesondig en hulle aan die vloek van die ewige dood skuldig gemaak. Daarom sou God niemand veronreg het as dit sy wil was om die hele mensdom in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Gevolglik leer die apostel: “Die hele wêreld is voor God doemwaardig. Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” (Rom 3:19, 23) en: “Die loon van die sonde is die dood.” (Rom 6:23).
Tema: Alle mense sondig
Almal is sondaars en daarom skuldig voor die Here, gelowiges sowel as heidene, en verdien dus die ewige dood! (Rom 3)
Hoe kan ons nou as sondige mense redeneer dat God onregverdig is om ons te straf vir iets wat Adam gedoen het. Ons was mos nie daar nie! Ons het nie saam met Adam gesondig nie.
Om die redenasie te beoordeel, kom ons kyk na die verhouding wat daar tussen God en Adam was. Die verhouding was ‘n verbond, die werksverbond. Adam sou deur sy gehoorsaamheid aan die Here se eis die ewige lewe verkry. Maar so ook die hele menslike nageslag, want die verbond word oorgedra aan almal.
Aangesien God die verbond met die hele menslike nageslag opgerig het, het Adam se verbreking van die verbond die hele menslike nageslag beïnvloed en dra hulle ook die verantwoordelikheid.
Adam het sy rug op die Here gedraai en die satan se kant gekies en daardeur is die hele menslike nageslag verdoem. Nou kan ons sê ons is onskuldige erfgename van die sondige natuur, maar ons is nie! Ons kies om te sondig. In plaas van ons sondige natuur te onderdruk en God te dien soos Hy vereis, kies ons om te sondig. Elke dag, in elke daad en denke, neig ons na die satan.
Paulus stel dit so: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.” (Rom 5:12 AFR53)
Die Here stel dit so deur die apostel: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” (Rom 3:10-12 AFR53)
Alle mense het deel in Adam se sonde. God is dus regverdig as Hy die hele mensdom wil vervloek en in die sonde veroordeel.
Kom ons kyk weer mooi na ons belydenis: “Daarom sou God niemand veronreg het as dit Sy wil was om die hele mensdom in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie.” (Dordtse Leerreëls, Artikel 1, Hoofstuk 1)
Dit was nie God se wil nie. God se verhouding met Adam was nie nét verbond nie, dit was ook Vader en kind, Skepper en skepsel. Volmaakte skepsel wat deur die Satan verdoem is. Die hele menslike nageslag is God se kinders en Hy wil hulle nie verloor nie. So in Sy groot onverdiende genade het Hy iets anders ‘gewil’ om met hierdie sonde af te reken.
God het geweet dat ons as sondige mense onsself nooit sal kan verlos van al ons sondes nie. Daarom het Hy sy enige geliefde Seun verneder tot menswees en geoffer vir al ons sondeskuld – laat sterwe om ons te verlos van die ewige dood. So lief het Hy ons gehad.
Nou, net soos een mens die sonde en die dood in die wêreld gebring het, het een mens gesterf vir al die sonde van die wêreld en die dood oorwin, sodat ons kan lewe. Christus het nie net in ons plek gesterf nie, deur die doop het ons deelgeneem in sy dood. So ons eenheid met Christus beteken dat toe Hy gesterf het, het ons gesterf en toe Hy opgestaan, het ons opgestaan. Dus omdat Hy lewe, lewe ons.
Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal.” (Rom 5:18 AFR83)
“Maar nou is die geregtigheid van God geopen-baar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” (Rom 3:21-24 AFR53)
God is ewig regverdig en waaragtig. Hy het ons uit die kloue van satan gered deur ons sonde in die vlees van sy Seun te veroordeel. So wat moet ons nog doen?
Glo in Jesus Christus!
Elkeen wat in Jesus Christus glo, sal nie verlore gaan nie, maar ontvang die ewige lewe: “… sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê”. (Joh 3:16 AFR53)
Hoofstuk 1, Artikel 2
1:2 Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1 Joh 4:9; Joh 3:16).
Tema: God se Liefde
Ons sien en leer nou hier in Artikel 2 van God se groot onverdiende genade vir die sondige mens. Dit is nie Sy wil om alle mense in die ellendes aan die kant van die satan te los en uiteindelik ewig te veroordeel nie. Sy wil is om met die sonde af te reken in die vlees van Sy Seun. Hy sê vir die satan in die tuin van Eden na die sondeval: Haar nageslag sal jou kop vermorsel (Gen 3:15).
Daarin het God sy liefde geopenbaar, deur Sy eniggebore Seun in die sondige wêreld te stuur, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Joh 3:16).
In en deur Sy Seun het God hulle kom soek wat verlore is om hulle te red, Uit genade!
Ons leer ook hoe belangrik geloof is. Want jy moet in Hom glo om nie verlore te gaan nie en die ewige lewe te ontvang. Die enigste wyse waarop mense van satan se kant af na God se kant toe kan kom, is deur geloof in Jesus Christus. Hy is ons weg, die enigste weg, oor die onoorbrugbare kloof tussen God en waar die mens hom aan satan se kan bevind. Uit genade het God ons, deur Christus gelei, van die ewige dood en ondergang in satan, na die ewige lewe in Sy heerlikheid vir ewig.
Ons dink net aan die mens en sy oortredinge, maar God het ook emosies. Ons, sal nooit weet hoe groot was die teleurstelling en hoe skerp was die pyn in die hart van God toe Hy besef Hy gaan sy kinders verloor aan die ewige dood omdat hulle so sondig is. Daarom het hy in Sy groot liefde en ontferming en uit genade, gedoen wat Hy kan om te verseker Hy sal nie Sy kinders verloor nie.
Hy het sover gegaan as om Sy eniggebore Seun te offer vir ons skulde, sodat ons kan lewe. Groter genade en liefde kry jy nêrens nie!
Hoofstuk 1, Artikel 3
1:3 Om mense tot die geloof te bring stuur God uit genade verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom 10:14-15).
Tema: Vreugdevolle boodskappe
“… sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh 3:16 AFR53). Maar waar kom hierdie geloof in ‘n sondige mens dan vandaan? Die Heilige Gees werk dit in ons harte deur die verkondiging van die Heilige Evangelie (HK – Sondag 25).
Definisie van geloof: Ware geloof is ‘n gawe van God (Ef. 2:8) wat die Heilige Gees in die nouste samehang met die wedergeboorte en bekering in die hart werk deur die prediking van die Evangelie (Rom 10:17). “Wanneer iemand só deur ‘n ware geloof in Christus ingelyf word, omhels hy/sy Christus in die geloof en neem al sy weldade aan” (Christelike Kern-Ensiklopedie, bl. 371).
Elkeen van ons wat deur die Heilige Gees oortuig is dat Hy ons met die ware geloof in Christus ingelyf het en ons laat deel kry aan die weldade van Christus. Weet dat daar tussen ons en God vrede is. Paulus maak dit ook baie duidelik in Romeine dat die Woord verkondig moet word aan alle nasies aangesien daar so baie is, wat nog nie vir God ken nie en ook gelowiges is wat wel vir God ken maar Hom ignoreer.
“…Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Rom 10:13 AFR53).
Maar niemand kan die Here aanroep as hy nie in die Here glo nie. Niemand sal in die Here kan glo as hy nie van die Here Jesus Christus gehoor het nie. ‘n Mens moet dus eers die vreugdevolle boodskap van Jesus Christus se koms na die aarde en Sy verlossingswerk hoor, want daardeur wek die Heilige Gees die geloof in ‘n mens op.
God openbaar Sy liefde daarin dat Hy sy Eniggebore Seun gestuur het om die verlossing te bewerk en ook dat Hy verkondigers stuur om hierdie liefde wat Hy in Sy Seun ten toon gestel het, te verkondig aan wie Hy wil en wanneer Hy wil (Hand 16).
“Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word”. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: “Hoe lieflik is die voete van die wat die Evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!?” (Rom 10:13-15 AFR53).
‘n Verdere deel van die definisie van geloof is dat dit ‘n lewende en werkende geloof is wat deur dade bevestig word. So moet ons ook dan in geloof die evangelie verkondig deur woord en daad aan almal wat die Here nie aanroep nie.
Die Here gebruik ons ook as verkondigers in ons alledaagse lewe. Hoe kan ons dan nou anders as om in geloof die weldade en verlossing wat die Here deur die Heilige Gees in ons harte werk, ook aan ander te verkondig. God bring verlore sondaars elke dag tot geloof en bekering deur die prediking en verkondiging van die Heilige Evangelie.
Hoofstuk 1, Artikel 4
1.4 Die toorn van God bly op mense wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ʼn ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Joh 3:36; Mark 16:16).
Tema: Toorn van God
“Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (Joh 3:36 AFR53)
Hoekom geloof in Jesus Christus so belangrik is:
Jesus, ons Verlosser is op aarde. Hy begin werk tussen ons. Alles wat Hy doen, ontvang Hy uit die Hemel. Hy raak al meer, al hoe belangriker onder die mense. Hy is tog die bruidegom, wat gekom het om sy bruid te ontvang (die kerk).
Johannes die doper verduidelik vir die mense hoe belangrik Jesus is en dat hy self niks is nie. Hy sê: Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal.” (Joh 3:31 AFR53)
Jesus se herkoms uit die hemel maak duidelik dat Hy bo almal verhewe is. Hy is die Seun van God – daarom moet ons in Hom glo. Jesus is absoluut betroubaar want wat Hy sê en doen kom nie van Hom nie maar van die Vader. Daarom moet ons in Hom glo.
“Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in my nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke”. (Joh 14:10 AFR53)
“Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.” (Joh 3:36)
Let wel, die toorn van God kom op die mense wat nie in die Evangelie glo nie – die toorn van God bly op hulle. Toe hulle die Evangelie gehoor het, was hulle reeds onder die toorn van God omdat alle mense in sonde ontvang en gebore word en daarom onder die toorn van God is. Slegs Jesus Christus se offer aan die kruis hef hierdie toorn van God wat op die mens is op, en dit gebeur slegs deur die geloof in Christus.
Wie soos ‘n bedelaar die Evangelie van verlossing deur Christus aanvaar as die volle waarheid omdat die Heilige Gees dit in Sy hart kom neersit, wil nie iets anders doen as om Jesus met ‘n ware en lewende geloof te omhels nie. Jy verheug jou in die Here wat die verlossing en saligheid net met Sy dood en opstanding vir jou bewerk het. Omdat Hy jou syne gemaak het, streef jy deur die geloof om alles wat Hy vir jou verwerf het joune te maak.
Slegs Jesus Christus hef die toorn van God op wat op die mens was. Slegs deur geloof in Jesus Christus kom ‘n mens weer in die regte verhouding met God. En hierdie geloof kom net deur die hoor van die Woord van God. Met die verkondiging van die Woord word ons opgeroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde.
Hoofstuk 1, Artikel 5
1.5 Die oorsaak of skuld van hierdie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ʼn genadegawe van God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is ʼn gawe van God (Efes 2:8); ook: Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo (Fil 1:29).
Tema: Ongeloof en Geloof
“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.” (Efes 2:8 AFR83)
Dit is iets wat God verniet gee, soos ‘n geskenk. Wat behoort ons gepaste reaksie dus te wees? Dat ons God dank en dat ons blydskap en dankbaarheid elke dag prakties met ons lewe wys!
Ons wat die voorreg het om aan die voete van die Here groot te word en wat gereeld onder die geklank van die Woord is weet dat geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom ‘n genadegawe van God is. Die Heilige Gees wek die geloof deur middel van die prediking van die Evangelie in die hart van die mens op.
Die logiese vraag wat nou na vore kom is: Aangesien die oorsprong van geloof die werk van God die Heilige Gees is, wat is dan die oorsaak van die ongeloof wat by so baie mense aangetref word? As geloof ‘n genadegawe van God is moet ons almal dit dan nie hê nie?
Die vraag word doelbewus so gestel sodat die verdorwenheid van die mens se hart helder aan die lig kan kom. Die voor die hand liggende antwoord wat die vanuit sy oogpunt gee is dat die oorsaak van die ongeloof dan by God gesoek moet word. Aangesien geloof ‘n gawe van God is, dan is ongeloof die gebrek aan die gawe van geloof.
Die Heilige Gees maan ons om weer te kyk na Adam en Eva. Net soos hulle skaamteloos gedoen het – ontken ons ons eie verantwoordelikheid. Die skuld lê by ons, nie by God nie. Om te kan glo, moet jy wíl glo.
As ons die liefde van God helder wil raaksien, moet ons eers uit die Bybel hoor wat werklik die oorsaak van die ongeloof by die mens is. In Sondag 4 van die Heidelbergse Kategismus kry ons ‘n samevatting van hierdie leer uit die Bybel: Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in Sy wet van Hom eis wat hy nie kan doen nie? Nee, want God het die mens so geskep dat hy dit kan doen. Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.
God het die mens dus geskep om die evangelie te kan hoor, begryp en glo. Die mens het homself beroof van die gawes wat hy gehad het om die Evangelie te hoor en te glo. Daarom kan die mens wat nie glo nie, nie ‘n ander mens of selfs God blameer vir sy ongeloof nie. Hyself is te blameer uit sy ongeloof.
Die Woord is baie duidelik oor die onwilligheid van die mens om te glo. Jesaja skryf: “Want dit is ‘n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die Here nie wil hoor nie; …” (Jes 30:9 AFR53)
Jesus self se uitspraak oor Jerusalem: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaar maak, soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie.” (Lukas 13:34 AFR53)
Aan die Jode het Jesus gesê: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wie nie na My kom om die lewe te hê nie.” (Joh 5:39-40 AFR53)
Om te glo is dus om te wil glo, en daar is so baie wat nie wil glo nie. Daarom so baie ongelowiges.
Die Heilige Gees was aan die werk maar die Jode was onwillig om te glo. Hulle het Jesus self gehoor, maar wou nie na Hom toe gaan nie.
Die punt wat die Here in elkeen van hierdie skrifgedeeltes maak, is dat die onwilligheid om te glo elke mens se eie skuld is. Omstandighede bepaal nie of ‘n mens sal glo of nie glo nie. Ongeloof is nie ‘n kwessie van “ek kan nie glo nie” maar eerder ‘n kwessie van “ek wil nie glo nie”.
Die waarde “uit genade is julle gered” verwys na daardie verlossingswerk deur Christus. Maar hoe word hierdie verlossing dan nou ‘n mens se verlossing sodat jy seker kan wees dat jy uit genade gered is? Hierdie verlossing word die mens se persoonlike verlossing slegs deur die geloof. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ‘n genadegawe van God.
Die Heilige Gees gee hierdie vasstaande kennis en vasste vertroue, wat geloof is, vir ‘n mens deur die verkondiging van die Evangelie. Daarom is die verlossing deur Christus, die geloof in Jesus Christus en die hoor van die Evangelie waarin Christus verkondig word, geheel en al die liefdeswerk en genadewerk wat God aan mense doen wat dit hoegenaamd nie verdien nie.
Hoofstuk 1, Artikel 6
1:6 Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil (Efes 1:11). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hulle ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie verkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeid tussen die mense, wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en ver-werping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit onuitspreeklike troos.
Tema: God se ewige besluit
“… in Hom in wie ons ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van Sy wil, sodat ons kan wees tot lof van Sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het.” (Efes 1:11-12 (AFR53)
Ons doen goed en glo in God omdat God ons reeds uitverkies het lank voor die grondlegging van die aarde, nie omdat ons wil hê dat God ons moet uitverkies nie. En Hy handel volgens die raad van Sy wil.
Ons goeie God het mense na Sy beeld geskep – in ware heiligheid en geregtigheid sodat hy God, sy Skepper, reg kan ken, Hom van harte lief kan hê en saam met Hom in die ewige saligheid kan lewe om Hom te loof en prys. Maar deur die aanhitsing van die duiwel het die mens sy rug op God gedraai. Hulle wil self in beheer wees.
Nou wat moet die Here nou doen? Maak asof niks gebeur het nie? Dit kan tog nie, die mens het homself teen die hoë majesteit van God verhef. Moet die Here nou die mensdom in die hand van satan laat? Die regverdige oordeel teen Hom is tog die dood!
Kom ons kyk na die eerste vyf artikels van die Dordtse Leerreëls, dan sien ons die genadewerk van God telkens op die voorgrond:
- God is nie onder die verpligting om die mens te verlos nie, wat alle mense het hulleself in Adam van God af los geskeur en aan satan se kant gaan staan (DLR 1:1).
- Omdat dit nie God se wil was om die hele mensdom in die sonde en vervloeking te laat bly nie, het God uit liefde en genade Sy enigste Seun as Verlosser gestuur na die wêreld vol verlore mense (DLR 1:2).
- Uit genade stuur God ook verkondigers met die evangelie na wie en wanneer Hy wil, want Hy is aan geen mens iets verskuldig nie behalwe die regverdige oordeel (SLR1:3).
- Die mens aan wie God die geloof gee, neem Jesus as hulle verlosser aan op grond van die verkondiging (DLR 1:4).
- Daar is egter ook mense wat hierdie evangelie verwerp en nie glo nie omdat hulle sondig en ongelowig is (DLR 1:5).
In Artikel 6 sê ons waarom sommige mense tot geloof kom en hoekom ander in hulle ongeloof bly voortlewe. Al die genadewerke van God wat ons in die eerste vyf artikels bely, is gegrond op die ewige besluit.
Dat Christus deur die hande van goddelose mense gekruisig is, was God se ewige raadsbesluit. Die goddelose mense en nie Israeliete was instrumente in God se hand om sy raadsbesluit uit te voer. Wanneer Petrus op Pinksterdag preek, sê hy onder andere aangaande Jesus se kruisiging:
“Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus die Nasaréner, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet – Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;” (Hand 2:22-23 AFR53)
As God beskik wat op die slawemark en in wêreld politiek gebeur, as Hy die verwerping en kruisiging van Jesus bepaal het – en dit is alles dinge waarin mens gemeen het dat hulle ‘n sê het – kan Hy ook bepaal wie verlos sal word. Omdat God soewerein is, beteken dit dat Hy bepaal wie verlos sal word. Indien die mens van die standpunt wil uitgaan dat sy verlossing van homself afhanklik is, ondermyn hy God se soewereiniteit. So ‘n mens kan dan nie God se voorsiening of soewereiniteit bely nie.
Luister net weer wat bely ons aangaande God se voorsienigheid: Die voorsienigheid van God is: “Die almagtige en alomteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom. …. aangesien alle skepsels só in Sy hand is dat hulle hulle sonder Sy wil nie kan roer of beweeg nie.” (Heidelbergse Kategismus; Sondag 10; antw. 27 en 28).
Die gevolgtrekking: As God dan in die groot en klein van die lewe regeer, volg dit dat Hy ook besluit wat in die sake van geloof en verlossing gebeur. Indien ‘n mens egter die belydenis in Artikel 6 van die Dordtse Leerreëls wil betwis, val hy ook die belydenis in Sondag 10 van ons Heidelbergse Kategismus aan.
Dit is in Efesiërs 1 waar die Heilige Gees ons uitdruklik leer dat die verlossing van die mens gegrond is in die soewereine besluit van God wat Hy in die ewigheid geneem het. Paulus begin die brief met lof aan God omdat Hy ons – dit is die ware gelowiges – met alle geestelike seëninge in die hemel in Christus geseën het.
Die eerste seëning wat genoem is, is die feit dat Hy die gelowiges in Christus uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld. God het in die ewigheid beplan om die gelowiges vir Homself as Sy kinders aan te neem deur Jesus Christus ooreenkomstig die welbehae van Sy wil. Hierdie eerste verse beklemtoon dat God se soewereine besluit die rede is vir die verlossing van mense.
Dan gaan Paulus voort om die verlossingswerk van Christus wat Hy deur Sy bloed gedoen het te verkondig. Maar in vers 9 keer hy weer terug na God se ewige voorneme. En asof dit nie genoeg is nie, kom hy in vers 11-12 weer daarop terug:
“…. in Hom in wie ons ook ’n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil, sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het, ….” (Efes. 1:11-12 AFR53).
Paulus begin keer op keer met “In Hom” of “In Christus”. Die rede waarom God ‘n sekere aantal mense verlos, trek in Christus saam. Christus se verlossingswerk aan die kruis is die enigste rede waarom God mense met geestelike seëninge wil en sal seën. Sonder Christus is ons niks en is daar geen rede waarom God ons in guns sal aanskou nie.
Wie werklik al tot die besef gekom het van die genade om verlos te wees, sal nie anders kan as om die heerlikheid van Christus raak te sien nie.
Maar wat is die oorsaak van hierdie onuitspreeklike genade wat God aan mense bewys? Die antwoord hoor ons in die res van vers 11: “…. nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van Sy wil” (Efes. 1:11 AFR53). God se ewige besluit en voorneme is die oorsaak. Omdat dit nie Sy wil was om die hele mensdom in die vervloeking van die sonde te laat bly nie, maar het Hy Hom voorgeneem om ‘n sekere aantal te red.
Die mens in wie die Heilige Gees saam met Sy Gees getuig dat Hy ‘n kind van God is, kan verseker weet dat hy ‘n kind van God is, omdat God reeds in die ewigheid ‘n besluit oor hom geneem het. Hy het nie sommer maar net ‘n gelowige op sy eie geword nie. God het in die ewigheid besluit om hom – ‘n gevalle Adamskind – ‘n gelowige te maak.
Daarom het God se Seun na die wêreld gestuur om vir daardie mens se sondes te sterf. Daarom het God aan daardie mens dan ook Sy Heilige Gees gegee as belofte van die erfdeel wat God aan hom toegesê het.
Dus God het al voor die Skepping besluit watter verlore sondaars Hy na Sy kant toe gaan terugneem. Nog voor die Skepping het Hy al Sy oog op hulle gehad en bepaal dat hulle verlos sal word. Artikel 6 eggo dus die waarde van Efes 1:11 wanneer ons bely: “Dat God sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit Sy ewige besluit”.
God alleen besluit wie verlos sal word en Hy laat hierdie besluit van Hom in die tyd tot uitvoering kom. Op grond van Sy besluit maak Hy sommige mense se harte ontvanklik en ander los Hy in hulle verhardheid. In die woorde van Artikel klink dit so: “Volgens hierdie besluit maak God, genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – ver verhard hulle ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie verkies is nie, laat Hy volgens Sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly.”
Hoofstuk 1, Artikel 7
1:7 Hierdie uitverkiesing is ʼn onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping ʼn sekere aantal mense uit die hele mensdom uitverkies. Hierdie mensdom het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval. Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies. God het Christus ook van ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te gee, hulle te regverdig en te heilig en om hulle, wat kragtig in die gemeenskap van sy Seun bewaar is, uiteindelik as bewys van sy barmhartigheid en tot lof van sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik. Soos geskrywe is: In Christus het God ons uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde (Efes 1:4-6); en elders: Dié wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en dié wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en dié wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik (Rom 8:30).
Tema: Deur God uitverkies en voorbeskik as kinders
Hierdie uitverkiesing is ‘n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die Skepping ‘n aantal mense uit die hele mensdom uitverkies. Hierdie mensdom het deur hulle eie skuld van hulle oorspronklike ongeskondenheid in sonde en verderf verval.
Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as ander nie, maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van Sy wil en uit loutere genade, tot die saligheid in Christus uitverkies.
God het Christus ook van ewigheid af tot middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak. Deur Sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadig tot gemeenskap met Hom. Hy het dus besluit om aan die uitverkorenes die ware geloof in Christus te gee, hulle te regverdig en te heilig om hulle, wat kragtig in die gemeenskap van Sy Seun bewaar is, uiteindelik as bewys van Sy barmhartigheid en tot lof van Sy oorvloedige en heerlike genade te verheerlik.
Soos geskrywe is: “…. in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.” (Efes. 1:3b-6 AFR53) en elders: “…. en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Rom. 8 :30 AFR53)
Efes. 1:6 (AFR83): “Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.”
Deur God uitverkies en voorbeskik om as kinders aangeneem te word.
Die uitkiesing is in die eerste plek moeilik uit ‘n menslike oogpunt. Hoekom is slegs sommiges van ons uitverkies? Ons moet onthou, en die artikel noem dit, dat alle mense in sonde verval het en in ellende is. God het uit die hele mensdom, wat oppad is na die dood, uit loutere genade, en volgens Sy wil en bestuur, sommige mense uitverkies, in Sy Seun, Jesus Christus, om te lewe.
Ons enigste reaksie moet dus een wees van loutere dankbaarheid en blydskap in God ons Vader. En ons moet in elke dag lewe om hierdie dankbaarheid te toon. God het nie hierdie mense uitverkies omdat hulle beter is, of later beter sou word, as die ander nie. Hulle is saam in die gemeenskaplike ellende. God het hulle uitverkies volgens sy wil.
Die artikel open met die tydstip wanneer God hierdie sekere aantal mense uitverkies het. Dit het gebeur “voor die grondlegging van die wêreld”. Dit wil sê, nog voordat God die skepping tot stand gebring het en nog voordat enige mense bestaan het, het God al ’n sekere aantal mense uitverkies. God het dus glad nie na die mens gekyk om te sien wat hulle gedoen het of gaan doen voor hy hulle uitverkies het nie. Dit is absoluut ’n genadedaad van God voordat die mensdom bestaan het.
God het ook al voor die grondlegging van die wêreld geweet die mensdom gaan in sonde verval en Hy het toe reeds Sy Seun, Christus, as Middelaar en Hoof van die uitverkorenes gestel. Hy het toe reeds beplan om Sy Seun as offer te gee vir ons sondes. Hoor wat skryf Petrus: “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle aangeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus , die Lam wat vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek is. Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. (1Petrus 1:18-20)
Met die sondeval het die mens sy reg op die Here omgedraai. As dit die Here se wil was om die hele mensdom in die vervloeking van die sonde te laat bly en hulle uiteindelik te veroordeel, sou Hy regverdig gewees het, maar dit was nie Sy wil nie. Sy ewige wil en voorneme was om ’n sekere aantal mense uit te verkies en hulle te red in Christus.
In Sy liefde vir die wêreld wat Hy geskep het, het die Vader dit voorbeskik om die gevalle mense wat Hy in Christus uitverkies het, deur Christus, tot Sy kinders aan te neem. Deur ons aan te neem as kinders, maak God ons nuwe mense – al ons skulde en oortredinge van voorheen word uitgewis, asof dit nooit bestaan het nie. Deur ons aan te neem, neem hy ons ook aan om saam te wees met Sy Eniggebore Seun, Jesus. Maar ons kry ook ’n nuwe verantwoordelikheid – om heilig en onberispelik voor God te lewe. Hierdie heiligheid beteken nie volmaak nie, maar ons moet ons onderwerp aan die heerskappy van die Heilige Gees wat ons heilig maak.
Deur die Woord regeer God sy uitverkorenes so dat hulle lewe hoe langer hoe meer in ooreenstemming kan kom met Sy wil. Die beeld van Christus word ook al helderder in hulle woorde en werke. God het hierdie mense nie uitverkies omdat hulle heilig en sonder gebrek voor Hom was nie, maar sodat hulle heilig en sonder gebrek voor Hom kan lewe, met die Heilige Gees wat elke uitverkorene langs die weg van daaglikse bekering lei om heilig en sonder gebrek voor God te lewe.
Sy ewige besluit was om aan die uitverkorenes die geloof in Christus te gee wanneer hulle tot gemeenskap met Hom gesoek en geroep word. Deur die geloof in Christus word die uitverkorenes geregverdig, en deur die Heilige Gees word hulle deur en in die geloof geheilig. Uiteindelik is God se doel met die uitverkorenes om hulle te verheerlik.
Die verheerliking van die uitverkorenes is die bewys van God se barmhartigheid. God se uiteindelike doel met die uitverkorenes is sodat al die uitverkorenes in die hele skepping Hom uiteindelik sal loof en prys omdat Hy so groot is genade liefde.
