1  TIMOTEUS

Die twee briewe aan Timoteus en die aan Titus is nie aan gemeentes gerig nie, maar aan individu.  Die drie briewe handel veral oor die vereistes waaraan die gemeente se ampsdraers of leiers, predikant, ouderlinge en diakens moet voldoen.  Daarom word die briewe ook die pastorale briewe genoem;  briewe aan die herders of pastore van die gemeentes.   (Afr 83)

Die eerste brief aan Timoteus

In hierdie brief word Timoteus aangemoedig om standvastig te bly in die geloof en hom nie te bemoei met dwaalleerstellings waardeur die gemeente in die war gebring word nie.  Hy moet toesien dat onberispelike manne wat geskik is vir die werk, aangewys word as ouderlinge en diakens, en dat vroue van goeie karakter hulle bystaan.

Vervolgens kry Timoteus raad oor hoe hy sy pligte moet uitvoer as goeie dienaar voor Christus.

Die gesonde leer:  Timoteus moet die gesonde leer, dit is die ware evangelie wat die Here aan Paulus toevertrou het, verkondig.  Hy moet hierdie gesonde leer nie net praat en preek nie, maar ook doen en leef soda thy vir ander gelowiges ‘n voorbeeld kan wees.

 ‘n Skoon gewete:  Hoe ver strek my verantwoordelikhede?  Het ek genoeg of te min gedoen?  Voorgangers se gewete kan hulle maklik pla.  Hierdie brief sal jou help om duidelik te weet wat God van jou as voorganger verwag.  Luister na jou gewete!  ‘n Skoon gewete sal jou help om as voorganger baie liefde te gee en te ontvang.

HOOFSTUK  1

1:1-2       Seën Groete

Paulus skryf as ‘n apostel van Christus Jesus aan sy “die kind in die geloof”.  Naas die groete voeg hy by genade, barmhartigheid en vrede.

1:3-11     Waarskuwing teen vals leerstellings

Timoteus is op die oomblik leeraar en voorganger in die gemeente in Efese.  Hy is egter op die punt om sy pos op te gee en Efese te verlaat as gevolg van omstandighede wat later bespreek word.  Sekere mense het egter in die gemeente begin om vals leerstellings oor wetsonderhouding, seksuele praktyke en eetreëls te versprei. 

Paulus skryf nou aan sy “eie kind” en dring by hom aan om in Efese te bly en sy werk as voorganger voort te sit om drie redes:

  1. Hy moet die verspreiders van die vals leerstelling stop,
  2. Hy moet die gesonde leer versprei, die evangelie wat aan Paulus self toevertrou is deur Christus,
  3. Hy moet liefde wek wat dit in ‘n rein hart, ‘n skoon gewete en ‘n opregte geloof wek onder die gelowiges.

Ook vandag is omstandighede waar jy voel jy wil net jou huidige posisie en werk opgee en “vlug”.  Maar dan duik daar situasies op wat jou “versoek” om te bly en dit eers uit te sorter.  Dan kom ons by ‘n situasie wat bekend staan as “veg of vlug”.  Paulus dring nou by Tim aan om te bly en te “veg”.  Paulus sê vir hom dat dit nie maklik gaan wees nie.  Paulus het vroeër aan die gemeente in Efes geskryf dat hulle moet veg teen die listige aanslae van die duiwel en vas moet bly staan, toegerus met die gevegs toerusting van God.  Nou moet Tim dieselfde doen en ‘n voorbeeld stel:

Jare voor Tim was Paulus leraar in Efes.  Toe hy die gemeente verlaat het hy hulle gewaarsku teen die gevaar van vals leerstellings:

Nou in Tim se bedieningstyd het hierdie gevaar ‘n werklikheid geword.  Ons moet leer hieruit:  Pastorale bediening poste is nie altyd met eensgesindheid en vrede gepaard gaan nie.  Daar gaan moelike situasies en gevalle plaasvind.  Die belangrikste is dat jy onder sulke omstandighede op jou pos bly en vasstaan.  Deur die Bybel en veral die pasturale briewe te lees, en dit wat daarin staan toe te pas, rus God jou toe om die situasie te kan hanteer.  Jy kan ‘n instrument in God se hand word om eengesindheid en liefde en hartlike samewerking onder gelowiges te herstel!

