EFFESIËRS
Wat sê die brief
Paulus was in die tronk toe hy hierdie brief aan die Effesiërs geskryf het. In hierdie brief word gewys op God se “bedoeling…..om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus” (1:10). In die kerk van Christus is Jode en nie-Jode saamgebring as ‘n eenheid, ‘n familie in liggaam waarvan Christus die hoof is. Die eenheid berus op die uitverkiesing en redding uit genade en word gewaarborg deur die werking van die Heilige Gees.
Paulus begin hierdie brief met “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is”. Dit is ‘n gepaste opsomming vir alles wat hy in die volgende bladsye vir ons gaan sê. Hier sê hy dat die grootste gedeelte van die brief vir ons gaan aantoon watter geweldige rykdom ons in Christus het. Die Effesiërs het gewoon in ‘n stad van groot kommersiële rykdom, maar Paulus wou hê hulle moes verstaan wat ware rykdom is, waar om dit te vind en wat om daarmee te maak. Al ware en geweldige rykdom wat ons het, en nodig het, is in Christus, aan ons gegee deur God die Vader, wat alle goeie gawes gee.
God het nog voor die tyd ons in Christus uitverkies. In sy liefde het Hy ons volgens sy genadige beskikking toe al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Ons het deel geword van God se gesin, sy volk, Jesus se liggaam, God se kerk. Dit gaan in hierdie brief oor die aard van die kerk. Die kerk is ‘n lewende liggaam, met Christus as die hoof.
Die Effesiërsbrief gaan jou help om reg te dink oor die kerk, om raak te sien dat dit ‘n versameling mense is wat aan God behoort en in ‘n intieme verbintenis met Jesus Christus lewe. God se gelowiges is toegerus vir dienswerk in die kerk. Almal moet dus saamwerk en al die gelowige kinders moet in vrede met mekaar lewe.
HOOFSTUK 1
1:1-3 Groete
Van Paulus. Hy is op die oomblik in die tronk, tog groet hy nie net met ‘n armsalige “hello” nie hy begin deur te sê ons almal behoort aan God. Ons is net Syne en Hy beskerm en lei ons met Sy liefde. In reaksie as ons dit besef kon en wil ons met alles wat ons het, God ten volle uit dankbaarheid dien en eer. Dan “gee” hy aan hulle en ons die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus. Dit is die onverdiende goedheid en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus.
1:3-14 Lof aan God vir sy genade
Meeste van Paulus se briewe begin met danksegging en ‘n gebed, maar Effesiërs ontplof in advokasie en lofprysing. Ons loof God dat Hy ons uit genade gekies het in Christus, vir ons verlossing en dat hy ons wysheid gegee het om sy plan (1:7-12) te verstaan en dat Hy ons die Heilige Gees gee. Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus so gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe. Ons lewe nou naby aan God en kry deel aan wat God belowe het. Die Heilige Gees is God se waarborg aan ons dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Jy is deel van Christus se liggaam, jy is een met Christus wat so met God vervul is. Jou sondige geaardheid is weggeneem en jy gaan ewige heerlikheid ontvang. Met ander woorde, die Vader het ‘n plan gehad om die mens te red van sonde en die satan, die Seun het hierdie plan uitgevoer deur sy lewe, sterwe en opstanding en die Heilige Gees maak nou die plan ‘n persoonlike realiteit vir al die gelowiges wat val onder God se genade. Hy eindig deur God te prys. God is waardig vir ons almal se hoogste prys.
1:15-23 Paulus se gebed
Paulus maak dit nou openlik bekend aan die Effesiërs dat hy vir hulle bid. Nie net dat hy vir hulle bid nie, maar ook wat hy vir hulle bid. Hy dank God vir die gelowiges, hy dank God vir hulle geloof en liefde vir die gelowiges. Hy vra God vir geestelike wysheid vir hulle: dit beteken praktiese kennis van die Bybel en die verstaan van die Bybel oor hoe om God reg te dien en om in die regte verhouding met God te lewe.