Hoofstuk 1, Artikel 8
1:8 Hierdie uitverkiesing is nie veelsoortig nie, maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou sowel as in die Nuwe Testament. Die Skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot die genade, sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid, sowel as tot die weg van die saligheid wat Hy voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (Efes 1:4-5; 2:10).
Tema: Net een Uitverkiesing
Hierdie uitverkiesing is nie veelsoortig nie, maar een en dieselfde vir almal wat salig word, in die Ou sowel as in die Nuwe Testament. Die skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot die genade sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid, sowel as tot die weg van die saligheid wat hy voorberei het, sodat ons daarin kan wandel (Efes 1:4-5; 2:10).
Daar is net één uitverkiesing ooreenkomstig God se ewige besluit.
So wat, het ons tot dusver geleer:
- Dat die uitverkiesing ’n ewige besluit is wat God reeds in die ewigheid geneem het.
- Voor die grondlegging van die wêreld het God ’n sekere aantal mense uit die ganse mensdom in Christus uitverkies.
- Van ewigheid af het God ook vir Christus tot Middelaar en Hoof van die uitverkorenes en tot fondament van die saligheid gestel.
- So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig (heilig) te maak.
Deur Homself so aan die Vader se wil te onderwerp, het Christus die uitverkorenes wat die Vader aan Hom gegee het, verlos. God stuur dan ook verkondigers van hierdié Evangelie om die uitverkorenes tot bekering en tot geloof in Christus te roep. Aan die uitverkorenes gee die Heilige Gees dan die geloof sodat hulle op die roepstem van God kan reageer. Hierdie uitverkorenes glo dan in Jesus Christus as hulle enigste Verlosser en Saligmaker.
Nou, in artikel 8, leer ons spesifiek dat die uitverkiesing nie veelsoortig is nie, maar een en dieselfde vir almal wat salig word. Hierdie artikel is spesiaal saamgestel deur die Sinode in Nederland in reaksie op ’n dwaalleer deur die Remonstrante wat spesifiek gedwaal het oor ‘n veelsoortige uitverkiesing.
Die dwaling wat hulle leer: Die uitverkiesing van God tot die ewige lewe is veelsoortig – dié een is algemeen en onbepaal, die ander is besonder en bepaal. Verder: Daar is een uitverkiesing tot die geloof en ‘n ander tot die saligheid, dit wil sê daar kan ‘n uitverkiesing tot die regverdigmakende geloof wees sonder dat daar ‘n beslissende uitverkiesing tot saligheid hoef te wees.
Dit is nou ‘n klomp woorde van onsin wat daarop uitkom dat jy kan uitverkies wees, maar dit beteken nie dat jy noodwendig die ewige lewe gaan beërwe nie. Die Sinode se reaksie: Dit is ‘n versinsel van die menslike verstand wat buite die Skrif om uitgedink is.
Dit vernietig die leer van die uitverkiesing en verbreek hierdie goue ketting van ons saligheid: “Dié wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy geroep; en dié wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en dié wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Rom 8:30)
Teen hierdie dwaalleer bely ons: Die Skrif verkondig immers aan ons net een welbehae, voorneme en raad van die wil van God. Hiervolgens het Hy ons van ewigheid af uitverkies tot die genade, sowel as tot die heerlikheid, tot die saligheid, sowel as tot die weg van die saligheid wat Hy voorberei het sodat ons daarin kan wandel (Efes 1:4-5; 2:10).
Volgens sy ewige besluit het God sy uitverkorenes uitverkies tot die genade, tot die heerlikheid, tot saligheid sowel as tot die weg van die saligheid. Dit wil sê van die ewige besluit af om uit te verkies tot by die laaste oomblik wanneer die uitverkorenes verheerlik word, en alles tussen-in, is God ten volle in beheer. Kom ons luister hierdie Heilige Gees juis hierdie troos aan ons verkondig: Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en dié wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en dié wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en dié wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Rom 8:29-30)
Dié wat Hy groep het, dié het Hy ook geregverdig. God verklaar ‘n mens alleen regverdig deur die geloof in Christus. Iemand wat deur God regverdig verklaar is, is dus vrygespreek. Dit beteken nie dat hulle nooit sondaars was nie, maar Christus het in hulle plek skuld van hulle sondes aan die kruis betaal. Dit is nie gelowiges se geloof wat die regverdiging by God verdien nie, geloof is die kanaal waardeur God die regverdiging aan die gelowige gee.
Die wat Hy regverdig het, dié het Hy ook verheerlik (Rom 8:30) en verheerliking is die finale stap van die heiligmaking. Hierdie verheerliking vind eers plaas as die Seun van God op die wolke terugkeer. Dan sal die uitverkorenes heilig wees.
Hoofstuk 1, Artikel 9
1:9 Hierdie uitverkiesing het nie op grond van ʼn vooruit gesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of ooreenkoms tot stand gekom asof dit as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis is nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ens. Daarom is die uitverkiesing die bron van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan vloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees (Efes 1:4), en nie omdat ons alreeds so was nie.
Tema: Uitverkiesing en Geloof
Hierdie uitverkiesing het nie op grond van ‘n vooruit gesiene geloof, gehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of ooreenkoms tot stand gekom asof dit as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis nie. Dié uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en gehoorsaamheid, heiligheid, ens. Daarom is die uitverkiesing die bron van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan vloei. Die apostels getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees (Efes 1:4), en nie omdat ons alreeds so was nie.
Ons lewe in Christus, glo, en dien God juis omdat Hy ons uitverkies het, en nie omdat ons Hom probeer oortuig om ons uit te verkies nie. God het nie vir persoon A bo persoon B uitverkies omdat persoon A ‘n sterker geloof en ‘n ‘beter’ en meer toegewyde lewe het nie. Persoon A het juis ‘n sterk geloof omdat hy reeds uitverkies is. God het nie in die toekoms gekyk en dié persone met meer geloof , heiliger en ‘n Godvresende lewe uitverkies nie. Hy het ‘n aantal mense uit die hele mensdom uitverkies en aan hulle al hierdie dinge gegee, uit genade en liefde, om Hom te verheerlik.
Kom ons probeer dit duideliker maak: God het in die ewigheid ‘n besluit geneem om persoon A lief te hê en om hom gelykvormig te maak aan die beeld van sy Seun. Daarna roep God vir persoon A deur middel van die evangelie tot gemeenskap met Christus. Deur die kragtige werking van die Heilige Gees kom daar nuwe lewe in persoon A. Hy reageer op die roepstem van God en stel sy vertroue ten volle in Jesus Christus. Verder verklaar God persoon A ook regverdig op grond van Christus se verlossingswerk vir hom. En langs die weg van heiligmaking wat bestaan uit die daaglikse bekering begelei die Heilige Gees vir persoon A tot by die punt waar God hom verheerlik, sodat God Homself kan verheerlik.
Hier sê die Here dit duidelik: “En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (Hand 13: 48 AFR53) Die heidene, mense wat aanvanklik nie in God geglo het nie, het die woord gehoor en geprys. Hulle is bekeer en het geloof ontvang van die Heilige Gees. En dit omdat hulle almal reeds uitverkies is deur God, lank tevore. Nou kan hulle God verheerlik soos dit moet wees.
Daar is geen rede waarom God enige mens móét uitverkies nie. Alle mense is sondaars in wie daar niks goeds is nie, nie eers die begeerte om te wil glo nie. Geloof is egter ‘n groot genade gawe wat God deur sy Heilige Gees aan diegene skenk wat Hy uitverkies het. Daarom is die uitverkiesing nie die gevolg van die mens se geloof nie, maar wel die oorsaak en bron van die mens se geloof omdat God ‘n ewige en onveranderlike gesluit geneem het om ‘n sekere aantal mense uit te kies, maak Hy hierdie uitverkorenes se harte ontvanklik.
En nou: Wie ontvang die eer dat ‘n mens salig word? Die waarheid is dat God alles doen!
“Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Rom 11: 36 AFR53)
Geloof is die geskenk as gevolg van God se uitverkiesing sodat die uitverkorene kan aanvaar dat Christus uit genade alles vir hom gedoen het.
Prys die Here Jesus Christus!
Hoofstuk 1, Artikel 10
1:10 Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God. Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as ʼn voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie. Dit bestaan wel hierin dat Hy sekere, bepaalde mense uit die hele menigte sondaars as sy eiendom aangeneem het. Soos geskrywe is: Toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie … is vir haar (nl. Rebekka) gesê … Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat (Rom 9:11-13); en: Daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe (Hand 13:48).
Waarom word sekere mense uitverkies deur God?
Ons het nou al breedvoerig geleer wat die uitverkiesing van God is, en wat die uitverkiesing van God nié is nie. Ons weet God het nie mense uitverkies omdat Hy vooruit gesien het dat hulle sal glo nie. Die verhouding tussen geloof en uitverkiesing werk juis andersom. Omdat God ‘n sekere aantal mense uitverkies het, wek die Heilige Gees die lewendmakende geloof in hulle harte op wanneer hulle die evangelie van Jesus Christus hoor.
Aangesien geloof of geloofsgehoorsaamheid dan nie die oorsaak van uitverkiesing is nie, wat is die rede waarom God mense uitverkies. “Die oorsaak van hierdie genadige uitverkiesing is inderdaad slegs die welbehae van God”. Nou wat presies is die welbehae van God. Om dit te verstaan het jy nie ‘n woordeboek nodig nie, jy moet terugkeer na die Skrif, want hierin openbaar die Here Homself aan ons.
Die woord leer ons dat God wil verheerlik word. Deur die mens. Die Engele en die ganse skepping bring lof en eer onophoudelik aan God toe. Die mens is dan ook vir die doel geskape. Voor die sondeval het Adam en Eva deur al hulle doen en late aan God al die eer en heerlikheid toegebring. Ons as mens is dus nie vir onsself geskape nie, maar vir God. As ons egter nou na ons lewens kyk dan sien ons hoe ver het ons verval – weg van die Here af. Van nature lewe ons nou net vir onsself. Al waaroor die lewe gaan is genot, plesier, rykdom en dan natuurlik geluk, ons geluk, al is dit ten koste van alles en almal.
Ons vergeet so gou van God. Sy liefde, Sy genade. Ons moet lewe vir Hom, nie vir onsself nie. Dit is waarom ons hier op aarde is: om God te loof en te verheerlik. ‘n Wyse man het eenkeer gesê: “Daar is twee baie belangrike dae in jou lewe. Die dag wat jy gebore word, en die dag wat jy besef hoekom.” In Psalm 50: 14 (AFR53) sê God: “Lof is die offer wat jy aan God moet bring.” Dit is wat Hy wil hê. Dit is waarom God sekere mense uitverkies het want die mense wat Hy uitverkies het sal deur die Heilige Gees gevul word met geloof as hulle die evangelie hoor en dan, uit geloof en liefde sal hulle Gód verheerlik. En dit is wat Hy wil hê: dat die mens wat Hy so lief het, Hom ook liefhet en verheerlik, Hom en sy Seun. Dit is die welbehae van God, die rede waarom Hy mense uitverkies.
En onthou: dit is net hier op aarde. Eendag gaan God sy Seun op die wolke stuur om sy uitverkorenes te kom haal. Dan gaan ons na die nuwe Jerusalem, die nuwe aarde, God se ewige heerlikheid waar ons saam met God gaan wees, in sy heilige teenwoordigheid. Waar ons Hom vir ewig, elke dag, heeldag gaan loof en prys!
Nou weet ons waarom God mense uitverkies: dit is vir die welbehae van God. Maar ons moet mooi lees, dit is “… inderdaad slegs die welbehae van God”. Geen hoedanigheid of daad van die mens kan as voorwaarde aangevoer word waarom God mense uitverkies het nie. Daarom bely ons ” Dit bestaan nie daarin dat Hy uit alle moontlikhede sekere menslike hoedanighede of dade as ʼn voorwaarde vir die saligheid uitgekies het nie.” Dit wil sê, nie ‘n mens se geloof, geloofsgehoorsaamheid, sondebesef of enige goeie dade is die rede waarom God iemand uitverkies nie. Die mens het totaal en al geen aandeel in sy uitverkiesing nie. Die welbehae van God “bestaan wel hierin dat Hy sekere, bepaalde mense uit die hele menigte sondaars as sy eiendom aangeneem het.” Soos geskrywe is: “toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie … is vir haar (nl Rebekka) gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.” (Rom 9: 11-13 AFR53) ; en “en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (Hand 13: 48 AFR53)!
Ter wille van Homself kies God mense uit omdat Hy Homself in en deur hulle gaan verheerlik, want Hy alleen is God. God kies mense uit nie oor wie hulle is of wat hulle doen nie. Hy kies hulle uit ten spyte van wie hulle is en ondanks wat hulle sal doen. Jakob en Esau was ‘n tweeling. Niks binne-in Jakob of wat hy gedoen het, het die Here oortuig om hom te kies nie, tog het God vir Jakob uitverkies, en vir Esau verwerp, nog voor hulle geboorte. En nog voor Jakob en Esau se geboorte sê die Here vir Rebekka dat die oudste die jongste sal dien, met ander woorde, dat Hy die jongste gekies het. Kyk ‘n mens na Jakob na sy geboorte, kan ‘n mens nie regtig ‘n verskil opmerk tussen hom en Esau wat betref goeie hoedanighede nie. Mens kan nie dadelik sien hoekom die Here Jakob uitverkies en liefgehad en vir Esau verwerp het en gehaat het nie. Mens moet eintlik die hele geskiedenis van God met Jakob deurlees om te sien hoe die Here tog sy voorneme om Homself deur Jakob te verheerlik verwesenlik het. Dit het ‘n lang tyd geneem, maar uiteindelik het Jakob hom ten volle aan die Here onderwerp met ‘n saligmakende geloof.
God se voorneme om ‘n sekere aantal mense uit die hele menigte sondaars uit te verkies en as Sy kinders aan te neem, berus op Sy welbehae. Hy wil mense hê wat Hom ken, wat Hom liefhet, wat Hom dien en wat Hom verheerlik. En daarom kan geen mens op die ewige lewe aanspraak maak nie.
Hoofstuk 1, Artikel 11
1:11 God self is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig, en daarom kan sy daad van uitverkiesing nie onderbreek, verander, herroep of afgebreek word nie. Die uitverkorenes kan ook nie verwerp of hulle getal verminder word nie.
Tema: Uitverkiesing is Onveranderlik
Die Here is onveranderlik. As Hy jou eenmaal lief gehad het, sal Hy jou nooit verlaat nie. Kom ons kyk maar na Dawid. Die Here het hom baie lief gehad en hy het baie gesondig. Dink maar aan Batseba; nie net het hy owerspel gepleeg nie, hy het ook moord gepleeg. Hy het Batseba se man laat vermoor om haar as sy vrou te neem. Ja, dit het die Here kwaad gemaak en Hy het vir Dawid gestraf, maar dit het niks gemaak aan Sy liefde vir Dawid nie. Hy het steeds baie lief gebly vir Dawid en hom vir geen oomblik verlaat nie. Hy het nog ‘n baie lang en voorspoedige lewe en koningskap gehad. Die Here het hom gehelp om sy sondes raak te sien, hom te verootmoedig, berou te betoon en vergifnis te vra. En die Here het hom vergewe!
Net so is dit met ons. As kinders van God, is en bly God altyd by ons. Hy is baie lief vir ons. As gelowiges voel ons Sy nabyheid en ons is ook lief vir Hom en naby Hom. Maar, nou kom ons in beproewing en swaarkry en die 1ste ding wat ons doen is ons vra is: Maar waar is die Here nou? Ons as Christene is nie veronderstel om só swaar te kry nie. Het die Here dan van ons vergeet, of nog erger, Sy rug op ons gedraai? Is ons nou alleen?
Nee, die Here sal nooit van jou vergeet of Sy rug op jou draai nie. Hy is daar en al sien jy dit nie nou nie, Hy is besig om jou te help en krag te gee in jou swaarkry. Maar ons is so blind gestaar teen ons eie ellende dat ons nie verby dit kyk en die Here se hand daarin sien nie. En as die swaarkry verby is, is ons baie gou om te sê: die Here is terug. So asof hy ooit weg was. Dan is ons skielik weer baie gelowig en liefdevol teenoor die Here. Ons het geen skaamte of berou dat ons Hom ooit gewantrou het en self beskuldig het dat Hy ons verraai en verstoot het nie.
As ons mooi kyk dan sal ons sien dat ons eintlik nou beter af is na die swaarkry as wat ons was voor die tyd. Die Here help ons nie net deur die swaarkry nie, Hy gebruik dit om ons geloof sterker te laat groei en om ons lewens te verbeter.
Net so is dit met die uitverkiesing. As God jou uitverkies het, staan sy verkiesing vas. God sal nooit van plan verander nie en jou verstoot nie. Daar is absoluut niks wat kan gebeur om jou uitverkiesing van jou te ontneem nie. As jy uitverkies is, sal jy na jou lewe eindig saam met God in Sy ewige Koninkryk wees.
Luister na Jesus: “Al wat die Vader My gee sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie. Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarom nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag. En dit is die wil van Hom wat my gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Joh 6:37-40)
“God is alwys, onveranderlik, alwetend en almagtig”, daarom is Sy uitverkorenes vir ewig uitverkies.
Hoofstuk 1, Artikel 12
1:12 Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur in verskillende trappe en nie vir almal in gelyke mate nie. Hulle ontvang hierdie versekering nie deur nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God te probeer deursoek nie, maar wel deur in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waar te neem. Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid, ens. (2 Kor 13:5).
Tema: Uitverkorenes verseker wees van Uitverkiesing
Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onverganklike uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur in verskillende trappe en nie vir almal in gelyke mate nie. Hulle ontvang hierdie versekering nie deur nuuskierig die verborgenhede en dieptes van God te probeer deursoek nie, maar wel deur in hulleself die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waar te neem. Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid. (2 Kor 13:5)
Aan alle mense wat na my toe kom en kom vra: “Hoe sal ek weet of ek uitverkies is?”, gee Ek eenvoudige antwoord: “Jy sal net weet”. Dit is hoe eenvoudig en gekompliseerd dit is. Hoe en wanneer hand van God af. Aan verskillende mense gee Hy dit op verskillende tye en in verskillende trappe. Tog gee Hy aan ons almal ‘n gelyke aanvanklike “wete”: Joh 3:36: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom.
God sê aan ons deur Sy Woord dat Sy Seun gesterf het vir al ons sondes en ons verlos het, en as ons glo in Jesus Christus en Sy verlossing sal ons die ewige lewe hê. Maar ons lewe in ‘n tyd van onsekerheid. Ons wil daai luister stemmetjie van God in ons oor hoor wat sê “Kobus, jy is verseker uitverkies, en jou uitverkiesing staan vir ewig vas”. Tot dit gebeur, voel ons ons kan maar lekker lewe en doen wat ons wil, want God het ons nog nie persoonlik uitverkies nie. Hier sê dit baie duidelik: Ons moet glo en ons moet gehoorsaam wees (Joh 3:36).
Ons moet gehoorsaam wees in alles wat Jesus vir ons gesê het om te doen toe hy hier op aarde was. Hy was vir ons ‘n voorbeeld wat ons streng moet probeer om na te streef. Ons moet alles doen wat Hy gesê het ons moet doen – ons moet doen soos Hy gedoen het. Hy was te volle gehoorsaam aan Sy Vader. Hy was ten volle lief vir Sy Vader. So ook moet ons lief wees vir ons Vader. Hy was ten volle lief alle mense. So ook moet ons lief wees vir alle mense.
Maar ons moet ook glo in die Seun. Ons lewens moet getuig van geloof in Jesus Christus en ons moet die vrug dra van die Gees. Aangesien Jesus Christus alles geskenk het sodat gelowiges die ewige lewe kan hê en deur die krag van die Gees nou al as kinders van God kan lewe en met Sy wederkoms gelykvormig kan wees aan Sy beeld. Dit is ons verantwoordelikheid om ons geloof, die deug, die kennis, die selfbeheersing, die broederliefde en die liefde vir alle mense te hê. Dit is die vrug van die Gees. Geloof is die geskenk wat die Heilige Gees aan elke ware gelowige gee. Deur die geloof moet ‘n mens glo dat alles wat in die Bybel verkondig word die waarheid is en vertrou dat die verlossing wat Christus aan die kruis bewerk het, Hy ook vir jou gedoen het.
Deur ‘n mens se verantwoordelikheid rondom jou geloof na te kom, werk die Heilige Gees in die uitverkorene die sekerheid oor sy verkiesing in so ‘n mate as wat God in daardie stadium sekerheid wil gee.
Die sekerheid oor jou en my uitverkiesing kom nie deur ‘n stem uit die hemel of ‘n helder lig wat op ons afstraal nie. Op die manier wat die Here self gekies het – “ware geloof in Christus, die kinderlike vrees vir God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid” – bewerk die Heilige Gees sekerheid in elke uitverkorene se hart oor sy uitverkiesing.
Hoofstuk 1, Artikel 13
1:13 Die kinders van God put uit hulle besef en sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor God te vér ootmoedig, om die diepte van sy barmhartig-hede te eerbiedig, om hulleself te reinig en om Hom wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan ook geheel en al onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sou laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur ʼn sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te wandel.
Tema: Uitverkorenes word gelei deur Heilige Gees (preek deur ds Coenraad Vrey)
Die sekerheid oor ‘n mens se uitverkiesing spoor ‘n mens aan om jou verhouding met die Here verder te neem. ’n Mens wil hierdie verhouding uitleef en ander moet kan sien dat jy in ‘n verhouding met die Here lewe.
Die Remonstrante het geglo dat ‘n mens nie seker kan wees van jou uitverkiesing nie. Hulle het ook geglo dat as ‘n mens seker kan wees van jou uitverkiesing, dit jou sorgeloos sal maak en dit sal lei tot ‘n ongehoorsame lewe. Mense lewe soos hulle wil en hulle steur hulle nie aan die Woord van die Here nie. Hulle is mos nou reeds uitverkies, en dit kan nie verander nie.
Die Rooms Katolieke kerk voer dieselfde argument. Maar die antwoord is: Nee, want dit is onmoontlik dat ‘n mens wat deur ‘n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie.
Is die uitverkorenes dan volmaak? Nee, niemand kan sê dat hulle geen sondes het of gedoen het nie. ‘n Gelowige kind van God is in hierdie lewe nog nie volmaak of sondeloos nie, want hy het nog ‘n sondige natuur waar teen hy stry.
Sou dit gebeur dat ‘n gelowige in ‘n een of ander sonde val, is daar ‘n pad om weer daaruit te kom. Die Heilige Gees lei ‘n mens langs die weg van berou, belydenis en bekering terug na die Here. En dan in die Naam van Christus smeek jy dan by die Vader om vergifnis. Wat ‘n heerlike troos het die gelowige dat God sy gebed om vergifnis sal verhoor – op grond van Sy volmaakte offer aan die kruis pleit Jesus by die Vader vir die gelowige. Die Vader verhoor elke gebed van Sy Seun terwille van die gelowiges.
Wie Jesus ken drink die Woorde van Jesus in en dit word die dryfveer van sy lewe. Hy gehoorsaam die Here se Woord. Dit is immers wat Jesus hier op aarde gedoen het. Hy het nie Sy eie wil dom doen nie, maar die wil van Sy Vader. Sy Vader se Woorde was die dryfveer vir Sy lewe as Verlosser op aarde.
Omdat Hy Sy Vader ken het Jesus Sy Vader se wil uitgevoer en so in Sy Vader se liefde gebly. Die gelowige wat dan die Here se wil uitvoer, sal op ‘n besondere wyse die Here se liefde vir hom beleef, want dit is in gehoorsaamheid aan die Here dat ‘n mens in die liefde van die Here bly. Die Here skenk Sy seën van genade en van die werking van die Gees aan hulle wat Hom gehoorsaam. So betoon die Here Sy liefde aan die uitverkorenes.
“Elkeen wat Sy Woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is” (1 Joh 2:5).
Hierdie liefde wat God in Christus vir sondaars het, is soos ‘n verterende vuur. Koue en dooie sondaars harte word daardeur aan die brand gesteek sodat die vurige liefde vir God daarin ontvlam. As die sondaar deur die werking van die Gees Christus se groot liefde vir hom raaksien word Sy hart met liefde vervul. God se liefde vir mense wat aanvanklik Sy vyande was ontsteek in vurige liefde vir God wat nie geblus kan word nie.
Hoe kom ‘n mens agter dat die liefde van God in ‘n gelowige volmaak geword het: “Hy wat sê dat hy in Hom bly behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh 2:6).
Die Heilige Gees leer deur die Woord, die maniere van Jesus Christus vir die gelowige aan. Deur voortdurende ootmoed voor die Here en verdieping in die Woord van die Hete, maak die Heilige Gees ‘n gelowige gelykvormig aan die beeld van Christus. Onder die heerskappy van die Gees wil die gelowige nie anders nie as om Jesus se optrede na te doen nie. Jesus het immers Sy Vader volmaak verheerlik deur Sy Vader se wil vir Hom volmaak uit te voer.
As verloste kind van die Here wil die gelowige Sy Vader in die hemel en Christus sy Verlosser met sy hele lewe verheerlik. Soos wat Christus lief het, so wil hy ook liefhê. Soos wat Christus barmhartig is, wil hy ook barmhartig wees. Die gelowige wat oortuig is van sy uitverkiesing wil nie anders lyk of doen as sy Verlosser en Here nie. Want juis deur sy nadoen van sy Verlosser verheerlik hy Hom en sy Vader.
Hoofstuk 1, Artikel 14
1:14 Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete, deur Christus self en deur die apostels in sowel die Ou as die Nuwe Testament verkondig. Daarna is dit in die heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar. Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God – waarvoor dit in die besonder bestem is – uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder ʼn nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die heilige Naam van God en tot ʼn lewende troos vir sy volk (Hand 20:27; Rom 12:3; 11:33-34; Heb 6:17-18).
Tema: Verkondiging van die leer
Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing is verder, volgens die wyse besluit van God, deur die profete, deur Christus self en deur die Apostels in sowel die Ou as die nuwe Testament verkondig. Daarna is dit in die Heilige Skrifte bekend gemaak en bewaar.
Daarom moet dit vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God – waarvoor dit in die besonder bestem is – uiteengesit word. Hierdie leer moet egter oordeelkundig met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder ‘n nuuskierige ondersoek, na die weë van die Allerhoogste, verkondig word. Dit alles moet gebeur tot eer van die Heilige Naam van God en tot lewende troos vir sy volk. (Hand 20:27; Rom 12:3; 11:33-34; Hebr 6:17-18).
Ongelukkig het lidmate in vandag se tyd so ontaard dat hulle net dele uit die Bybel wil lees en hoor wat “goeie nuus” is en wat maklik is om te verstaan. Hulle wil nie hoor van hulle sonde en hulle straf nie. Hulle dink nog steeds hulle moet hard werk om uitverkies te word en daarom wil hulle niks anders wil hoor nie.
Ongelukkig het sekere Predikers ook so aangepas by hulle gemeentes dat hulle net preek wat die gemeente graag wil hoor. Hulle raak dus nie die dieper, moeilik verstaanbare gedeeltes van die Skrif aan nie. Dan sal hul in onguns verval.
Was hulle maar soos Paulus. In Korinte het hy te doen gehad met ‘n gemeente waarin daar baie onrus en verdeeldheid was. Tog, in die gevaar om in onguns te verval, maak hy dit van die staanspoor baie duidelik dat hy hom voorneem om net te preek oor Jesus Christus, en “Hom as gekruisigde” (1 Kor 2:2).
Dit gaan nie oor die verskillende predikers wat die gemeente so graag aanhang nie, dit gaan oor Jesus Christus. Dit gaan nie oor Hom as een of ander leier nie, dit gaan oor Hom as die gekruisigde. Jesus Christus is die kern van die Evangelie en sy sterwe aan die kruis is die enigste betaling wat God aanvaar vir enige mens, want net Jesus Christus kan volmaak die losprys vir ‘n mens se lewe betaal. Daarom kon Paulus niks anders as Jesus Christus as die gekruisigde aan almal verkondig nie.