1:12-20   Dank vir die genade van God

“Christus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos” (1:15).  Paulus noem hierby dat hy die grootste sondaar is.  Om hierdie boodskap te verkondig en te versprei gebruik God baie verloste sondaars – hulle kan ‘n oortuigende voorbeeld dien soos hulle die evangelie verkondig.  Soos Paulus, hy gebruik homself as voorbeeld om hierdie konsep op ‘n vaderlike manier aan Timoteus oor te dra.  Paulus begin hierdie boodskap deur die Here te dank vir al sy groot genade dat Hy hom bekeer het en in Sy diens gestel het nadat hy ‘n ongelowige was wat die kerk van God verbreek het en God self belaster, vervolg en beledig het.  Nou gebruik God hom as voorbeeld om ander te laat glo om die ewige lewe te verkry.  Ons almal is nog sondaars al is ons verlos en bekeer en toegevou in liefde en vergifnis.  Maar van ons gelowiges het darem maar donker verledes en het al die skynbaar onvergeeflikste dinge gedink, gedoen en gesê in die verlede.  Net soos Paulus kan ek myself hier as voorbeeld gebruik.  Jy dink miskien dat die sondes jou duskwalifiseer om in God se diens te staan, maar kyk net na Paulus as jy God se onverdiende goedheid ontvang en maar net gewillig is om Hom te dien, sal Hy jou oorlaai met geloof, liefde, krag en alles wat jy nodig het om Hom te vereer en te verheerlik, en as dit jou roeping is, Sy woord en evangelie te verkondig en te versprei tot aan die einde van die aarde.

Nou kom die opdrag aan Timoteus:  Paulus sê vir sy “kind” en hy noem al die hooftemas wat ons genoem het in die inleiding tot die boek hy moet die goeie stryd stry en die gesonde leer, die evangelie verkondig.  Hy moet aan sy geloof vashou en sterk staan, en hy moet kyk na die “voorbeeld” wat Paulus vir hom geteken het en leer daaruit.  Hy moet ‘n goeie gewete behou; mense wat hulle gewetens onderdruk en ignoreer, val daarby.  ‘n Skoon gewete kry jy wanneer jy nie slegs jou gedagtes bewus is van wat God in die Bybel van jou verwag nie, maar dit inderdaad deel aan jou leefstyl maak!

Like father,   like son.

HOOFSTUK  2

2:1-7       Onderrig oor die gebed

2:1  “Bid met smeking, voorbidding en danksegging vir alle mense”… dan sê hy ons moet spesiaal bid vir mense in gesagsposisies sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toegwyding aan God.  Hy bedoel dat ons moet bid dat die wat regeer dit vir ons moontlik maak om ten volle ‘n Christelike leefwyse te leef, maar dan ook in rustigheid, geen opstand, geweld, uitspattigheid en aandadigheid.  Die Bybel sê dat die in gesagsposisie en regering is daar gestel deur God, al is dit vir ons hoe moeilik ons moet dit so in gehoorsaamheid aanvaar en vir hulle bid dat hulle Godvresend regeer en God se wil en wet toepas.

God wil hê dat alle mense gered word.  Dit kan slegs gebeur as die mens tot kennis kom van die waarheid: en die waarheid is dat daar net een God is en net een Middelaar is wat lei tot God, net Christus Jesus.  Christus Jesus het ons verlos en vrede gebring tussen ons en God en vrede vir ons.  Hierdie vrede is dat niks ons van God se liefde kan skei nie.  Vrede met God is nie net ‘n wete nie, jy moet dit weet, maar ook beleef.  Lewe vir God, met innerlike vrede en rustigheid ook ‘n uiterlike kalmte.

2:8-15     Pligte van mans en vroue in die gemeente

As ‘n mens hierdie gedeelte in isolasie lees klink dit amper asof Paulus diskrimineer teen vroue.  Dit is glad nie die geval nie.  Uit ander gedeeltes van sy boeke kom mens agter hy is egter baie revolusioner en het ‘n baie hoë agting vir vroue en dink absoluut dat mans en vroue “gelyk” is.  Hierdie brief is geskryf vir die sosiale gedragsreëls vir vroue in Efese in ongeveer 63nC.  Mens moet verstaan dat daar in Efese en in die destydse Grieks Romeinse wêreld baie sterk sosiale reëls was vir vroue in die openbaar en veral in die erediens.  Alhoewel Paulus van die begin af die standpunt het dat Christus die vrou in haar regmatige posisie herstel het, kon hy dit nie sommer net toepas nie, want hy moet nou by die destydse persepsie van die vrou anders sal die inwoners van Efese en omgewing die indruk kry dat Christene die sosiale orde wil ondermyn en dit sou tot wanorde lei in die christene se vermoë om in vrede en rustigheid te lewe en dit sou hulle getuienis van die herstelde verhouding met Christus ernstig benadeel.  Dit sou inbreek maak die doel van die kerk om God se redding te verkondig.