Die tweede saak waaroor Paulus bid is dat God Hom aan hulle sal openbaar dat hulle Hom werklik kan ken. Om God persoonlik te ken is ‘n besondere kenmerk en gawe van die Christus en ‘n besonderse gawe van die Heilige Gees. Om die Here te ken is om volgens sy wil te lewe, kennis uit die Bybel te versamel en opreg in gebed met Hom te kommunikeur.
Die derde saak waaroor Paulus bid is dat God hulle geestes oë sal verhelder en hulle insig sal gee in die hoop van sy roeping en die rykdom en heerlikheid van sy erfnis. Met hierdie geopende oë sal hulle kan sien watter wonderlike vooruitsig God se roeping inhou, as jy geroep is, is jy ook vrygespreek en kry jy God se heerlikheid. Hoe enorm groot God se krag is wat Hy uitoefen in die wat glo: Hy het finaal oorwin en is in beheer oor alles. Hy beskerm ons teen alle sigbare en onsigbare magte en teen die satan. Niks kan ons van die liefde van God skei nie. Aan Jesus Christus het God alles onderwerp. Hy is die Hoof van die kerk en ons is sy liggaam saam met ander gelowiges. Ons is ‘n eenheid in die kerk en moet Christus saam dien op aarde.
HOOFSTUK 2
2:1-10 Lewe uit die dood
Paulus fokus nou ons aandag op die nuwe lewe moontlik in Christus. Eerstens beskryf hy ons lewens voor Christus. Ons was ongehoorsaam, sonde was ons ondergang ons was geestelik dood! Ons het ons laat lei deur die vors van die onsigbare magte – die satan. Maar God is ryk in barmhartigheid en liefde. Hy het ‘n plan gehad om die hulpelose en hopelose mense te red. Gedryf deur Sy liefde en genade het God ons lewend gemaak saam met Christus, weer opgerig saam met Christus en ons ‘n plek gegee in die hemel saam met Christus. As dit nie vir God se redding was nie, sou jy ‘n ongeredde mens gebly het, en soos alle ongelowiges deur God gestraf moet word. Nou lewe jy, en jy lewe saam met Christus. Hierdie redding kom uit God se genade en liefde. Noudat ons lewe, kom ons doen dit in dankbaarheid. God het ons nuut gemaak, Hy het ons Syne gemaak sodat ons ons lewe kan wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
2:11-22 Een nuwe mensheid
- Jode en nie-Jode → een nuwe mensheid in Christus –
Die Effesiërs was heel waarskynlik die mees gewigtigde oorskakeling van heidene na godelike kerk in die Nuwe Testament.
Paulus begin hier om hulle te herinner hoe hulle was voor hulle redding: geen Messias geen kontak met God, geen belofte van verlossing, geen hoop en geen God. Maar nou deur die bloed van Christus Jesus is hulle in vrede met Christus en God, hulle is naby God. Hulle is in God se gesin en het deel aan Sy beloftes en verbonde. Hulle is nog nie-Jode. Dan was daar die Jode – hulle was eintlik die volk van God, hulle was naby aan Hom. Hulle het gedeel in al Sy beloftes en verbonde. Maar verduidelik Paulus nou, het Christus die muurr, die vyanskap tussen die twee groepe die Jode en die nie-Jode weggeneem en Hy het in Homself die twee groepe, tot een nuwe mensheid verenig. Van Jesus Christus se menswording af het God egter gewys dat Hy Sy verbond wat voorheen beperk was tot die Jode, nou uitbrei om mense van alle volke, van all eras of kleur, van alle status, van alle ouderdom, van alle agtergrond in te sluit.
Jode en nie-Jode almal wat die boodskap van vrede aanvaar het, het nou deur een Gees vrye toegang tot God. Paulus sê aan die Effesiërs, dat al was hulle eers heidene hulle is nou almal lede van God se familie. Hulle is nou almal een, ‘n nuwe volk, ‘n volk van God, ‘n gesin van God.