Dit is immers in die kruis dat die regverdigheid van God, Sy barmhartigheid en krag duidelik ten toon gestel word:
- God se regverdigheid word daarin verkondig, wan Hy sien nie die sonde van die mens oor nie. Hy straf dit regverdig, aan Sy Seun wat die gestalte van ‘n mens aangeneem het om die straf op ons sonde te dra.
- God se barmhartigheid word in die kruis verkondig. Die mens wat sy vertroue in Jesus Christus stel, hoef niks meer te doen as om in Jesus Christus te glo nie. Dit is wat die mens nie kan verstaan nie en nie wil glo nie. Ons hoef niks meer te doen om uitverkies te word nie! Deur die geloof in Christus alleen skenk God aan die gelowige verlossing en vergifnis van sondes.
- Christus is die krag van God. Die gehoorsame voldoening van Christus wat aan die kruis sterf oorwin die ryk van Satan en vernietig die sonde.
Christus is die enigste weg tot die Vader. Dit is die besluit wat God aangaande die uitverkiesing wat Jesus Christus self aan Sy dissipels verkondig het in die nag voordag Hy verraai is. Dit is die leer wat aan die kerk gegee is en wat in die kerk verkondig moet word, want Christus het dit aan die ware gelowiges verkondig. Die Heilige Gees sal met krag die mense oortuig dat dit die ware Evangelie is.
Die genade wat God in Sy uitverkiesing aan ons openbaar, en die verlossing van ‘n sondaar, is die Here se werk alleen – van die besluit in ewigheid af tot by die uiteindelike verheerliking van elke kind van God. Dit is die troos vir die gemeente van die Here Jesus wat hulle tot aanbidding en lof aan God bring.
Hoofstuk 1, Artikel 15
1:15 Verder toon die Heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit betuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige mense nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verbygegaan is. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige, onberispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly. Daarin het hulle hulleself deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakende geloof en die genade van die bekering te gee nie. Om sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie maar ook oor al hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping, wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die sonde maak nie, want dit sou ʼn godslasterlike gedagte wees; inteendeel, dit sê juis dat God ʼn gedugte, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.
Tema: Regverdiging van Uitverkiesing
Verder toon die Heilige Skrif hierdie ewige en onverdiende genade van ons uitverkiesing baie duidelik aan en verkondig dit nadruklik aan ons. Dit getuig bowendien dat nie alle mense uitverkies is nie, maar dat sommige nie uitverkies is nie of in die ewige uitverkiesing van God verby gegaan is nie. God het besluit om hulle, na sy volkome vrye, regverdige en berispelike en onveranderlike welbehae, in die gemeenskaplike ellende te laat bly.
Daarin het hulle hulle self deur hulle eie skuld gestort. God het immers besluit om nie aan hulle die saligmakende geloof en die genade van die bekering te gee nie. Om Sy geregtigheid te openbaar, het God besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder Sy regverdige oordeel te laat bly en om hulle nie alleen oor hulle ongeloof nie, maar ook oor hulle ander sondes te veroordeel en ewig te straf. Dit is die besluit van die verwerping wat God hoegenaamd nie tot bewerker van die maak nie, wat dit sou ‘n godslasterlike gedagte wees; inteendeel, onberispelike en regverdige Regter is wat die sonde straf.
Verklaring- Ds Coen Vrey, Gereformeerde Kerk, Bellville, Kaapstad:
Hoe God regverdig is deur sommige mense uit te verkies en ander mense nie.
Die uitverkiesing, net soos die verlossing deur Jesus Christus, is ‘n werk wat die Here alleen doen. Wanneer die Heilige Gees met die Woord die versekering in ‘n mens laat groei dat jy ook een van die uitverkorenes is, kom daar saam met die rustigheid ook ‘n troos. Dan wil jy die Here loof en dank oor hierdie onbegryplike liefde wat Hy ook aan jou wat dit in elke geval nie verdien nie, geskenk het.
Maar nou kom ons hier by Artikel 15 en leer dat die Here in die Bybel sê dat Hy sommige mense nie uitverkies het nie. Kan dit dan regverdig wees as die Here hulle oorslaan en die Heilige Gees nie aan hulle geloof en bekering gee nie?
Toe die Here die mens geskep het, was die mens in sy wil, verstand en hart volmaak. Die mens is geskep om God te dien maar toe kom die sondeval, en in ‘n oomblik het die mens vir God verlaat en oorgeloop na Satan toe. Dit was nie net Adam en Eva wat oorgeloop het nie, Adam het as hoof van die mensdom oorgeloop. Daarom, elkeen wat van hom afstam – en dit is die hele mensdom – het van die oomblik van die sondeval in vyandskap verkeer met die Here.
Alle mense word dus in sonde ontvang en gebore, in vyandskap met God en in staat tot enige sonde. Daarby bely ons in ons heel eerste artikel dat God nie onregverdig sou wees indien Hy alle mense daar in hulle ellende sou los en uiteindelik sou veroordeel het nie. Hy het hulle nie weggejaag nie. Hy het hulle volmaak geskape sodat hulle by Hom kan bly en lewe. Hulle het self gekies om na die Satan oor te loop.
In die ewigheid – nog voor die skepping van die hemel en die aarde – het God ‘n sekere aantal mense in Christus uitverkies. In die ewigheid het Hy Christus aangestel as Middelaar en Verlosser van hierdie uitverkorenes. Hy het die uitverkorenes aan Christus gegee om te verlos.
In die tyd lyf die Heilige Gees daardie uitverkorenes met die ware geloof in Christus in – ware geloof wat Hy deur die Evangelie in hulle opgewek het. Geeneen van die uitverkorenes verdien om deur Christus verlos te word en deur die Heilige Gees uit die ryk van die duisternis uitgelei te word nie. Inteendeel hulle verdien – net soos die wat nie uitverkies is nie om vir ewig verdoem te word. God doen dit uit Sy oneindige genade.
Kom ons lees in Rom 9:22-23 hoe God homself aan ons openbaar: “En as God, al wil Hy Sy toorn bewys en Sy mag bekend maak tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van Sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid,” God die voorwerpe van toorn met groot lankmoedigheid verdra het.
Die voorwerpe van toorn is die ongelowiges, afvallige sondaars onmiddellik met Sy oordeel te straf, maar tog, in plaas daarvan, verdra hy hulle met groot geduld. Maar die van God se oordeel sal aanbreek en dan sal Hy die ongelowiges moet straf.
“Die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid.” Dit is die uitverkorenes. En, in die ewigheid – dit is voor die skepping al – het God besluit om die mense wat Hy uitverkies het geloof te gee, en die Heilige Gees maak hulle heilig sodat hulle uiteindelik volmaak in die Koninkryk van God kan wees.
God het nie die sondaars wat nie uitverkies is nie sommer net oorgeslaan nie. Hulle het uit vrye wil oorbeweeg na Satan en hulleself afgesny van die Here. Hy laat hulle net in hulle eie weë. Ons wat wel uitverkies is, verdien net so min soos hulle om uitverkies te word. Maar deur God se grote genade red Hy ons van onsself en gee Hy ons geloof en bekering sodat ons Hom kan loof en dien. Kom ons doen dit dan, uit dankbaarheid!
Hoofstuk 1, Artikel 16
1:16 Hulle wat die lewende geloof in Christus, die vaste vertroue, die gewetensrus, die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid en die roem in God deur Christus nog nie kragtig ervaar nie – ofskoon hulle die middele gebruik waardeur God beloof het om hierdie dinge in ons te bewerk – moet nie mismoedig word wanneer hulle van die verwerping hoor nie. Hulle moet hulle ook nie onder die verworpenes reken nie maar ywerig voortgaan om die middele te gebruik, vurig verlang na die tyd van oorvloediger genade en dit ook met eerbied en ootmoed verwag. Hulle wat ernstig begeer om hulle tot God te bekeer, om Hom alleen te behaag en van die liggaam van die dood verlos te word maar op die pad van die godsvrug en die geloof nog nie so ver gevorder het as wat hulle wel wou nie, behoort die leer van die verwerping nog baie minder te vrees. Die barmhartige God het immers beloof dat Hy die dowwe lamppit nie sal uitblus en die geknakte riet nie sal verbreek nie. Maar hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, vergeet en hulle geheel en al aan wêreldse sorge en sondige begeertes oorgegee het. Dit sal so bly solank hulle hulle nie met erns tot God bekeer nie.
Tema: Troos en Vermaning oor die uitverkiesing
In hierdie artikel bely ons die Vaderlike besorgdheid van ons goeie God. Die troos van die Here aan die gelowiges.
Wanneer ‘n mens van die verwerping hoor kan selfs gelowiges ongemaklik raak en begin twyfel of die Here hulle nie dalk ook verby begaan het in die uitverkiesing nie. Artikel 16 bely egter dat hulle wat ‘n lewende geloof in Christus het en die middele gebruik waarin God beloof het om hierdie dinge in ons te bewerk, moet nie mismoedig word nie. God self leer ons van die uitverkiesing in die Skrif en Paulus sê in Romeine dat geloof kom deur die hoor van die Evangelie. Dit is met die Evangelie en die verkondiging daarvan dat die Heilige Gees die geloof in mense se harte opwek.
Verder bely ons in hoofstuk 5 van die Dordtse Leerreëls: ‘Dit het God behaag om Sy genade werk deur middel van die verkondiging van die Evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die Evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die sakramente.” (Hoofstuk 5:14)
Ons moet dus nie moedeloos word en ophou glo nie. Hou aan om die genademiddele te gebruik – die Bybel en die Sakramente – want God belowe om deur middel van die Woord en Sakrament Sy kinders se geloof te versterk. Gelowiges wat volhard om die Bybel te lees en te gehoorsaam sál groei in hulle geloof.
Maar nou, al groei ons in ons geloof, ons bly nog steeds worstel met die sonde. Ons weet ons het baie sondes en ons val aanhoudend in die sondes. Maar deur die genade van God het ons ook innig berou oor ons sondes.
Is dit genoeg? Hoe weet ons ons is uitverkies. Dordtse Leerreëls hoofstuk 1:12 bely: “Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker – deur in hulle self die onfeilbare vrugte van die uitverkiesing, soos in die Woord van God aangewys, met geestelike blydskap en heilige vreugde waar te neem. Hierdie onfeilbare vrugte van die uitverkiesing is ware geloof in Christus, die kinderlike vrees van God, die droefheid oor die sonde volgens die wil van God, die honger en dors na die geregtigheid.”
Die uitverkiesing is God alleen se werk.
Wat moet ons doen? Ons moet glo in Jesus Christus, in die Evangelie.
Waar kry ons die geloof en bekering? God gee dit aan ons deur die Heilige Gees.
Hoe weet ons ons is uitverkies? God sal jou verseker – op Sy tyd.
Hoofstuk 1, Artikel 17
1:17 Die Woord van God, waaruit ons die wil van God leer ken, getuig daarvan dat die kinders van die gelowiges heilig is. Hulle is nie van nature heilig nie maar kragtens die genadeverbond waarin hulle saam met hulle ouers opgeneem is. Godvrugtige ouers moet daarom nie twyfel aan die uitverkiesing en saligheid van hulle kinders wat God in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem nie (Gen 17:7; Hand 2:39; 1 Kor 7:14).
Tema: Here se troos aan ouers aangaande die dood van kinders
Aan die hand van Artikel 16 bely ons die troos wat die Here in Sy Woord gee wanneer daar by gelowiges twyfel kom oor hulle eie uitverkiesing. Die troos wat die Here aan sulke gelowiges gee, is om nie moedeloos te word en op te hou om die Here te dien nie. Hulle moet volhard in hulle geloof deur die Woord aanhoudend te lees en te bestudeer want daardeur sal die Here self aan hulle sekerheid gee oor hulle uitverkiesing.
Dit is egter nie net volwasse gelowiges wat soms nie sekerheid oor hulle eie uitverkiesing het nie. Gelowige ouers kan ook deur twyfel geteister word wanneer dit kom by die sekerheid oor hulle eie kindertjies se saligheid.
In Artikel 17 bely ons watter troos die Here aan gelowige ouers skenk oor hulle kindjie. In hierdie artikel gaan dit in besonder oor die dood van ‘n gelowige se kindertjies. Hoe moet gelowige ouers aan die ewige bestemming van hulle kindertjies dink wanneer die Here hulle in hulle kinderjare uit hierdie lewe wegneem?
Wat die twyfel oor gelowiges se kindertjies ook so erg maak is dat die ouers hulle nooit kon hoor sê dat hulle in Jesus Christus glo nie. Tydens die wedergeboorte skenk die Heilige Gees geloof en bekering sodat die mens self kan bely dat hy in Jesus Christus glo.
Die kindjie het dan gesterf nog voor hy kan praat. Wat nou? Is hy gered? Hang ‘n mens se verlossing en saligheid regtig af van ‘n mens se vermoë om te bely en te glo?
Om te glo en te bely is belangrik, ja, maar dit is die gevolg van die uitverkiesing en nie die oorsaak van die uitverkiesing nie. Enige mens se verlossing en saligheid is afhanklik van die uitverkiesing deur God alleen en nie van ‘n mens se geloof of belydenis nie.
Die artikel praat van die genadeverbond. Ons gaan terug na Genesis 17 want dit is hier waar God ‘n verbond met Abraham oprig. God sluit ‘n verbond met Abraham dat Hy hom en sy nageslag sal seën. Dié belofte wat God aan Abraham maak geld net so vir sy kinders. Aan Abraham se nageslag bewys God hierdie beloftes aan die kindertjies al kan hulle nog nie soos Abraham glo en gehoorsaam wees nie.
Ons voorouers wat deur die genade van God die Evangelie van Christus kan hoor en aan wie die Heilige Gees die geloof in Christus gegee het, het deur hulle geloof in Christus gekry aan die genadeverbond. Jesus Christus se offer aan die kruis het die verbondsverhouding vir alle mense moontlik gemaak en deur beloftes van die genadeverbond bly steeds dieselfde. Toe daardie voorouers van ons tot geloof gekom het en gedoop is, het hulle gehoor dat God belowe om hulle God te wees en die God van hulle kinders. Daarom is die kinders van hierdie gelowiges ook gedoop en hulle is aan dieselfde beloftes gegee.
‘n Kind word gedoop omdat hy reeds in die verbond is. Kinders van gelowiges word in die verbond gebore. Daarom moet hulle gedoop word.
Dit is op grand van hierdie verhouding wat God met gelowige ouers en kinders het, dat ons kan bely “dat kinders van gelowiges heilig is, hulle is nie van nature heilig nie, maar kragtens die genadeverbond” waarin Jesus Christus hulle met Sy offer bedek het.
Die kinders van gelowiges is in Christus geheilig – afgesonder vir die Here. Die Here het die reg om beslag te lê op gelowiges se kinders wat sterf, want die gelowige ouers behoort reeds deur Christus aan God.
Hoofstuk 1, Artikel 18
1:18 Teen iemand wat oor hierdie genade van die onverdiende uitverkiesing en gestrengheid van die regverdige verwerping in opstand is, stel ons die woorde van die apostel: O mens, wie is jy wat teen God praat? (Rom 9:23), en ook die woorde van ons Verlosser: Staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? (Matt 20:15).
Maar ons wat hierdie verborgenhede godvresend eerbiedig, roep saam met die apostel uit: O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen (Rom 11:33-36).
Tema: Genade van Here gee Hy aan wie Hy wil
Teen iemand wat oor hierdie genade van die onverdiende uitverkiesing en gestrengheid van die regverdige verwerping in opstand is, stel ons die woorde van die apostel: “o’ Mens, wie is jy wat teen God antwoord? (Rom 9:20) en ook die Woorde van ons Verlosser: “Staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie?” (Matt 20:15)
Maar ons wat hierdie verborgenhede Godvresend eerbiedig, roep saam met die apostel uit: “o’ Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele en onnaspeurlik Sy weë. Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was Sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid Amen. (Rom 11:33-36)
Wanneer ons in artikel 18 begin, praat ons van mense wat in opstand is oor die genade van God se onverdiende uitverkiesing van mense. As ons mooi oplet, sal ons agterkom dit is nie net mense wat teen die leer van die uitverkiesing is wat opstandig raak om die genade van God nie, daar is ook gelowiges wat opstandig raak oor die here se genade. Dit is nie net mense wat verwerp is wat die Here beskuldig van onregverdigheid nie. Daar is ook mense wat wel uitverkies is wat die van onregverdigheid beskuldig. Dit is eers wanneer ons ‘n begrip kry vir God se manier van werk dat ons by die regte punt uitkom waar die leer van die uitverkiesing ‘n mens moet bring, naamlik by nederigheid voor God en dank en lof aan Hom vir Sy genade.
Nederigheid is die gesindheid wat in iemand se hart moet heers omdat hy erken dat God die Regeerder van Sy skepping is. In nederigheid onderwerp jy jouself dan aan die Here en Hom in geloof. Nederigheid was kenmerkend by ons Verlosser, Jesus Christus. Hy wat die Seun van God is en self ook God is het Hom nooit een keer teen Sy Vader verhef of Hom verwyt oor wat met Hom gebeur het nie. Ons weet dat Jesus Sy ganse lewe op aarde gely het oor ons sonde en Hy het niks daarvan verdien nie.
Wie egter deur die ware geloof in Christus ingelyf is, word deur die Heilige Gees geleer om ook so nederig te wees soos Christus. Hoe meer die Heilige Gees die nuwe lewe in die gelowige ontplooi, hoe meer word gehoorsaamheid van Jesus ook die gehoorsaamheid van die gelowige.
Wanneer die Here mense tot geloof in Jesus Christus roep, doen Hy dit wanneer Hy wil. Hy het self die keuse gemaak wie Hy uitverkies het en wie nie.
Almal wat deur Jesus Christus verlos is, moet met hulle hele lewe die Here oor Sy goedheid en genade verheerlik. Niemand is deur Jesus Christus verlos omdat hy dit verdien nie. Dit is alleen deur die genade van God!
DIE DOOD VAN CHRISTUS EN DIE VERLOSSING VAN DIE MENS DEUR DIE DOOD
Hoofstuk 2, Artikel 1
2:1 God is nie alleen in die hoogste mate barmhartig nie maar ook in die hoogste mate regverdig. Sy geregtigheid – soos Hy Hom in sy Woord geopenbaar het – eis dat ons sondes wat teen sy oneindige majesteit begaan is, nie alleen met tydelike nie maar ook met ewige strawwe na siel en na liggaam gestraf moet word. Ons kan aan hierdie strawwe nie ontkom nie, tensy aan die geregtigheid van God voldoen word.
Tema: God se geregtigheid en waarheid eis straf op sonde
Die Bybel is die Woord van God waarin Hy Homself aan ons openbaar
en bekendstel sodat ons Hom kan leer ken soos Hy is en Hom aanbid vir wie Hy is.
In sy self bekendstelling maak die Here verskeie eienskappe van Homself aan ons bekend. In hierdie eerste artikel noem ons twee – barmhartig en regverdig. In die “hoogste mate barmhartig en in die hoogste mate regverdig”.
As ons hoor “barmhartig”, moet ons nie net daar vashaak en dink, maar die Here is mos barmhartig so ons kan mos maar ‘n bietjie sondig, Hy sal sy oë toeknyp en dit laat verbyglip. Nee, die Here is ook regverdig, geen sonde sal ongestraf gelaat word nie.
In die tuin van Eden het die satan die mens verlei om te sondig. Maar vir hom het dit oor baie meer as net die mens gegaan. Hy wou God wees en daarom het hy gepoog om vir God te verlei. As die Here die sonde straf – met die dood – soos Hy gesê het, verdelg Hy die mens, die kroon van Sy skepping, en dan sit Hy met niks. Maar as God die mens spaar en nie die sonde straf nie, bly Hy nie by Sy regverdigheid nie, dan verloën Hy Homself. En dit is wat die satan wil hê, om God van sy heerlikheid en majesteit te beroof. Om God af te bring na sy gelyke vlak.
Maar dit sou nooit gebeur nie. God is almagtig in Sy majesteit en heerlikheid. Hy is in die hoogste mate regverdig. Die Here bly getrou aan Homself. Die sonde moet met die tydelike en ewige strawwe gestraf word. En dit word.
Wat die tydelike strawwe is, is goed bekend. Al die swaarkry en ellende wat op hierdie aarde te vinde is, en wat ons vandag nog ervaar, en tot op die laaste dag daar sal wees, is die optelsom van God se tydelike strawwe. Ons word in sonde ontvang en gebore.
Die ewige straf is die ewige oordeel en dood.
Artikel 1 onderstreep met erns: “Ons kan van hierdie strawwe nie ontkom nie.”
En dan bely ons ten slotte: “Tensy aan die geregtigheid van God voldoen word.” Dit kan ons as mens nie doen nie. Ons kan nooit ten volle betaal vir ons sondeskuld nie. Ons is verdoem, maar wat nou? Daar is nét een uitweg. God het uit Sy grote genade Sy enigste Seun in menslike gestalte, soos ons, na die wêreld gestuur om gekruisig te word en te sterf en sodoende al ons sondeskuld saam met Hom in die graf in te neem. Maar dan staan Hy weer op, en ons staan saam met Hom op en word versoen met God, vry van al ons sondeskuld. Slegs deur die geloof in Jesus Christus kan ons naby God wees, want net Christus het aan die regverdige eis van God voldoen.
“God is in die hoogste mate barmhartig, maar ook in die hoogste mate regverdig”.
En ons kan bysit: In die hoogste mate genadig!
Hoofstuk 2, Artikel 2
2:2 Ons kan egter self geen voldoening gee en ons van die toorn van God bevry nie. Daarom het God uit oneindige barmhartigheid sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee. Die Seun het vir ons of in ons plek sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir ons te voldoen.
Tema: Christus ons enigste Borg wat ons kan red
Ons artikel open met die woorde: “ons kan egter geen voldoening gee en ons van die toorn van God bevry nie.” Tog is daar vele instansies wat daarop aandring dat ons ‘n aandeel móét hê in ons uitverkiesing en redding. Christus se kruisdood is nie genoeg, dit is Christus se kruis offer plus die Roomse Mis, of plus ‘n lewe van goeie werke, of plus wetsonderhouding, of plus besnyding, of plus offers, of plus geld en dit hou net nie op nie. Hier staan dit baie duidelik: Ons kan niks doen nie, Christus het alles reeds gedoen, Hy het ons ten volle verlos en bevry van God se toorn. Ons hoef niks te doen nie behalwe om te glo in Jesus Christus.
Jesus het Homself gegee om te sterf vir die sondes van mense. Hy sê dit self: “Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van my af nie, maar Ek lê dit uit My self af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer op te neem. Hierdie gebod het Ek van My Vader ontvang. (Joh 10:17-18 – AFR53)
Jesus is dus nie as ‘n gevangene gedwing of gevonnis tot ‘n kruisdood nie, Hy wou dit doen vir ons. Dit is ‘n bewys van liefde. Christus het Homself so met die sondes van die uitverkorenes vereenselwig dat Hy as’t ware sonde geword het op wie God se hele toorn afgekom het aan die kruis. So is ons almal vrygespreek. Vry.
Dit was God se wil om sy Seun as borg aan ons te gee. Christus se dood is volgens die wil van God die Vader. Nog voor die skepping van die wêreld het God sy Seun bestem as Borg en Verlosser van sy uitverkorenes. Hy gee sy Seun as Verlosser, want net Hy kan voldoen aan die reg wat Hy handhaaf. Net Christus kan die dood sterf wat sondaars eintlik verdien, en hulle deur Sy dood van die ewige verdoemenis verlos en nuut en heilig maak.
Sodoende toon God dat Hy in die hoogste mate liefde, regverdig en barmhartig is.
Hoofstuk 2, Artikel 3
2:3 Hierdie dood van die Seun van God is die enigste en volmaakste offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.
Tema: Christus se offer genoeg
Geen mens of geen skepsel kan die las van die ewige toorn van God teen die sonde betaal nie. Daarom het ons ‘n Middelaar nodig wat ware mens is en terselfdertyd ware God is. Hierdie Middelaar en Verlosser is die eniggebore Seun van God wat Hy uit genade na die aarde gestuur het om gekruisig te word en te sterwe. Sy dood is die enigste en volmaakte offer en voldoen in krag en waarde, en is oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen.
Jesus Christus is die Borg wat die skuld betaal het.
Ware Christene in hierdie lewe sondig nog elke dag. Geen Christen is sondeloos nie. Volmaaktheid en sondeloosheid is iets wat eers waar sal wees van Christene wanneer Jesus Christus terugkom op die wolke van die hemel. Nou strewe die ware Christen daarna om geloofwaardig te lewe. Hy lê hom toe om as ‘n Christen te lewe en strewe daarna om al minder sonde te doen en homself elke dag van sy sonde te bekeer en om vergifnis te smeek. En nou wys die Heilige Gees ons weer daarop wie die Here Jesus is sodat ons met vrymoedigheid ons sondes voor Hom kan bely: “… en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige…” (1 Joh 2: 1b – AFR53)
Jesus Christus, dié Regverdige, is ons Middelaar en Vryspraak by God. Hy voldoen aan al die vereistes van ‘n ware Verlosser en net Hy alleen voldoen aan hierdie vereistes. Daarom is Sy dood die enigste offer vir al ons sondes.
Christus se dood is die volmaakte offer vir al ons sondes. Daarom het God Hom uit die dood opgewek en Hom opgehef tot in die Hemel aan sy regterhand. God die Vader is self tevrede met die offer wat sy Seun eens en vir altyd vir die sondes van die mens gebring het. En omdat Jesus self geweet het dat Hy die straf volledig op die sondes aan die kruis betaal het, het Hy na die drie ure duisternis van Godverlatenheid gesê: “Dit is volbring!”
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh 3:16 AFR53)
Hoofstuk 2, Artikel 4
2:4 Hierdie dood het daarom so ʼn groot krag en waarde, omdat Hy wat dit ondergaan het, nie alleen ʼn ware en volkome heilige mens is nie maar ook die eniggebore Seun van God. Hy is saam met die Vader en die Heilige Gees een en dieselfde ewige en oneindige Wese. So moes ons Verlosser dan ook wees. Boonop het sy dood so ʼn groot krag en waarde, omdat Hy geweet het dat Hy die toorn van God en die vloek, wat ons deur ons sondes verdien het, gedra het.
Tema: Jesus na liggaam, siel en gees bewus van die toorn en vloek van God
Jesus Christus is werklik die enigste Een wat ons uit ons ellendige bestaan van sonde verslawing kan red. Christus se offer is die enigste een wat vir God ooit vir die betaling van ons sondes aanvaarbaar sou wees, want sy offer is volmaak!
Maar hoekom het Christus se offer oneindige krag en waarde? Hoekom is Christus se offer aan die kruis die enigste offer wat deur God aanvaar word vir die betaling van die mense se sondeskuld? Die rede is: “omdat Hy wat hierdie dood ondergaan het, nie alleen ‘n ware en volkome Heilige mens is nie, maar ook God, en ook die eniggebore Seun van God.” Jesus Christus is ware en regverdige mens en tegelykertyd is Hy ook ware God.
Ons het reeds gesê dat Christus van ewigheid af geweet het dat die dag sal kom wat Hy moet sterf en God se toorn moet dra vir die sonde van die mens.
“Julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem.” (1 Petr 1: 19-20 – AFR83)
Op grond van hierdie woorde van Petrus 1 bely ons: “God het Christus ook van die ewigheid af tot Middelaar en Hoof van al die uitverkorenes en tot fondament van die saligheid gestel. So het Hy ook besluit om die uitverkorenes aan Christus te gee om hulle salig te maak.” In die ewigheid het God nie net besluit om ‘n sekere aantal mense in Christus uit te verkies nie, Hy hét hulle uitverkies en reeds besluit hoe hulle verlos sal word van die doods bestaan van die sonde waarin hulle sou val. Sy Seun sal hulle Verlosser, Middelaar en Hoof wees.