Dit gaan ook nie in die kerk oor jou kleredrag, juwele of haarkapsel nie, dit gaan oor die dien en eer van God, met respek.  Dit is vandag nog so alhoewel die sosiale onderdrukking van vroue glad nie meer bestaan nie, gelukkig.  Op die einde moet die gemeente samekoms in vrede, rustigheid en respek geskied.  Die man moet rustig wees en daar moet geen onmin en twis wees nie.  As daar is, breek die mans op en sorteer dit eers uit.  Die vroue moet as ma, vrou en christen vrou na die kerk gaan om God te dien nie na ‘n skoonheidskompetisie nie.  God diskrimineer nie tussen man en vrou nie, ons ook nie, maar kom ons gaan na die kerk om God te dank vir sy redding en sosiale eenheid, rustigheid en vrede.

HOOFSTUK  3

3:1-7       Die ouderlinge van die gemeente

3:8-13     Die diakens van die gemeente

Paulus het die gebruik gehad om verskeie ouderling (“episkopos” beteken letterlik “opsiener” soos dit in die Ou Vertaling gebruik word) in elke gemeente aan te stel om beheer te handhaaf.  Om “toesig te hou” oor alles wat gebeur was een van die ouderlinge se funksies.  Ook die gawes wat nodig is vir die diens as ouderling raak veral hulle vermoë om met wysheid te lewe en om ander mense in die geloof te kan onderrig.  Paulus se lys kwalifikasies vir hierdie leiers maak werklik sin.  Dit moet mense wees wat hulleself en hulle gesin kan beheer, wat bewys het dat hulle standvastige Christene is en wat die respek geniet van die wêreld daar buite.  Omdat beide ouderlinge en diakens leiding neem in die gemeente en ‘n voorbeeld stel, moet niks teen hulle lewe ingebring kan word nie.

Die ouderling is bygestaan deur diakens, of te wel “helpers”.  Hulle moet aan al dieselfde kwalifikasies as die ouderlinge voldoen en voor en tydens hulle aanstelling deeglik ondersoek word.  Diakens werk in die gemeente is ewe belangrik as die werk van die ouderlinge.  Een van die belangrikste take is om toe te sien dat niemand deur enige gebrek of omstandigheid geisoleer raak van die liefdes gemeenskap van die gemeente nie.  Soos ouderlinge moet diakens ook onbesproke wees in hulle openbare en huishoudelike lewe, en moet hulle hulle dienswerk toegewyd uitvoer.  “Vroue” die grieks kan dui op “eggenote” of “vroulike persone”, na gelang van die konteks.  Hier is dit onduidelik of Paulus vroulike “helpers” (vroue diakens) of diakens se eggenote bedoel. 

Timoteus was nie ‘n sterk leier van nature nie.  Daarom was dit goed om Paulus se geskrewe volmag te hê.

3:14-16   Die geopenbaarde waarheid van ons geloof

“As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig dat die waarheid aan sy kant is, aan die engele het Hy verskyn ; aan die heidennasies is Hy verkondig, in die hele wêreld is Hy geglo, en in heerlikheid is Hy opgeneem”.

In hierdie geloofsbelydenis vat Paulus kern waarhede oor ons godsdiens saam.  ‘n Gemeente bestaan egter nie net uit predikante, ouderlinge en diakens nie.  Volgens Paulus is die gemeente self insluitende die lidmate, die draer en beskermer van die waarheid met hierdie waarheid word edersyds suiwer kennis oor godsdiens bedoel, maar ook die egtheid en geloof waardigheid daarvan.  Hiervoor is die hele gemeente as huishouding van God verantwoordelik.  Die gemeente self is inderdaad die kerk van die lewende God en ons as lede moet dus aktief deel neem aan die verkondiging van die waarheid, die woord, aan mekaar, en aan gelowiges.