HOOFSTUK 3
3:1-13 Paulus se werk onder die heiden nasies
Paulus noem nou vir die eerste keer dat hy in die tronk is, agv verkondiging van die ware evangelie. Hy neem God nie kwalik nie, ook nie die Effesiërs nie. Hy sê egter dat hulle dit as ‘n eer moet beskou. As hy nie die evangelie verkondig het nie, sou sy lesers nie die boodskap gehoor en tot bekering gekom het nie. Paulus se lyding wys dus vir hulle hoe belangrik hulle nie net vir hom is nie, maar ook vir God.
Paulus skryf nou oor sy bediening onder die nie-Jode die heidennasies. Hy dank God dat hy die Effesiërs bewerk het, dat Hy hulle Sy kinders gemaak het. Hy skryf ook met lof oor die wonder dat God hom apostel gemaak het vir die nie-Jode. Hy skryf dat God ‘n geheimenis het, ‘n geheimenis wat in die geskiedenis nog nooit aan die mensdom bekend gemaak is nie. God het nou hierdie geheimenis in ‘n openbaring aan Paulus bekend gemaak. Voor Christus gekom het, was God se beloftes grootliks beperk tot die Jode. Die geheimenis is nou dat ook nie-Jode as Christene mede-erfgename is, dat hulle saam lede van dieselfde liggaam is, en saam deel het aan die beloftes van God. Jode en nie-Jode is nou een volk. Alle volke in Christus is nou saam een nuwe mensdom wat ‘n intieme verhouding het met God en met vertroue vrymoedig tot Hom nader. Paulus noem homself die heel onbelangrikste van al God se mense; hy weet dus dat hy sonder God se krag niks sou vermag het nie. Ons moet egter nooit vergeet dat ons deur Jesus Christus tot alles in staat is. God rus ons toe vir die werke waartoe Hy ons roep.
3:14-21 Die gebed van Paulus vir die Effesiërs
Paulus gaan aan met die gebed vir die Effesiërs wat hy begin het in 3:1. Hy noem aan die Effesiërs waarvoor hy vir hulle bid. Hy bid dat God hulle deur Sy Gees, in staat sal stel om, saam met al die gelowiges die liefde van Christus werklik te ken wat Hy in hulle harte openbaar. Hy bid dat Hy deur sy Gees aan hulle innerlike sterkte sal gee. Hierdie liefde van Christus deur jou hele lewe, jy kan nooit sonder die liefde van God wees nie dit dring in tot in die oombrikke van jou diepste wanhoop en selfs die dood. Die is wyd en ver en hoog en diep genoeg om alles te omsluit wat jy kan beleef.
Paulus het hierdie gedeelte begin met ‘n oproep dat God geprys moet word. Nou eindig hy die brief weer met ‘n kort soortgelyke oproep en besing God se lof.
HOOFSTUK 4
4:1-16 Die eenheid van die kerk
Paulus begin met ‘n ernstige vraag:
Hy vra dat die Effesiërs se lewenswandel tog moet ooreenstem met hulle roeping. Dit is – as jy bely dat God jou geroep het, dat Hy jou sy kind gemaak het, moet jou leefstyl daardie belydenis bevestig. Dit moet hulle doen deur beskeie te wees, altyd vriendelik, geduldig, mekaar te verdra in liefde en hulle moet in vrede met mekaar lewe. Die Gees bewerk hierdie vrede, want daar is ‘n eenheid tussen hulle deur een liggaam, een Gees, een hoop, een Here, een Geloof – die geloof in Christus Jesus deur God die Vader – een doop en een God en Vader. Hierdie God woon in ons almal en Hy gebruik ons om Sy werk te doen. En dit is om die liggaam van Christus die kerk op te bou. Om dit te kan doen het Christus aan elkeen van ons ‘n gawe gegee om ons taak te verrig. Deur saam te werk as ‘n eenheid van die kerk groei elke gelowige se geloof tot volwassenheid en tot die beeld van Christus. Elke gelowige het dus ‘n taak om te verrig in die liggaam, in die kerk en dit te laat groei tot volwassenheid tot die volmaaktheid van Christus die hoof se standaarde. Die gawes wat gegee word is onderander diakens, ouderlinge, dominees, herders en leeraars. Hulle taak is om God se mense toe te rus vir hulle werk in God se diens. Maar God het ons elkeen geroep so hy het aan ons elkeen ‘n gawe en ‘n taak gegee. Vind uit wat joune is en help in jou gemeente om die kerk op te bou in Christus se liggaam.