Hoofstuk 2, Artikel 5
2:5 Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder onderskeid en willekeur verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.
Tema: Die liefde van Christus dring ons om vir Hom te lewe
God maak die belofte: “elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, sal nie verlore gaan nie maar sal die ewige lewe hê.” (Joh 3: 10-16 – AFR53)
Dit is hierdie Evangelie wat ons aan elke volk en nasie moet versprei. Almal moet dit weet, hoe en dat hulle gered is! Om dit te vermag moet die Evangelie van Christus aan die mense verkondig word: “aan alle volke en mense aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder uitsondering en willekeur verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.”
Daar is ‘n dringendheid in God se woord. Ons moet nou daarvan werk maak om die evangelie te verkondig en mense te bekeer, ons weet nie wanneer die laaste dag aanbreek nie. Die Heilige Gees sal ons hierin bystaan.
Hoofstuk 2, Artikel 6
2:6 Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie en glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hulle eie skuld.
Tema: Ongelowiges dink Christus se offer is nie genoegsaam nie
Die reaksie wat ‘n mens verwag wanneer die vreugdevolle boodskap van God se liefde en verlossing in Christus aan die mens verkondig word, is dat hulle die boodskap in die geloof sal aangryp en bekeer. Mense wil tog gered word en lewe. Daar is nie regtig iemand wat wil sterf nie, nie vir ewig nie, almal wil lewe. Maar nou bely ons van die hartseer reaksie op die belofte van die evangelie.
Alhoewel baie die roepstem van God in die evangelie hoor, gebeur dit tog dat “baie wat deur die evangelie geroep is hulle nie bekeer nie en nie in Christus glo nie” en dat “die toorn van God op hierdie mense bly wat hierdie evangelie nie glo nie.” Maar dat die mense wat in ongeloof sterf, die toorn van God bly vir ewig op hulle en hulle sterf die ewige dood. En dit is hulle eie skuld, nie God sin nie, en verseker nie dat Christus se offer nie genoegsaam was nie! Sy offer is “genoegsaam om die sondes van die hele wêreld te versoen.”
Laat ons onsself aan die Here se gesagvolle Woord onderwerp. Wie homself nie aan die Woord onderwerp en hom beheer en glo nie, sal die koninkryk van God nie beërf nie. En dit is dan nie omdat die Woord te swak is of omdat Jesus nie genoegsaam aan die kruis gely het nie, dit is omdat ons nie wil luister wanneer die Here in alle erns en liefde ons roep nie.
Hoofstuk 2, Artikel 7
2:7 Almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sondes bevry en van die verderf gered word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is.
Tema: Deur genade is ons gered
“Almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sonde bevry (bevryding van die sondes) en van die verderf gered word (deur die dood van Christus), ontvang hierdie weldaad (ware geloof) slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee (hulle verdien dit nie, hulle ontvang dit net uit genade), sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is.”
Om in die ongeloof te volhard, daarvoor is die wil die verkeerde wil, die verdorwe wil van die mens voldoende. Maar om tot die geloof te kom is die vry genade van God nodig. Nog sterker gestel: Slegs die genade bewerk die geloof. Volkome genade van God bewerk die geloof.
In die laaste sin van hierdie artikel bely ons: “Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee.” Met hierdie woorde beklemtoon ons dat bekering en geloof van die ware gelowiges in die besluit van die uitverkiesing vas is. Met ander woorde, die weldaad kom nie tot stand deurdat ons mense ‘n invloed daarop uitoefen nie. Dat die bekering in die verloop van ons lewe plaasvind, dat die geloof in die tyd deur die Heilige Gees in die gelowige opgewek word, wanneer ‘n sondaar tot geloof kom, is dit deur die ewige raadsbesluit van God, dan word gesien en gehoor hoe God Sy ewige besluit tot uitvoer bring.
Maar hierdie genade is God aan niemand verskuldig nie. Dit is ‘n suiwer en volmaakte genade.
Wanneer dit ‘n mens is aan wie God hierdie genade van ewigheid af in Christus gee, skenk die Heilige Gees aan so ‘n mens bekering en geloof in Christus omdat God daardie mens uitverkies het.
Hoofstuk 2, Artikel 8
2:8 Dit was immers die volkome vrye raadsbesluit, genadige wil en voorneme van God die Vader dat die lewendmakende en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun al die uitverkorenes tot voordeel sal strek. So het God slegs aan die uitverkorenes die regverdigmakende geloof geskenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak. Dit wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis – waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het – uit elke volk, stam, geslag en taal hulle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was dit die wil van God dat Christus aan hulle die geloof sal gee wat Hy, soos ook die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het. Verder dat Hy hulle van al hulle sondes – sowel die oorspronklike sonde as die werklike sonde wat na en voor die geloof begaan is – deur sy bloed sal reinig. Ten slotte dat Hy hulle tot die einde toe getrou sal bewaar en uiteindelik sonder enige vlek of rimpel in heerlikheid by Hom sal neem.
Tema: Christus verwerf verlossing vir sy mense
Christus het nie vir alle mense gesterf nie. Hy gee die regverdigmakende en saligmakende geloof, en het gesterf slegs vir die uitverkorenes wat van ewigheid af, al voor die skepping, deur Sy Vader aan Hom gegee is. Dit is Sy Vader se wil dat Hy deur Sy dood, al die uitverkorenes, van al hulle sondes, die sondes voor en na bekering, sal reinig met Sy bloed, en hulle vlekkeloos wit soos sneeu, sal inlyf in Sy Vader se Heerlikheid na Sy wederkoms.
Deur Sy Gees en Woord sal Christus sy “eiendom” elke keer weer na Hom toe terugbring en verder vernuwe totdat en sodat Hy hulle in heerlikheid by Hom kan neem.
“Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh 10:28 AFR83)
“Hy het elkeen wat die Vader aan Hom in die ewigheid gegee het verlos. En in die tyd sal Hy aan hulle die geloof gee, want Hy het dit saam met al die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees vir hulle verwerf.”
Geen uitverkorenes sal ooit verlore gaan nie. Deur die Heilige Gees sal Christus vir jou die vrymakende geloof skenk wat jou sal vry maak van die aardse sondeslawerny en jou sal lei tot bekering. Dit is die vry en onverdiende genade van God. Sy Seun se oneindig kragtige en alles omvattende barmhartige dood het jou as uitverkorene se sondes reeds vergewe, die wat jy reeds gepleeg het voor bekering, en die wat jy nog sal pleeg. Dit beteken egter nie dat jy so gevrymag is dat jy maar mag sondig soos jy wil nie aangesien jy reeds vergewe is nie. Deur die bekering, wat die Heilige Gees in jou bewerk het, sal die Gees in jou die begeerte wakker maak om nie te sondig nie, om ‘n onberispelike lewe voor God te lewe, Sy wil te doen, en af te sien van jou aardse sondige natuur en begeertes, as heilige kind van God en uit dankbaarheid vir die volkome, vrye, onverdiende lewendmakende en saligmakende genade van God die Vader. Deur die Heilige Gees wat op ons uitgestort is met die opstanding en Hemelvaart van Christus, is ons in staat om God se gebooie en wette te onderhou met gebed en smeking en die hulp van die in lewende Heilige Gees. Daar is ook nou die oorweldigende en sigbare begeerte om so te doen. Die wat nie uitverkies is nie sal dalk, moeilik om te glo, ten spyte van die evangelie van Jesus se onselfsugtige, nederige en vernederende daad van volkome self offering vir ons sondes, nie oorgaan na geloof en nie kom tot bekering nie. Hulle het hoop en tyd, deur evangelisasie en woordverkondiging, om te bekeer, anders is hulle tot in ewigheid verdoem.
Dit is ons plig as Christen gelowiges, om ons genadige uitverkiesing en geloof, die evangelie van Christus uit te dra na die wêreld daar buite, die Woord te verkondig en in alles wat ons doen en sê ons naaste te probeer positief beïnvloed, en hulle te “wen” vir Christus. Laat ons God se lig laat skyn deur ons oë, die venster na die siel. Ons is God se lig in hierdie donker wêreld. Sit jou lamp op ‘n staander!
Hoofstuk 2, Artikel 9
2:9 Hierdie raadsbesluit is die gevolg van God se ewige liefde vir die uitverkorenes. Die besluit word van die begin van die wêreld af tot vandag toe kragdadig deurgevoer ondanks die vergeefse verset van die magte van die doderyk. Hierdie besluit sal steeds deurgevoer word, sodat die uitverkorenes op die regte tyd in een liggaam vergader sal word. Daar sal altyd ʼn kerk van gelowiges wees, gegrond in die bloed van Christus. Hierdie kerk moet Hom as haar Verlosser, wat sy lewe aan die kruis vir haar gegee het – soos ʼn bruidegom vir sy bruid – standvastig liefhê, Hom met volharding dien en van nou af tot in alle ewigheid verheerlik.
Tema: Christus bou sy kerk en bewaar dit
Christus is die Hoof, ons die kerk, Sy liggaam. Een liggaam. Die kerk sal vir ewig bestaan om die Hoof te verheerlik. In vandag se tyd wou die kerk egter al meer vervolg, en dit sal al meer gebeur na die eindtyd. Die kerk sal selfs verstrooi word. Ons sal egter weer “eendag” in een liggaam vergader word as Christus neerdaal om “lede” te kom haal en saam met Hom te verenig in Sy Heerlikheid. Ewig.
Christus is die Bruidegom, en ons, die kerk, Sy bruid. Hy het sy lewe gegee vir ons, ons losgekoop, sy eie gemaak. Ons sal Hom verheerlik, prys en dien en onderdanig wees – van nou af tot in alle ewigheid.
Christus is die Koning, en ons, die kerk, is sy onderdane. Ons dien die Koning. Oor die hele wêreld is daar onderdane wat die Koning dien, want die Koning het al sy onderdane gered, van die dood, die ewige dood. Hy het ons gered deur te sterf aan die kruis. Hy het Homself geoffer, die perfekte offer, as die perfekte “Borg” as “Goddelike-mens” vir al die mense se sonde! Hy het gesterwe maar het weer sy lewe opgeneem, en uit die dood opgestaan. Hy is nou ons ewige Koning, en ons sal Hom ewig dien, as sy ewige onderdane, sy ewige kerk.
Christus is die hoeksteen, die hoeksteen wat eers deur die bouers afgekeur is. Die Jode het Christus verwerp as die Messias. Hy het nie voldoen aan hulle kriteria as die Verlosser en Saligmaker nie. Nie net het hulle Hom afgekeur en afgestoot nie, hulle het Hom vermoor. Christus is egter die perfekte, sterkste, stewigste en enigste hoeksteen waarop die kerk-gebou van Christus gebou is en nog steeds staan. Dit sal tot in ewigheid bly staan, en ons, sy kerk, sal Hom ewig daarin dien en loof.
Christus is die rots. Die rots waarop die kerk gebou is. Die kerk is nie op sand gebou nie. Dit sal nie wankel en vergaan nie. Dit sal alle storms weerstaan. En hierdie rots is hoog. Hoog bo die wêreld. Jesus sê: “… en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Mat 16:18 – AFR53)
Jesus sê: Ek sal my gemeente bou!
Christus verkondig Sy Woord aan die mens, aan Sy kerk. Met die Woord oortuig die Heilige Gees die mens van sy sonde en lei hulle na Christus in wie se Naam hulle verlossing kry. Die Heilige Gees oortuig mense nie net van hulle verlossing nie maar deur die Woord wek die Heilige Gees die begeerte en behoefte in hulle harte om deel te wees van die groter geloofsgemeenskap. Die Heilige Gees laat die gelowiges deel kry aan die verlossing wat Christus bewerk het en Hy maak hulle deel van Christus se liggaam, die kerk. Die kerk – ons almal – behoort aan Christus. Hy is ons Here, ons Eienaar, ons Koning, ons Hoëpriester want Hy het ons gekoop met sy bloed. So ons almal wat Christus so lewendig gemaak het, voeg die Heilige Gees bymekaar om te wees:
Die kerk van Jesus Christus in alle ewigheid
DIE VERDORWENHEID VAN DIE ENS, SY BEKERING TOT GOED
EN WYSE WAAROP DIT PLAASVIND
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 1
3/4.1 Die mens is van die begin af na die beeld van God geskape. Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met geregtigheid toegerus en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus volkome heilig. Maar deur die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil het hy hom van God losgeskeur en homself van hierdie uitnemende gawes beroof. Daarenteen het hy in die plek daarvan oor homself gebring: blindheid, verskriklike duisternis ydelheid en verdorwenheid van verstandelike oordeel, boosheid, rebellie en hardheid van sy wil en hart, sowel as onsuiwerheid van sy hele gesindheid.
Tema: Die bedorwenheid van die mens
God het die mens perfek en heilig geskape. Daar was ‘n oop, vrye en liefdevolle verhouding tussen die mens en God. God het saam met hom in die tuin gewandel en daar was volle vrede tussen hulle. God het ‘n volmaakte plan gehad met sy skepping en toekoms van die verhouding van die mens met Hom en met Sy skepping. Die mens was die middelpunt van Sy skepping en sou lewe in volle gehoorsaamheid aan Hom en heers oor Sy skepping. Hy laat dan die mens vir al sy diere en plante name gee – dit toon respek en vertroue.
Nou sal ‘n mens dink, God het volle beheer oor alles. Hy is almagtig. As Hy dan ‘n volmaakte en volkome raadsplan gehad het, hoekom het Hy toegelaat dat die mens sondig, en dit alles in die wiele ry. Hy kan tog die mens beheers het en hom gekeer het om na die satan te luister. Hoekom het Hy nie? Die antwoord is dit: Al was die mens volkome heilig, met ‘n suiwer gesindheid en geregtigheid in sy wil en hart, dit is juis dit, sy wil. God het aan die mens ‘n vrye wil gegee, en sy eie kennis van God, en die skepping en alles wat geestelik is. Die mens kan “kies” en sy eie besluite neem. God het nie die mens gemaak soos marionette aan stringe wat Hy volkome beheer in alles wat hulle dink en doen nie. Die lewe, die skepping, was nie ‘n poppespel, ‘n toeskou nie. Wat sou die doel daarvan wees? So die mens kan kies, en hy het ongelukkig verkeerd gekies, en al die verdoemenis, die dood, oor homself gebring. Hy moes self die gevolge dra van sy besluit. Nou is bekering nodig. Nou is genade nodig. Nou is die vergewing van God nodig en Sy krag in die Heilige Gees. Die mens is baie gelukkig; hy het ‘n genadige en barmhartige Vader in sy Skepper. God vergewe in genade. Hy sal wel straf, hy moet want hy is regverdig, maar Hy straf nie met die verdiende ewige dood nie. Hy vergewe. Hy laat nie sy geliefde skepsel in die steek nie, Hy help. Hy sorg. En Hy begin ‘n nuwe toekoms met die mens in sy skepping. Maar ongelukkig, soos ons weet, die mens se wil het nooit heeltemal herstel nie. Hy sal weer verkeerd kies, hy sal weer sondig, hy sal aanhou sondig. Hy moet dus aanhou bekeer. Gelukkig hou God aan met help deur Sy Heilige Gees. Kom ons kyk hoe. Kom ons kyk na die mens – toe.. en nou..
Luister hoe sê God het Hy die mens geskape:
“En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” (Gen 1:27 AFR53)
Dit beteken nie dat God die mens geskape het om soos Hy te lyk nie, maar dat Hy hom geskape het om Hom te verteenwoordig hier op aarde. Hy het ‘n taak wat hy in diens van die Here moet verrig hier op aarde en dit is dat hy oor die skepping en die skepsels moet regeer. Dit beteken ook dat die Here die mens toegerus het met volmaakte gawes en eienskappe – eienskappe van God self, sodat hy God se opdragte kon uitvoer. Hierdie gawes is kennis, geregtigheid en heiligheid.
En hoe verloor ons hierdie gawes? Een oomblik was ons ten volle daarop ingestel om God te dien, lief te hê en te prys, “maar deur die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil het hy hom van God losgeskeur en homself van hierdie uitnemende gawes beroof”. Uit sy eie vrye wil het die mens dus besluit ons na die leuens van die duiwel te luister en daarvolgens te handel. En wat was hierdie leuens van die duiwel? Hy het die mens belowe dat hy kennis sal kry, ware kennis, kennis soos God, en dat hy soos God sou word. En daar doen die mens dit, hy luister na die duiwel en wil soos God wees, hy wil opgaan na God se vlak, en daar maak hy homself skuldig aan presies dieselfde sonde as waaraan die duiwel skuldig is: selfverheffing.
En dit was die sondeval. Die mens het sleg geword en van daar af al hoe slegter. Die Here self sê vir ons in Gen 6:
“Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.” (Gen 6: 5-6 – AFR53)
Ons is die wondergawes waar mee God ons geskape het kwyt, en daarsonder is ons tot niks goed in staat nie. Op ons eie kan ons dit nooit weer herwin nie, maar daar is hoop. God het aan Sy Seun Christus die opdrag gegee om Sy uitverkorenes te verlos en daar waar Hy aan die kruis hang, om te betaal vir al ons sondes en skuld, herskep en vernuwe Hy die beeld wat God van Homself aan die mens gegee het, die beeld wat hulle weens die sonde verloor het. In Kolossense lees ons nou dat die mens deur die verlossing van Christus vernuwe is na die beeld van sy Skepper. Is daar nou weer hoop?
Kom ons kyk na die mens vandag. Die mens van vandag is blind, in duisternis, ydel, boos, het rebellie en hardheid van wil en hart en onsuiwerheid van die hele gesindheid. Ons is te blind om die genade van God raak te sien. Ons sien nie sy hand, uitgestrek na ons, om ons te lei na Sy ewige heerlikheid. Ons is te doof om te hoor dat God ons elke keer antwoord, as ons roep om hulp. Ons is in diepe duisternis, dit is vir ons moeilik om te onderskei tussen goed en kwaad. Ons het geheel en al ydel geword, ons dink en doen net vir onsself, net ons eie belange op die hart. Harte wat dood is as gevolg van die sonde.
Maar, so was ons almal, sê Paulus: Maar God is ryk in barmhartigheid. Hy het juis sulke afskuwelike mense lief. Hy het hulle so hartstogtelik lief dat Sy Seun wat die volmaakte beeld van God is en volmaak die opdrag kan uitvoer, Homself in hierdie duisternis kom begewe het. Net Hy kan mense optrek uit hierdie bose duisternis. Net die Heilige Gees kan blinde oë weer laat sien, dowe ore weer laat hoor, dooie harte lewendig opwek en ‘n wil wat al verder weg van God neig, omdraai sodat hy agter Jesus , die goeie Herder, wil aangaan. Sien kind van God, geen uitverkorene van Christus sal verlore gaan nie. Die Heilige Gees sal geloof in jou opwek en jou lei tot bekering. Danksy Christus se onselfsugtige en onskuldige offer aan die kruis, is ons beeld in God herskep en al ons sondes vergewe. Sondes voor en na bekering. Sondes wat jy reeds gedoen het en sondes wat jy nog gaan doen.
… die gemeenskap van die Heilige gees sal met elkeen van julle wees en bly.
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 2
3/4.2 Net soos die mens ná die val was, so was ook die kinders wat hy voortgebring het. As verdorwene het hy verdorwe kinders voortgebring. Dit hou in dat die verdorwenheid, volgens die regverdige oordeel van God, van Adam af op al sy nakomelinge oorgegaan het. Net Christus is hierin ‘n uitsondering. Die verdorwenheid van die mens ontstaan dus nie deur navolging, soos die Pelagiane vroeër beweer het nie, maar deur die voortplanting van die verdorwe natuur.
Tema: Die voortgang van die mens se verdorwe natuur
Vooraf: Ons lees hier van die Pelagiane. Hulle was navolgers van Pelagius, ‘n man uit die derde eeu n.C. Hulle en talle ander dwaalleraars het nie geglo in die erfsonde nie. Hulle het geglo dat ‘n mens heeltemal ongeskonde in die wêreld kom en eers sondig word as gevolg van navolging van slegte ouers se slegte voorbeeld. Hulle het dus nie geglo dat ‘n mens as sondaar gebore word nie maar eers sondaar word as hy sondig. Ons glo natuurlik dat elke mens ‘n sondaar gebore, volgens die erfsonde, en daarom sondig bly. Ons doopformulier leer ons: “Ons kinders is in sonde ontvang en gebore en is daarom onder die toorn van God…”
Die mens het gesondig teen God in die tuin, en dit is deur hierdie ongehoorsaamheid aan die Here dat Adam die sonde in die wêreld van die mens ingebring het. Deur een mens, Adam, het die sonde, en die dood in die wêreld gekom. Nie net in sy lewe, maar in sy hele nageslag. So erg dat elke persoon na hom wat gebore word, gebore word met erfsonde, sondeskuld. Dus is elke mens ‘n sondaar gebore, en daarom sondig hy. Die straf op die sonde is die dood, maar as gevolg van Adam en Eva se sonde, het hulle ook geestelik gesterf, daar deur het verwydering tussen die mens en God gekom en hierdie geestelike dood lei tot dood vir die Ewige Lewe. As gevolg van sy sonde sal die mens dus voortaan nie net fisies sterf nie, maar ook ewig sterf, tot die ewige verdoemenis. So het die dood tot alle mense deurgedring sodat almal gesondig het. Die sonde het oor die hele menslike geslag uitgebrei. Omdat Adam dus gesondig het, het almal gesondig. Die erfsonde, die sondeskuld.
Maar kan ons dan nie nou sê dat dit onregverdig is dat ons sondig en in sonde ontvang word deur Adam se sonde nie? Hy het in die tuin gesondig, op sy eie – ons was nie daar en het nie saam met hom gesondig nie. Hoekom moet ons nou vir sy sonde betaal?
O, al te seker nie! God is almagtig en regverdig! Dit is baie dwaas om so te vra. Dit hou in dat die verdorwenheid, volgens die alles regverdige oordeel van God, van Adam af op al sy nakomelinge oorgegaan het. Die Heilige Gees bevestig dit ook al te seker vir ons in die skrif.
Maar tot ons onverdienstelike redding, is God baie meer as net regverdig – Hy is volmaak en volkome genadig. En so dan: Die erfsonde het elke geslag deurgedring tot Christus. Net Christus is ‘n uitsondering hierin. Volgens die belofte het die Heilige Gees oor die maagd Maria gekom en die krag van die Allerhoogste het lewe in haar gewek en sy het swanger geword en geboorte geskenk aan die Heilige, die Kind Jesus Christus. Al was Hy menslike natuur was Hy volkome heilig en in goddelike natuur. Hy het geen sonde gehad nie. Geen erfsonde, geen sondeskuld. Hy was die ewige en eersgebore Seun van God. Hy was ook ons volmaakte Verlosser. Hy het die skuld van al sy uitverkore mense kinders op Hom geneem en vir altyd daarvoor volkome betaal aan die kruis. Met die kosbare bloed van Christus was die Heilige Gees die erfskuld van al die uitverkore siele af. En deur die genade van God ontvang hulle die gawe van regverdiging.
Nou behandel God so ‘n mens asof hy nooit enige sonde gehad of gedoen het nie.
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 3
3 &4:3 Alle mense word daarom in sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore, onbekwaam tot enigiets goeds wat sou kon salig maak, geneig tot die kwaad, dood in die sonde en slawe van die sonde. Sonder die genade van die Heilige Gees, wat die wedergeboorte skenk, kan en wil hulle nie tot God terugkeer of hulle bedorwe natuur verbeter of onderneem om dit te verbeter nie.
Tema: God die Heilige Gees maak dooie sondaars lewendige gelowiges
Jesus aan Fariseër: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.”
(Joh 3: 5-6 – AFR83)
Ons is uit die mens gebore, so ons is mens. As mens het ons erfsonde en dus is ons sondaars. Ons sal sondig. Ons word met ‘n sondige natuur gebore, in aardse natuur wat ons slawe maak van die sonde wat ons lewe net om ons aardse begeertes te bevredig. Ons jaag aardse geluk en voorspoed na. Rykdom, aansien, aardse besittings, seksuele bevrediging en geluk, aardse geluk. Ons het uit die vorige artikel gesien dat Christus dan gesterf het vir ons erfskuld en dat ons sonde vergewe is. Hy het aan ons die geloof en die Heilige Gees gegee wat lei tot bekering.
Hoe dan nou. Net omdat ons sondes vergewe is, beteken nie dat dit ongestraf sal bly nie. God sal ons nog moet straf vir ons sondes, want Hy is geregtelike regverdig. En ons sal nog verantwoording moet gee vir ons dade, die dag van oordeel. Die water wat hier genoem word verwys na die doop. Alle christene moet gedoop word volgens die verbond met God, die genade verbond. Met ons doop, neem God ons aan as Sy kinders en gee vir ons geloof en die Heilige Gees en sê dat Hy ons met die Heilige Gees sal lei. Net omdat ons geloof het in God, en presies weet wat reg is, beteken nie dat ons dit doen nie. En al het ons die Heilige Gees, beteken dit nie dat ons altyd na Hom luister nie.
Ons kan dus aanhou met ons sondige lewe as slawe van ons sondige natuur. En ons sal, want die mens het homself van God afgesny. Hy het ‘n dooie geword. Uit homself kan en wil hy niks meer goeds doen nie. Al waartoe hy nou geneig is, is om sonde te doen. Die wil wat hy gehad het om reg te doen en kies, het verlore geraak deur die sluwe invloed en kloue van die duiwel. Nou is ons in die mag van die sonde vasgevang, slawe van die sonde. Net God kan ons red, en Hy doen dit omdat Hy hierdie vyandige, dooie, sondeverlore mens steeds lief het. Hy sal enige iets doen om ons weer Syne te maak, en Hy doen, Hy stuur sy enigste, geliefde Seun as Hoof van die nuwe verbond – die genade verbond – om ons te red van onsself, deur Sy dood, om ons skulde op Hom te neem. En ons vry te maak. Ja, op ons eie, dryf ons af op die ewige verdoemenis want sonder ‘n wedergeboorte deur die Gees sal ons nie die Koninkryk van God ingaan nie. Ons moet dus op ‘n punt kom waar ons luister na die Heilige Gees en wíl om God se wil na te jaag. Om dit te doen moet ons afskeid neem van ons sondige aardse natuur en wegbreek van ons slawerny van die sonde.
Hierdie besluit om God te dien en af te sien van ons sonde is nie ons besluit nie. Dit kom van God, geïnspireer deur die Heilige Gees. Dit is volkome genade van God. Alle mense is dood in die sonde en slawe daarvan en niemand dink uit sy eie daaraan om terug te keer na God toe nie. Want hulle ken Hom nie meer behoorlik nie. Uit alle dooie sondaars het God vir Homself ‘n sekere aantal in Christus uitverkies. Dit is hierdie uitverkorenes wat hy deur die geloof, met die Heilige Gees, lei to bekering, tot wedergeboorte.
Ons kan dus met behulp van die Heilige Gees. Ons moet net lewe om God te dien en te loof en ons naaste lief te hê en te dien. Ons moet ál God se gebooie en voorskrifte nakom want ons kán, met behulp van die Gees.
Die Heilige gees sal dan aan ons die wedergeboorte skenk. Ons sal gebore word in God se tydelike koninkryk hier op aarde en slawe word van Sy wil, die geestelike natuur, en nie die aardse natuur nie. Ons sal tot bekering kom en ons hele lewe aan die voete van God lei om ons te lei op sy weg, die weg na Sy ewige heerlikheid in Sy ewige koninkryk op die nuwe aarde. Dán is ons uit die Gees gebore. Deur die Heilige Gees se wedergeboorte en daaglikse bekering deur geloof en kennis van die Woord.
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 4
3 & 4:4 Na die sondeval het daar in die mens tog nog ʼn bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy ʼn mate van kennis van God, van die natuurlike dinge, van die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike bly behou en vertoon hy in ʼn sekere mate ʼn strewe na deug en uiterlike tug. Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te bekeer. Gevolglik kan hy selfs in natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie reg gebruik nie. Hoe ook al, veeleer bederf hy dit heeltemal op verskillende maniere en hul dit in ongeregtigheid. Omdat hy dit doen, is daar vir hom geen verontskuldiging voor God nie.