HOOFSTUK  4

4:1-5       Die afvalligheid in latere tye

Paulus waarsku hier vir Timoteus dat daar in die laaste tyd, voor die koms van Christus desperate pogings van Satan sal kom om Christus se kerk te vernietig.  Daar sal dwaalleraars kom wat sonder gewete, gedryf deur bose geeste alles wat goed geskape is deur God sal verklaar as verkeerd en dit verbied.  Hulle sal mense verbied om te trou, want trou is fisies en nie geestelik nie en dit gaan tog gepaard met geslagsomgang.  Dit moet dus verkeerd wees.  Hulle sal ook sekere kossoorte verbied.  Maar “alles wat God gemaak het is immers goed”.  God het die huwelik ingestel tussen man en vrou en dit geseen en geheilig.  As ons dus in die huwelik tree en in die huwelik bly volgens God se voorskrifte en hom dank daarvoor, is dit tot Sy eer.  Voedsel is deur God gemaak om te eet en as ons dit in danksegging ontvang en gebruik, word dit deur die woord van God en die gebed geheilig.  Ons moet sorg dat hierdie laaste desperate aanslae van Satan, deur dwaalleraars tervergeefs wees.  Hoe doen ons dit?  Ons meet alles wat ons doen aan God se woord en ons ontvang en gebruik alles biddend en dank God vir alles. Ons mag dinge op aarde geniet mits dit deur die Bybel toegelaat word en dan doen jy dit vanuit ‘n dankbare en gelowige verhouding met God.

4:6-16     ‘n Goeie dienaar van Christus Jesus

Paulus hou aan Timoteus voor da thy ‘n goeie dienaar van Christus Jesus moet wees, dus, hy moet die woord van die opgestane Christus aan die gemeente verkondig, maar homself ook voed met die goeie woorde van die leer.  Hy moet self ook groei in die proses en sy groei moet sigbaar wees vir die gemeente.  Dit sal sy aanhang en aanvaarding bevorder.  Verder sê Paulus hy moet hom toewy om die goeie leer suiwer te verkondig en hom nie besig hou en tyd mors met sinnelose kantlyn situasies en sake nie.  Hy moet “oefen om in toewyding aan God te lewe”.  Soos ‘n atleet sy liggaam oefen moet Timoteus sy geestelike lewe oefen om toegewyd aan God te lewe, soveel so dat hy ‘n goeie suiwer sigbare Christelike lewe lewe wat as voorbeeld is vir die gemeente.  Dit het groot waarde in alle opsigte om in God te leef, vir nou en vir die toekoms.  Hy moet nie net hierin ‘n voorbeeld wees nie, maar di took vir die mense leer.  Nou het hulle vir Timoteus leer ken en aanvaar al is hy jonk, want hy is vir die gelowiges ‘n goeie voorbeeld in woord, gedrag, liefde en geloof.  Maar nou moet hulle God leer ken, so nou moet Timoteus homself daarop toelê om die skrif te lees, te preek en onderrig te gee.  Hy moet deelneem aan eredienste, gebedstye, bybelstudie, dienswerk in die gemeente en geestelike gesprekke met medegelowiges.  Hy het die gawe en kundigheid van God ontvang.  Hy moet dit nou toepas en uitleef tot opbou van die gemeente en tot sy eie groei in die geloof.

HOOFSTUK  5

5:1-2       Herdelike vermaning

Paulus wys Timoteus daarop dat hy gelowiges van alle ouderdomme moet bemoedig asof hulle lede is van sy eie gesin.  Dit geld vir ons ook, vandag nog.  Jesus is die hoof, die kerk is Sy liggaam.  Ons is almal deel van dieselfde liggaam.  In die gemeente is ons Christus se familie ‘n hegte familie.  Broeres, susters en kinders.  Kom ons tree so op.  In liefde vir mekaar.

5:3-16     Die weduwees

Ouer weduwees, ouer as 60, wat niemand het om na hulle om te sien nie, moet spesiale aandag kry.  Hulle is die kerk se verantwoordelikheid.  Paulus bepaal dat die gemeente die werklike hulpeloses moet help.  Hulle moet verantwoordelikheid neem vir die ouer weduwees van goeie Christelike karakter en wat aan Christelike dienswerk toegewy is.  Die ouer weduwees wat nog kinders en kleinkinders het moet deur hulle versorg word.  Dit is hulle plig om na hulle ouers en weduwees om te sien.  As hulle dit nie doen nie, is hulle slegter as ongelowiges dan moet die kerk oorneem.  Die jong weduwees moet weer trou en versorg word deur haar familielede, en ‘n heeltemal onbesproke reputasie hê.