4:17-24 Die ou en die nuwe mens
Paulus doen ‘n ernstige beroep op hulle. Hulle moet met hulle heidense lewe breek. God het hulle verlos- ‘n gratis geskenk van God af, maar dit dra daarmee saam die verpligting om van daardie oomblik af te leef en op te tree soos God dit wil. Dit beteken dat hulle doelbewus die ou, selfsugtige sondige hardnekkige manier van lewe sal aflê, voormalige losbandigheid sal afsweer en die Gees sal toelaat om julle Gees en gedagtes nuut te maak. Paulus noem vir hulle die “moets” en “moenies”. Die nuwe lewe vra om waarheid, liefde, verdraagsaamheid, goedhartigheid en eenheid. Kortom ons moet Christus se eie natuur naboots en ‘n lewe lei van opofferende liefde, wat die soeklig van God sal deurstaan.
Dit is nie ‘n eenmalige bekering nie. Ons sondige natuur wil heeltyd terugkeer en ons lewe weer omswaai. Ons moet daarvan bewus wees en daarteen waak en veg. Dit is ‘n lewenslange proses. Ons moet elke dag bekeer. God gee vir ons die krag daarvoor deur die Heilige Gees. Een het ons aan die duisternis belowe : nou is ons “mense van die lig” en ons lewe moet volkome volgens die wil van God en Heilig wees.
4:25-5:5 Riglyne vir die nuwe lewe
Paulus spring weg met ‘n belangrike een : die waarheid.
Ons moet altyd die waarheid praat want ons is lede van dieselfde liggaam. Ons is ‘n eenheid ons breek verhoudings op en versteur die eenheid. Dit kan lei tot konflik en rusie in die gemeente en dus afbreek doen aan God se kerk.
Nou volg ‘n aantal riglyne:
- As jy kwaad word moenie sondig nie. Dit sê nie dat jy nooit mag kwaad word nie, maar jy moet baie versigtig wees dat jou kwaad word nie ander mense seermaak of verhouding en eenheid opbreek nie. Jy moet uiting gee aan jou woede maar gaan doen dit iewers waar jy niemand nadelig kan beinvloed nie. Sorg dat jou woede gestil is voor jy gaan slap, anders gee jy die duiwel ‘n vatkans om dit nadelig te gebruik.
- Diewe moet ophou steel. Hulle moet oorslaan van “vat” na “gee”. Hulle moet ‘n earlike werk kry met genoeg inkomste om vir hulleself te sorg en te gee vir die behoeftiges.
- Moenie vuil taal gebruik nie. Praat net wat goed en opbouend is vir die in jou teenwoordigheid.
- Moenie die Heilige Gees hartseer maak nie. Alles wat jy doen wat van die pad van die geloof af terugdraai na die sondige natuur en jy weet dit bedroef die Heilige Gees. Hy bly in jou en help jou om op die regte pad te bly tot Christus jou kom haal.
- Raak ontslae van : bitterheid, opvlieënde woede, vloek, skel en wraak.
- Wees goedgesind, opreg en vriendelik teenoor mekaar en baie belangrik, vergewe mekaar! Jesus leer ons dan in die Onse Vader om te bid om mekaar te vergewe.
- Ons moet Christus se liefde uitleef. Hy was so lief vir ons Hy het sy lewe gegee vir ons. Kom ons leef nou hierdie liefde uit aan ander, aan almal.
- Daar mag geen sprake van ontvang, onsedelikheid of gierigheid onder julle wees nie. Paulus is altyd baie ernstig oor onsedelikheid en enige vorm van seksuele sondes want die wat deel het aan die sondes, het nie deel aan die koningryk van Christus en God nie.