Tema: Natuur bring mense nie tot bekering en geloof nie
“WANT die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;” (Rom 1: 18-20 – AFR53)
Daar is nog ‘n bietjie lig in die mens. En God openbaar Homself in die natuur en die skepping. Die waarheid wat God openbaar in Sy skepping is Sy krag en almag. Hierdie bietjie lig van die natuur verleen aan die mens kennis van God en die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike sodat hy in ‘n sekere mate strewe na deug en uiterlike tug het. Maar is dit genoeg? Daar is heidene wat ook kennis het van God en Sy wet. Rom 2: 14-15 – AFR53: “Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ’n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig,”
Alhoewel die heidene weet wat goed en sleg is, jaag hulle net die slegte na en het hulle geen begeerte om hulle te bekeer in God nie. Hulle word verdoem tot die ewige dood en daar is vir hulle geen verontskuldiging nie. Maar ons, ons doen dan ook die slegte, al is daar lig in ons hart. Ons het geen belang om God te ken nie, ons doen wat onbetaamlik is, ons is vol ongeregtigheid, hebsug, jaloesie, twis, bedrog, liefdeloosheid, hardvogtigheid. (Rom 1: 29-31) Beteken dit dan dat God ons ook gaan laat vaar en verdoem tot die ewige verdoemenis?
God het dus ‘n bietjie lig in die mens laat agterbly, natuurlike lig. Hierdie bietjie lig van die natuur verleen aan die mens kennis van God en kennis van die onderskeid tussen die betaamlike en onbetaamlike. Maar hierdie bietjie lig is nie genoem om reg te lewe na God se wil en tot bekering te kom nie. Hy kies tog die verkeerde is sy daaglikse lewe en lewe net vir homself. Hy verdien dus tog die regverdige straf van God op die sonde wat sal aanbreek op die laaste dag. Maar oordeel en straf is nie die laaste woorde van God nie. Ons het dus nou geleer dat dit vir die mens onmoontlik is om uit homself tot bekering te kom. God is ‘n God van regverdigheid, so Hy moet ons straf vir ons oortredinge en ons vasberadenheid om weg te breek van Hom af. Maar Hy is ook ‘n God van volkome genade, liefde en barmhartigheid. Hy is tog nog lief vir sy mens, maak nie saak hoe sondig en dwaas hy is nie. Hy wil hom red. Daarom stuur Hy sy Seun na die wêreld om die straf vir al hierdie sonde te dra en ons weer te versoen met God en God te ken. In Hom sal ons nie verlore gaan nie maar die ewige lewe hê. Jesus Christus gee aan ons die geloof en die Heilige Gees wat ons lei tot bekering. Aan die uitverkorenes gee die Heilige gees die wedergeboorte sodat hulle in Jesus Christus glo.
Dus, alhoewel die bietjie lig van die natuur nie genoeg is om tot saligmakend kennis van God te kom en jouself tot God te bekeer nie, het God hierdie lig, natuurlike lig, laat agterbly sodat niemand ooit kan sê dat hy nie geweet het dat daar ‘n God is nie. Daarom sal die Here se oordeel oor die ongelowiges volmaak regverdig wees. En ek en jy wat in die strale van die Volmaakte Lig, Jesus Christus, gekom het, wat maak ons met hierdie groot genade wat die Here aan ons bewys het? Volg ons die Heilige Gees wanneer Hy ons na bekering lei of verset ons onsself teen die genade wat die Here aan ons skenk?
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 5
3 & 4:5 Net soos met die lig van die natuur is dit ook gesteld met die Tien Gebooie, wat God deur Moses in besonder aan die Jode gegee het. Die Wet vlek wel die grootheid van die sonde oop en kla die mens hoe langer hoe meer van sy skuld aan, maar dit dui geen genees-middel aan en deel geen kragte mee om uit hierdie ellende te kom nie. Omdat die Wet dus deur die sondige natuur kragteloos gemaak is, laat dit die oortreder onder die vloek bly. Daarom kan die mens nie deur die Wet die saligmakende genade verkry nie.
Tema: Die Wet kan mens nie uitverkies nie
Die Wet is aan die Jode verkondig. Omdat die lig van die natuur in hulle skraal was en hulle menslike natuur groot, was hulle sonde groot. Die Wet het hierdie sonde ontbloot. Die Jode het geglo dat die Wet nie ‘n vervloeking was nie maar ‘n kragtige “geneesmiddel” wat tot hulle redding en saligmaking kon lei. Hulle het geglo dat die 10 Gebooie soos ‘n “checklist” was en as jy al 10 nakom, dan kan jy vir jou ‘n plek in die kemel loskoop. Hulle het dus geglo dat jy ‘n plek in die ewige heerlikheid van God kan verdien deur goeie dade. Maar met net die lig van die natuur en sonder die ware geloof en bekering deur die Heilige Gees was hulle natuurlik nie in staat om al 10 Gebooie sonder faal na te kom nie, maak nie saak hoe hard hulle probeer nie. Die menslike natuur sal jou kierang. Soos die artikel sê, is die Wet dus deur die sondige natuur kragteloos gemaak en laat dit die oortreder onder die vloek bly.
Die saligmakende genade van God is juis dit, genade. Volkome onverdiende genade. Daar is niks wat ons kan doen, of al gedoen het, om hierdie genade te verdien nie. Die mens kan nie deur die Wet die genade verkry nie. God het die sondige mens lief, daarom het Hy Sy enigste Seun, Jesus Christus, gestuur. Al wat ons kan red is geloof: Geloof in God, die Almagtige Skepper van alles en liefdevolle Vader van alle sondaars. En in Sy Seun, Jesus Christus, wat Homself verneder het en neergedaal het van die hemel na die sondige aarde en in menslike natuur, sondeloos en onskuldig, gemartel en gekruisig is en sodoende al ons sonde op Hom geneem het en ons skoongewas het van al ons menigvuldige oortredings met Sy kosbare bloed. So, en so alleen het Hy vir ons ‘n plek in God se ewige koninkryk verseker. Uit genade, nie verdienste. Deur Sy dood en opstanding en opvaarding gee Christus aan ons die geloof en die Heilige Gees wat ons lei tot wedergeboorte en bekering. Nou skyn God se lig helder in ons en is ons, anders as voorheen, wel in staat om die 10 Gebooie na te kom. Maar ons doen dit nie om ‘n plek in die hemel te verdien nie, Christus het dit klaar vir ons gedoen, ons doen dit om God te dien, omdat Hy dit van ons vra, en ons doen dit veral om ons dankbaarheid sigtelik te betoon vir die allergrootste genade wat Hy aan ons geskenk het.
Die Wet het dus geen krag om ons te red nie, net Christus het. Ons moet nog steeds die Wet nakom, uit dankbaarheid tot God en tot lof van God. Die vlammetjie van die natuur skyn nou as ‘n helder lig van geloof in ons en straal sigbaar deur ons oë, die vensters na die sel. Sodat ons naaste kan sien ons is kinders van die saligmakende God en ons kan volg op Sy weg en Hom kan dien en loof en prys. Laat jou lig van dankbaarheid helder skyn!
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 6
3 & 4:6 Wat nie deur die lig van die natuur of deur die Wet gedoen kan word nie, dit doen God deur die krag van die Heilige Gees en deur middel van die Woord of die bediening van die versoening. Dit is die evangelie van die Messias, waardeur God besluit het om die gelowiges in die Ou sowel as in die Nuwe Testament salig te maak.
Tema: God bring mense deur sy Heilige Gees en Woord tot bekering
Handelinge 10: 36, 43, 44 – AFR83
“Julle weet dat God aan Israel sy woord gestuur het, naamlik die evangelie van vrede wat Jesus Christus gebring het. Hierdie Jesus is Here van almal.”
“Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”
“Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het.”
(Petrus het die evangelie van Christus verkondig, aan Jode en heidene, en die Heilige Gees het gekom op Jode, christene én heidene)
Die mens kan nie die lig van die natuur wat in hom oorgebly het gebruik om tot saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te bekeer nie. Die Wet van die Here dui ook geen geneesmiddel aan en deel geen kragte mee aan die mens om uit die ellende te kom nie. Met ander woorde, daar is niks wat die mens self kan doen en gebruik om tot bekering en geloof in Jesus Christus te kom nie.
Wat nie moontlik is om deur die lig van die natuur of deur die Wet te bereik nie, dit doen God Self. God wat reeds in die ewigheid voorgeneem het om ‘n sekere aantal mense uit die sonde uit te verkies deur Sy Seun, Jesus Christus. Hy wil hê mense moet Hom eer en dien as God. Daarom, wanneer dit by die bekering van mense kom, doen God dit Self, want net dan sal dit regtig volkome kan gebeur. En die werkswyse wat God gebruik om die mens tot bekering en geloof te bring, is deur die krag van die Heilige Gees en die Woord. Dit is al hoe die mens tot saligmakende (heiligmakende) kennis van God kan kom en verlos kan word uit die ellende van sondeverlorenheid. Deur hierdie saligmakende kennis lei die Heilige Gees die mens na die kruis van Christus, die evangelie van verlossing van die verlore sondaar deur die kosbare bloed van die geliefde Seun van God. Tot geloof in Christus en God, Vader en Seun, en dan tot bekering.
God doen dit ook deur Sy Woord. En die inhoud van Sy Woord, is die evangelie. Die evangelie van Jesus Christus. Petrus noem die Woord wat God gestuur het die evangelie van vrede. Dit is omdat daar vyandigheid tussen God en die mens is omdat die mens na satan geluister het en sy rug op God gedraai het. Die mens is nie in staat om weer vrede van sy kant te bewerk nie. Die Here Self neem inisiatief om die vrede te herstel en Hy doen dit deur Jesus. Jesus Christus bewerk dan vrede en versoening tussen God en die mens, alle mense, want Hy is die Here van almal. Uit elke volk, taal en nasie maak die Here sy uitverkorenes bymekaar. Die Heilige Gees gebruik verkondigers wat die evangelie van Jesus Christus aan hulle verkondig, en met die bediening van die versoening – die evangelie van die Messias – bewerk die Heilige Gees die bekering in mense se harte.
Dit is dus vandag, ons plig as christene om te sorg dat die evangelie versprei word, verkondig word, aan elke volk, taal en nasie. Want net die wat glo, sal gered word. Dra by tot Bybelverspreiding en sending – Jesus het vir sy apostels gesê die evangelie moet aan alle uithoeke van die aarde versprei word.
Dus: Geen mens kan met die bietjie lig van die natuur wat in hom oorgebly het vir God lewe nie. ‘n Mens kan ook nie deur wetsonderhouding vir God lewe nie. Eers wanneer die Heilige Gees met die Woord van Christus, die evangelie , die lewe aan mens gegee het, kan so ‘n mens vir God lewe. Die mens kom dan tot geloof, deur die werking van die Heilige Gees, en word wedergebore en bekeer. So word die uitverkorenes gered, deur genade, tot die ewige koninkryk van God.
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 7
3 & 4 Hierdie verborgenheid van sy wil het God in die Ou Testament aan min mense bekend gemaak,
Tema: Geestelike hoogmoed
Hierdie verborgenheid van God se wil verwys na die evangelie van die Messias waardeur God besluit het om die gelowiges in die Ou sowel as die Nuwe Testament salig (heilig) te maak. In die Ou Testament het God die evangelie van die Messias aan min mense bekend gemaak. Die evangelie is hoofsaaklik aan Abraham en sy nageslag verkondig (Jode). Enkele heidene is begenadig om ook hierdie evangelie to hoor en tot bekering en geloof in God te kom – ons dink aan Ragab van Jerigo en Rut die Moabiet.
In die Nuwe Testament het God egter die onderskeid tussen volke weggeneem. Die tyd het aangebreek vir die vervulling van God se belofte aan Abraham. Aan hom het God gesê:
“… in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” (Gen 12: 3 – AFR53)
In Jesus se woorde hoor ons ook iets van hierdie belofte:
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh 3: 16 – AFR53)
- Jode sowel as heidene wat glo.
Dit is wanneer die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort word dat ons sien dat die grense van tale en nasies oorbrug word. En wanneer die Here vir Petrus na Kornelius stuur en later vir Paulus as Apostel vir die heiden nasies stuur dat ons duidelik raaksien dat die onderskeid tussen volke en nasies heeltemal opgehef word. Alle mense oor die hele aarde moet die evangelie hoor dat Jesus die Here en Verlosser is.
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Mat 28: 19 – AFR53)
Die rede dat hierdie bedeling van die Nuwe Testament so verskillend is van die vorige bedeling – van die Ou Testament – moet nie daarin gesoek word dat die een volk – die Jode – waardiger was as enige ander volk nie. Die rede vir hierdie verskil lê ook nie daarin dat die Jode beter gebruik gemaak het van die lig van die natuur as wat die ander volke gedoen het nie. Dis is maar alleen God se vrye welbehae en onverdiende liefde wat veroorsaak het dat Hy die evangelie eers aan die Jode en toe later aan al die ander nasies laat verkondig het. So gebeur dit dan ook dat God uit vrye welbehae, regverdigheid, en onverdiende liefde die evangelie van die Messias laat bring aan wie Hy wil en wanneer Hy wil.
Gevolglik moet die mense – die Jode en later ook die heidene – wat sonder en teen enige verdienste van hulle kant af, deel gekry het aan hierdie groot genade – om deur die Heilige Gees bekeer te word met die evangelie van die Messias – met ‘n nederige en dankbare hart erken dat hulle bekering geheel en al God se werk is. Ons mag geensins hoogmoedig word en dink dat ons enige iets bereik het deur eie prestasie nie. Ons moet nederig dankbaar wees teenoor God vir Sy onverdiende genade. Daar is niemand in hierdie wêreld wat verdien om deur God verlos te word nie.
En ten opsigte van die mense wat hierdie genade van bekering deur die Heilige Gees nie ontvang het nie, moet die ware gelowige saam met die heiden die regverdigheid van die oordele van God eerbiedig. Hulle moet berus dat God se regverdige besluit is om die bekering deur die Heilige Gees en deur die Woord te skenk aan wie Hy wil en wanneer Hy wil. Die rede waarom God die bekering deur Sy Gees en Woord aan net sommige mense gee en aan ander nie, moet nie nuuskierig ondersoek word nie. Om die streng en regverdige oordele van God te eerbiedig beteken dat ‘n mens jouself ook teenoor die Here nederig en dankbaar hou. Niemand kan homself verhef deur ondersoek in te stel oor hoekom sekere mense nie die genade ontvang het om to bekering te kom nie, terwyl jy daardie genade ontvang het. ‘n Mens kan nie die Here tot verantwoording roep oor sy besluite nie.
Aanbid die Here met eerbied en ontsag omdat Hy regverdig en genadig en liefdevol is – Hy het jou sonde aan Christus gestraf – en Hy het Sy goedheid aan jou betoon. Wees ewig dankbaar!
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 8
3 & 4:8 Almal wat egter deur die evangelie geroep word, word in alle erns geroep. Want in alle erns en waarheid betuig God in sy Woord wat sy wil is: Die geroepenes moet na Hom toe kom. In alle erns belowe Hy ook aan almal wat na Hom toe kom en glo, rus vir hulle siele en die ewige lewe.
Tema: Wanneer mense tot bekering geroep word, is God ernstig
Ons het sover in die artikels geleer van die mens se verdorwenheid na die sondeval. Die mens is sondig en tot niks goeds in staat en dit word oorgedra van geslag tot geslag. Die mens is nie in staat, deur die bietjie lig van die natuur, of die Wet, of enige ander mate, maak nie saak hoe hard hy probeer nie, om tot God te bekeer nie. Maar God doen dit, uit liefdevolle volkome genade. God doen dit met die Heilige Gees en met die Woord – dit is die evangelie van die Messias – Hy lei die uitverkorene deur geloof en wedergeboorte tot bekering in Hom. Daar is geen groter geskenk in hierdie lewe nie, ‘n lewe na hierdie lewe. God gee in alle erns rus vir die siel, en die ewige lewe. En dit doen Hy uit vrye genade, onverdiende liefdevolle genade.
Hoe kan ‘n mens nou anders as om in alle erns na God te gaan – soos Hy vra – en jou lewe aan Sy voete te lê en jou lewe aan Hom te wei en Hom te dien, te loof en te eer, soos lank jy lewe. Dankbaar in alle erns.
Maar nou, kan jy glo, gebeur dit dat nie almal wat die Woord hoor dan tot bekering kom nie. Hulle draai hulle rug op die Heilige Gees en die evangelie. En nou, die eerste wat die mens doen, is om die fout by God te soek. Hulle hou vol dat God hulle nie met alle erns tot bekering geroep het nie. Maar let op dat in die artikel sê ons tot drie maal dat God “in alle erns” te werk gaan met die mens, om die mens na Hom te bring. God doen alles in alle erns, so moet ons ook.
Die Woord sê dat God verkondigers van die evangelie na alle mense stuur. Tog het God voor die skepping ‘n sekere aantal mense uitverkies. Dus weet God mos voor die tyd wie tot bekering en geloof sal kom wanneer die evangelie verkondig word. Die mens sê nou God het die mense wat nie tot bekering en geloof gekom het nie, dus nie in alle erns geroep nie. Dit klink half logies maar kom ons kyk verder.
As gevolg van die sondeval moes God na regte alle mense tot die dood straf. Tog doen Hy dit nie. Hy wil mense hê wat Hom dien en liefhet. Daarom gee Hy Sy Seun in die ewigheid as Verlosser en Middelaar om die mense te verlos. Hy het ‘n sekere aantal mense uit die ganse mensdom uit genade uitverkies wat Hy weer sal nuut maak sodat hulle waardig vir Sy Seun kan wees. God wil mense hê wat Hom en Sy Seun en die Heilige gees gewillig en met opregte liefde dien en eer. Nou is dit so dat party mense dit nie kan doen nie, maar nie wil doen nie, al hoor hulle die evangelie.
Vir eeue het die Here Sy oproep na die volk Israel, in alle erns, laat uitgaan, om nie verlore te gaan nie, maar om hulle te bekeer. Hulle wou nie. Daarom het Hy sy verkondigers wyd en oral na die mense gestuur om na Hom te kom. In alle erns het die Here Sy wil bekend gemaak. En wanneer hulle kom, sal Hy niemand weg wys nie. In alle erns sal Hy vir hulle rus vir hulle siele gee en die ewige lewe.
Daar is ook mense wat die ernstige roepstem van die Here in die evangelie hoor, maar nie kom nie, en uiteindelik nie bekeer nie maar in ongeloof sterf en verlore gaan. Hulle is die wat nie deur God uitverkies is nie.
Die mense wat nooit na die ernstige roepstem van God luister nie, doen dit omdat hulle nie wil nie. Aan die einde van die dae sal ons wel kan sê dat hulle nie uitverkies was nie, maar hulle sal ook self erken dat hulle nie wou luister nie en daarom verdien om verwerp te wees.
Al maak hierdie oproep en openbaring van God nie altyd vir ons heeltemal sin nie, moet ons onthou ons is mense en God se wil en besluite is volmaak en regverdig en ver verhewe bokant ons logika. God openbaar nie al Sy wil en besluite oor die uitverkies en bekering aan ons nie. En al het Hy, sal ons dit nie met onsself kan versoen nie, ons denke is nie in staat om dit ooit te verstaan nie. Ons denke is ook besmet met sonde en nie so suiwer soos Sy waarheid nie. Vertrou op God, sonder om Hom te bevraagteken of te beoordeel. Hy is volmaak, regverdig, liefdevol en genadig. So ook al Sy besluite en roepings.
Mag ons die genade geskenk word om elke keer wanneer ons die roepstem van God hoor, te luister en deel in die vreugde en blydskap en ewige vrede van God.
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 9
3 & 4:9 Baie mense wat deur die bediening van die evangelie geroep is, kom nie na Hom toe nie en bekeer hulle nie. Die skuld hiervoor lê nie in die evangelie of in Christus wat deur die evangelie aangebied is nie, ook nie in God wat mense deur die evangelie roep en aan hulle verskillende gawes gee nie. Die skuld lê by die geroepenes self. Sommige neem deur sorgeloosheid die Woord van die lewe nie aan nie. Ander neem dit wel aan, maar nie in die binneste van hulle harte nie, met die gevolg dat hulle ná ʼn kortstondige blydskap van die tydelike geloof weer terugval. Ander weer laat die saad van die Woord deur die dorings van die sorge en deur die welluste van die wêreld verstik en dra geen vrugte nie, soos ons Verlosser dit in die gelykenis van die saaier leer (vgl. Matt 13).
Tema: Nie almal reageer positief op God se roepstem
Gelykenis: Lukas 8: 12-14 – AFR53
“Die langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die Woord uit hulle harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie. En die op die rots is hulle wat die Woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af. En wat in die dorings geval het – dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.”
Ons gaan nou na die gelykenis kyk. Ons moet net weereens beklemtoon: Dit gebeur dat baie mense nie die evangelie glo wanneer dit aan hulle verkondig word nie. Omdat hulle dit nie glo nie, kom hulle nie na God nie en bekeer hulle nie. Soos ons al in die vorige artikels bely het, sê ons weer dat die skuld vir hierdie mense se onwilligheid om na die Here te kom nie by die evangelie of in Christus of in God self lê nie. Die skuld lê by die geroepenes self. Die evangelie word wyd verkondig en God wil hê almal moet glo en na Hom toe kom. Hy belowe aan hulle rus vir hulle siele en die ewige lewe. God sal nooit iemand wat glo, en na Hom kom, weg wys nie!
Om die inhoud van hierdie artikel te begryp moet ons onthou dat daar geen ‘versekering’ is as dit kom by geloof en verlossing nie. Elke mens wat die evangelie hoor is verantwoordelik om self deur die geloof wat geskenk word op die roepstem van God te reageer. Die sondeval het veroorsaak dat elke mens in sonde ontvang en gebore word en daarom geestelik dood is in die sonde. Tog bewys God die genade om elke harde, dooie hart in alle erns deur die evangelie te roep. God hou dus elke mens verantwoordelik vir sy eie optrede, daarom kan die sondeval nie ‘n verskoning wees waarom ‘n mens nie op die roepstem van God verantwoordelik reageer nie. Die mens het homself in sy sondedood gestort. Daarom is hy verantwoordelik vir sy eie selfsug en hardhorendheid, al roep God hom hoe hard.
Die gelykenis:
Die saad is die Woord van God. Die Saaier is Jesus Christus. Jesus saai, alhoewel Hy weet dat sommiges nie sal groei nie. Die evangelie word aan almal verkondig. Die eerste saad val op die pad. Dit is die mens met die harde, ongevoelige hart. Hulle hoor die Woord maar dit gaan nie in nie. Die duiwel raap dit weg en hulle kom nie tot geloof en word nie gered nie. Party mense se harte is nie voorberei vir die ontvangs van die evangelie en die Heilige Gees nie. Hulle harte is te hard, hard gemaak deur die satan en die wêreldse natuur. Hulle hoor die evangelie maar neem niks op nie. God besit die mag om selfs die hardste hart sag en ontvanklik te maak maar dit bly die mens se verantwoordelikheid om dan af te sien van sy aardse natuur en in sy geestelike natuur hierdie dinge by die Here te vra en dan na die Woord te luister en dit sy eie te maak en te begin groei in geloof. God wys niemand weg wat na Hom kom in geloof nie.
Die tweede deel val op die klipbank. Dit het opgekom en gou verdroog. Dit skiet nie wortel nie. Dit is die mens wat die evangelie hoor en met blydskap aanneem. Dit lyk aanvanklik of hulle goed glo. Hulle groei egter nie in egtheid van geloof nie en die oomblik as hulle geloof getoets word deur beproewing dan hou hulle op glo omdat hulle geloof nie gegrond is op die waarheid van die Here se Woord nie. Geloof is nie net ‘n emosie nie, dit is ‘n oorgawe, in erns aan die Woord en die waarheid van God. Jy moet na Hom nader en Hom in volle oorgawe dien en eer en jou wortel in Sy Woord.
Die volgende deel val tussen die onkruid en die dorings en dit het dit laat verskik. Dit is die mense wat die Woord hoor en dit aanneem maar die sorge en die rykdom en die genietinge van hierdie lewe en wêreld verstik die geloof sodat daar geen vrugte in hierdie mense se lewe is nie, want hulle skiet nie wortel nie. Hierdie is mense wat hulle geloof in Jesus Christus bely maar hulle hart is verdeeld. Hulle word ook aangetrek deur die wêreldse dinge. Hulle dink hulle verdien tog ‘n bietjie aardse plesier, rykdom en seksuele bevrediging. Dit is dan hierdie versoekings wat op die ou einde wen. Die Here verbied nie rykdom of plesier nie, maar dit mag nie die fokus van jou lewe wees en jou aardse roeping oorheers nie. Die Here sê Hy sal jou bystaan met versoekings maar dit sal nie sommer vanself gebeur nie. Jy moet waak teen jou aardse natuur en die Here vra om jou met die Heilige Gees te help om jou geestelike natuur na te streef op die pad na Christus en nie afgelei te word deur wêreldse versoekings en begeertes nie. Jy mag die lewe geniet, die Here wil tog hê ons moet gelukkig wees, maar doen alles wat jy doen tot eer van die Here, en volgens Sy voorskrifte. Dan sal jy geseënd lewe en gelukkig en voorspoedig lewe in die Here.
Daar was ‘n deel wat in goeie grond geval het en opgekom het, goed gegroei het en ‘n baie goeie oes gelewer het. Dit is die mense wat die Woord met ‘n goeie en opregte hart hoor, dit inneem, bewaar en volhard in die geloof. Hulle dra vrugte tot eer van God. Hulle gaan dan in alle en volkome geloof na God. Hy ontvang hulle in alle erns en seën hulle met rus vir hulle siele en die ewige lewe.
Laasgenoemde saad is ons, ware gelowiges. Maar, die gelykenis is ook ‘n waarskuwing. Ware gelowiges is nog nie volmaak nie. Al is ons deur die Heilige Gees wedergebore, tot geloof geroep en bekeer. Al is ons toegewyde dienaars van die Woord. Elke verkondiging en lees van die Woord is nog steeds ‘n roepstem van God, God hou aan om met ons te praat, en ons moet aanhou om te luister. Ons moet aanhou om tot God te nader en nooit stagneer nie. Volhard deur beproewing en swaar tye en waak teen sondige menslike natuur. Bid vir krag en lyding, en God sal gee. Hy het gesê dat Hy nie een van die uitverkorenes wat Hy in Jesus Christus uitverkies het, uit sy hand sal laat , en nie sal toelaat dat enige iemand of enige iets een van hulle uit sy hand sal ruk nie. As jy afdwaal sal God jou terugroep, as jy nie luister nie en Hom ignoreer, sal Hy jou terugruk. Moet dit nie vir God nodig maak nie. Dit is jou verantwoordelikheid om op Sy pad te bly en jou hand in Syne te hou en Hom toe te laat om jou te lei na Christus. God gee rus vir die siel en die ewige lewe. Wees vasberade, toegewyd en getrou. God sal seën en vrede skenk.
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 10
3 & 4:10 Ander mense weer wat deur die bediening van die evangelie geroep is, kom en word bekeer. Dit moet egter nie aan die mens toegeskryf word nie asof hy hom deur sy vrye wil van ander onderskei wat eweveel of genoegsame genade tot geloof en bekering ontvang het. So stel die hooghartige kettery van Pelagius dit. Dit moet aan God toegeskryf word. Hy het hulle van ewigheid af in Christus as sy eiendom uitverkies. Hy roep hulle almal kragdadig in die tyd en skenk hulle geloof en bekering. Nadat hulle uit die mag van die duisternis verlos is, bring Hy hulle oor in die ryk van sy Seun, om die deugde van Hom, wat hulle uit die duisternis tot hierdie wonderbare lig geroep het, te verkondig en om nie in hulleself nie, maar in die Here te roem. So getuig die apostoliese geskrifte telkens.