5:17-21   Die Ouderlinge

‘n Ouderling moet versigtig en streng volgens die Bybel se voorskrifte verkies word.  Die wat goeie leiding en onderrig gee, moet dubbel erken en vergoed word sodat hulle al hulle aandag aan die kerk en aan die Woord kan spandeer.  Hulle moet ondersteun word en aangemoedig word om te volhard.  Wanneer hulle blootgestel word aan vals aanklagtes moet Timoteus spesiale sorg tref dat hy in sulke gevalle regverdig optree.  ‘n Beskuldiging kan eers ernstig opgeneem word as dit deur 2 of 3 getuies bevesig word en die wat dan skuldig bevind word moet openlik bestraf word as voorbeeld tot die ander.

5:21-25   Ander opdragte

Paulus gee ten laaste goeie algemene raad aan Timoteus.  Moenie oorhaastig optree nie.  Leer mense ken, hulle swakheid sonde wat dalk eers later aan lig kom en so ook hulle goeie dade.  Handel dan daarvolgens.  Sorg ook vir jouself en jou gesondheid sodat die veeleistes van voorganger nie te veel raak nie.

HOOFSTUK  6

6:1-2       Die slawe

As Christene is slawe vry – in Christus.  Maar dit beteken nie hulle mag hulle dienaars minag omdat hulle broers in die geloof is nie.  Dit beteken juis dat hulle meer getrou aan hulle eienaars moet wees en dat hulle eienaars hulle met respek soos “broers” moet behandel.  Niemand mag kwaad praat van die naam van God en die Christelike leer beledig nie.

6:3-10     Vals leer en ware rykdom

Godsdiens is nie ‘n winsgesende besigheids projek nie.  Daar is egter die leerraar wat net daar uit is om Godsdiens te gebruik om ryk te word.  Argumente, jalousie, stryd, beledigings en bose agterdog kenmerk hierdie verkeerde motiewe waarby gelowiges betrokke is.  Hulle verloor die verkondiging vir die verlossing van die opgestane Christus heel uit die oog.  Dit gaan net oor finansiële voordeel.  So ‘n benadering is gevaarlik en sinneloos en lei uiteindelik net tot wegdwaal van die ware geloof.  Christus is ryk – ryk aan grnade en ryk aan liefde, maar nie ryk aan geld nie.  Rykdom op sigself is nie verkeerd nie, maar die begeerte na rykdom en geld lei tot allerhande soort kwaad.

As jy God dien met die regte motief, sal jou lewe gevul wees met ryke, gawes en tevredenheid.  Bybelse tevredenheid kom op uit die vertroue dat jy ryklik deur God geseen word.  Hy vir jou sorg – na Gees en liggaam.  Jy het altyd alles wat jy nodig het om as kind van God te lewe, al is dit net kos en klere.  Uit dankbaarheid dat God vir jou sorg, dien jy Hom met volle oorgawe en kom pligsgetrou jou roeping na. 

6:11-21   Die goeie stryd van die geloof

Gelowiges moet nie streef na aardse dinge en rykdom.  Hulle is kinders van God.  Hulle het openlik voor getuies hulle geloof voor God belie.  Dus:  Hulle moet “streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof liefde volhard, minsaamheid, volharding.  In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal”.  So moet ons volhard tot dat Christus kom.

Die wat in hierdie wêreld ryk is moet gewaarsku word om nie hooghartig hulle hoop op verbygaande rykdom te vestig nie, maar op die lewende God.  Met die rykdom wat hulle het moet hulle goed doen:      goeie dade, rygewig en medeleelsaam.  So sal hulle ‘n skat in die hemel kry.  Niks op aarde behoort aan ons nie, dit behoort aan God wat dit aan jou toevertrou.  Ons moet dus woeker en God se belegging aan hom met wins teruggee, die dag as Hy ons kom haal.  Ryk of arm, leef dus vir God en doen goed met wat jy het, uit dankbaarheid.  “Die genade sal by julle wees”.