5:6-20 Lewe as mense van die Lig
Vroeër was die Efessiërs heidene, die ene nag en duisternis, maar nou in die Here is hulle lig. Nou moet hulle lewe soos mense van die lig en net doen wat vir God aanneemlik is. Hulle gaan nog steeds in kontak kom met mense van die duisternis wat allerhande verkeerde praktyke praktyke beoefen. Hulle mag net nie saam met hierdie mense verkeerde dinge doen of dit goedpraat nie. Hulle moet ook nie net stilbly daaroor nie, hulle moet dit ontmasker – so maklik kan ‘n mens stilswye as goedkeurig interpreteer. Hierdie mense beinvloed die gemeente en die eenheid verkeerdelik. Ons moet hulle stuit. Jy moet ook besef dat dit nie net genoeg is om te wee twat die Here tevrede stel nie, jy moet di took doen. Jou geloof moet uit jou dade skyn. Jy is nou lig, laat jou lewe so helder straal dat jy die wat in die duisternis is kan aantrek na jou, dan kan jy hulle beinvloed. Christus sal deur jou skyn.
5:21-33 Man en Vrou – Die Christelike huwelik
Paulus begin met ‘n algemene beginsel:
Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. So, en ons kom nou daarby, al is die man die hoof en die vrou onderdanig aan die man – “wees aan mekaar onderdanig”! Dan begin hy met die opdragte aan die twee partye. Die vrouens, word vergelyk met die kerk van Christus. Net soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vroue in alles aan hulle mans onderdanig wees. Dit moet nou nie buite konteks gesien word nie. Kom ons kyk na die man.
Die opdrag aan die nam is: Julle moet julle vroue so lief hê net soos Christus die kerk lief gehad het dat Hy lewe daarvoor gegee het. Die man is die hoof van die vrou soos Christus die hoof van die Kerk is. Hy sal dus enige iets vir haar doen. Selfs sy lewe gee. Dus so lief soos Christus is vir sy kerk, en sy kerk vir hom, so lief moet die man en vrou vir mekaar wees. Die een moet nie baasspeel oor die ander nie, hulle moet onderdanig wees aan mekaar en sorg vir mekaar. Ons moet in die wonderlike verhouding van die huwelik die liefde uitstraal wat daar is tussen ons as bruid en ons bruidegom, Jesus Christus.
Paulus haal aan uit Gen. 2:24
“Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat
en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees”.
HOOFSTUK 6
6:1-4 Ouers en kinders
Ouers en kinders het ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar. As gelowiges moet hulle uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig wees. Kinders moet hulle ouers eer, in alle omstandighede. Dit is ‘n baie belangrike gebed : “Eer jou vader en jou moeder” (Eks 20:12). Om te gehoorsaam en te eer is nie dieselfde nie. Om te gehoorsaam beteken jy doen wat jou ouers van jou vereis, en om te eer beteken dat jy liefde en respek betoon. Jy moet beide doen. Jy moet jou ouers gehoorsaam tot dat jy nie meer onder hulle gesag is nie, maar jy moet hulle lewenslank eer. Ouers, maak julle kinders groot met liefde. Maak hulle groot met geduld. Dissipline en teregwysing is nodig, maar doen dit in liefde en moenie seermaak of moedeloos maak nie. Lewe in eerbied vir Christus en liefde en respek vir mekaar.
6:5-9 Eienaars en Slawe
In Effesiërs met die stigting kerk het baie slawe en eienaars Christene geword. Slawe het nie eenstyds enige regte gehad nie. In die kerk egter het hulle regte en vryhede geniet. Die gevaar het nou ontstaan dat die slawe hulle Vryheid misbruik en teen hulle eienaar in opstand kom. Dit sou baie probleme veroorsaak het in die kerk en in die orde in die samelewing.
Daarom gee Paulus duidelike riglyne vir die verhouding tussen slawe en eienaars.