Tema:
Matt 19:25-26 (AFR53)
“Toe sy dissipels dit hoor, was hulle baie verslae en sê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.”
Nou kan ‘n mens vra: Kon mense die feit dat hulle na die Here toe kom en hulle bekering aan hulleself toeskryf net soos wat die ongehoorsaamheid die ander wat nie na God gekom het nie aan hulleself toegeskryf moet word? Die antwoord hierop is: Nee, dit moet nie aan die mens toegeskryf word nie. Hierdie mense het hulleself nie van die ander onderskei met hulle eie vrye wil nie. Dit beteken dat hulle nie op hulle eie self besluit het om na die Here te kom om bekeer te word en te glo nie.
Na die sondeval het die opstand teen God veroorsaak dat die mens geestelik gesterf het. Dit beteken dat die mens van nature so verdorwe is dat hy nie uit sy eie na die Here kan of wil kom wanneer die Here hom roep nie.
Selfs nie deur gehoorsaming van die gebooie kan ‘n mens geestelik lewendig word en die ewige lewe verdien nie. Die doel van die gebooie is egter om ‘n mens te laat besef dat jy geestelik dood is en die wil te bring om geestelik te lewe. In Matt 19:16 vra ‘n jongman wat glo dat hy al die gebooie nakom vir Jesus: “Nou wat moet hy dan doen om die ewige lewe te kan hê.” Dit is hierop dat Jesus sê dat dit nie vir die mens moontlik is nie maar alleenlik vir God.
Dat hierdie mense wat bekeer is en na God toe gekom het, moet dus aan God alleen toegeskryf word. In die volgende sinne bely ons wat God alles aan en vir hierdie mense gedoen het:
- Hy het hulle van ewigheid af in Christus as sy eiendom uitverkies.
- Hy roep hulle almal kragdadig in die tyd en skenk hulle geloof en bekering.
- Hy bring hulle oor in die ryk van Sy Seun nadat Hy hulle uit die mag van die duisternis verlos het.
Waarom roep God mense, skenk Hy aan hulle geloof en bekering? Waarom verlos Hy hulle? Hy doen dit sodat hulle Sy deugde (goedheid) kan verkondig en in die Here roem, nie in hulleself nie. Dit is immers wat die Nuwe Testament aan ons leer.
Selfs vir God is dit moontlik om die mens – selfs die swakkes wat se hart nog nie ten volle voorberei is vir die evangelie nie, maar die wil het tot bekering – tot bekering en geloof in Jesus Christus te bring, sodat hulle toegang tot die koninkryk van God kan verkry. Dus: God roep ons kragtig, ons as sondige mense, tot bekering en geloof, sodat ons uit die wil, wat Hy in ons gewek het, Hom, uit volle dankbaarheid vir Sy volkome en onverdiende genade, sal dien, en ook Sy ewige evangelie sal verkondig oor die hele aarde, soos dit hoort. Dit is tog waarom ons hier op aarde is!
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 11
3 & 4:11 Verder: Wanneer God sy welbehae in die uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in hulle werk, laat Hy die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie. Hy verlig ook nie net hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees om die dinge van die Gees van God reg te verstaan en te onderskei nie. Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos ʼn goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra.
Tema: Hoe die Heilige Gees bekering en geloof bewerk
Nie net maak die Here dit vir ons moontlik, om teen die grein van ons menslike natuur en verdorwenheid; en al is ons geestelik dood; om tot geloof en bekering in Hom te kom met die inwerking van die Heilige Gees nie. Maar, met die werking van dieselfde Gees; wat wedergeboorte skenk; gee Hy aan die mens die wil om na Hom te draai, en na Hom te kom, en deur die evangelie, na Christus te kom, en Hom en God te aanbid en te dien en te eer met hulle hele lewe. Hy doen dit deur tot ons as mens se diepste binneste in te dring deur die krag van die Gees, en ons te verander, te vernuwe, te verbeter om na Hom te verlang, en Hom te dien. Hy maak ons natuurlike wil tot alles wat sleg is, goed, en Hy maak ons harde en koue hart, sag en warm vir Hom. Hy maak ons geestelik lewendig en bring lewe en heil in tot ons diepste binneste, ons siel. God wil hê ons moet Hom dien en liefhê, want Hy het ons gemaak om Hom te dien en lief te hê – soos wat Hy ons liefhet – as sy kinders, as ons Vader en Verlosser.
Maar onthou: bekering is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie. Die Heilige Gees hou aan om in ons binneste te werk om ons beter te maak in ons meer goeie eienskappe te gee en ons meer heilig en aanvaarbaar te maak vir God. Maar intussen sal ons nog foute maak en omdat ons nog foute maak sal ons weer en weer wil bekeer om beter te raak. Jy sal daagliks wil bekeer om soos ‘n goeie boom, vrugte van goeie werke te dra. So doen dit dan.
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 12
3 & 4 Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking, waarvan die Skrif so heerlik spreek wat God sonder ons in ons werk. Dit alles word glad nie deur die uiterlike prediking alleen, deur morele oorreding of op soort-gelyke wyse in ons gewerk nie, sodat na die voltooiing van God se werk, die mens die mag sou hê om weergebore te word of nie, om bekeer te word of nie. Dit is ʼn volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif wat deur Hom, die Outeur van hierdie werking geïnspireer is, is dit deur sy krag wat nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van die dooies is nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderbaarlike wyse werk sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo. Dan word die wil wat nou vernuwe is nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God gedryf word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer.
Tema: Die noodsaak van weergeboorte
Joh 3: 5-6 (AFR83)
“Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.”
Elke mens wat die ewige lewe wil verkry in die Koninkryk van God, moet wedergebore word. Jesus sê ook self in Joh 3:3 (AFR53): “…as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” As die mens gebore word, word hy uit vlees gebore, hy word in sonde ontvang en gebore en hy is dus geestelik dood. Die manier hoe hierdie mens weer gebore kan word en geestelik lewe, is as die Heilige Gees aan hom lewe skenk. “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.” Joh 6:63 (AFR53)
Die mens is dan tot niks in staat nie, hy speel geen aktiewe rol in sy wedergeboorte nie. “Dit is die Gees wat iemand lewend maak, die mens self kan dit nie doen nie.” Die artikel sê: “wat God sonder ons in ons werk”. Dit is die Heilige Gees wat weergeboorte skenk sodat die sondige geestelik lewend kan word. Die Skrif noem ook die wedergeboorte die nuwe skepping (2 Kor 5:17; Efes 2:10), die opwekking uit die dood (Rom 6:4) en die lewendmaking (Rom 6: 13; Efes 2:5).
Aangesien die mens nie homself geestelik lewend kan maak nie, word die mens nooit in die Bybel beveel om weer gebore te word nie. Nêrens in die Bybel staan daar: mens jy moet jouself weer gebore laat word nie. Daar staan wel geskryf dat die mens hom moet bekeer en glo, maar weergeboorte skenk die Heilige Gees alleen, en daarna volg geloof en bekering.
Die Remonstrante se dwaalleer was van oordeel dat God net die mens hoef aan te spoor met die prediking en morele oorreding en dan sal die mens self tot bekering kom, of nie. Die mens het die mag en die besluit. Daarom sê die artikel dat dit nie net deur die uiterlike prediking en morele oorreding in ons gewerk word nie! Dit is die Heilige Gees alleen wat wedergeboorte kan skenk, en die mens geen aktiewe rol daarin speel nie, en dat dit nie net die uiterlike prediking is nie, beteken dit dan dat ons nie eers die evangelie van Christus aan ander moet verkondig nie. Dit help dan nie. Nee, die evangelie van Christus is juis die gereedskap wat die Heilige Gees gebruik om die weergeboorte aan die ongelowiges te skenk. Jesus stuur dan sy dissipels, wanneer hulle geestelike lewend is, uit met die opdrag om dit te gaan verkondig. Ons weet wat met iemand gebeur wat nooit weer gebore word nie, en sterf, so ons doen dit en bid ernstig dat die Heilige Gees die wedergeboorte sal skenk sodat hierdie mense geestelik lewend gemaak kan word en ewig lewe tot eer van God.
So, wat is die wedergeboorte dan? “Dit is ‘n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God.” Dit is bonatuurlik – dit word van bo af gedoen en kan nie van onder af deur die mens bewerk word nie. Dit is ‘n baie kragdadige daad sodat die mens geensins in die proses kan sê dat hy nie wedergebore wil word nie. Hy het nie ‘n keuse nie. Die wedergeboorte is nie ‘n dwingende gewelddadige daad wat dit onaangenaam maak nie, maar ‘n aangename werk van God. Dit is wonderlik, daarom kan dit nie verklaar of begryp word nie. Dit is ‘n verborge daad van God. Niemand sien wanneer die Heilige Gees die wedergeboorte skenk nie. En dit is ‘n onbeskryflike daad van God – die wedergeboorte as daad kan nie ontleed word nie.
Nou as die wedergeboorte so verborge daad is, hoe kan ‘n mens weet of hy weer gebore is? As mense my hierdie vraag vra, sê ek altyd net: “Jy sal weet!” Want die Heilige Gees sê dit vir jou, Hy praat in jou binneste. Die werking van die Heilige Gees se heerlike en heilsame werk in die hart van ‘n mens, word nie heel eerste aan die uiterlike van die mens gesien nie. Daardie mens kom eers self in sy binneste agter dat hy nie meer dieselfde mens as vroeër is nie. Omdat so ‘n mens geestelik lewend gemaak is, het sy oë oopgegaan sodat hy sy eie lewe in die lig van God se heiligheid en regverdigheid kan beoordeel. Dan eers kom hy agter dat sy lewe van vroeër die ene sonde was teen niemand anders as die Heilige God self nie. Daarom bely so ‘n mens sy skuld teenoor die Here onomwonde (openhartig).
Die wedergeboorte wat op so ‘n bonatuurlike wyse deur die Heilige Gees bewerk word, is volgens die getuienis van die Skrif nie minder of geringer as die skepping of die opwekking uit die dood nie. Toe God geskep het, het niks en niemand Hom gehelp nie. Hy het net gespreek, en wat Hy gesê het, het tot stand gekom. Toe Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het, kon Lasarus nie die kragtige werk van God weerstaan of teenwerk nie. Die kragtige werk van die Heilige Gees tydens die wedergeboorte is net so kragtig soos God se skeppingswerk of Sy werk wanneer Hy dooies lewendig maak.
Gevolglik word almal waarop God met hierdie wonderbaarlike wyse inwerk, weer gebore en glo hulle daadwerklik. Die wil wat deur God gedryf word begin ook self werk; die wil van die mens kom in pas met God se wil en wandel saam met God. Omdat so ‘n mens se wil nou met nuwe eienskappe vernuwe is, begin hy in pas met die Heilige Gees te lewe. Hy verlang dat die vrug van die Heilige Gees al groter in sy lewe sal groei. So ‘n mens vlug met die krag van die Gees weg van die sonde af. En as hy wel sondig, bely hy dit voor die Here en smeek om vergifnis in die Naam van Jesus Christus sy Verlosser.
Daarom sê ons dat die mens deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer. Deur geen meewerking of hulp van homself.
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 13
3 & 4:13 Die aard van hierdie werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie. Intussen is dit vir hulle ʼn gerusstelling dat hulle weet en ervaar dat hulle deur hierdie genade van God van harte glo en hulle Verlosser liefhet.
Tema: Weergeboorte so onbeskryflik en so heerlik
Ons weet en het in vorige artikels bely dat omdat ons uit ons sondige natuur, sondige mense is, het ons as God ons roep – al roep Hy ons kragdadig – geen wil om ons sondige begeertes en aardse bevrediging af te staan en na Hom te gaan nie. Tog, sonder enige inwerk van onsself, kry ons die wil, en nie net dit nie, ons begin ook glo en bekeer onsself van ons aardse wil, begin lewe in ‘n geestelike wil en gaan dan na God wat ons roep en omhels Hom in liefde en volg Sy Wil. Hoe gebeur dit alles dan? Sonder enige meewerking in onsself. Die antwoord is: God ken die natuur van die mens. Hy roep ons dus nie net en hoop maar dat ons sal kom nie. Nee, Hy roep ons, maar vul ons dan met sy Heilige Gees wat dan wedergeboorte in ons wek en ons weer geboorte skenk uit ons ou sondige natuur en lewe, in die geestelike natuur en dan volg geloof en bekering in die aanhoor in die Skrif van die evangelie van onse Here Jesus Christus. Dan, uit volle dankbaarheid van die groot genade van God in Sy Seun, Jesus Christus, draai en gaan ons dan na God en dien Hom in sy volle Skrif en Wet. Hy ontvang ons natuurlike met ope arms en in liefde want Hy het natuurlik geweet ons gaan kom. Ons is dan sy uitverkore kinders, wat Hy nooit sal laat vaar nie! Ons gaan ook in Sy opdrag en verkondig hierdie evangelie oor die aarde.
Maar hoe werk hierdie wedergeboorte van die Heilige Gees in die opvolgende geloof en bekering? En hoe weet ons dat en wanneer ons dit ontvang het? Hoe kan ons sekerheid daaroor ontvang? Die antwoord op die eerste vraag: “Hoe werk dit?” is: Ons weet nie en begryp dit nie volkome nie. Ons sal ook nooit nie, so ons hoef nie en moet nie in nuuskierigheid te probeer om dit te ontleed nie.
Jesaja 55: 8-9 (AFR53)
“Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.”
Die Here se gedagtes en woorde is baie hoër as ons sin, Hy probeer nie eers om dit aan ons te verduidelik nie want ons sal en kan dit nooit begryp nie. Ons verstande is nie in staat daartoe nie. So ons kan en moet nooit eers probeer nie. Dit is bonatuurlik, verborge en onbeskryflik en onbegryplik. “Die gelowige kan hierdie werking van God binne-in hulle in hierdie lewe nie volkome begryp nie.”
Die antwoord op die tweede vraag: Hoe weet ‘n mens van hierdie werking van God binne-in ‘n mens? Met ander woorde: Hoe kan ‘n mens seker wees jy het die Heilige Gees in jou en dat jy die wedergeboorte ontvang het? Ons bely in hierdie artikel dat die werking van die Heilige Gees baie aangenaam en wonderlik is. In hierdie artikel bely ons dat hierdie werking van die Heilige Gees veroorsaak ‘n gerusstelling by jou omdat jy weet en ervaar dat jy deur hierdie genade van God van harte glo en jou Verlosser lief het. Hoe weet ‘n mens dat jy glo? Jy glo, dit is die kort en eenvoudige antwoord. Hierdie geloof word ook ervaar en beleef. Jy ervaar dat jy ook jou Verlosser lief het. Maar dit is baie meer as net ‘n warm gevoel in jou hart! Jy kom ook agter dat jou gesindheid teenoor die Here en teenoor ander mense besig is om drasties te verander.
Saamgevat dan: Ons kan die werking van die Heilige Gees tydens die wedergeboorte nie begryp nie, maar ons kan die uitwerking van Sy werk in onsself agterkom.
Wedergeboorte so onbeskryflik, maar tegelyk ook so heerlik.
Tog so heilig!
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 14
3 & 4:14 So is die geloof dan ʼn gawe van God, nie omdat dit deur God aan die vrye wil van die mens aangebied word nie, maar omdat dit inderdaad aan die mens geskenk word en vir hom ingegee en in hom ingestort word. Ook is dit nie so dat God net die vermoë om te glo gee en daarna van die mens se oordeel instemming of daadwerklike geloof verwag nie. Maar Hy bring sowel die wil om te glo as die geloof self in die mens tot stand. Hy wat immers in die mens werk om te wil sowel as om te werk, bewerk alles in almal.
Tema: Gelowige se verantwoordelikheid
Ons bely (sê agter God die Here aan – dit is wat bely beteken) dat die wedergeboorte, die bekering, die geloof en die vermoë om daadwerklik te glo, nie uit onsself uit kom nie, of moontlik is nie, maar die werk van die soewereine (hoogste, verhewe, oppermagtige) genade van God is. Hy werk dit in ons en ons het geen aandeel in die bekomming daarvan nie, ons ontvang dit net en God stel ons in staat om met ons vrye wil dit te aanvaar en uit te leef. In hierdie artikel fokus ons op die genadige gawe van geloof.
Efesiërs 2: 8 (AFR53)
“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;”
Ons glo met ons hart en bely met ons mond dat geloof ‘n gawe van God is.
Heidelbergse Kategismus Sondag 25:
Die Heilige Gees werk die geloof in ons harte deur die verkondiging van die evangelie.
Hier in Artikel 14 bely ons dat God die geloof in die mens instort en ingee. Die mens besit dus nie geloof alvorens die Here met hom begin werk nie. Die Here gee die geloof, so sê die Heilige Gees vir ons in Efesiërs 2.
Geloof is geheel en al ‘n gawe van God. Met die woord gawe word nie maar net bedoel dat God vir die mens geloof aanbied en nou is die mens self in staat om met sy vrye wil hierdie geloof te aanvaar of nie. Met gawe word juis bedoel dat God die geloof skenk met die sin dat Hy dit in die mens ingee en in hom instort. Wanneer die Here dus geloof aan die mens gee, kry die mens iets wat hy nie voorheen gehad het nie. Wanneer die Here dus geloof in jou ingee en instort, sal jy met vrees en bewing daardie geloof gebruik deur te glo. Met vrees en bewing beteken maar dat ‘n mens enersyds ontsag het vir God, sal glo in Sy Drie-enige Wese, die evangelie van onse Here Jesus Christus, die opstanding uit die dood, die opvaarding na die hemel en die ewige lewe. Jy glo dat al jou sondes vergewe is in Christus en jy glo om jou hele lewe aan God te wy in Sy Wil en wet na te volg. God werk dus die geloof in jou, en omdat jy eerbied vir God het, glo jy volkome en soek jy aanhoudend die kragtige werk van die Here sodat jy kan aanhou glo.
Die gawe wat God aan die mens gee is dus nie maar net die vermoë of vaardigheid om te glo nie. Die Here gee nie maar net ‘n vaardigheid om te glo deur nou self geloof in die hande te kry nie. Dit is die Here wat nou self die wil om te glo, en aan te hou glo, en die geloof self in die mens opwek. Die Here bewerk inderdaad alles in die mens – die wil om te glo sowel as die geloof self asook om te glo.
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 15
3 & 4:15 Hierdie genade is God aan niemand verskuldig nie. Wat sou God immers aan iemand skuld wat Hom vooraf niks kan gee nie om dan daarvoor vergoed te word? Inderdaad, wat sou God aan die mens verskuldig wees wat self niks anders as sonde en leuens het nie? Die mens wat hierdie genade ontvang is God alleen ewige dankbaarheid verskuldig en dank God ook daarvoor. Die mens wat hierdie genade nie ontvang nie heg geen waarde aan hierdie geestelike dinge nie en skep net in sy eie dinge behae of beroem hom sonder om na te dink tevergeefs op wat hy het terwyl hy niks het nie. Verder moet oor hulle wat hulle geloof in die openbaar bely en hulle lewe verbeter, volgens die voorbeeld van die apostels, baie gunstig geoordeel en gepraat word, want die binneste van die hart is aan ons onbekend.
Vir die ander wat nog nie geroep is nie moet ons tot God bid wat die dinge wat nie bestaan nie roep asof hulle bestaan. Ons mag ons volstrek nie teenoor hulle in trotsheid verhef asof ons onsself so van hulle onderskei het nie.
Tema: Verloste mense se gesindheid teenoor God en ander mense
Hierdie genade verwys na die geloof waarvan ons in artikel 14 bely. Die geloof is ‘n gawe van God wat Hy in die mens ingee en instort. Hy is aan niemand hierdie genade verskuldig nie. Hy skuld ons niks.
Die mens het niks om aan God te gee in ruil vir hierdie genade nie. Voor die sondeval het Adam alles wat hy gehad het – en dit was net sy liggaam en lewe, ‘n volkome heilige en geregtigde verhouding van vrede met God – en dit was niks van sy eie nie, maar hy het dit van God ontvang. Hoe sou hy dus iets aan God kon gee in ruil vir die genade van geloof. God het hom ook niks geskuld nie.
Die mens na die sondeval het inderdaad net sonde en leuens van sy eie gehad. Met sy sonde en leuens verdien hy net die ewige straf, hoe kan hy nou die genade van geloof of enige genade van God afhanklik wees. Hoe kan God hom iets skuld. Hoe dan nog die genade gawe van geloof en glo?
En dan nou: Die gesindheid wat die mens behoort te hê. Eers word daar gesê watter gesindheid die mens moet hê wat wel die genade ontvang het om te kan glo. Die mens aan wie God die gawe van geloof geskenk het is aan God alleen ewige dankbaarheid verskuldig. Dit wil sê, sy hele lewe moet ‘n dankoffer aan die Here wees, want in plaas van die regverdige straf vir sy sonde wat hy eintlik verdien, het die Here die genade van geloof aan hom gegee sodat hy deur die geloof in die Naam van Jesus Christus vergifnis van sy sonde, die ewige vergifnis van sy sonde en ewige vrede en versoening met God in die ewige lewe mag kry. Hierdie mens besef dan watter groot genade die Here aan hom bewys het daarom dank hy die Here met sy hele lewe ook daarvoor.
Dan word bely watter gesindheid die mens het wat hierdie genade nie ontvang het nie. So ‘n mens heg geen waarde aan die geestelike dinge nie. Vir hom is geloof en die vryspraak deur die geloof waardeloos en dank God geensins vir hierdie genade gawe nie. Hy is net tevrede as hy self iets vir sy eie verlossing kan doen en hierdie genade kan verdien deur sy eie dade. Hy beroem homself ook nog boonop op wat hy uit sy eie doen. Maar wat hy doen beteken by die Here niks nie. Sy eie werke is waardeloos en nie volmaak nie. Daarom is alles wat hy doen tevergeefs. So ‘n mens het ‘n selftevrede gesindheid en in sy gemoed is hy oorgerus omdat hy dink hy het en verdien die ewige lewe op grond van sy waardigheid (hoogmoed).
Dan bely ons wat die ware gelowige se gesindheid moet wees teenoor ander wat bely dat hulle gelowig is. Oor hulle wat hulle geloof in die openbaar bely en hulle hele lewe verbeter, moet daar baie gunstig geoordeel en gepraat word.
In die laaste plek bely ons hoe ons gesindheid moet wees teenoor die mense wat nog ongelowig is: Uit hulle woorde en lewe en dade kom ons agter dat God hulle nog nie geroep het en aan hulle die genade van die geloof gegee het nie. God alleen gee die gawe van geloof, daarom moet ons tot Hom bid om ook aan hierdie mense geloof te skenk as dit Sy Wil is. Teenoor so ‘n ongelowige mag ons onsself hoegenaamd nie verhef en hoogmoedig wees asof ons beter as hulle is nie. Die feit dat ons glo is mos nie aan onsself te danke nie. Dit is alleen aan die Here te danke wat ten spyte van ons sondes en leuens tog geloof aan ons geskenk het. Absoluut uit genade en nie verdienste nie. Hy skuld ons mos niks nie!
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 16
3 & 4 Die mens het egter nie deur die sondeval opgehou om mens, toegerus met verstand en wil te wees nie. Die sonde wat die hele menslike geslag deurdring het, het die natuur van die mensdom nie weggeneem nie, maar dit bederf en in geestelike sin gedood.
Daarom werk hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte nie in die mens asof hulle stokke en blokke is nie; ook vernietig dit nie die wil en sy eienskappe nie en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie. Die genade maak die wil geestelik lewend, genees, verbeter en buig dit tegelykertyd lieflik en kragtig. Terwyl sondige opstandigheid en verset dit vroeër volkome oorheers het, begin ʼn gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees nou die oorhand daaroor kry. Hierin lê die ware en geestelike vernuwing en die vryheid van ons wil.
Inderdaad, as die uitnemende Werkmeester van alle goeie dinge nie so met ons gehandel het nie, sou die mens glad geen hoop gehad het om deur sy vrye wil uit die sondeval op te staan nie. Deur sy vrye wil het hy homself, toe hy nog gestaan het, in die verderf gestort.
Tema: God verander die mens om Hom lief te hê
Wanneer ‘n mens bely hoe die Here die weergeboorte, bekering en geloof in die mens werk, kan dit maklik klink asof die mens soos ‘n lewelose pop is waarin die Here hierdie nuwe lewe ingee. Daarom kan die mens wat uit sy geestelike dood so lewendig gemaak word, nie anders as om te lewe en te glo nie.
Hier in Artikel 16 begin ons weer by die donker verlede van gelowiges, die sondeval, sodat ons die heerlike werk van god duideliker kan raaksien. Die sondeval het die mens wel geestelik doodgemaak, maar dit beteken nie dat die mens nie meer ‘n verstand of wil het nie.
Na die sondeval is hierdie verstand en wil net verdorwe. Die mens is beroof van sy volmaakte kennis van God en volmaakte wil om met God se Wil ooreen te stem. Na die sondeval is die mens nou vyandig teenoor God en sy hart en verstand bedink net kwaad en wil neig net na hierdie kwaad wat hy bedink. Die mens is dus nou ‘n eiewillige, moedswillige skepsel wat net maak wat hy wil. Daarom wanneer die Heilige Gees die Goddelike genade van die weergeboorte en geloof in die mens werk, werk Hy nie met ‘n lewelose pop nie – soos die artikel sê: asof die mens ‘n stok en ‘n blok is nie – die Heilige Gees werk met ‘n mens wat nou vyandig is teenoor die Here.
Die Heilige gees vernietig nie hierdie mens se bose wil en verkeerde geaardheid nie en Hy dwing nie die mens teen sy sin om iets te word wat hy nie wil wees nie. Nee, wanneer die Heilige Gees tot in die binneste van die mens inwerk, maak Hy die wil geestelik lewendig, genees, verbeter en buig dit tegelykertyd lieflike en kragtig!
Hoe meer en hoe langer die Heilige Gees met die mens besig is, begin daar ‘n radikale verandering by die mens intree. Hoe beter die mens die genade en vriendelike aangesig van God leer ken, hoe meer begin die sondige opstandigheid en verset plek maak vir gewilligheid en opregte gehoorsaamheid aan die Gees. Die Heilige Gees bring die mens dus uit die donker, muwwe wêreld van sonde en ellende uit. Dan, wanneer die mens wat weer gebore is, die eerste maal die asem van die nuwe geestelike lewe in sy verstand, hart en wil gevoel het, wil hy ook nou self glo. Nou is die mens eers lewendig en vry om die Here voluit te kan dien en waarlik te lewe volgens God se wil.
Die mens sou nooit self uit die sondeval wou en kan opstaan nie. ‘n Onbekeerde wil nie self gehoorsaam word nie, want hy wil sý sin hê. En as hy nie sy sin kry nie, gaan hy opstandig bly. Die mens kan nie self uit die sondeval opstaan nie.
Maar, die mens in wie die Heilige Gees so werksaam is kan dit nie verklaar nie, maar as hy dit agterkom kan hy sê dat hy die Here ook van harte liefhet. Hy wil nie meer opstandig wees nie, maar gehoorsaam en opreg.
Laat ons die Here loof en prys vir die wyse waarop Hy met en in mense werk. Laat ons Hom dank vir die liefde wat die Heilige Gees in ons harte uitgestort het sodat ons ook die Here van harte lief kan hê. Laat ons die Here dank dat sy verhouding met sy mense permanent is. Mag die Heilige Gees ons verhouding met die Here ook so innig maak dat ons die Here werklik kan ken. Prys die Here!
Hoofstuk 3 en 4, Artikel 17
3 & 4:17 Die almagtige werking van God waardeur Hy ons natuurlike lewe skep en onderhou, sluit nie die gebruik uit van die middele waardeur God na sy oneindige wysheid en goedheid hierdie krag van Hom wil uitoefen nie, maar eis juis dat hulle gebruik sal word. Net so sluit bogenoemde bonatuurlike werking van God waardeur Hy ons weer gebore laat word vol-strek nie die gebruik van die evangelie uit en werp dit ook nie omver nie; inteendeel, die alwyse God het dit tot ʼn saad van die wedergeboorte en tot voedsel vir die siel bestem. Die apostels en die leraars wat hulle opgevolg het, het dan ook die mense gelowig oor hierdie genade van God tot sy eer en tot onderdrukking van alle hoogmoed onderrig. Hulle het ook nie nagelaat om die mense ondertussen deur middel van heilige vermanings uit die evangelie onder die bearbeiding van die Woord, van sakramente en van die kerklike tug te hou nie. Net so moet hulle wat nou in die gemeente onderrig gee, of die wat onderrig ontvang, hulle ook nie aanmatig om God te versoek deur die dinge te skei wat Hy na sy welbehae wou saamvoeg nie. Deur die vermanings word die genade immers gegee en hoe gewilliger ons ons amp uitoefen des te heerliker word die weldaad wat God in ons werk openbaar. So vorder God se werk op die allerbeste manier. Aan dié God alleen kom al die heerlikheid van die middele sowel as van die heilsame vrug en die krag daarvan tot in ewigheid toe. Amen.
Tema: Heilige Gees se belangrike gereedskap
Ons het nou al bely van die kragtige werk wat God doen wanneer Hy ‘n mens tot bekering in die geloof bring. Nou gaan ons kyk na die weg waarlangs die Heilige Gees hierdie werk doen. Byvoorbeeld ons natuurlike lewe, die almagtige God weet wat nodig is om ons natuurlike lewe te onderhou en watter gereedskap die Heilige Gees nodig het om dit te doen. In sy oneindige wysheid gebruik God dan juis sy krag om sy goedheid sigbaar en meer bekend te hou deur ons aan die heilige lewe te hou.
Net so is dit ook wanneer God sy bonatuurlike werking doen om ‘n mens weergebore te laat word. Die Heilige Gees is by magte om sonder enige iets weergeboorte te skenk aan ‘n mens. Maar in Sy oneindige wysheid wil Hy juis die evangelie gebruik. Daarom is die evangelie die saad van die weergeboorte en die voedsel vir die siel.
Die apostels en leraars het gelowig die mense onderrig oor die genade wat die Here gee wanneer Hy sy Woord aan hulle gee. Hierdie onderrig is tot eer van God en om die hoogmoed van die mens te onderdruk. Niemand, ongeag sy stand of status is te goed om die Woord van die Here te hoor nie. Dit is immers die middel waardeur die Heilige Gees weergeboorte wil skenk. Verder het die apostels en die leraars die mens met heilige vermanings gelei om onder die bediening van die Woord, sakramente en kerklike tug te bly. Al drie hierdie bedienings is die bedienings van een en dieselfde evangelie van Jesus Christus. So wil God die siele van die gelowiges voed.
Diegene wat tans in die gemeente onderrig gee en onderrig ontvang moenie die Here se werk en die middele waardeur Hy hierdie werk wil doen van mekaar skei nie. Na Sy welbehae het Hy dit saamgevoeg en so moet dit dan ook bly. Dit is immers met die onderrig uit die Woord wat gelowiges die genade van die Here ontvang. En hoe gewilliger gelowiges hulle gelowige roepings dade uitoefen, hoe duideliker word die weldaad van God in hulle lewens.
Wanneer die evangelie bedien word in prediking, sakramente en kerklike tug vorder God se werk op die allerbeste manier, want dan word die middele gebruik waardeur die Heilige Gees in die lewens van mense wil werk. Die heerlikheid van die middele, die heilsame vrug daarvan en die krag daarvan is alleen die Here se werk. Hy het juis behae daarin om met sy Woord in ons te werk. Daarom kom alle eer net aan Hom toe tot in ewigheid.
DIE VOLHARDING VAN DIE HEILIGES
Hoofstuk 5, Artikel 1
5:1 Hulle wat God volgens sy voorneme tot die gemeenskap van sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur die Heilige Gees wederbaar, verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van die sonde. Tog verlos Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle bedorwe natuur en bestaan nie.
Tema: Verloste mens is ʼn strydende mens
Die wedergeboorte wat hier genoem word, is die afsterwe van ons slawerny aan die sonde. Ons sterf saam met Jesus Christus en word saam met Hom opgewek in ‘n nuwe lewe van lig en ‘n kragtige wil om God te dien deur die krag van die Heilige Gees in ons. Verlos van die heerskappy en die slawerny van die sonde. Nou deur genade word die mens gedryf deur God om te glo in die genade van die Evangelie van Jesus Christus wat ons verlos van al ons sondes en dan deur die genade wat ons ontvang het glo ons nou en word bekeer.
Beteken dit dan nou dat ons volmaak is en vry is van alle sonde en kan terugsit en wag tot die oordeelsdag? Nee! Beslis nie. Die mens is nou geroep deur God, wedergebore deur die Heilige Gees, verlos deur die Seun van God. Ons behoort nou aan God deur onse Here Jesus Christus. Maar! In hierdie lewe – solank ons as gelowiges nog hier op aarde lewe het God ons nog nie vry gemaak van ons bedorwe, aardse natuur, sondige begeertes en oorerflike sondige natuur nie – ontvang en gebore in sonde. Ons is dus nog nie sondeloos nie, nog nie heeltemal nuut en heilig van geboorte tot sterwe nie! Maar nou sal ons vra waarom? Die mens is heeltemal en volkome heilig geskape. Dit is nou totdat die val van die mens gekom het deur die ingewing van die duiwel. Toe het die mens hom losgeskeur van God en alle duisternis, verdorwenheid en onsuiwerheid oor sy hele gesindheid laat kom het. Net soos die mens ná die val was, so ook is die kinders wat hy voortgebring het.
Volgens die oordeel van God het die verdorwenheid dus oor die mens en sy hele nageslag gekom. Alle mense word dus in sonde ontvang en gebore en as kinders van die toorn gebore – slawe van die sonde. Dit is dan tot die Heilige Gees die wedergeboorte skenk en hulle dan wil terugkeer na God en hulle bedorwe natuur verbeter en oorkom. Dit is dat wanneer ons sterf saam met Jesus Christus en saam met Hom opstaan in ‘n nuwe lewe van lig en wil om Hom met alles in ons te dien. Maar hierdie sondige natuur en aardse begeertes kleef nog aan ons en dit is hier waar – soos Paulus sê “die goeie wat ek wil doen, dit doen ek nie, en die slegte wat ek nie wil nie, dit doen ek” – ons stryd teen ons sondige natuur begin. Dit gaan aan vir ons hele aardse natuur. Ons moet dus die hele wapenuitrusting aantrek en teen ons eie natuur, die aardse begeertes, die sonde van die wêreld en satan veg met die hulp van die Heilige Gees wat in ons leef. Ons is deur Christus wat alle sonde en die satan met al sy bose engele en bose gees oorwin het met sy opstanding nou nie meer slawe van die sonde nie. So dit kan gedoen word, ons kan God se wil en al sy gebooie nou nakom. Die krag van die Heilige Gees is in ons so ons kan ons hele lewe in daad, woord en denke aan God gee, nie om ‘n plek in die ewige lewe in die heerlikheid te bekom nie, maar om ons dankbaarheid aan God sigbaar te toon vir al Sy genade. Kom ons doen dit dan.
Hoofstuk 5, Artikel 2
5:2 Hieruit ontstaan die daaglikse sondes van swakheid; en selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig. Daarom moet hulle hulle voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die bedorwe natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige beoefening van godvresendheid en vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang, totdat hulle, losgemaak van hierdie sterflike liggaam, met die Lam van God in die hemel regeer.
Tema: Doel van die gelowige se bedorwe natuur en bestaan
Ons het artikel 1 afgesluit met die belydenis dat God die gelowiges in hierdie lewe nie heeltemal van hulle bedorwe natuur en bestaan verlos het nie. Dit is uit hierdie bedorwe natuur en bestaan van die gelowiges wat hulle daaglikse sondes van swakheid ontstaan. Die bedorwe natuur en bestaan van die gelowiges het so ‘n geweldige invloed op hulle dat selfs die allerbeste werke en heiligste wil van die heiliges nog gebrekkig is.
“Daarom moet hulle hulle voortdurend voor God verootmoedig, ….”
Die Here maak gebruik van ons swakheid om ons nederig voor Hom te hou, maar vernedering en kwelling van die gelowige se gemoed is nie die eindpunt van die Here se werk met die verloste mens nie. Daarom bely ons dat die gelowige wat homself oor sy sonde voor die Here verneder sy toevlug tot Christus neem. In sy vernedering neem die gelowige dus toevlug tot die gekruisigde Christus. Jesus Christus is die een wat die versoening tussen God en die gelowige bewerk het, en steeds doen, deur die Heilige Gees wat die gelowige langs die weg van vernedering terug lei na die gekruisigde Christus.
Omdat ons nog so maklik sondes van swakheid begaan, weet ons dat ons nooit eers in hierdie lewe volmaakte geregtigheid sal bereik nie; dit is alleen Christus se geregtigheid en heiligheid wat goed genoeg is vir die Vader. Wanneer die gelowige dan sy toevlug tot Christus neem, smeek hy die Vader om hom nog meer met die geregtigheid van Christus te beklee.
God se doel met die oorblywende sondige natuur in die gelowige is dat hy deur die Gees van die gebed en heilige beoefening van geloof handelinge die bedorwe natuur in hom hoe langer hoe meer sal doodmaak.
Die enigste manier waarop die Here ons toerus om oorwinning te verkry oor ons sondige natuur is deur gebed. Ons bid aanhoudend dat die Heilige Gees ons sal versterk sodat ons nie uit swakheid weer toegee aan die bedorwe natuur nie. Verder word ons versterk deur die Woord van die Here.
Daarom moet ons vlug van die sonde en van die plekke en dinge af wat ons weet ons kan verlei om weer sondes van swakheid te doen. En intussen bly ons verlang na daardie dag wanneer ons ook die volmaaktheid kan bereik en losgemaak van hierdie bedorwe natuur met die Lam van God in die hemel regeer.
Hoofstuk 5, Artikel 3
5:3 Vanweë hierdie oorblyfsels van die inwonende sonde en ook vanweë die aanvalle van die wêreld en die Satan kan die bekeerdes nie in hierdie genade volhard as hulle aan hulle eie kragte oorgelaat was nie. Maar God is getrou. Uit barmhartigheid bekragtig Hy hulle in die genade wat eenmaal aan hulle gegee is terwyl Hy hulle ook tot die einde kragtig daar-in bewaar.
Tema: Bekeerdes is nooit alleen in die geloofstryd
Ons is nou onder die indruk dat omdat die Heilige Gees ons wedergebore het en ons bekeer is, kan ons nou ons lewens aan die voete van God neerlê om absoluut net vir Hom te lewe deur gebed en geloof wat deur die Heilige Gees in ons bewerk word deur genade. Ons is dus nou heilig en kan met die krag wat ons het volhard en die aardse sonde en begeertes oorwin en satan se aanslae oorkom en God vrylik dien tot die einde.
Nee! Daar is nog oorblyfsels van die sondige natuur wat ons probeer verlei en ons as bekeerdes – maak nie saak hoe sterk ons geloof is nie – kan nie in hierdie genade volhard op ons eie krag nie, al het God ons deur die Heilige Gees wedergebore en bekeer. Ons is nog nie volmaak nie. Hierdie inwonende sonde sal nooit in hierdie lewe geheel en al afsterwe nie, so ons het definitief hulp nodig vir ons hele lewe – van wie?
God is steeds besig om die bekeerdes van hulle bedorwe natuur en bestaan uit barmhartigheid te bekragtig en te verlos – end uit. Uit genade sal ons nooit alleen en op eie krag, in die stryd staan nie.
God die Vader het die wedergeboorte aan ons geskenk uit genade tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Jesus het eers gesterf aan die kruis en al ons sondes het saam met Hom gesterf. Hy het die krag wat die sonde oor ons het ook saam met Hom laat sterf – Hy het alle krag en mag van die sonde en die doderyk oorwin deur sy opstanding. Ons het saam met Hom opgestaan in ‘n nuwe lewe van lig, al ons sondes uit genade weggeneem. Hy heers dus ook oor ons sondige natuur wat tot die dood lei en gee ons krag om daarteen te veg. Hy is nou in ons met die Heilige Gees en gee ons krag oor ons sondige natuur tot die laaste dag.
Vir ons wat weet hoe swak ons is en weet hoe gereeld ons in die sonde struikel, bied hierdie woorde vertroosting en bemoediging. Moet nooit twyfel aan die Here se volgehoue werk aan jou en sy bewaring van jou nie. Hy weet jy is swak en Hy weet dat jy sal struikel maar Hy bly getrou aan Homself. Hy sal elke gelowige bewaar sodat hy nooit deur sy sonde uit die genade van God val nie. As ons dus struikel moet ons net opstaan en ons sondes voor God bely en smeek om vergifnis. Hierdie sondes is reeds deur Jesus Christus weggeneem en verlos.
Dus, omdat die bekeerde nie alleen staande kan bly in die geloof nie, bekragtig God die bekeerdes in die genade en bewaar hy hulle kragtig tot die einde toe.
Lewe voort in die genade van God en die krag van onse Here.
Vertrou Hom, En leef vir Hom, Prys die Here!!
Hoofstuk 5, Artikel 4
5:4 Die mag van God waardeur Hy die ware gelowiges in die genade bekragtig en bewaar, is so groot dat dit nie deur die sondige natuur oorwin kan word nie. Tog word die bekeerdes nie altyd so deur God gelei en beweeg dat hulle – deur hulle eie skuld – in sommige besondere gevalle nie van die leiding van die genade sou afwyk en deur die begeerlikhede van die sondige natuur verlei kan word en dit navolg nie. Daarom moet hulle voortdurend waak en bid om nie in versoekings gelei te word nie. As hulle dit nie doen nie, kan hulle deur die sondige natuur, die wêreld en Satan tot swaar en gruwelike sondes verlei word. Soms word hulle ook inderdaad onder die regverdige toelating van God, daartoe verlei. Die droewige val van Dawid, Petrus en ander heiliges wat vir ons in die heilige Skrif beskryf is, bewys dit.
Tema: Waak en bid
Ons bely en besef nou dat die bekeerde mens steeds te swak is om alleen in die geloof staande te kan bly teen die aanslae wat kom van sy eie sondige natuur, van die wêreld en van die duiwel. Omdat die bekeerde nie alleen staande kan bly in die geloof nie, bekragtig God die bekeerdes in die genade en bewaar Hy hulle kragtig tot die einde toe.
God se bekragtiging en bewaring van die gelowige is uit genade nie deur die sonde of deur die sondige natuur God se bewaringswerk kan breek of oorwin nie. Dit sal ons ook nooit uit die bewaringshand van God kan ruk nie!
Maar nou gebeur dit dat bekeerde gelowiges ook dikwels sondig. Beteken dit dat God hulle nie bewaar het nie? Nee, ons moet onthou dat God nie die bekeerdes se vrye wil en vrye verstand weggevat het nie. Ons kan nog self besluit ons het nie God se hulp nodig om ons sondige natuur te beheer nie en dan gebeur dit, ons luister na die wêreld en ons sondige natuur en ons volg dit en sondig. Dan moet die gelowiges besef dat God se bewaring en bekragtig so groot is en dat ons dit waarlik nodig het omdat ons nie sterk genoeg is om dit self te doen nie.
Ons moet ook baie goed besef dat die verleidinge wat oor ons weg kom, nie van God af kom nie. God verlei niemand nie! Ons bid dan “lei ons nie in die versoeking nie…” Maar God gee satan die permissie om ons te verlei, want daardeur kan Hy die moedswillige en swak gelowige bekeerdes laat besef dat hulle Hom nodig het.
Ons moet ook besef dat in hierdie proses het ons ook ‘n verantwoordelikheid. Ons moet voortdurende waak en bid om nie in die versoekinge gelei te word nie. Ons moet bid tot die Gees om ons te help om die versoeking te herken en ons die krag sal gee om hulle te vermy en vir ons uitkoms te gee.
Wanneer daar dan verleidings op die bekeerde se pad kom, moet hy daarteen waak en bid om dit deur die krag van Christus te oorwin. God se doel met die verleidings is immers om die bekeerde te leer om in die krag van die Heilige Gees te lewe en te oorwin.
Aan die hand van ons belydenis het elke ware gelowige dus die versekering dat God hom beslis veilig sal bewaar sodat hy saam met die ander ware gelowiges veilig in die ewige koninkryk van God kan ingaan.
Daaroor loof en prys ons die Here.
Hoofstuk 5, Artikel 5
5:5 Met sulke growwe sondes vertoorn hulle God vreeslik, verdien hulle die dood, bedroef hulle die Heilige Gees, versteur hulle die oefening in die geloof, verwond hulle die gewete baie ernstig en verloor hulle soms ʼn tyd lank die besef van die genade. Dit gebeur totdat God weer die lig van sy vaderlike aangesig oor hulle laat skyn wanneer hulle deur opregte berou op die regte pad terugkeer.
Tema: Sondes van swakheid vertoorn God
Ons het sover geleer hoe troosryk God se genade is. Hy het die uitverkore gelowiges van die heerskappy en slawerny van die sonde verlos. Maar in hierdie lewe het God hulle nog nie heeltemal van hulle bedorwe natuur verlos nie: dit is die kanker waarmee alle gelowiges nog rondloop.
Maar die Here se genade is oneindig groot, ook oneindig groot in diepte. Hierdie bedorwe natuur is wel die oorsaak van die daaglikse sondes van swakheid wat die uitverkorenes nog doen. Tog gebruik die Here juis die oorblywende sonde om die uitverkorenes nog hegter aan Homself te bind. Deur die kragtige werking van die Heilige Gees word die uitverkorenes gelei om hulle eie verantwoordelikheid te aanvaar: Hulle verootmoedig (verneder) hulle voor God, hulle neem hulle toevlug tot die gekruisigde Christus en deur die Gees van gebed en met die beoefening van heilige godvresenheid maak hulle die sondige natuur hoe langer hoe meer dood. Dus verlos die Here die uitverkorenes dwarsdeur hulle lewe ook van die verborge natuur wanneer die Heilige Gees hulle in hulle verantwoordelikheid lei.
Dit is egter nie al genade wat die uitverkorenes van God in hierdie lewe ontvang nie. Saam met die kragtige werking van die Heilige Gees bekragtig Hy die uitverkorenes ook nog in die genade en bewaar Hy hulle self ook getrou tot die einde toe. Die Here sal beslis nie dat ‘n sonde – maak nie saak hoe groot dit is – Hom keer om met die mens met wie Hy begin het ooit op te hou nie. Die werk waarmee God begin het in ‘n mens maak Hy enduit klaar.
Oor hierdie genade van die Here moet gelowiges dankbaar en nederig voor Hom neerbuig.
Nou bely ons wat die gevolge van hierdie is wat uitverkorenes uit swakheid en onverskilligheid doen. Die gevolge teenoor God a.g.v. hierdie sondes is dat die uitverkorenes God vertoorn en die Heilige Gees bedroef. Die uitverkorenes self dra ook ernstige gevolge; met hulle sonde verdien hulle die dood, hulle versteur die beoefening van die geloof, hulle verwond hulle gewete baie (voel nie skuldig nie) ernstig en hulle verloor soms ‘n tyd lank die besef van die genade.
Oor die uitverkorenes bly God egter konstant genadig. Hierdie verskriklike gevolge van die sonde duur voort totdat God weer die lig van sy Vaderlike aangesig aan die uitverkorenes laat skyn omdat die Heilige Gees hom kragtig tot opregte berou en bekering gelei het.
Oor hierdie genade van die Here kan gelowiges net dankbaar en nederig in aanbidding voor Hom neerbuig.
Hoofstuk 5, Artikel 6
5:6 God wat oneindig barmhartig is, neem, weens die onveranderlike besluit van die uit-verkiesing sy Heilige Gees nie heeltemal van sy eiendom weg nie, selfs nie in hulle jammerlike sondeval nie. Hy laat hulle ook nie só diep val dat hulle uit die genade van die aanneming en uit die staat van regverdiging uitval nie. Ook laat Hy nie toe dat hulle die sonde tot die dood of teen die Heilige Gees begaan en, heeltemal deur Hom verlaat, hulleself in die ewige verderf stort nie.
Tema:
Ons as gelowige uitverkorenes het mos nou al geoefen in die geloof en gebid tot die Heilige Gees om ons te help groei tot gelowige volwassenes, sterk in die geloof. Dit is ‘n baie goeie ding maar die menslike natuur waarvan daar nog altyd so bietjie oorbly, vang ons altyd omkant en dan lei dit ons tot sondes en bevrediging van ons aardse begeertes. Ons dink dan mos ons is sterk genoeg om op ons eie voete te staan deur beproewing, ons het nie altyd God se hulp en bewaring nodig nie. Ons het in vorige artikels gesien wat kom dan. God kom altyd tot ons redding, maak nie saak hoe grof ons sondes is nie. Uit genade.
Nou bely ons nie maar net dat God genadig is nie, ons bely nou van die diepte van God se genade en barmhartigheid. Vir sy gevalle kind. Ons staan stomgeslaan deur die grootheid van God se liefde en genade vir ons, wat in die sonde geval het.
Ons het al almal soos vroeër genoem, so bietjie afgedwaal van God se weg. Dan bevind ons onsself in groot en growwe sondes. So karring ons dan maar aan tot ons onsself in ‘n slegte beproewing bevind en besef wat ‘n afskuwelike ding ons gedoen het teen ons liefdevolle Vader. Ons voel heeltemal alleen, hulpeloos en naak, soos Adam en Eva in die Tuin. Ons weet en glo vas dat onse Here Jesus Christus gesterf het vir al ons sondes, maar ons kan nie anders as om te voel dat, met hierdie sonde, het ons die grens oortree, dit is te groot en afskuwelik. Ons voel so ver van God. Het Hy ons verlaat en vergeet van ons. Kom ons gebede nog by Hom uit?
Dit is dan wat ons moet onthou: Geen sonde is groot of sterk genoeg om ons uit God se hand te ruk nie. Al voel ons so, God sal ons nooit verlaat nie. Hy beloof dan ook dat as ons met opregte berou op ons knieë gaan en bid vir vergifnis en terugkeer na sy pad sal Hy weer sy Vaderlike aangesig oor ons laat skyn tot die einde toe.
Kom ons kyk na hoe groot God se genade en barmhartigheid is:
- Hy neem sy Heilige Gees nie heeltemal weg van ons nie
- Hy laat ons nie so diep val dat ons uit die genade uitval nie
- Hy laat ons ook nie uit die staat van regverdiging uitval nie
- Hy laat nie toe dat ons teen die Heilige Gees sondig nie.
Al hierdie doen die Here met sy kind selfs in sy jammerlike sondeval. Selfs wanneer ons dink dat die Here ons nou geheel en al gelos het, hou die Here ons nog styf en met groot liefde vas. Hoekom? Omdat Hy oneindig barmhartig is en Sy ewige besluit om hierdie mens uit te verkies is onveranderlik.
Hoofstuk 5, Artikel 7
5:7 Wanneer hulle so in die sonde val, bewaar God eerstens in hulle sy onverganklike saad waaruit hulle wedergebore is, sodat dit nie vergaan of vernietig word nie. Ten tweede vernuwe Hy hulle deur sy Woord en Gees seker en kragtig tot berou. Die gevolg is dat hulle oor die sondes wat hulle gedoen het van harte en volgens die wil van God berou het en deur die geloof, met ʼn gebroke hart, vergifnis in die bloed van die Middelaar begeer en verkry. So besef hulle weer die genade van God wat nou met hulle versoen is; deur die geloof in Hom eerbiedig hulle sy ontferming om daarna met groter ywer hulle eie heil met vrees en bewing uit te werk.
Tema: God sorg vir bekering van gevalle gelowiges vir Homself
In die voorafgaande artikels bely ons dat uitverkorenes nog in hierdie lewe swak is a.g.v. die sondige natuur waarvan hulle nog nie heeltemal verlos is nie. Dit is vanweë hierdie sondige natuur dat verloste mense nog steeds sondes uit swakheid doen.
Ondanks hierdie sondes bewaar die Here sy uitverkorenes – wat ‘n onveranderlike besluit is – en Hy hou hulle vas in hulle sondeval. Hy het hulle uitverkies deur die geloof in Christus het Hy hulle geregverdig, en daarom sal die Heilige Gees aanhou om hulle heilig te maak sodat hulle uiteindelik die ewige lewe in volheid ontvang.
Wanneer hulle so in sonde verval is dit hoe God Hom oor hulle ontferm:
Heel eerste bewaar God sy onverganklike saad waaruit die gelowige wedergebore is. Hierdie onverganklike saad van God is sy ewig lewende Woord. Die Woord van die Here kan nie vergaan of vernietig word nie, want God hou self sy woord in stand. Selfs binne in sy kind wat in sonde verval het, bewaar God sy Woord sodat dit nie deur die gelowige se sonde vernietig kan word nie.
Op sy bestemde tyd vernuwe God sy kind wat in sonde geval het deur sy Gees en Woord. Die Heilige Gees lei die gevalle gelowige met die Woord wat al op sy hartstafel geskryf is en met die verkondigde Woord sodat hy self sy eie misdaad kan besef en berou kry oor sy sonde. Gevolglik het die gelowige van harte berou oor sy sonde volgens God se wil, en deur die geloof kom smeek hy met ‘n gebroke hart om vergifnis in die bloed van Christus, en kry dit.
Omdat die Heilige Gees die gelowige oortuig dat God sy sonde vergewe het, besef hy weer hoe groot God se genade is en deur die geloof het hy eerbied vir God se genade. Deur hierdie besef van die grootheid van God se genade wil die gelowige weer in navolging van die Heilige Gees met groter ywer sy verantwoordelikheid nakom deur in die voetspore van Jesus Christus te volg om God te dien.
Hoofstuk 5, Artikel 8
5:8 Dat hulle nie heeltemal uit die geloof en die genade uitval of ook tot die einde in die sonde bly of verlore gaan nie, verkry hulle nie deur hulle eie verdienste of inspanning nie, maar weens die genadige barmhartigheid van God. As dit van hulle afgehang het, kon dit nie alleen maklik gebeur het nie, maar sou dit ongetwyfeld ook gebeur het. Maar omdat dit van God afhang, kan dit glad nie gebeur nie. Immers, sy raad kan nie verander, sy belofte kan nie verbreek, die roeping na sy voorneme kan nie herroep, die verdienste, voorbidding en bewaring van Christus kan nie kragteloos gemaak word nie, net so min as wat die verseëling deur die Heilige Gees verydel of vernietig kan word.
Tema: Belofte van God se ontferming
In artikel 6 bely ons wat God in en met Sy kind doen as hy in diepe sonde verval. Hy neem nie sy Heilige Gees van hom af weg nie en Hy laat hom nie uit die genade en uit die staat van regverdiging val nie! Hy laat ook nie toe dat hulle sonde teen die Heilige Gees begaan nie.
Die ware gelowige val ook nie uit die geloof nie, alhoewel hulle “oefening” in die geloof versteur word deur die sonde en hulle ‘n tyd lank die besef van die genade verloor. In sy sondeval voel dit vir die gelowige of hy nie meer in die geloof en genade is nie. Ware gelowiges bly egter nie tot die einde in die sonde en gaan verlore nie. Dit gebeur egter nie omdat die gelowige homself so inspan en deur eie krag terugkeer tot ware geloof en berou nie maar omdat God se barmhartigheid so groot is en Hy die gelowige terugroep na Hom, deurdat Hy die kind vernuwe deur sy Woord en Gees sodat sy kind met opregte berou terugkeer na Hom deur die bloed van Jesus Christus.