Die slawe moet weet : die Hoof in wie se diens die gelowige slaaf eintlik staan, is Christus. Hulle moet nie net werk om deur hulle eienaar raakgesien te word nie. Hulle moet besef hulle werk eintlik vir die Here en dat dit die wil van God is dat hulle goeie werk lewer, sal hulle altyd hulle werk met lus doen.
Die eienaars : Hulle moet onthou dat die Here nie net die slawe se Hoof is nie, maar ook die eienaar sin. Die eienaar moet op so ‘n manier baas wees dat dit getuig van hoe hulle die Here se eienaarskap oor hulle aanvaar. Paulus het in 5:21 gesê: “Omdat julle respek het vir wat Christus vir julle gedoen het, moet julle aan mekaar onderdanig wees”. Dit is hier ook van toepassing.
6:10-20 Die Christen se wapentoerusting
Paulus sê ons moet al ons krag in die Here en sy groot mag vind. Daar is ‘n oorlog aan die woed – goed: dit is ons Christus se kerk, alle gelowiges en kwaad, die duiwel en al sy magte in die lug, al sy gevalle engele. Christus het klaar oorwin en satan kan die kerk nie oorwin nie, maar die oorlog duur voort tot Christus weer kom. Die krag wat ons vir hierdie oorlog nodig het gee God vir ons deur sy Gees, met ‘n gevegstoerusting wat Hy gee wat ons moet aantrek om staande te bly teen die aanslae van al die bose magte. Met hierdie volle uitrusting kan ons nie val nie.
Die uitrusting is:
- Waarheid : dit is die heupgordel wat ons moet aansit. Leuns laat ‘n mens struikel Die wêreld is vol leuns. Al die ongelowiges vul ons aan met leuns. Ons het egter die waarheid om hierdie leuns te oorwin.
- Vryspraak : dit is die vryspraak deur God. Dit moet ons aantrek as ‘n borsharnas: Die borsharnas beskerm jou twyfelende hart. As jy begin twyfel of God jou werklik vrygespreek het, beskerm die borsharnas jou sagte teiken deur Sy versekering.
- Bereidheid : om die evangelie te verkondig. Dit trek ons aan as skoene. Moenie bang wees om die evangelie te verkondig in hierdie sondige wêreld met al sy teenkanting nie. Trek die skoene aan en stap die pad wat die here jou wys. Verkondig dan die evangelie van vrede met oortuiging aan almal wat jou pad kruis.
- Geloof : dit is die skild in jou hand waarmee jy die brandpyle van die bose kan afweer. As ons swaarkry en teespoed ervaar is dit soos brandpyle. Dan begin ons in God twyfel en wil selfs ons rug op Hom draai. Geloof beteken ‘n vaste vertroue in God en dat Hy jou in Sy hand hou en alles vir jou ten geode laat gebeur. Hy bewaar en beskerm jou en gee jou krag. Dit is jou stild en weer af die brandpyle van twyfel en ongeloof.
- Verlossing : dit is die helm op jou kop. Sit dit op en weet dat God jou verlos het van al jou sondes en jou sondige natuur. God het jou verlos. Sit die helm op sodat jy nie gekwes word en twyfel nie.
- Swaard van die Gees : dit is die Woord van God. Sover rus God jou toe om jou te beskerm. Nou gee Hy jou ‘n aanvalswapen die Swaard van die Gees, sy word die Bybel. Leer dit ken en beveg die vyand.
Nou praat Paulus oor die rol van gebed in ons lewens. Wanneer jy vir God lewe, doen dit bidden. Maar moet nie net vir jouself bid nie, bid vir alle gelowiges en vir jou verkondiging van die evangelie. Wees in kontak met God elke dag, heeldag tussen al jou dagtake. Maak jou lewe een voortdurende gebed. Sê voortdurend dankie vir al die genadegawes wat jy ontvang en bid smekend vir alles wat jy nodig het, al weet God dit reeds.
6:21-24 Slotwoord in groete
Paulus groet met ‘n seen groet van vrede en liefde en hoe God se genade en onverganklike liefde altyd by ons sal wees.