In Artikel 3 het ons bely hoe swak die ware gelowige steeds is in hierdie lewe. Weens die aanvalle van die wêreld en satan en die oorblywende sondige natuur kan bekeerdes nie in die genade volhard as die Here hulle aan hulle eie kragte oorlaat nie. As Hy het sou hulle ongetwyfeld uit die geloof en genade geval het, in die sonde bly lê het en verlore gaan. Maar omdat dit van God afhang, is dit onmoontlik dat ‘n ware gelowige uit die genade kan val en verlore gaan.
Om aan die gelowige versekering te gee dat hy regtig nie vanweë sy sondes uit die geloof en die genade geval het nie, en dat hy nie verlore sal gaan nie, maak die Here hierdie belofte:
“Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die Here, jou Ontfermer.” (Jesaja 54:10 AFR53)
In hierdie artikel bely ons nou waarom die ware gelowige nie heeltemal uit die genade kan val en verlore gaan nie. Ons Drie-enige God se onveranderlike en onvernietigbare werk:
- God die Vader se raad kan nie verander, sy beloftes kan nie verbreek en die roeping na sy voorneme kan nie herroep word nie
- Die verdienste, voorbidding en bewaring van Christus kan nie kragteloos gemaak word nie
- Die versekering deur die Heilige Gees kan nie verydel of vernietig word nie.
Ons kan die troue werk van ons Drie-enige God saamvat met hierdie woorde:
“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Rom 8: 38-39 AFR83)
In Christus het God Homself daartoe verbind om sy uitverkorenes lief te hê, om getrou aan hulle te wees en om ewige barmhartig teenoor hulle te wees. Daarom kan elke ware gelowige verseker weet dat God nie sal toelaat dat hy uit die geloof en genade uitval nie.
Hoofstuk 5, Artikel 9
5:9 Die gelowiges kan sekerheid hê van hierdie bewaring van die uitverkorenes tot die saligheid en van die volharding van die ware gelowiges in die geloof. Hulle het hieroor sekerheid volgens die maat van die geloof waarmee hulle seker glo dat hulle ware en lewende lidmate van die kerk is en altyd sal bly en dat hulle vergifnis van sondes en die ewige lewe het.
Tema: Gelowiges kan volhard
As ons saamvat wat ons sover bely het begin ons by die weerloosheid van die gelowiges en dat God selfs te middel van hierdie aanhoudende struikeling van die gelowiges nooit ophou om sy uitverkore kinders vas te hou nie. Die klem val op die swakheid van die gelowiges, die krag en genade van God en daarom ook die sekerheid en veiligheid van die gelowiges in God se Hand. Hierdie werklikheid kan nooit verander nie want dit kom van God.
Nou in artikel 9 kom ons by hoe die gelowige hierdie werklikheid en waarheid beleef van dag tot dag? Die gelowige mag dus weet dat God sy uitverkorenes altyd veilig sal hou, want dit staan so in die Woord van God. Tog is die gelowige menslik en voel hy nie elke dag veilig nie en soms is daar twyfel en vrae. Nou gaan ons fokus op die gelowige se reaksie op die rykdom van die evangeliese
waarheid van die eerste 8 artikels.
Ons begin nou om te sê dat die gelowige seker kan wees van die bewaring van die uitverkorenes en seker kan wees van sy volharding in die geloof. Die gelowige is seker volgens die maat van die geloof waarmee hy die beloftes van die evangelie aangryp.
Jesus sê in Johannes 10 vers 27-28 (AFR53):
“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
Paulus sê in Rom 8 vers 38-39 (AFR53):
“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”
En Paulus sê in 2 Timoteus 4 vers 7-8, 18 (AFR53):
“ Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het. En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.”
Dit is oor hierdie vaste en onwankelbare beloftes van die Here dat ons kan bely: Die gelowiges kan sekerheid hê van hierdie bewaring van die uitverkorenes tot die saligheid en van die volharding van die ware gelowiges in die geloof.
En die geloof, wat behels dit?
Definisie: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om
oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”
(Hebr 11:1 AFR83)
Geloof is ‘n krag:
- Wat ons dryf om goeie werke te doen: Dade, sigbare dade. ‘n Leefwyse wat getuig van ons Christenskap en diens en lof aan God
- Wat ons dryf om te volhard: die saligheid en volharding van die uitverkorenes in ware geloof in die evangelie dat God ons verlos en red tot sy hemelse koninkryk
- Wat ons in die toekoms laat inkyk met hoop: hoop is vaste vertroue en geloof in die liefde van God in onse Here Jesus Christus
- Wat ons die onsienlike laat sien: Die groot barmhartigheid en genade van God wat ons, uitverkorenes, bewaar en vashou tot in die ewige lewe in Sy verheerlike koninkryk, sy kinders by Hom.
Glo, hoop en vertrou.
Mag die Heilige Gees elkeen van ons oor sy verlossing en ewige lewe met geloof en gebed vasgryp aan die Here se beloftes – bo alles aan sy onfeilbare liefde wat Hy in Jesus Christus se offering, ten toon gestel het!
Hoofstuk 5, Artikel 10
5:10 Hierdie sekerheid spruit dus nie voort uit enige besondere openbaring wat sonder of buite die Woord plaasgevind het nie, maar uit die geloof aan die beloftes van God wat Hy in sy Woord baie oorvloedig tot ons troos geopenbaar het; uit die getuienis van die Heilige Gees: Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename (Rom 8:16-17), en laastens uit die ernstige en heilige strewe na ʼn goeie gewete en goeie werke. As die uitverkorenes van God in hierdie wêreld nie hierdie vaste troos het dat hulle die oorwinning sal behou en hierdie onfeilbare pand van die ewige heerlikheid sou besit nie, sou hulle die ellendigste van alle mense wees.
Tema: Sekerheid vir die gelowige se volharding
Soos in Artikel 9 bely ons hier in Artikel 10 hoe die gelowige seker kan wees dat God hom tot die saligheid sal bewaar en dat hy in geloof sal kan volhard. In Artikel 9 bely ons dat die gelowige sekerheid het volgens die maat van die geloof waarmee hy seker glo dat hy vergifnis van sondes ontvang het en die ewige lewe het.
In Artikel 10 bely ons steeds die ware geloof teenoor die dwaling wat verkondig word en sê dat die gelowige net sekerheid kan kry deur ‘n besondere “openbaring” wat sonder of buite die Woord plaasvind.
Ons bely uitdruklik dat dit nie die geval is nie. Eerstens kry die gelowige sekerheid uit die geloof aan die beloftes van God. Daar is baie oorvloedige beloftes van die Here in sy Woord opgeteken en dit is tot troos van die gelowige geopenbaar. Hierdie beloftes van die Here trek saam in die versoeningswerk van Jesus Christus. Dit is immers deur Jesus Christus se offer aan die kruis dat ‘n gelowige ‘n ware en ‘n lewende lid van Christus se kerk is en bly. Dit is slegs op grond van Christus se offer dat ‘n gelowige vergifnis van sondes en die ewige lewe verkry.
Verder kry die gelowige ook sekerheid uit die getuienis van die Heilige Gees. Die Heilige Gees getuig immers aan die gelowige se gees dat hy ‘n kind van God is.
Deur hierdie beloftes van God en die getuienis van die Heilige Gees kom daar in die gelowige ‘n ernstige en heilige strewe na ‘n goeie gewete en goeie werke. Omdat die Heilige Gees die gelowige van die Here se beloftes oortuig en die Gees self getuig dat die gelowige ‘n kind van God is, wil hy met alles wat hy is en het so lewe dat hy God kan dank en met sy hele wese verheerlik. Kom ons kyk hoe som Paulus dit op in Romeine:
- “Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” (Romeine 8:15 AFR53)
God neem die mens aan as sy kind, en omdat Jesus Christus hierdie mens met sy kosbare bloed losgekoop het, is hy nie meer ‘n slaaf van die sonde en die duiwel nie. God neem hom nou aan as sy eie kind. Jy is nou ten volle ‘n kind van God, ‘n Christen, en die Heilige Gees laat jou uitroep tot God: Abba, Vader!
- Hierdie sekerheid spruit uit die getuienis van die Heilige Gees:
“Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename” (Romeine 8: 16-17a AFR83).
Dit is so dat jy nou met jou mond en in jou gedagtes en gebede God as jou Vader aanspreek – so verseker die Heilige Gees die gelowige. Maar, Hy het dit in jou gewerk om God so aan te roep. Daarom getuig Hy saam met jou gees dat jy regtig ‘n kind van God is.
Die Heilige Gees het jou ook gelei om opreg jou sonde voor God te bely en jou toevlug te neem tot die gekruisigde Christus. “Daar is nou geen veroordeling meer vir hulle wat in Christus is nie.” Die Heilige Gees bekragtig met die vaste beloftes van God dat jy werklik kind van God is. En ‘n erfgenaam – ‘n erfgenaam van die ewige lewe.
- Hierdie sekerheid spruit uit die ernstige en heilige strewe na ‘n goeie gewete en goeie werke:
“Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.” (Romeine 8: 14 AFR53)
As jy daartoe kom om jou skuld voor die Here te erken en te bely, en met opregte berou in Christus vergifnis van sonde smeek, het dit gebeur omdat die Heilige Gees jou daartoe gelei het. Omdat Hy jou gewillig en gehoorsaam maak, buig jy jou voor Hom neer en volg Hom deur jou skuld te erken en te bely. Deur die Heilige Gees aangevuur het jy dan ‘n ernstige en ‘n heilige strewe na ‘n goeie gewete – ‘n gewete wat skoon van skuld is. Wie met opregte berou vergifnis smeek in die bloed van Christus kry dit ook. En met hierdie genade van God lei die Heilige Gees die gelowige om ook te strewe na goeie werke. Goeie werke is werke wat uit ‘n ware geloof volgens die wet van God tot Sy eer gedoen word. Dit wil sê, dit is ‘n gehoorsame lewe aan die Here.
Gelowiges wat nou nog twyfel, is soos Jakobus sê: “soos ‘n brander in die see wat deur die wind heen en weer gedryf word en niks bereik nie.” Sulke mense sal niks van die Here ontvang nie! Uitverkorenes weet, deur die geloof, die vaste beloftes van God, in Sy Woord, die Heilige Gees en die getuienis en navolging van die Heilige Gees dat hy verlos is, ’n kind van God is en sal bly, en dat hy bewaar sal word en vas sal staan in God se hand tot die saligheid, en reeds ‘n plek het in die ewige heerlikheid van God en die ewige lewe.
Hoofstuk 5, Artikel 11
5:11 Voorts getuig die Skrif dat die gelowiges in hierdie lewe teen verskillende sondige vertwyfelings stry, en as hulle in ernstige versoekings kom, nie altyd hierdie volle geloofsvertroue en hierdie sekerheid van die volharding ondervind nie. Maar God die Vader van alle vertroosting laat nie toe dat hulle bo hulle kragte versoek word nie, maar gee saam met die versoeking ook die uitkoms (1 Kor 10:13), en deur die Heilige Gees maak Hy steeds weer die sekerheid van die volharding in hulle wakker.
Tema: Stry teen sondige vertwyfelings
In Artikel 9 en 10 bely ons dat gelowiges seker kan wees dat God hulle tot die saligheid sal bewaar en dat hulle in die geloof sal kan volhard tot die einde toe. Omdat God God is en sy woorde altyd die waarheid, kan ons seker wees dat wanneer Hy sê dat niemand ooit sy kinders uit sy hand sal ruk nie, dan is dit die waarheid. Daarom hoef die gelowige nooit te twyfel nie.
Om hierdie nog vaster te maak wys die Here ons met Sy Woord daarop dat Hy sy kinders nie net in Sy hand vas hou nie maar deur die Heilige Gees is Hy intiem binne-in die gelowige besig sodat hy die geloof kan bly volhard. In Artikel 10 bely ons hoe die Heilige Gees hierdie sekerheid al hoe meer in die gelowige vestig. Hy wys die gelowige voortdurend op die vaste beloftes van God – beloftes wat in Jesus Christus vas en seker is en bly.
Met hierdie vaste bewyse wat die Here self gee oor die sekerheid sou ‘n mens dink dat ‘n gelowige elke dag hierdie sekerheid sou hê en behou. Maar dit is ongelukkig nie die geval nie. In ons belydenis erken ons ook die realiteit van hierdie lewe. Gelowiges word dikwels geteister met versoekings, en dan die onsekerheid – die verskillende sondige vertwyfelings waarteen hulle moet stry. Die Here self getuig in die skrif van gevalle van hierdie vertwyfelings waarmee gelowiges te doen kry.
Die satan het dan self probeer om vir Jesus te versoek. Natuurlik was en is Jesus heeltemal te sterk vir die satan om enige invloed te hê maar dit dryf die satan net om toe te spits op die gelowiges, die kinders van God, om hulle te probeer wegbreek van God. Die satan en sy bose magte is sterker as ‘n mens, maar nie sterker as ‘n ware gelowige mens nie, ‘n kind van God nie. Met sy offer het Jesus al die mag van satan en die sonde oorwin en gebreek. So as kind van God het satan geen mag oor jou nie, maar dit keer hom nie om te probeer nie! Wees gereed! Maar hoe?
Ons praat hierbo van sondige vertwyfelings. Is dit dan sonde om te twyfel? Ja, dit is! God sê in sy Woord: “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. (1 Korintiërs 10:13 AFR83). So as jy dus twyfel, betwyfel jy wat God sê in sy Woord en glo en aanvaar jy nie sy Woord as die waarheid nie. Dit is sonde.
So weet dit: Jy sál versoek word maar jy hoef nie te twyfel nie; Jy mag nie twyfel nie! En hoewel vertwyfeling soms regtig kom, God bly altyd getrou aan Homself en sy Woord. Saam met die versoeking om te twyfel, gee God ook uitkoms. Die Heilige Gees lei die gelowige weer terug na die vaste beloftes van God en verseël dit met die innerlike getuienis dat die gelowige regtig kind van die Here is.
Omdat God getrou is gee hy jou die krag en die uitkoms deur Woord en Gees, sodat jy voorbereid is vir alle versoekings.
Hoofstuk 5, Artikel 12
5:12 Dit is egter totaal onmoontlik dat hierdie sekerheid van die volharding die ware gelowiges hoogmoedige en sorgelose mense sou maak. Dit is daarenteen ʼn ware wortel waaruit nederigheid, kinderlike vrees, ware godsvrug, geduld in alle stryd, vurige gebede, standvastigheid onder die kruis en in die belydenis van die waarheid en blywende vreugde in God spruit. Ook is die oordenking van hierdie weldaad vir hulle ʼn aansporing tot ernstige en aanhoudende beoefening van dankbaarheid en goeie werke, soos uit die getuienisse van die Skrif en die voorbeelde van die heiliges blyk.
Tema: Gelowiges vreemdelinge en bywoners op aarde
Hier in Artikel 12 het ons nou te doen met ‘n dwaalleer van die Remonstrante – ‘n groep dwaalleraars wat afgewyk het van die ware leringe van die Heilige Bybel. Hulle het hulle eie artikels geskryf en dit is daarop wat ons Christelike Gereformeerde Sinode gereageer het en al die artikels wat ons nou bely geskryf het op grond van die vaste waarheid wat net so uit die Heilige Woord van God kom. Hulle artikels berus dus uitsluitlike op die Bybel.
Ons het nou net in Artikel 11 bely dat twyfel verkeerd is dat ons op Gees en Woord moet vertrou om ons krag te gee om vertwyfeling teen te staan. Nou kry ons ‘n dwaalleer groep wat sowaar twyfeling verheerlik. Hulle het gesê dit is selfs lofwaardig om te twyfel of jy regtig verlos is en deur God bewaar sal word tot die saligheid. Pure snert, maar dit gaan voort. Aangesien die volgens die dwaalleer self vir die Here moet kies en self moet volhard in die geloof om uiteindelik uitverkies te wees, is dit beter vir die as daar eintlik nooit sekerheid by die mens kom oor sy verlossing nie. Want sodra die mens sekerheid het oor sy verlossing, gaan hy nie meer ywerig werk aan sy verhouding met die Here nie.
Hierdie dwaalleraars sê dus dat sodra ‘n gelowige verseker weet dat hy verlos is en die ewige lewe het gaan hy onverskillig en roekeloos begin lewe. Hy hoef mos dan niks meer te doen om sy uitverkiesing te verseker nie.
Hierdie dwaling herinner sterk aan die dwaling wat in die Roomse Kerk ook nog aan die werk is. Die Roomse Kerk sê as ‘n mens net deur die geloof geregverdig is, sal die gelowige nie meer goeie werke doen nie. Volgens die Roomse Kerk moet die gelowige goeie werk doen, anders kan hy nie werklik verlos wees nie. As die gelowige egter nie nodig het om goeie werke te doen vir sy verlossing nie gaan hy roekeloos en onverskillig begin lewe (lees Heidelbergse Kategismus, Sondag 24: 64).
Teenoor die dwaling van die Roomse Kerk bely ons dat die mens wat deur die ware geloof in Christus ingeplant is , sal vrugte van dankbaarheid voortbring. En teenoor die dwaling van die Remonstrante sê ons dat ‘n ware gelowige glad nie hoogmoedig en sorgeloos sal word omdat hy seker is van sy volharding in die geloof nie. Dit is eerder die mens wat ligtelik die genade van die geloof vir hulleself toe-eien wat roekeloos en onverskillig lewe (sien Dordtse leerreëls 1:13). Laasgenoemde mense sê maklik dat hulle gelowiges is, maar hulle maak nie erns met ‘n gehoorsame lewe aan die Here nie.
Die sekerheid oor die mens se saligheid en die ewige lewe veroorsaak eerder dat die gelowige nog meer nederig word omdat hy weet dat hy glad nie werd is om die Here se genade te ontvang nie. Hy het ‘n kinderlike vrees vir God, want alhoewel hy nog ‘n sondige aard en sondige neigings het, verseker die Heilige Gees hom voortdurend van God se liefde en genade in Christus. Omdat die Heilige Gees hom oortuig van die Here se liefde vir hom, is die volgende dinge kenmerkend van hom: hy lewe verantwoordelik omdat hy weet dat hy voor die oë van die Here leef, hy is geduldig in al die swaarkry, hy bid vurig, hy is standvastig onder die kruis en in die belydenis van die waarheid en daar is in hom ‘n blywende vreugde in God. ‘n Gelowige wat deur die Here verseker is van sy verlossing en ewige lewe, leef met oortuiging en ywer in diens van die Here.
‘n Mens wat deur Christus verlos is en die Heilige Gees het hom deur ‘n ware geloof in Christus ingelyf, kan mos nie roekeloos en onverskillig lewe nie. Die Heilige Gees dra dan die heiligheid en geregtigheid van Christus in hierdie mense se lewe oor en deur die geloof neem die mens ook die heiligheid en geregtigheid in ontvangs. Deur die Heilige Gees se werk in die mens gaan sy identiteit en lewensstyl op die lang duur al meer en meer ooreenstem met die van Christus.
Hoofstuk 5, Artikel 13
5:13 Wanneer die vertroue in die volharding weer lewendig word in hulle wat uit ʼn val in sonde weer opgerig word, bring dit geen ligsinnigheid of verwaarlosing van die vroomheid nie maar eerder ʼn baie groter besorgdheid om nougeset die paaie van die Here te bewaar. Hierdie paaie is vantevore gemaak. Wanneer hulle daarop loop, behou hulle gevolglik die sekerheid van hulle volharding. ʼn Verdere gevolg is dat die aangesig van die versoende God – waarvan die aanskouing vir die gelowiges soeter as die lewe en die verberging bitterder as die dood is – nie weer weens hulle misbruik van sy vaderlike goedheid van hulle afgewend word en hulle só in swaarder gemoedskwellings verval nie.
Tema: God se genade
Sover in hierdie hoofstuk het ons al agtergekom dat gelowiges nog nie volmaakte mense is nie en nog steeds geneig is om te sondig a.g.v. hulle sondige natuur en menslike swakheid.
Deur hierdie sondes dompel hulle hulleself in bittere gevolge. Hulle vertoorn God en bedroef die Heilige Gees en verdien die dood a.g.v. hulle opstand teenoor die Here. Maar God sal dit natuurlik nie toelaat nie; Sy barmhartigheid is oneindig groot en Sy besluit om hulle uit te verkies is onveranderlik. Daarom bewaar God in hulle sy Woord waaruit hulle wedergebore word en vernuwe Hy hulle deur Sy Woord en Gees. Alhoewel alle gelowiges nog sondig, val hulle nie uit die Here se hand en genade nie.
God sal beslis nie toelaat dat sy kinders wat Hy uitverkies het en wat deur Jesus Christus verlos is en deur die Heilige Gees wedergebore is, van Hom vervreem raak nie. Nie satan nie en ook nie sonde sal die uitverkorenes uit God se hand kan ruk nie. Vir die ware gelowiges is hierdie bewaring van God vir hulle ‘n groot troos en omdat hulle seker kan wees dat God hulle so sal bewaar, gee dit vir hulle nog meer rede om nederig by die Here te bly en Hom al hoe meer te gehoorsaam hoe meer Hy hulle uit die val in sonde uit optel.
Hoe meer die gelowiges wat hard en diep in die sonde geval het deur God gered word sodat hulle nie sterf nie, hoe meer versigtig gaan hulle wees om nie weer naby die sonde-afgrond te wandel nie. Hoe meer hulle gered word, hoe meer versigtig en waaksaam gaan hulle in die toekoms wees en op die paaie van die Here bly, sodat God se aangesig weer oor hulle skyn en hulle weer God se seën en genade beleef.
Die dwaalleer sê dat omdat daar geskrywe staan waar die sonde meer geword het , het die genade nog meer oorvloedig geword. Nou sê die dwaalleraars dat die gelowiges al hoe meer gaan sondig omdat hulle weet dat hulle elke keer uit genade gered word.
In reaksie op hierdie dwaling bely ons: “Wanneer die vertroue in die volharding weer lewendig word in hulle wat uit ‘n val in sonde weer opgerig word, bring dit geen ligsinnigheid of verwaarlosing van die vroomheid nie, maar eerder ‘n baie groter begeerte om nougeset in die paaie van die Here te wandel. Hierdie paaie is vantevore gemaak. Wanneer hulle daarop loop, behou hulle gevolglik die sekerheid van hulle volharding.” Met ander woorde, die ware kind van God is na so ‘n herstel in sy verhouding met die Here baie versigtiger en nougeset om te doen wat die Here van hom verwag.
Hoofstuk 5, Artikel 14
5:14 Dit het God behaag om sy genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die sakramente.
Tema: Die Woord van God
“Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? “
(Romeine 10: 14-15 AFR53)
Om mense tot bekering en geloof in Jesus Christus te bring het God gekies om sy Woord te gebruik. Dit is immers in die Woord van die Here waar ons hoor dat God sy liefde aan mense openbaar deurdat Hy sy Seun na hierdie wêreld gestuur het.
Dit is God se besluit dat die evangelie die middel sal wees waardeur die Heilige Gees wedergeboorte aan uitverkorenes sal skenk. Deur die verkondiging van die evangelie word die mens gelowig en volg hulle die Heilige Gees gehoorsaam om in Jesus Christus te begin glo.
Deur die Woord begin die mens se geloofslewe in die Here, Hy bewaar hulle om in die geloof te volhard en deur die Woord laat Hy hulle groei in die geloof en Hy maak hulle uiteindelik volkome heilig om in Sy ewige koninkryk in te kom.
In hierdie werk van die Here met sy Woord moet die mens deel wees en hy moet luister wanneer die Woord verkondig word, en hy moet dit self ook lees en hy moet die Woord wat hy hoor en lees aandagtig oordink. Hy moet daarna streef om te hoor wat die Here vir hóm persoonlik in die Woord sê. Want dit is deur die aansporing, vermanings en beloftes in die Woord waarmee die Here sy kind in die geloof bewaar, sy geloof laat groei, en Hom geloofsvolwasse te maak en volkome heilig. En om die beloftes van die evangelie nog beter te begryp, het die Here ook sy sakramente (nagmaal en doop) ingestel wat Hy die gelowiges beveel om te gebruik.
Mag die Here elkeen van ons ywerig hou en nog meer ywerig maak om die Woord van die Here aan te hoor, te lees en te bestudeer. Dit is sy werktuig waarmee elke gelowige se lewe verander en sy geloof groei, tot die einde – die ewige lewe.
Hoofstuk 5, Artikel 15
5:15 Hierdie leer van die volharding van die ware gelowiges, en die heiliges, en van die sekerheid daaroor het God tot eer van sy Naam en tot troos van die vromes baie uitvoerig in sy Woord geopenbaar en in die harte van die gelowiges ingeprent. Die sondige natuur verstaan hierdie leer nie, die Satan haat dit, die wêreld bespot dit, onkundiges en huige-laars misbruik dit en dwaalgeeste bestry dit. Die Bruid van Christus het dit egter altyd as ʼn skat van onberekenbare waarde innig liefgehad en dit volhardend verdedig. God sal sorg dat die kerk dit ook in die toekoms doen. Teen God kan geen beplanning standhou nie, nog minder kan geweld iets teen Hom vermag. Aan hierdie enige God, Vader, Seun en Heilige Gees kom toe eer en heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Tema: Die Evangelie
Die laaste Artikel van ons Dordtse Leerreëls. Dit is ‘n loflied wat in die wêreld gesing moet word te midde van die satan en sy geeste en hulle haat vir God. Dit is die satan en sy haat wat die oorsprong is van alle teenstand en dwaallere teen die leër van die volharding en die sekerheid daaroor.
God het ‘n sekere aantal mense uitverkies, tot die ewige lewe en dit is die gelowiges wat God in Sy hand hou waarvoor Hy sy Seun mens laat word het om hierdie uitverkorenes van sy regverdige oordeel te verlos aan die kruis. Op die bestemde tyd het die Heilige Gees hierdie mense wedergebore deur die Woord en hulle teruggelei na God sodat hulle kan weet en vertrou dat hulle beslis deur Jesus verlos is. Die Heilige Gees het aan hulle vaste geloof gegee sodat hulle kan weet en vertrou dat God deur Jesus Christus se verlossingsoffer hulle Vader is; Abba. Die Heilige Gees werk aanhoudend met die Woord in hierdie mense se lewens sodat hulle in die geloof kan volhard, tot die einde, die saligheid.
Dit gebeur ook dat hierdie verlostes by tye nog swaar sondig, maar die Heilige Gees lei hulle telkens weer terug na die kruis van Christus sodat hulle in Sy bloed om vergifnis smeek en dit verkry. Met hierdie voortdurende leiding van die Heilige Gees tot redding word die uitverkorenes voorwaar bewus van god se genade en barmhartigheid en die versekering dat die Here nooit met hulle sal opgee en hulle verlaat nie: Hy sal hulle uiteindelik heeltemal volmaak en in die ewige koninkryk van God inbring – die ewige lewe.
Hierdie werk van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees – onse Drie-enige God – is die evangelie wat heerlik en troosryk in die Woord verkondig word.
God het hierdie leer van die volharding en van die sekerheid oor die volharding tot Sy eer en tot troos van die gelowiges in sy Woord verkondig. Hierdie leer staan onuitwisbaar en niemand en niks kan dit verander nie. Maar hierdie leer staan nie net op papier geskryf nie. Die Heilige Gees prent dit in die harte van gelowiges in. Daarom gebeur dit dat die gelowiges met tyd al hoe meer deur die Here self die sekerheid kry van hulle onveranderlike verlossing, heiligmaking en verheerliking.
Die satan haat en stry teen hierdie evangelie en hierdie leer maar die Bruid van Christus (kerk) het van die begin af hierdie leer innig lief en verkondig dit volhardend, want hierdie leer is ‘n onberekenbare skat. God sal sorg dat Sy kerk aanhoudend hierdie leer liefhet en verdedig. Niks sal hierdie werk van God in sy kerk vernietig nie, want geen beplanning kan teen Hom stand hou nie en geen geweld kan iets teen Hom vermag nie. Daarom kom die eer tot in ewigheid aan ons Drie-enige God toe.
AMEN